Nuuskommentaar: EFF = Everything for Free

Julius Malema (middel), leier van die EFF, lei die optog na die provinsiale wetgewer op 22 Julie 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema (middel), leier van die EFF, lei die optog na die provinsiale wetgewer op 22 Julie 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema se Economic Freedom Fighters blink miskien nie uit met hul vlak van parlementêre deelname in die Suid-Afrikaanse politiek nie, maar hoe om die media-kalklig te steel; dit kan hulle goed doen.

Ongelukkig is die mediakalklig nie al wat gesteel word nie. Met die besetting van die Gautengse Wetgewer het TV-beeldmateriaal getoon hoe hulle die eetgoed van die LPR’e verslind. Na berig word het hulle hulself onderweg na die Wetgewer aan die ware van straatsmouse gehelp.

En hulle wil die grondwet laat wysig om boere se grond te kan steel. Tog het hulle die vermetelheid om ander, soos die VF Plus se LP, dr. Pieter Groenewald ‘n gronddief te noem. Tot die krediet van die ANC is hulle uit die parlement gejaag.

Met sy stigting het die EFF dit duidelik gemaak dat dit “minder op versoening” gaan konsentreer. Dit staan dus duidelik buite die raamwerk van die vredesakkoord waarmee die huidige bedeling tot stand gekom het, en kan tegnies as ‘n oorlogsverklaring vir die hervatting van die ou stryd beskou word. Dit is onwaarskynlik dat nog ‘n party in so ‘n kort tydjie daarin kon slaag om soveel van sy verteenwoordigers uit die parlement en wetgewers gejaag te kry. In die meeste gevalle gaan dit oor die rooi oorpakke en huishulp-uniforms waarmee hulle die sittings bywoon.

En hef aan lê nog voor wanneer die munisipale verkiesings oor minder as twee jaar plaasvind.

Daar word gereeld gewag gemaak van parlementêre instellings se waardigheid. Nou nie dat ‘n mens dit aldag kan agterkom nie. Oekraïne is nie net vir sy stryd met pro-Russiese separatiste bekend nie. Die land se parlement ontaard elke wan en dan in ‘n bokskryt. Beeldmateriaal van minstens drie sulke gevegte die afgelope twee jaar is op die internet te besigtig.

Oekraïne is ook nie al plek waar die agbare LP’s appels swaai nie. In die ooste het LP’s mekaar ook al ge-Kung Fu, en selfs in Suid-Afrika se parlement het Johny de Lange vir ‘n opstopper gekoes en toe sy NP-opponent met ‘n lieflike swaaihou op sy agbare bas op die parlementsvloer laat beland – hom skoon binne-in die ANC in gemoker. Om nie van gekruide taal te praat nie, wat ook ‘n agbare DA-LP in die sop laat beland het.

Maar die EFF stel nuwe “standaarde”. Volgens die Gautengse Wetgewer het die onagbares sowat ‘n miljoen rand se skade in die gebou aangerig.

Soos met ander Suid-Afrikaanse kwessies, is hierdie simptome van dinge wat baie erg verkeerd is. Twee aspekte wat gereeld genoem word, is die hoë vlakke van werkloosheid onder veral swart jeugdiges, en die inkomstegaping in die land wat volgens sommige bronne die hoogste in die wêreld is.

Oor die sielkundige en sosiologiese impak van beide van hierdie verskynsels is al boekdele geskryf. Die meeste geskrifte is oor die impak van armoede; die stroping van mense se menswaardigheid, toename in alkoholgebruik, die toename in misdaad en vele meer. Minder bekend is dat daar ook ‘n verband tussen die grootte van tronkbevolkings en inkomstegaping is.

Tog is daar meer faktore. Die model van relatiewe deprivasie gaan van die uitgangspunt uit dat hoe groter die gaping tussen verwagtinge en die werklikheid, hoe groter is die revolusionêre klimaat. En van onmoontlike beloftes is die land vol. Een van die bekendstes was seker Madiba se beloofde wasmasjiene vir almal. Maar huise, werk (met allerhande byvoordele), elektrisiteit, lopende water en spoelgeriewe vir almal, die herverdeling van grond as meganisme om armoede te bekamp…

‘n Deel van die probleem lê ook in die nalatenskap van die ANC se eie propaganda voor 1994, propaganda teen die vorige regering gemik, maar wat nou byt. Stellings soos dat “the government has unlimited resources”, en “freedom before education”.

Gesinsbeplanning is erg agterweë gelaat, sodat Tokyo Sexwale, toe minister van huisvesting, moedeloos gesê het daar kan nie met die bou van huise voorgekom word nie, want die aanwas is net te vinnig.

Dis egter nie al nalatenskap wat byt nie. Ook die ongrondwetlike beleid van kaderontplooiing byt seer, sodat die minister van waterwese onlangs die babasterftes weens rou riool wat vermoedelik in drinkwater beland het, aan onbekwaamheid toegeskryf het.

Korrupsie en rasbegunstigde aanstellings kos die land enorm baie, nie net in geld wat vermors of gesteel word nie, maar in swak vakmanskap en ‘n afname in beleggersvertroue. Wanpersepsies word ook nie reggestel nie. Die EFF glo waarskynlik werklik dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel.

Dat swart mense maar betreklik onlangse aankomelinge in Suid-Afrika is, en eers nog later in sekere kerngebiede soos KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap aangekom het, maak eenvoudig nie deel van die persepsies uit nie. As iemand verontreg kan voel oor verlies aan grond is dit die Khoi, en veral die San wie se teenwoordigheid in die land tot minstens 40 000 jaar terug gevoer word.

Nou het die baba wat die ANC grootgemaak het, tande en naels ontwikkel waarmee ontsettende skade aangerig kan word.

Hoe die ANC op sy eie maaksel gaan reageer gaan tot ‘n groot mate bepaal of die land regeerbaar gaan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sadie ·

Die ANC moet hierdie EEF in die parlement toelaat afgesien van hulle kleredrag en redeneer hulle stil . Of is dit waar die fount le. ANC en EFF se redenasievlakke is dieselfde en die EEF mag net wen.

Vera ·

Everything for free! Yeah!! How cool will that be!
Hoe stupid kan mens nie wees nie. Ek verstom my.

Chrisjolus by ·

EFF is niks anderster as politieke terroriste nie .
Hulle gaan die ANC en die parlement tot onregeerbaar terroriseer .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.