Nuuskommentaar: Edelagbares wat die bôlle rol

Skare drom saam voor die voorportaal tydens 'n onderonsie by 'n algemene Tshwane-raadsvergadering op 27 September 2016  (Foto verskaf aan Maroela Media)

Skare drom saam voor die voorportaal tydens ‘n onderonsie by ‘n algemene Tshwane-raadsvergadering op 27 September 2016 (Foto verskaf aan Maroela Media)

Weens die heterogene aard van die Suid-Afrikaanse politiek kan ’n geveg tussen edelagbares eenvoudig nie geduld word nie. Dit kan te maklik in ’n rasseding ontaard wat kan uitkring.

Die afstootlike gebeure in die Tshwane-metroraad waarvoor die ANC voor stok gekry is, is nie heeltemal sonder presedent in die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie. So het ’n edelagbare doktor van die destydse NNP haaks geraak met die ANC se bekende adv. Johnny de Lange. Nie lank nie toe mik die doktor ’n hou na De Lange, maar watwou! De Lange gaan haal ’n haakhou uit die buik en moker die doktor dat hy kaplaks met sy edele blaker op die parlementsvloer beland … reg voor ’n TV-kamera. Nie lank daarna nie, en voor die NNP formeel ook so gemaak het, het die doktor by die ANC aangesluit.

Om die analoog van ’n ou storie uit die Natte en Sappe se bakleidae op Calvinia te verwring – die doktor is reg ged*nder.

’n Hele ruk hierna is die “bakleiery” verbaal gedoen, en ’n edeldierbare het selfs by geleentheid ’n middelvinger ingespan, en ’n ander die f-woord.

Oorsee is groepgevegte in die parlement nie heeltemal ongewoon nie, soos die parlement van die Oekraïne waar die bôlle gereeld op aansienlike skaal gerol is. By geleentheid het ’n TV-toneel gewys hoe die edeles in die parlement van Taiwan haaks raak. Toe die vonk in die kruitvat beland lyk dit soos ’n toneel uit ’n Jackie Chang-fliek soos die ratse parlementslede opspring en oor die banke mekaar met koeng foe, karate en wat nog als takel.

Intussen het die EFF weer bietjie vonke na die parlement gebring. Aansluitend hierby het studente verlede jaar tydens die betogings ook die parlement bestorm.

In die VN se raadsaal het ’n effe onafgeronde regeringsleier woedend met sy skoen op die bank geslaan.

Met die gebeure in Pretoria het twee vroue, een van die DA en een van die EFF, in die hospitaal beland. Dit verskaf nog ’n dimensie aan die onaanvaarbaarheid van die optrede wat blyk boonop ’n lafhartige element van buffelagtigheid te bevat.

En Pretoria is die land se hoofstad. Dit is vir die ANC ’n bitter pil dat dié party beheer oor die raad verloor het, maar dit was darem die ANC se eie keuse om met pres. Jacob Zuma aan die spits die verkiesing in te gaan. Die ANC het landswyd ’n duur prys daarvoor betaal, en die prys gaan al hoe groter word hoe langer dit vir die ANC neem om Zuma die trekpas te gee.

Om in ’n demokrasie ander partye te verkwalik vir die prys wat jy weens jou eie foute betaal, is nie baie demokraties nie.

Dis ook een ding om binne ’n homogene omgewing te baklei, soos tussen die Natte en Sappe, of Smelters teen die Gesuiwerdes. In Ladybrand is die stadsaal se besondere deure selfs met kosyn en al uit die mure uitbaklei. In nog baie skou- en veilingskrale se store is van hierdie lang rye opslaanstoele wat so aanmekaar vas is, in ’n gehawende toestand. Hulle het sommer gawe slaangoed uitgemaak. Of die vrot eiers en tamaties in die begindae van die “Hertzogiete”.

Maar nou is die politiek baie heterogeen en ’n geveg kan so maklik in ’n rasse-insident ontwikkel, veral as dit die agbares is wat die toon aangee.

Dit kan eenvoudig nie geduld word nie.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koos ·

Jong in ons vervloê dae was die boksgevegte tussen natte en sappe boere sport,skoon sonder brandstigting of vroue slaners. Na so n vegadering het almal by dieselfde kroeg hulle einas met n bier afgespoel en saam oor boerdery gesels. Daar is deesdae n paar mense wat dalk net n goeie pakslae moet kry dit kan dalk help om arogansie en ongeskikheid in die kiem te smoor

Zumie ·

Seker dan tyd om die tradisionele wapens parlement toe te neem – maak skoon oupa se ou Sanna..

Johann ·

Eenvoudig: barbaarse onopgevoede anargie! En so graag ek wil is daar n paar meer as gepasde “natuur verskynsel” vegelykings. Maar dan het ek verseker al wat n ANIMAL RIGHTS organisasie op my dat ek durf dierlike instinktuele gedrag met die van mense vergelyk. O…en wonder ek maar net hardop…presies met hoeveel geweld en via die mobilisering van watter sosiale kanale (lees jeug) het die ANC sy bewind afgedwing? En met die huidige NIMBA WHONE en sy ttawante wonder mens hoeveel geduld sal word voor dit te laat is WANNEER die gemiddelde Suid Afrikaner gaan reageer?

Theuns ·

Herman ek het nou lekker gelag vir jou skrywe en dit het my gedagtes teruggevoer na vervloe dae! Mooi dag.

KP ·

Politiek was nog altyd n sirkus. Dan is die narre in beheer van n land.

Jan maak n plan ·

Ja Herman weereens is jy in die kol, dis nou wanneer sogenaamde generaals nie eens korporaals in die kadette moes gewees het nie.

Theresa ·

Oe, ek hoor weer die aanhoudende, afgesaagde, dog dringende: soos soos jironnerribil!! jironnerribil!! ….. galgehumor, want eintlik is dit pateties verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.