Nuuskommentaar: Een, twee … hoeveel regeringsvlakke nou weer wat werk?

ANC-se-vlag-deur-ANA

Foto: ANA.

Hoekom wil die ANC die swakste regeringsvlak voortrek? Volgens die grondwet is daar drie regeringsvlakke in Suid-Afrika, naamlik die sentrale, provinsiale en munisipale regeringvlakke. Die grondwet bepaal dat Suid-Afrika, minstens wat die regeringsvlakke betref, ’n rangorde in belangrikheid het. Die sentrale, of parlementêre regeringsvlak, is dus magtiger as die ander twee vlakke.

Tog is daar kwasi-federale kenmerke. Soos dat daar gedeelde of gelyklopende funksies vir die sentrale regering en provinsies voorgeskryf word. Die polisie is so ’n gedeelde funksie. Natuurlik is daar lande waar nie alle provinsies of deelstate dieselfde magte as ander het nie. In China, die grootste unitêre staat ter wêreld, het sekere provinsies gedeeltelike outonomie, gewoonlik weens etniese verskille.

Heterogeniteit neig om ’n stelsel daar te stel waar streke outonoom of semi-outonoom is. Trouens, daar is ’n staatkundige beginsel, bekend as die subsidiariteitsbeginsel, wat bepaal dat die regeringsgesag setel in die laagste moontlike regeringsvlak.

Suid-Afrika se regeringsgesag is ongetwyfeld op eerste regeringsvlak gesetel. Die duidelike uitsondering is die Wes-Kaap wat sy eie grondwet gekry het. ’n Uitvloeisel is onder meer dat die mense wat in ander provinsies “lede van die uitvoerende raad” (LUR) genoem word, in die Wes-Kaap ministers is.  Dit is ook die provinsie wat die beste presteer.

Tog plaas die ANC ’n baie groot premie op die munisipale regeringsvlak. Kort-kort word munisipale chaos gerapporteer – hetsy deur die ouditeur-generaal, hetsy deur die media, die polisie of die opposisie. Miljoene rande word spandeer, onder meer vir luukse oorsese ekskursies. Die ouditeur-generaal, die polisie, die media en die opposisiepartye doen gereeld verslag en is baie uitgesproke oor hoe dit werklik gaan.

Die ANC is baie uitgesproke in sy versugting om die aantal regeringsvlakke te verminder, en die fokus is gewoonlik op die wegval van die provinsiale regeringsvlak. Dit sou die regering se doel wees om die funksies wat nou deur die provinsies verrig word, aan munisipaliteite oor te dra. Provinsies sou verdwyn of verminder word.

Daar kan baie redes aangevoer word oor hoekom die ANC so ’n groot voorkeur toon om die regeringsvlak wat die swakste funksioneer, meer en belangriker funksies te gee. Dit verskaf meer plek om kaders te ontplooi, en ’n amptenaar wat dink hy is belangrik, is gewoonlik ook ’n lojale amptenaar.

Dit is natuurlik ook so dat die munisipaliteite die enigste regeringsvlak was waaraan swart mense buite die tuislande kon deelneem. Die stelsel is amptelik deur die ANC en ander geboikot, en was dikwels deur korrupsie oorstroom. Maar die feit is dat swart mense die stelsel normaalweg beter ken, ook danksy omvattende bekendstellingsaksies deur die regering. By geleentheid was die Buro vir Inligting se ganse begroting etlike maande voor die einde van die boekjaar uitgeput omdat die regering nie die beloofde aansuiwering gedoen het, en ander departemente gevolglik ook nie kon oorspandeer nie. Die kundigheid wat so beskikbaar geraak het, het skynbaar dadels opgelewer.

Dit laat steeds die vraag – hoekom wil die ANC voortdurend die munisipale vlak ten koste van die ander uitbrei, veral omdat dit byna altyd bodemlose putte word?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper Labuschagne ·

Die antwoord hoekom die ANC die munisipale vlak wil uitbrei lê opgesluit in hul NDP plan wat ‘n sosialistiese bestel moet bevorder. Dit is op die vlak van die munisipaliteit wat direkte sosialistiese beheer uitgeoefen sal word oor besighede, kulturele instansies en selfs kerke. Daarby is die grootste potensiaal vir direkte werkskepping in die toekoms op munisipale vlak en nie die sentrale regering nie. En laastens is daar die besondere verskynsel dat dieselfde inwoners wat vandag die Moqhaka munisipaliteit wil afbrand vanweë ‘n gebrek aan dienste. môre vir die ANC sal stem – in die woorde van ‘n swart aptekersassistent aan my, “Moqhaka is not the ANC, I will vote ANC till the day I die.” Gevolglik word die ANC as party selde deur die kiesers verantwoordelik gehou vir die munisipaliteite wat droogmaak.

Provinsies het geen rol in die ANC se langtermyn planne nie en is oorblyfsels van die wit minderheid se eise om federalisme tydens die onderhandelingsproses voor 1994. Die ANC wil allermins die risiko loop dat een of meer provinsies eendag sal poog om af te stig van die sentrale regering, en in die geval van beide die Wes Kaap asook Kwa-Zoeloe Natal is so iets nie ondenkbaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.