Nuuskommentaar: Eerlike werk, nie steel nie, die sleutel

finansies-geld-onder-die-vergrootglas

Foto: Stevebp/Pixabay.com

Ná byna twee vol termyne van ’n parasitiese Zuptakrasie wat die land se mense en hul hulpbronne tot die uiterste onder druk geplaas het, het die nuwe minister van finansies Woensdag die onbenydenswaardige taak om die ekonomie met die midtermyn-begroting weer op koers te probeer kry.

Niks gaan egter vermag word as die sloping van die ekonomie nie met mening aangepak word nie, en as die burgery agteroor gaan sit en wag vir ’n regering wat erg mank gaan aan kundigheid om sake vlot te maak.

Dat Suid-Afrika erg getref is deur staatskaping en ander aksies soos die plundering van die VBS Mutual Bank (wat min of meer leeg geplunder is), is ’n harde werklikheid waarmee die nuwe minister van finansies, mnr. Tito Mboweni, Woensdag te kampe sal hê wanneer hy die midtermyn-begroting aan die parlement voorlê.

Dit lyk nie of die land die vooruitsigte van erg gaan knyp om sake reg te ruk, gaan ontsnap nie.

Die ou Bybelse waarheid, in die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood verdien, bly steeds waar.

Die Christen kry in die Bybel die opdrag om sy talente, of dan gawes, te gebruik.

Met ’n waaksame oog daarop om nie die Bybel vir politieke doeleindes te misbruik nie, word so klinies moontlik gekyk wat die Bybel oor die saak te sê het.

Die ou Bybelvertaling, asook die Bybel vir Almal en Bybelvertalings soos die NetBible (met sy indrukwekkende verklarende fasiliteit) gebruik die vertaling, “talente”, eerder as “muntstukke” soos in die 1983-vertaling. In werklikheid is daar ’n groot verskil – ’n talent, al het dit oor tyd heen effens verander, het ongeveer 50 kg geweeg. Uit die betrokke verse kan afgelei word dat die Bybel ten minste soms talente, en nie muntstukke nie, bedoel het.

So het farao Neko beveel dat die land Juda aan hom 100 talente silwer en een talent goud (as oorlogskuld) betaal. Dit is ondenkbaar dat farao oorlogskuld van net 100 silwer, en een goue muntstuk sou laat betaal (2 Konings 23:33). Die 1983-vertaling vertaal dit dan ook met drie en ʼn halwe ton silwer en 34 kg goud.

Teen dié agtergrond is dit duidelik waarom die meester so kwaad vir sy slaaf was aan wie hy een talent toevertrou het, wat dit toe gaan begraaf het eerder as om daarmee te woeker of selfs net in die bank te laat rente trek. Dit was immers bykans ’n kruiwavrag vol silwer wat sonder enige dividende begrawe is.

Verskeie teoloë wat oor die betrokke gedeelte gepreek of geskryf het, wys daarop dat dit nie belangrik is of muntstukke of ’n aansienlike vraggie goud of silwer bedoel word nie, maar die boodskap dat elkeen sy gawes moet benut volgens dit wat deur die Here aan hom of haar toevertrou is. (Een talent was in hierdie geval gelykstaande aan 6 000 denarii, waar een denarii min of meer gelykstaande aan een dag se loon was.)

Dit wil dus voorkom of ’n talentvolle persoon ook met groter verantwoordelikhede deur die Here toevertrou word as die persoon wat min gawes ontvang het. Die bedoeling is egter dat elkeen dit wat aan hom toevertrou is, na die beste van sy vermoë moet aanwend.

In Januarie 2016 het Maroela Media in sy Gedagte vir die Dag die onderwerp onder die opskrif, “Gebruik jou talente om God te verheerlik”, onder die loep geneem. Die skrywer sluit af deur die leser te vra om dié jaar sy talente te identifiseer en tot eer van God te gebruik. Die bedoeling is dus nie dat talente vir selfsugtige doeleindes aangewend word nie.

In 1 Korintiërs 12 word die uiteenlopende aard van gawes uitgestippel, maar ook daarop gewys dat alles deel van dieselfde liggaam bly. Verskillende mense se talente kan mekaar dus aanvul om ’n groter en doeltreffender uitwerking te hê.

Sou daar soveel swaarkry en armoede in die land gewees het as elke burger sy talente tot eer van God benut het?

Die erge besoedeling van die Vaalrivier en die negatiewe uitwerking op die natuur en ekonomie is deesdae dikwels in die nuus. Onder die instansies wat inspring om sake reg te probeer ruk, is AfriForum met omvattende planne, nie net ten opsigte van die Vaalrivier nie. So word talente saamgespan om die lewe vir almal beter te maak.

Hoe swakker die regering vaar, en hoe meer skelms en diewe die ekonomie stroop, hoe nodiger word dit dat individue en instansies inspring en die skade omkeer. Die Solidariteit Beweging se selfhelpplan (Plan B) is ’n goeie voorbeeld van waar Afrikanertalente ingespan word om die leemtes wat ontstaan aan te pak, met onder meer ’n eie universiteit wat die lig gesien het.

Dit beteken egter nie dat die Christen/Christen-Afrikaner bloot moet aanvaar dat die regering swak bestuur word, en misdaad hand oor hand toeneem nie. Die regering moet tot verantwoording geroep word en elke kieser het ’n plig om sy stemreg en ander burgerlike verantwoordelikhede uit te oefen om die spore van afgelope jare se Zuptakrasie uit te wis en die skade ongedaan te maak. Dit vereis egter dat die druk te alle tye volgehou word.

En om dit te doen is daar plek vir elkeen se talente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

waarheid ·

Eeerlikheid in die staat gaan nie gebeur nie – ek is seker hy weet dit – so ek weet nie eintlik wat die nuwe minister daar maak nie – dalk ook deel van dit.

Pieter Jooste ·

Die artiekel is baie goed en baie waar opgestel. Maroela gaan van krak tot krag met hull nuus voorsienning baie dankie

Tammy ·

Mnr Mboweni kan suksesvol wees. Dis n uitstekende plan om by Eskom te begin en die meer as 30 000 oortollige personeel te verminder. Ander staatsdepartemente met baie personeel as bagasie moet ook soortgelyk gesny word. Dit alleen sal n groot verskil maak.
Die VBS plunderaars moet al die geld terug gee, verkoop alles wat hulle het, selfs hulle klere en betaal terug…dit geld ook vir vir die klomp plunderaars van ander departemente.
Om rentekoerse te verhoog sal ook help!

Al ·

Ek dink dis hy wat die opmerking gemaak het van dat na Duitsland se ekonomie gekyk moet word – die medium en kleinhandelsektor verstewig daardie land se ekonomie.
Miskien moet ons entrepeneurs meer ontwikkel word.
Wat hartseer is dat die ANC nie behoorlik hul wanbestedende korrupte lede vasvat deur kriminele klagtes te gaan lê by die SAPD nie – die DA moet hul vuilwerk vir hul doen.
Ons burgers moet uitkyk vir ons samelewing en opstaan teen misdaad en korrupsie.
Dankie Afriforum en alle groepe wat ons burgerlikes se stem is.

Fryingfrog ·

Al wat die Bybel my omtrent hierdie land se ellende leer is dat 1. die gelowiges sodanig gesondig het, dat God hul met hierdie regering gestraf het. Vandaar al die ellende wat ons beleef. 2. Dat die regerende party en hul stemvee oneerlike en ontalentvolle mense is, dat hul hulself straf deur aanhoudend vir hulle te stem. ‘n Tweesnydende swaard dus. Die party wat onder die juk van die sonde uitkom deur gebed en smeking tot vergifnis, sal die party wees wat weer hierdie land, dié keer met God se hulp, sal regeer.

Johan H. ·

Man nadat ek gelees het van daaie sogenaamde Generale wat se kinders soo bevoordeel word. En die dom IT tannie van sars , is ek nou meer as ooiet gedetermineerd om my kant te bring om sars en die anc te spur, en natuurlik spur ek spur nogsteeds. Tot ek sien die anc doen iets reg,dan eers sal ek moontlik dalk, miskien verbeter. Dankie

leser ·

@tammy
goed en wel dat daar van oortolige bagasie ontslae geraak moet word, maar;
“om rentekoerse te verhoog”, wat sal nog meer van die minder bevoorregtes word, en daars baie WIT wat ook deel van die minder bevoorregtes is

marous ·

Die kartets is klaar heen en weer deur die kerk en niemand gaan dit herstel nie ….

Piet ·

Ek wonder net, sal BTW styg om geld in te samel vir VBS of sal die brandstof prys styg ?

Kwaad ·

In hierdie artikel lê die antwoord vir al ons land se probleme. 3 miljoen burgers betaal 50% van hul inkomste aan belasting, die kaders stroop die staatskas en verryk hulself en wat doen die wat belasting betaal, ons klim met mag en mening in en betaal waaragtig weer uit ons eie sakke om dit waarvoor ons reeds belasting betaal het “reg te ruk”. En die kaders sê fantasties, kom ons roof nog dan kan die “burgers” dit self “regruk”. So is ons eintlik besig om deel te wees van korrupsie en dit boonop te ondersteun. Belaglik en naief in die oortreffende trap!

alida ·

Mens kan baie dinge ontduik maar nie belasting nie. Ek wens sommige mense wil ophou karring daaroor Ons wat vir ‘n salaris werk KAN NIE belasting ontduik nie. Dit word van jou salaris afgetrek en oorbetaal aan SARS. Verstaan dit tog. Julle kan besighede of enige ander plek boikot maar met SARS sit jy.

Jerry ·

Insiggewende artikel wat tans nog van toepassing is. Vir hoe lank die Afrikaner nog toegelaat gaan word om met sy talente te woeker is n ope vraag. NDR transformasie en regstellende aksie programme vir verandering wat reeds uitgerol is en die wat nog kom het alles dit ten doel om Afrikaner woekering van talente te onderdruk. Terwyl dit vir die huidige nog moontlik is moet julle dubbel so hard woeker met julle talente as wat julle normaalweg sou, veral om julself te beveilig, want julle weet nie wanneer die dief gaan kom nie en kom gaan hy vir julle kom, dis Virseker! Frogfryer se bybelse aanhaling mag vir baie vreesaanjaend klink, maar is eintlik maar net n ligte waarskuwing aan die gelowiges van die volk dat hulle gestraf word omdat hulle ongehoorsaam was en nie God se wette en opdragte tot op die einde onderhou het nie. Die waarskuwing strek egter baie verder en is baie meer verdoemend as wat Frogfreyer hier plaas. Dit kom in kort daarop neer dat die Vaalrivier wat julle nou so meer woeker om besoedeling te keer en die ondergrondse waterbronne in die toekoms wel so besoedel gaan word deur myne, fabrieke en massas mense dat geen mens of dier dit sal kan drink nie en dat selfs plante nie sal groei nie. AfriForum probeer om die jeug in SA te hou, maar soos wat die tyd aanstap gaan nog baie Afrikaners, veral die jonger generasie eerder in die buiteland woeker met hulle talente.

RG ·

Alida, dit is reeds suksesvol toegepas in sekere gemeenskappe waar munisipaliteite korrup is. Ja, mense wat salarisse verdien sal nie kan deelneem nie maar daar is tog baie klein besighede asook verskeie tipes belasting soos erf belasing, selfs riool belasting wat wel onthou kan word. Dis ‘n wanpersepsie om te praat van belasting ontduiking. Belasting onthouing word nogtans betaal maar in Trust en nie aan SARS of Munisipaleite nie. Daarom dat dit belangrik is dat dit deur een van ons burgerregte organisasies inisieer word op nasionale vlak. Weet self nie hoe dit presies werk nie, miskien kan iemand wat reeds in hul gemeenskap hierby betrokke was meer inligting bied. Iemand het onlangs genoem dat dit in Sandton gedoen is.

Eish ·

Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.
MATTHÉÜS 7:6 AFR53

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.