Nuuskommentaar: E-tollenaars se “breede weg” na die verkiesing

de_brede_en_de_smalle_weg_grootIn ouma se voorhuis het die bekende skildery gehang wat in Hooghollands die roete van die Bybel se “smalle weg” en “de breede weg” aandui. Die mense op die smalle weg ondervind ‘n vreeslike klomp struikelblokke en teenspoed, maar die pad loop uiteindelik op die hemelstad uit. Op “de breede weg” gaan dit te flink, maar dié pad kom uiteindelik by ou Nick Slypstert uit, en dan begin die erge moeilikheid.

Asof simbolies het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OV) op dieselfde dag as wat die appèlhof die groen lig vir die Gautengse e-tol aangeskakel het, sy verkiesingsveldtog bekend gestel. Die e-tolsage het waarskynlik die potensiaal om uiteindelik die grootste enkele impak op die uitslag van aanstaande jaar se verkiesingsveldtog te hê. Die DA en die ANC besef dit deeglik met die ANC se langlippie oor die DA se meesterskuif met groot padpredikante wat sê die e-tol word gebring met die komplimente van die ANC.

Sou die e-tol uiteindelik ‘n werklikheid word – Outa gaan vandag aankondig wat sy verdere planne is – sal dit verreikende implikasies op baie aspekte van die Suid-Afrikaanse ekonomie en samelewing hê.

Maar in die konteks van die OVK se verkiesingsbekendstelling gister, moet bepaald ook gekyk word na hoe die e-tol die verkiesing kan beïnvloed.

Gaan dit byvoorbeeld die huismoles in die ANC-alliansie op ‘n algehele breekspul laat uitloop? Patric Craven, woordvoerder van Cosatu, het kort na die uitspraak steeds stem dik gemaak oor protesaksies wat beplan word. Die taal mag meer getemper wees na die Zuma-faksie ‘n groot demper op Zwelinzima Vavi as groot aanstigter téén e-tol geplaas het, maar klaarblyklik is die Cosatu-teenkanting van e-tol daarmee nie gesmoor nie.

Cosatu se taaibekkigheid hieroor frustreer die ANC se doel om die persepsie te skep dat dit die “rykes” is wat vir die infrastruktuur gemelk gaan word. Cosatu, reg of verkeerd, word nog wyd beskou as die kampvegter vir die armes, en met Cosatu se teenstand word die “verlangde” persepsie deurmekaar gekrap.

In die praktyk is dit waarskynlik die middelklas wat die grootste spit gaan afbyt, en in die Gautengse ANC word vlieërs opgestuur om oud-pres. Thabo Mbeki in te span om die meer welvarende kiesers te oortuig om vir die ANC te stem, omdat, so word wyd geglo, Zuma in daardie geledere uitgebak is. Die volharding met die e-tol maak dit beslis nie makliker vir die ANC se nasionale ringkoppe om Zuma as die ANC se gesig vir die verkiesing te bemark nie.

Die grootste gevaar is egter die negatiewe impak wat die e-tol op vertroue in die grondwetlike demokrasie, en die geloofwaardigheid van die regbank kan hê.

Die VF Plus se reaksie, by monde van die LP adv. Anton Alberts, is ongewoon krities op die regbank: “Die VF Plus is van mening dat politieke druk vanaf die regering se kant wel ‘n rol gespeel het in die uitspraak (van die appèlhof) aangesien pres. Jacob Zuma die E-tolwet geteken het net voordat die regters ‘n bevinding moes maak in die Outa-saak. Dit het ‘n duidelike boodskap gestuur oor die regering se standpunt. Die publiek moet egter nie moed verloor nie aangesien daar nog geleentheid vir Outa is om hom na die Grondwethof te wend.

“Die VF Plus gaan die E-tolwet nou ook in die hooggeregshof beveg op grond daarvan dat die wet ongrondwetlik is en daar bestaan ‘n sterk moontlikheid om suksesvol te wees met so ‘n aansoek.”

Volgens Alberts het hy Zuma intussen reeds versoek om die regsadvies wat hy aangaande die E-tolwet ontvang het, aan die VF Plus voor te lê aangesien dié party se inligting is dat die president se eie regsadviseurs ook van mening was dat die E-tolwet ongrondwetlik is.

“Die VF Plus versoek ook opnuut die publiek om nie e-tolskyfies te koop nie aangesien dit nie ‘n wetlike vereiste is om een te besit nie en Sanral bloot daarmee hul eie databasis wil opbou om toekomstige afdwinging van e-tolrekeninge moontlik te maak.

Die geloofwaardigheid van die regbank is juis nou onder druk. Dit het hoofregter Mogoeng Mogoeng genoop om vir die integriteit van die regbank in te tree. Hy het egter, aldus RSG, erken dat sommige regters ‘n moeilike tyd beleef. Mogoeng het verwys na die geskil tussen die regterpresident van die Wes-Kaap, John Hlophe en die twee konstitusionele hof-regters, Bess Nkabinde en Chris Jafta, oor bewerings van wangedrag teen Hlophe. Mogoeng het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die tugproses sy beloop te laat neem en nie die situasie meer ingewikkeld te maak deur regters by te kom nie. Hy sê aanvalle op die regters hou die grootste gevaar vir die integriteit van die regbank in. Maar moet die regters se optrede dan nie regterlik wees om die aanvalle te voorkom nie?

By die publiek is dit egter moeilik om tot ‘n ander gevolgtrekking te kom dat óf Hlope, óf Jafta en Nkabinde, nie van regterlike stoffasie is nie, want minstens jok iemand iewers. En ‘n leuenagtige regter is ‘n probleem.

Die Christen-Demokratiese Party (CDP) wys op die impak op die geloofwaardigheid van die grondwetlike demokrasie self. “Met Outa se mislukte appèl teen die e-tol wonder ‘n mens wat die doel is met die peperduur openbare deelnameprosesse wanneer die regering eenvoudig Luthuli-huis se aanvanklik besluit deurvoer?” So vra ds. Theunis Botha, leier van die CDP.

“Die lys raak al hoe langer van sake waaroor die publiek en ander rolspelers tydens openbare verhore, wat soms teen groot koste landswyd gehou is, se insette verkry is, maar dat dit geen rol speel om die oorspronklike besluit eenvoudig deur die parlement te voer nie. Die snoerwet en die ‘liberalisering’ van die aborsiewette is maar twee onlangse gevalle.

“As die politici die kiesers oor ernstige kwessie so vir die gek hou, kan maar net besef word dat partye wat nou skielik die ene ore is, so kort voor die algemene verkiesing, oor wat gemeenskappe se behoeftes is, ook weer die hand dig gaan hou wanneer die stemme eers uitgebring is.

“’n Goedbedoelde grondwetlike maatreël word nou ingespan om van die grondwetlike demokrasie ‘n bespotting te maak.”

Daar is egter ook minstens een positiewe uitvloeisel van die sage – ‘n al groter deel van die bevolking besef die belangrikheid van burgerlike instelling binne die grondwetlike demokrasie. Outa het oornag ontstaan en ‘n huishoudelike naam geword.

Dwars oor die land werk AfriForum hard om wal te gooi teen verval, en om verontregtes by te staan – dikwels uiteindelik ook in die howe. Of dit nou die ANC se houding oor die verandering van Pretoria se naam is, en of dit nou meenthuise in Bloemfontein is wat super-kragtariewe moet opdok, of munisipaliteite wat hul rioolnetwerke verslons, AfriForum praat, en as die ore nie wil hoor nie, word die regstande ingelê.

Wêreldwyd word aanvaar dat burgerlike organisasies, soos ‘n vrye media, onontbeerlik is vir die behoorlike funksionering van die grondwetlike demokrasie, en om die leemtes wat noodwendig in grondwette bestaan, te temper.

Die OVK se oë is egter nou op die deelname van politieke partye aan die verkiesing, en elke burger het die plig om hom ook daar te laat geld om sy kosbare stemme (nasionaal en provinsiaal) so doeltreffend as moontlik ooreenkomstig sy beginsels te laat tel. Net een stem wat uitgebring moes word, maar nie uitgebring is nie, kan ‘n reuse verskil maak, en nog e-tollenaars en sondaars in regeringskringe oplewer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae