Nuuskommentaar: Eers skiet ons die Kubane, nou vereer ons hulle…

Die Kubaanse vlag.

Die Kubaanse vlag.

Binnekort wapper die Kubaanse vlag bokant dié land se ambassade in Washington DC, en binnekort wapper die Amerikaanse vlag bokant die VSA se ambassade in Havana. Vir baie Amerikaners is dit ʼn grondverskuiwende verandering van denke nadat die Yanks 50 jaar lank daarvan bewus gemaak is dat die Kubaanse kommunistiese diktatuur alles verteenwoordig wat sleg is. Amerikaanse navorsers bring dit selfs in verband met ’n hele nuwe benadering tot die Koue Oorlog.

Vir baie Suid-Afrikaners is dit nog swaar om positief te wees oor wie die land sedert 1994 as vriende beskou. Eertydse aartsterroriste word omarm, en is hedendaagse helde. Of so hoor ons op die TV, en so lees ons in die koerante – soms selfs onkrities waar die joernalis en die “kanaal” tot finale publikasie almal produkte is van die post-1994-“feite”-skoling. Soms laat Suid-Afrika se keuse van vriende selfs die grootste deel van die saakmakende wêreld verstom, soos SA se besluit om in VN-forums hetsy buite stemming te bly of teen veroordeling te stem van lande en instansies soos die IS (voorheen Isis), die destydse tirannie van Mianmar en Noord-Korea. Vir ’n sekere garde is dit moeilik om te dink hul land se regering is in die bed met diegene wat hulle as die vyand ervaar.

Vir die Amerikaners is daar darem die “hasie” wat voor die jaghonde losgelaat is – die normalisering van betrekkinge met Kuba geskied in ’n era nadat die diktator Fidel Castro weens gesondheidsredes die tuig moes neerlê. ’n Beeld van ʼn “nuwe Kuba” onder die leiding van Raul Castro word geskep – of daar nou meriete in is of nie. Suid-Afrika kry egter die Kubaanse verering van “die Jurassic-soort” in met onder meer die CR Swart-gebou in Bloemfontein wat pas tot die Fidel Castro-gebou herdoop is. ’n Standbeeld van die ou despoot word ook reeds gegiet.

Die wiel het inderdaad erg gedraai – maar beslis nie vir almal nie. Die morele logika bly ontwyk.

Die bekende Amerikaanse denker en skrywer wat veral deur Fox News bekendheid verwerf het, John Stossel, het pas in ’n artikel, Heroes, Villans, na die kwessie gekyk. Hy wys daarop hoe rolprente deur die jare “slegte” ouens gevind het, soos in die dae toe die cowboys die helde en die Indiane die skurke was, net om later wanneer dit politiek inkorrek word, te moet aanbeweeg en nuwe slegte ouens moes vind. Ook die Japannese (eens die uitvoerders van die Pearl Habour-aanval) is lank nie meer die “Japs” wat sonder enige gevoeligheid vir ander denke as die skurke aangebied is nie.

Stossel wys daarop dat daar tot ’n groot mate nou “geparkeer” is in die ruimte waar die korporatiewe sakewêreld die gewetenlose skurke is. Ook hierdie beeld is dikwels verkeerd – die sakewêreld sou logiesergewys wou toesien dat dit goed gaan met die publiek sodat hulle meer kon bestee.

Om helde te vind sou makliker wees. Fritz Haber en Carl Bosch se ontwikkeling van sintetiese kunsmis het na raming 2,7 miljard lewens gered. Karl Landsteiner en Richard Lewisohn het ook na raming meer as ’n miljard mense se lewens gered deur bloedoortappings moontlik te maak.

Op die oomblik is daar ook in die Afrikanergeledere ’n groot mate van verwarring oor wie nou eintlik die helde en wie die skurke is. Dit is soms verstommend hoe die oogklappe ingespan word om Wladimir Poetin, die Russiese president, as hetsy die nuwe skurk in die “nuwe” Koue Oorlog uit te beeld, of net so verbete ’n saamgeflanste mengsel van feite en fiksie op te dis om van die einste Poetin ’n held te maak. Dis ’n maalkolk waar vergeefs met harde feite geargumenteer kan word – idees is vooraf opgestel en as feite ter stawing ontbreek, word dit bloot gefabriseer en feite tot die teendeel gewoon geïgnoreer.

Die een Afrikaanse akademikus sal ’n saak uitmaak dat Afrikaans onder druk op universiteitsvlak is, net om in ’n opvolgrubriek deur ’n ander Afrikaanse akademikus “gerepudieer” te word. Albei bly onbuigsaam in hul opvattings, al spreek die feite en realiteite kliphard die teendeel.

Die manier waarop die individu en die volk regte en verkeerde keuses kan maak is deur alles waardegedrewe te beskou. Gert Coetzee, wat die afgelope jaar as redakteur van Volksblad waargeneem het, skryf vandag in die koerant oor hoe die wêreld in baie opsigte verander het, ook die joernalistiek. Hy lê egter klem op hoe die joernalistieke waardes dieselfde behoort te bly, en dat joernaliste volgens hul prestasies om hierby te bly erkenning geniet.

’n Lang lys van waardes kan en behoort opgestel te word waarvolgens elkeen sy of haar beoordeling van die werklikhede om hom of haar behoort te skoei. Waardes soos dat die waarheid as vertrekpunt moet dien. Die goeie moet teen die slegte ondersteun word – soos dat korrupsie altyd verkeerd is en nie soms “geregverdig” kan word omdat dit “’n Westerse konsep” sou wees nie. Dat daar onvervreembare regte is (ook in die grondwet verskans) soos taalregte wat op universiteitsvlak neerslag behoort te vind, godsdiensvryheid en vele meer.

Mits ons natuurlik die nodige inligting kry. Ons sal nie weet van die nuwe “wêreld” wat ontvou namate New Horizon al nader aan Pluto en sy mane kom nie “omdat ek nie in die ruimte belangstel nie”, maar net so “omdat ek nie in politiek belangstel” nie, of “ek stel nie belang in wat die Amerikaners / Nederlanders / Grieke doen nie” en maar deurlopend in geselskap weens onkunde in ʼn verleentheid gestel word.

En in die proses verkeerde vriende maak.

Dit bly ’n skrikwekkende gedagte dat ʼn volslae oningeligte op stemdag deur sy of haar kruisie net soveel mag het as die goedingeligte. Daardeur struikel die demokrasie. Ons beleef dit deur ’n blapsende regering wat die fout oral elders soek – ook die howe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarie ·

Dis waarom ek vrees vir die dag as Geskiedenis as vak verpligtend gemaak word. As dit met een voorgeskrewe boek gepaardgaan soos reeds met die tale is dit verby. Elke groep sal die geskiedenis van sy kultuur moet bewaar en aan die volgende geslag oor dra. Daar is baie werk vir FAK

Sarie ·

Dis waarom ek vrees vir die dag as Geskiedenis as vak verpligtend gemaak word. As dit met een voorgeskrewe boek gepaardgaan soos reeds met die tale is dit verby. Elke groep sal die geskiedenis van sy kultuur moet bewaar en aan die volgende geslag oor dra. Daar is baie werk vir FAK

Se maar net ·

So baie van ons mense se kinders is op die grens dood. Hulle het baklei vir DIE LAND en sy mense. Hulle was soms selfs ook nog ‘n kind, maar het braaf gaan baklei. Daar het bitter baie van ons kinders, mans, pa’s tot hul dood gekom. Nou kry die Kubane ‘n ere plek in ons land.
Soos jy tereg se, oningeligtes trek ‘n kruisie, en so word daar mag aan hulle gegee op ‘n skinkbord. Ons hele land is onderste bo, want die regering het net een doel voor oe, en dit is om te vernietig. En ons is nie welkom meer hier nie. Ons word gesien as indringers, wat moet terug gaan waar ons vandaan kom. Ons het op gebou, hulle is al meer as 20 jaar besig met sogenaamnde opbouing, maar orals waar jy kom kan jy die agteruitgang sien, dit is tasbaar. Nie lank meer nie, dan is alles totniet. Ons het nie meer ‘n weermag nie, maar noudat hul sien daar is groot probleme, nou ook is ons wit kinder glo welkom. Nerens word enige iemand wat wit is op merite beoordeel nie, nee!!! Net vel kleur. My vraag is waar gaan dit alles eindig? Bedrog, korrupsie vier hoogty in ons land, en ons moet toekyk hoe alles verlore gaan. Nou gee die regering Geboue vir die grootste kommunis in die wereld. Dit is duidelik waar hul steun le, en dan het hulle geen skaamte nie, wys dit vir die wereld!!
Mag God ons genadig wees!!!!!

Vic ·

Mens kan tog seker nie die hele nasie van Kubane veroordeel omdat mens nie saamstem met die politiek van die regerende party nie – anders is ons hier in Suid Afrika in die moeilikheid! En seer sekerlik kan mens nie jou morele kompas stel volgens die kompas van politieke leiers in jou land nie – waardes en standaarde is tog iets wat oor tyd ontwikkel, meesal as gevolg van wat in jou ouerhuis geleer is, en jou eie oortuiginge? En om te dink dat die regering se vrinne my goedkeuring sal wegdra, as die regeringsmanne en vroue nie mense is wat ek in my huis sal innooi of n ete mee sal geniet nie, is hoogs onwaarskynlik.

Ant ·

Dankie Vic, stem 100% saam met jou. Ons kan nie deel van hierdie wereld wees nie, slegs in die wereld. Ek stem volkome saam met Herman dat dit al moeiliker raak om tret te hou met waar bo en waar onder is, veral as mens jou ore uitleen en probeer sin maak van al die menings. Vir my is een van die ergste voorbeelde die internasionale tendens om gays die reg te gee tot die huwelik. Nieu Seeland het dit reeds gedoen, Amerika ook, en nou broei dit in Australie. Ek wil nie ‘n punt maak vir “conspiracy theories” nie maar ons moet aanvaar die aarde was nog nooit so ver van sy basis van oorsprong nie. Die God gegewe wette word een vir een gekelder ter wille van nuwerwetse teoriee soos demokrasie, transformasie, ontwikkelling, tegnologie. ens. hierdie word ons eie ondergang. Sodra mens hierdie besef kan mens weer jou lewe toets aan God se wil, en ons plek in hierdie gemors duideliker sien en daarvolgens aanpas.

Henry ·

Jy sê dat jy sukkel om tret (‘skies tred ) te hou met al die onderstebo en deurmekitaar dinge van die ou planeetjie, genaamd Aarde.
Het jy geweet dat sogenaamde Gay huwelike reeds vanaf 2006 in die Niewe Syd Afrieka gewettig is?
Wil mos lyk asof ons selfs op hierdie terrein die pas aangeërs is, soos in die geval van plaasmoorde, kinder verkragtings, moord, korrupsie, roof en al daai dinge.
Of hoe?

Bruno Stefb ·

Dit is in die Afrikaner se gesindheid om vreedsaam beswaar aan te teken en daarop reken die regerende regime.Dit kan ook wees dat die Afrikaner volk nog te veel het om te verloor maar pasop as ons niks meer het om te verloor nie.Ons word in n Kommunistiese rigting ingeforseer wat my sterk herhinner aan die aan die destydse NP se aanslag deur die media op andersdenkendes en hulle disinformasie.Ons leiers van destyds is deur onder andere die Broederbond as breindood en verstandelike gestremdes afgemaak en bespot.

HEVW ·

Wie wil nog beweer kommunisme is dood net omdat Stalin se beeld omgetrek is en die muur in Berlyn afgebreek is. Alles is oeverblindery. Die teendeel is egter waar. Valse gerustheid is geskep en die wereld is bedrieg. Kommunisme floreer soos nog nooit tevore nie. Stem saam met die oningeligtheid van die stemvolk, maar die probleem is meer grondliggend. Dit gaan om die beginsel van verantwoordelikheid. Natuurlik gaan oningeligtheid gepaard met onverantwoordelikheid, maar daar is ook ingeligde persone met onverantwoordelikheid. Die mens is bestem en geroepe tot verantwoordelikheid. Hy moet antwoord en uiteindelik verantwoord. Wanneer n onverantwoordelike regering aan bewind gestel is, is daar teenstrydig met die skeppingsbeginsel gehandel, en sal daar Godonterend regeer word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.