Nuuskommentaar: Eerste nasie-status en die Ainoe en Khoisan

Die Ainoe-mense is in Japan erken as inheemse en eerste nasie. Foto: Wikipedia (circa 1930)

In die aanloop tot die 1994-verkiesing het die destydse president, FW de Klerk, so hard op groepregte aangedring dat selfs oorsese regeringslui hom geadviseer het om dit ter wille van minderheidsregte te laat vaar. Minderheidsregte word immers deur die internasionale reg erken.

Nog ’n faktor was dat selfs die aangehoudene, Nelson Mandela, gewaarsku het dat groepregte nie aanvaarbaar is nie, omdat van die ANC se vernaamste leiers in ballingskap dit as ’n manier beskou het om apartheid weer by die agterdeur in te smokkel. In die proses het die woord “tribalism” ’n vloekwoord geword, waardeur iemand in swart geledere gou muishondstatus verwerf het deur net daarvan beskuldig te word.

Oudpres. Jacob Zuma was wat dit betref ’n groot uitsondering deur na homself as “100% Zulu boy” te verwys.

Geleidelik hoor ’n mens meer dikwels dat na die terme inheemse volk en eerste nasie/volk-status verwys word. Omtrent al wat “duidelik” is, is dat eerste nasies se regte sterker is as “inheemse” status. Dit word egter gewoonlik so oorvleuelend en botsend aangebied dat dit vir die doeleindes van hierdie stuk as effektief dieselfde beskryf word.

Die fokus sal hier op die Ainoe van Japan en die Khoisan van Suid-Afrika val.

Nog baie moet geleer word oor die geskiedenis van hierdie twee groepe. Tot betreklik onlangs is die Ainoe oorwegend beskryf as ’n Kaukasiese volk weens hul ligter velkleur en omdat hulle eerder so harig soos wit mense as die tipiese Oosterlinge is. Genetiese en ander studies toon egter veel nouer verwantskappe met ander antieke Oosterse nasies as met Europeërs.

Hulle was onder die eerste inwoners van Japan, en waarskynlik die enigste waarvan daar nog lewende voorbeelde is – selfs dalk so min as 12 000. Hul getalle het oor die jare skerp agteruitgegaan, terwyl hulle nie lank terug nog nie vanaf Hokkaido, nou Japan se mees noordelike groot eiland, oorloë en opstande teen die Japannese gevoer het. Japan het die eiland eers in 1868 geannekseer. Dit was deel van ’n assimilasieveldtog.

Vroeër vanjaar het Japan aangekondig dat hy die Ainoe nou as inheems erken. Nederlandse en Vlaamstalige koerante het egter ook geskryf dat Japan hul status as “eerste volk” beskryf het.

Dit beteken dat die Ainoe nou meer sê oor hul eie sake het. In die VSA loop die bouers van oliepyplyne hulle byvoorbeeld vas teen die “eerste nasie”-regte waaroor die inheemse mense beskik, voorheen Rooihuide of Indiane genoem, en nou “native American”. In Kanada word baie aandag geskenk om die “first nation” se regte behoorlik te orden. Dit raak nogal lomp om dié term losweg te gebruik, want daar is drie “first nations”, waarvan die Inuit die jongste is. Almal kon tog nie letterlik “eerste” wees nie.

Lede van BLF. Foto: ANA.

Die stryd van die Khoisan in Suid-Afrika is kompleks. Die eerste is ’n wydlopende geloof dat Suid-Afrika se swart mense die “first nation” was, soos blyk uit die naam van die organisasie en nou ook politieke party, “ Black first, Land first” of te wel BLF. Dit verbied byvoorbeeld blanke lidmaatskap, maar bruin mense kan wel lid wees, soos die organisasie se woordvoerder, Lindsay Maasdorp, wat vermoedelik bruin is.

Wanneer dit blyk dat daar grondaanspraak en ander probleme kan opduik, word bruin mense ruimhartig ook as swart mense beskryf. Heelwat bruin mense noem hulself ook swart, onder meer ’n groep bruin rektore, en gewese rektore, wat nogal die kenmerke van ere-swartskap dra.

Nog ’n groep gebruik hul Khoisan-herkoms. Soms word die onderskeid tussen die San en Khoi lewend gehou. Soms gaan dit oor ’n titel (en geldjie) van tradisionele leiers iewers in die toekoms.

’n Belangrike oorweging vir amptelike erkenning as inheems is dat dit diskriminasie uitskakel. Nog voor die amptelike erkenning vroeër vanjaar het die Japannese regering soos volg op ’n versoek daarom gereageer: “The government would like to solemnly accept the historical fact that many Ainu were discriminated against and forced into poverty with the advancement of modernization, despite being legally equal to (Japanese) people.”

Diskriminasie teenoor die Khoisan, of nou bruinmense, was nog nooit vreemd aan dié mense nie. Die veteraan‑politikus mnr. Peter Marais het byvoorbeeld al gereeld gekla dat hy vind dat supermarkte, self binne-in tradisioneel bruin gebiede, nie bruin mense as kassiere ensovoorts aanstel nie, maar swart vroue wat nie eens die omgewing se taal, Afrikaans, verstaan nie. Marais is nou die VF+ se kandidaat as Wes-Kaapse premier.

Volgens mediaberigte het die regering nog in 2016 die moontlikheid van die erkenning van die Khoisan as inheems sterk teengestaan. Sedertdien het die standpunt sagter geword, en ’n wetsontwerp het selfs die lig gesien. In die bespreking hieroor is dit duidelik dat die regering swart mense ook as inheems aan Suid-Afrika beskou, en dat daar ’n stille kommer is dat sou die Khoisan dié erkenning kry, swart mense ook die status kan verbeur en soos blankes tot “setlaars gereduseer” kan word.

Chief Khoisan SA (Foto: ANA)

Daar is egter verskeie voorbeelde waar die inheemse volke vandag minderhede is, maar meerderhede regeer. Amptelike erkenning van die Khoisan behoort daarom nie die status van swart mense nadelig te raak nie. Voorbeelde waar die regeerders nie ook die “first nation” was nie, is die VSA waar die “native American” die status van “soewereine nasie” het, die pre-Indiese bevolking in Indië wat gewaarborgde setels in die parlement het, en die Maori’s, wat afgesien van gewaarborgde setels in die parlement, ook nog oor ’n Maori-kongres of -parlement beskik.

Die komende verkiesing sal ook ’n aanduiding wees hoeveel steun vir eiesoortige regte vir Peter Marais en die Khoisan-aktivistegroepe bestaan. Uit bruin geledere word Marais dikwels as iemand beskryf wat “nie baie steun” het nie, en as iemand wat polities vreeslik inkonsekwent is. En vele meer. As sy Facebook-profiel egter as maatstaf moet dien, het hy heelwat steun, veral onder bruin charismatiese Christene, die Bruin Belangebeweging (BBB) waar hy ’n belangrike stigtersfiguur was, en vele meer.

Om wit, of Afrikanerpolitiek, in een kampie te probeer saamvat is net so ’n onbegonne saak soos om ’n trop wilde tarentale snags in ’n hok ingejaag te kry. Met bruin politiek gaan dit selfs moeiliker, met ’n groot deel wat in beginsel niks van spesifiek bruin of Khoisan-politiek wil weet nie.

Intussen doen dit nie skade om te kyk watter voorbeelde van identiteitspolitiek tot stand kom nie, en internasionale erkenning geniet. Die samevattende doel is om meerderheidsoorheersing te beperk en diskriminasie teen minderhede in die bek te ruk.

En Suid-Afrika het dit nodig.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ag asb tog ·

Ag dit is ‘n joke, die gekleurde mense het ook agter die wittes gestaan toe hulle daar ‘n voordeel kon kry en staan nou agter die swartes toe hulle sien hulle kan daar ‘n voordeel kry en eintlik gee niemand om vir hulle nie, hulle is ‘n klein groepie, wat nou moet grond eis as hulle moet eis en klaarkry, anyway is nie almal van hulle KHOISAN mense nie, baie van hulle het die kleur gekry omdat hulle ‘n ligte pa en donker ma het of andersom. Hoeveel REGTE KHOISAN mense is daar nog? En behoort die hele land dan aan ‘n handjievol mense? WAT “N JOKE!!

IK ·

Gaan lees ‘Groep Sonder Grense’ van dr. Heese en vind uit waar jy staan as sg. ‘witte’.

Afrikaner ·

In die nuwe Suid-Afrika gaan dit ook om die regering van die dag ter wille te wees, maar dan moet jy die regte kleur wees, verkieslik nie ‘n minderheidsgroep wat hul getalle by die stembus in gevaar sal stel nie en hulle jou nie as ‘n bedreiging sien met jou kundigheid nie, anders sal hulle nie skroom om soos met SEB ens jou in te perk nie.
En dan het hulle die wit mense nog nodig om hul frustrasie op uit te haal, o ja en ook grond van af te vat.
Om in denke te verander sal mens die ANC se kop 360 grade verkeerde kant toe moet om draai.

Cornelia ·

Baie insiggewend en boeiende inhoud. Dit hou die van ons wat nie ingestel is om na te speur oor die politieke tendense, nuusgebeure en skommelinge op wêreldfront nie, op hoogte van nuwe inspirasies. Dankie vir al die inligting en u effektiewe opsomming.

John ·

Selfs Mandela se voorkoms verskil van die van Cyril en van Zuma en die Khoisan lyk presies soos ander swart volke… Die probleem is dat volkekunde by die agterdeur uit is en ‘n sensitiewe saak vir baie is. Genetiese plasing sal vir baie onaanvaarbaar wees, want hulle wil kies wie hulle is. Baie het daarmee ook ‘n probleem. Wie eerste in ‘n land was, is bloot ‘n kwessie van wie die grootste mond het met die meeste publisiteit. Die Bybel was duidelik tov die Jode dat hulle hul ras suiwer moet hou. Baie swartes wat in SA woon se voorsate kom bo uit Afrika. Die Griekwas, die ou benaming, dui op mulatto’s met moontlike seevaarder-vermenging. Kultuur is seker ‘n beter manier om vrede te bewaar asook godsdiens, maar vra nie rassevermenging nie.

Afrikaner ·

Nee, jy’s verkeerd ou maat, JvR en sy gevolg was die eerste mense aan die Kaap.

Cornelia ·

Wat opval is dat die wêreldnasies se desperate poging om konvensionele oorloë te vermy, bloot ruimte geskep is vir terroriste organisasies wat grootskaalse binnelandse en buitelandse skoktaktiek gebruik om regerings te intimideer, manupileer en tot “onderhandeling” te dwing. En so word daar wel veldslae gewen en nasies verower deur bloot ultimatums as “plofstof” te gebruik. Die slagveld? Enige plek. Busse, teaters, skole, motors, treine, hotelle, strate…en die slagoffers? Enigiemand. Skrikwekkend en diabolies. Sal meerderhede ooit daarin slaag om minderhede te dwing om ‘n gesiglose, siellose marionet van ‘n massa ideologie te word? Die antwoord lê juis daarin dat verskille bydra tot ‘n kleurvolle uniekheid waaruit elkeen ‘n bydrae maak tot ‘n Land se wese en oorlewingsstryd deur regverdigheid teenoor elkeen. Maar ons weet egter dat die skoen nie almal pas nie. Die stryd tussen Lig en duisternis sal voortduur tot op die bepaalde uur.

Stephan de S ·

Dankie Herman vir n wonderlik inligtende artikel met feite waaroor die gewone mens nie geredelik beskik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.