Nuuskommentaar: Duitse ystervrou kap aan ystergordyn – maar rig nie veel uit

Kanselier Angela Merkel van Duitsland en die Russiese president Wladimir Poetin ontmoet Dinsdag. Foto: AP Photo/Alexander Zemlianichenko

Kanselier Angela Merkel van Duitsland het die Russiese president, Wladimir Poetin, formeel besoek as deel van haar voorbereidings vir die volgende G-20-beraad waarvoor Duitsland die gasheer is. Dit vind in Julie in Hamburg plaas. In die praktyk het verskeie klippe in die skoen aan die bod gekom.

Duitsland is besonder verweef in die vredesproses in die Oekraïne, veral met betrekking tot die Minsk-ooreenkoms wat in dié Wit-Russiese hoofstad gesluit is. Merkel is voortdurend met Poetin in gesprek hieroor, en nou is dit duidelik aan die Russiese leier gestel dat nie ’n enkele aspek van die ooreenkoms nagekom is nie, en dat sy Poetin daarvoor verkwalik.

Merkel was heeltemal op haar plek toe sy Poetin op sy tuisbodem die kop gewas het – Duitsland is saam met Frankryk die twee “vooglande” wat moet toesien dat die Minsk-verdrag, vanuit die oogpunt van die Oekraïne, nagekom moet word. Rusland verteenwoordig weer die ander kant van die strydende partye.

Poetin hou op sy beurt vol dat dit ’n suiwer interne Oekraïense kwessie is, en die gevolg is van ’n onwettige staatsgreep. Hiermee verwys Poetin na die populêre opstand teen die bewind van die pro-Russiese Viktor Janoekowitsj, wat na Rusland gevlug het. Ná sy vertrek het die omvang van sy korrupsie duideliker geword, en selfs sy eie party wou hom nie as kandidaat in die daaropvolgende verkiesing toelaat nie.

Poetin ontken ook dat Rusland enigsins by die konflik betrokke is, en daaroor invloed kan uitoefen. Hiervan wil die Duitsers niks weet nie. So byna as kantlynsake is Merkel besorg oor die erge diskriminasie en selfs dood wat homoseksuele mans in Tsjetsjnië in die gesig staar, asook die Russiese verbod op die Jehovasgetuies.

Duitsland gaan in September stembus toe, en volgens meningspeilings kan Merkel se Christen-Demokratiese Unie (CDU) die bewind afstaan, al het peilingsagentskappe dit feitlik eens dat haar party as grootste party uit die stryd sal tree. Die gaping met die sosialistiese SPD is egter nou so klein, die SPU kan ook deur die bymekaarhark van kleiner partye ’n koalisiemeerderheid behaal. Merkel moet dus haar sokkies optrek om weer groot getalle kiesers op te vorder. En om vir Poetin ’n streep in die sand te trek, en mee te deel sanksies teen Rusland kan nie opgehef word nie weens Rusland se volgehoue posisie in Oos-Oekraïne, lyk eenvoudig daadkragtig. Voorts het sy, in die teenwoordigheid van die media, Poetin gemaan om meer burgerlike vryhede, soos optogte, nie teen te staan nie.

Boonop is daar nog in Duitsland ’n ongemak met Rusland oor aanduidings dat Russiese kuberkrakers ook met die Duitse verkiesing sou inmeng, soos glo in die VSA sou gebeur het, en ook vir Frankryk beplan sou wees. Poetin het ná afloop van die samesprekings, en aan die sy van Merkel, enige Russiese betrokkenheid by inmenging in die Amerikaanse verkiesing, of voorgenome inmenging in die Duitse verkiesing, ontken. Merkel het ook gesê sy is nie oor so ’n vooruitsig bekommerd nie.

Maar of Merkel se skouerskuur met Poetin veel gevolge in Duitse politiek gaan hê, moet nog gesien word. Die Duitse media se fokus is nou grootliks gevestig op hoe sake in Turkye gaan afloop ná die Turkse referendum wat wesenlik van pres. Erdogan ’n diktator gemaak het. Die Duitse media berig vanoggend onder meer oor Erdogan se opdrag aan Turkse vroue om hulle te onthaar “ter wille van ’n mooier Turkye”.

Op ’n ernstiger noot word berig oor Amerikaanse en Russiese magte wat saam ’n wig in die noorde  van Sirië vorm om Turkye te verhinder om Koerdiese magte by te kom. Hierdie Koerdiese magte is bitter belangrik vir die geallieerde magte in Sirië en Irak. Daar is mediabespiegelings oor ’n geheime ooreenkoms tussen die VSA en Rusland wat veral oor die rol van die Siriese diktator, Basjar al-Assad, met mekaar haaks is.

Die VSA se aandag, ofskoon pres. Donald Trump en Poetin volgens mediaberigte ná een van hul gereelde telefoongesprekke wel begerigheid getoon het om mekaar eersdaags persoonlik te ontmoet, is tans by Noord-Korea. Die onervare administrasie het daadkragtig in ’n woordestryd met die Noord-Koreane betrokke geraak, en in die proses waarskuwende reaksie van China ontlok, wat Noord-Korea se veiligheid waarborg. En die Noord-Koreaanse regering gaan elke greintjie vog uit die opnuut opgediste Chinese versekering tap om die VSA te vertoorn.

Trouens, talle wêreldgebeure haal die belangrike Merkel-Poetin-samesprekings uit die kollig. En waar dit die media haal, is die invalshoek dikwels dat sy vir die regte van homoseksuele ingetree het, en nie soseer die potensiële invloed op wêreldgebeure nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Trompie ·

Weet nie so mooi van die puppet deel nie , maar n liberale idioot is meer gepaslik..

humor ·

Is dit politieke onkunde of verwaandheid om in n ander land se huishoudelike sake haar lyfie rond te swaai? Heel moontlik albei

John ·

Ja, Die verstokte tannie speel bloot ‘n rol in Europa se poppekas. Duitsland begin weer met sy streke en sal sy rieme weer styfloop wanneer hy almal probeer dikteer en beheer. Die Ukraiene is ‘n leuenagtige parassiet wat Navo se teenwoordigheid gebruik vir die vul van sy sak. Van die demokrate in die VSA is ingewurm in die sakekern. ‘n Vrot spul.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.