Nuuskommentaar: e-Tol – Nou die werklike toets

e-tagGaan die uitgesproke weerstand, van selfs kerkleiers, teen e-tol daartoe bydra dat dié omstrede stelsel weens onuitvoerbaarheid in die stof byt?

Of is verskeie waarnemers reg dat dit nie in Suid-Afrikaners – veral die vuisvoos middelklas en die hoër inkomstegroepe – se broeke sit om deur burgerlike verset die owerheid tot ander insigte te dwing nie?

En gaan die ANC die politieke prys betaal?

Om middernag vanoggend is die e-tolhekke geaktiveer nadat ‘n dringende aansoek van die Vryheidsfront Plus om dit te stuit in die hooggeregshof van die rol verwyder is onder meer omdat die regter gevoel het dit is nie dringend nie. Regter Maria Mabel Jansen, die voorsittende beampte, is die vorige dag deur pres. Jacob Zuma as regter aangestel. Mense sonder e-tolskyfies sal nou rekenings begin kry. Na raming is dit sowat ‘n miljoen mense.

Die implementering van die e-tol ding wat nuuswaardigheid betref mee met die implikasies van die uitlek van die voorlopige Nkandla-verslag van die Openbare Beskermer. Die implikasies van hierdie verslag is so enorm dat dit in ‘n demokrasie ondenkbaar is dat die president nog nie in sy amp gestuit is nie.

Regter Jansen se beslissing kan beteken dat die VF Plus die kwessie op die gewone hoofrol plaas, terwyl die DA se regsaksie ook nog aangehoor moet word. Op die oomblik spook die grondwetlike hof met die implikasies van ‘n gedane saak – die toestaan van die SASSA-kontrak aan Cash Paymaster Services wat ongrondwetlik verklaar is, maar ander maniere nou gevind moet word om die onreg ongedaan te maak omdat die stelsel nie ontwrig kan word nie. Die VF Plus stem nie met regter Jansen se standpunt saam dat die aansoek nie dringend was nie.

Die ekonoom Dawie Roodt skryf die manier waarop die e-tol geïmplementeer is, is ‘n goeie voorbeeld van hoe om sake te beduiwel. Hy is onder meer ongelukkig oor sekere inligting oor hoe om tot die prysbepalings te kom, as vertroulik geklassifiseer is.

Wayne Duvenhage van Outa skryf dat die insamelingskoste van e-tol nie net 17% is soos die minister volhou nie, maar eerder in die orde van 30%. Dit is ver bo die internasionale norm van 5 – 10%.

Dat daar burgerlike verset is, is ongetwyfeld so. Roodt beskryf dit as in wese ‘n belastingopstand. Oor die omvang hiervan verskil waarnemers.

Daar is twee benaderings in die weerstand. Die eerste is beperk tot die weiering om e-tolskyfies te koop, en so ‘n massa administrasie te veroorsaak, soos onder meer miljoene bykomende posstukke, wat die uitvoerbaarheid van die e-tol onder druk kan plaas – mits genoeg mense deelneem. Besoekers uit ander provinsies, wat uiteraard nie e-tolskyfies sal besit nie, sal tot hierdie lading bydra. Vervalste nommerplate en onskuldige mense wat so rekenings gaan kry sal ook ‘n impak hê.

Die tweede kategorie gaan verder en weier om enigsins te betaal. Om mense aan te moedig om aan hierdie veldtog deel te neem is soos die regsposisie nou daaruit sien onwettig. Die doel van dié aksie is klaarblyklik om die reeds oorlaaide howe met sake te “verstop.” Sanral het gedreig om mense wat na sewe dae nie betaal het nie aan skuldeisers te oorhandig.

Gaan die kwessie die regering stemme kos in aanstaande jaar se verkiesing?

Dit lyk redelik veilig om te sê dat dit wel ‘n impak sal hê, maar die omvang hiervan hang van baie faktore af, byvoorbeeld hoe Cosatu se weerstand gaan manifesteer. Cosatu se probleme het ander oorsake as die steun of teenkanting van die e-tol, maar hoe die interne twiste gaan uitspeel sal tog ‘n enorme impak op die weerstand teen e-tol hê. Die regering het waarskynlik gemeen die vrystelling van taxi’s van e-tol sou verhinder dat die vakbondwese so fel reageer. In dié stadium lyk dit nie of dié taktiek gewerk het nie.

Waarnemers wat skepties is oor die doeltreffendheid van die weerstand, wys daarop dat die middelklas-Suid-Afrikaners geen trotse rekord het om die regering tot ander insigte te dwing nie. Ander wys daarop dat die Afrikaner eens deur georganiseerde verset die destydse bonusobligasies tot niet gemaak gekry het.

Vir die huidige, in elk geval, is daar nou twee soorte middelklas-Gautengers: Diegene met e-tolskyfies en diegene daarsonder. Gaan die ANC met verdeel en heers dié ene beklink?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stoere Boer ·

‘n Voëltjie hoor fluit een van die regter se familie (Moontlik haar dogter) is ook betrokke by e-tol. Wonder of dit waar is want dan maak baie dinge sin veral omdat sy ook nog pas deur zumpie stortkop aangestel is.

Mike ·

“Regter Maria Mabel Jansen, die voorsittende beampte, is die vorige dag deur pres. Jacob Zuma as regter aangestel” Die regstelsel in SA is ook een groot bedrogspul nes al die ander staats instellings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.