Nuuskommentaar: E-tollenaars, sondaars en BEE-sondebokke

etolhekke in gautengMet die Vryheidsfront Plus, tesame met die TLU-SA en die Nasionale Belastingbetalersvereniging, en die DA op pad hof toe oor die e-tol, wat toevallig saamval met die rare “opening” wat ander opposisiepartye as die DA gekry het om ook hande op te steek, is die verkiesingsveldtog volgens verskeie analiste nou in volle swang.

Die e-tol het ‘n beduidende potensiaal om steun by die ANC weg te rokkel, onder meer weens Cosatu – of dan elemente binne Cosatu – se teenkanting daarteen. Hoewel die e-tol nou nog net ‘n Gautengse verskynsel is, raak dit die res van die land enersyds omdat baie Suid-Afrikaners besoek aan die ekonomiese hartland bring, maar die koste-implikasie sal ook na die res van die land uitkring. En as dit eers in Gauteng ingestel is, sal die belange wat werklik enorme bedrae hieruit gaan skep – plaaslik en internasionaal, sekerlik hul gulsige oë op die res van die land rig.

En terwyl die kiesers probeer sin maak uit die vraag oor hoekom die ANC so verbete aan e-tol klou, ten spyte van die ooglopende potensiële skade weens steun aan juis hierdie opsie in plaas van ‘n meer aanvaarbare alternatief, het die DA die bal aangeslaan. Dit het ‘n rare geleentheid gebied om ‘n tweeparty-“demokrasie” vry te spring weens sy steun aan ‘n wetsontwerp wat ras-tellende aksie se diskriminasie teen minderhede verdiep.

Na ‘n groot bohaai, onder andere deur oud-leier Tony Leon, het die DA-leier Helen Zille die DA se steun aan die wetsontwerp as fout beskryf, en as kaptein van die skip persoonlike aanspreeklikheid aanvaar.

Dit volg kort nadat Maroela in Die Groot Debat die DA se standpunt ter steun (met voorbehoude) van die wetsontwerp geplaas het soos bewoord in ‘n toespraak van die skaduminister van arbeid, Sej Motau: “…die DA steun die grondwetlike bepalings vir regstellende aksie en die doelwitte van die Wet op Gelyke Indiensneming om regstelling en diversiteit in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark te bevorder. Die DA glo dit is wenslik dat individue vanuit verskillende agtergronde moet leiding neem en deel moet wees van sakeondernemings en ander organisasies in Suid-Afrika, en dat regstellende stappe geneem moet word om hierdie diversiteit te bereik. Hoewel ons die algemene strekking van die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming steun, bly ons egter besorg oor sommige bepalings in die wetsontwerp.”

Het Zille nou die skade wat die DA skynbaar gely het omgekeer, en speel die tydsberekening van die aankondigings oor die e-tol-hofsake enigsins ‘n rol?

Ons kyk eerstens na die e-tol-verwikkelinge:

E-tol

Byna gelyktydig kondig die Vryheidsfront Plus en die DA aan dat hulle onafhanklik van mekaar die howe gaan nader om die e-tol te stuit. Die VF+ doen dit saam met die TLU-SA en die nasionale belastingbetalersunie.

Hoewel die twee sake nie identies aangepak word nie, meen beide dat daar ‘n grondwetlike leemte in die wetlike proses was deurdat die provinsiale vlak van regering – in hierdie geval Gauteng, nie geken was nie.

Die uiteindelik onsuksesvolle hofgeding van Outa, waar Outa ook weens ‘n geldtekort die handdoek ingewerp het, het getoon hoe duur so ‘n regstryd kan wees, en so kort voor verkiesings is geld iets wat oor ‘n ongelooflike wye front aangewend moet word om enigsins hond-haaraf te maak.

E-tol, wat op verskillende maniere oor die wêreld toegepas word, is ‘n erg omstrede kwessie. Hoewel die manier wat in Suid-Afrika beplan word ook elders toegepas word, is die meer algemene manier om motoriste van ‘n skyfie te voorsien wat vir ‘n tydperk geldig is, eerder as die aantal kilometer wat afgelê word. En al werk hierdie manier gewoonlik veel goedkoper uit as dit wat gereelde gebruikers in Gauteng sal moet opdok, bly dit ‘n emosionele kwessie. In België het planne om tolvignet, soos dit daar genoem word, van 2015 af vir alle voertuie in te stel, in die slag gebly en slegs vragmotors gaan opdok.

In Oostenryk kos die “vignette”-skyfie, soos dit in Duits genoem word, € 80,60 (R1 100) per jaar, € 24,20 vir twee maande, en € 8,30 vir tien dae. Sou gereëlde gebruikers in Gauteng die Oostenrykse opsie en koste gebied gewees het, sou die gebruik per maand minder as R100 uitwerk as ‘n jaarkaartjie gekoop gewees het. In Gauteng gaan die perk vir ‘n kaartjiehouer vir ‘n Klas A2-motor R450 wees, dus byna vyf keer duurder as om op ‘n Oostenrykse Autobahn te kerjakker.

Opposisiepolitiek

Slegs die Vryheidsfront Plus het téén die ras-tellende wet gestem, maar die ander opposisiepartye wat daarvoor gestem het, is nie so onder skoot geneem soos die DA nie.

Indien die DA se nuwe standpunt nou daartoe lei dat die party genoegsame voorvereistes in die Nasionale Raad van Provinsies stel, en uiteindelik in die Nasionale Vergadering daarteen stem, sal dit veroorsaak dat partye soos Cope, die UDM, IVP en die ACDP vir kiesers van minderheidsgemeenskappe basies irrelevant kan word.

Die vraag is nou of die DA daarin sal slaag om tot binne die grense te beweeg wat instansies soos Solidariteit, Rapport, Die Burger en Volksblad verlang en so verdere regstreekse teenkanting uit hierdie oorde te stuit?

Die tyd sal leer. Verskeie prominente swart DA-lede het hulle baie sterk ten gunste van SEB uitgespreek en dit as DA-beleid voorgehou. Die DA se steun aan die gewraakte wetsontwerp is hieraan gekoppel. Die voorbehoude wat genoem was, het minder met die raskwessie te make gehad as die beperkings wat dit op ekonomiese groei plaas. Peilings toon dat terwyl die meeste lede van minderheidsgemeenskappe neo-apartheid as voortgesette rassediskriminasie ervaar, die meerderheid swart respondente dit nie so ervaar nie.

Voorts is die beskouing van baie transformasiedrywers oor wat transformasie behels so rasbenepe dat een van die bekendste transformasiedrywers, prof. Jonathan Jansen, onlangs in sy rubriek erg krities uitgepak het teenoor ‘n dokument van dr. Blade Nzimande se Transformasie-oorsigkomitee: “Wat ons nié nodig het nie, is ’n verslag wat die kompleksiteite van transformasie beperk tot ’n gelykheidsindeks waarin die getal swart personeellede of studente getel, universiteite van die beste tot die swakste gerangskik en sommige tot meer getransformeer verklaar word. Só ’n denkwyse wat transformasie tot velkleur beperk, is bloot die keersy van apartheidsdenke. Ironies genoeg is dié verslag ’n terugslag vir transformasie.”

Gaan die Zille-ingryp van haar mees prominente swart lede oortuig dat daar steeds doeltreffend na swart gemeenskappe uitgereik kan word? Of gaan daar ’n weerstand wees omdat sommiges meen ANC-steun kan slegs afgerokkel word deur die ANC te oorbie?

Gaan die Zille-standpunt ook ander opposisiepartye oor hul steun aan die wetsontwerp laat herbesin?

Die interessantheid was om die reaksies in die sosiale media te volg. Dit is baie moeilik om hieruit ‘n behoorlike wetenskaplike ontleding doen, maar dit lyk of daar by baie kiesers reeds ‘n sterk tweeparty-persepsie vasgeslaan het: “Noudat ek nie meer vir die DA kan stem nie, is daar niemand om voor te stem nie.”

Dié persepsie is ook deels deur ‘n groot deel van die media gekonsolideer wat, terwyl die DA gestriem is, selde alternatiewe voorgehou het.

Dit op sy beurt het dit vir die politieke partye soos die VF+ en die CDP – wat nog nie daarin kon slaag om parlementêre verteenwoordiging te kry nie – baie moeilik gemaak om werklik hande op te steek en die kiesers se oog te vang. En in hierdie “venster” wat die DA gebied het, was dit vir hulle so belangrik. As dit nie vir die gemeenskapsmedia was nie, veral gemeenskapsradiostasies, sou die partye wat nou hande opgesteek het se pogings behalwe heeltemal ongesiens, ook ongehoord verbygegaan het.

Vir hierdie partye is dit duidelik dat hulle – in die oë van kiesers verkieslik saam – die “waoh!” moet ontdek om hul bod by die kiesers duidelik in te sit. Die e-tolhofsaak is ‘n goeie opsie, maar ‘n ontleding van die media dui daarop dat van die belangrikste media net na die DA se hofpoging verwys, en glad nie die VF+ se poging noem nie.

En demokrasie word wêreldwyd aan politieke diversiteit gemeet, en persvryheid aan die hand van die weergee van politieke diversiteit. Benewens die regering se muilbandpogings, is dit juis hierdie afwesigheid van politieke diversiteit in die Suid-Afrikaanse media wat die land so op die internasionale persvryheidsindeks agteruit laat boer.

Om die VSA se de facto-tweepartybedeling as rolmodel voor te hou, is erg misplaas. Die afwesigheid van koukusgebondenheid in die VSA skep ruimte vir diverse menings, soos die Tea party in die Republikeinse Party, lobbies en ander belangegroepe. Tot Suid-Afrika nie sy posisie op die korrupsie-persepsie-indeks, en veral die omkoopindeks (waar Suid-Afrika onder die slegstes in die wêreld tel), onder beheer kry nie, kan lobbie-gedrewe politiek nie bekostig word nie omdat dit byna onvermydelik op ‘n tsjô-tsô-gekonkel uitloop.

Die DA het aangeslaan, maar kon die ander opposisie “genoegsame voordeel” speel?

Die tyd sal leer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Heinriette ·

Ek sal bitter graag die REGTE rede agter die ANC se vasberadenheid oor die e-toll wil weet.

Frik Lotz ·

Die DA kan nie meer vertrou word met enigiets nie. Die enigste party wat konsekwent is in hul optrede en werklik minderhede se belange op die hart dra is die VF Plus.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.