Nuuskommentaar: EFF onttrek hom aan DA-koalisiepolitiek

Die EFF-leier, Julius Malema. Foto: ANA

Die besluit van die EFF om hom aan koalisiepolitiek met die DA te onttrek, is nie onverwags nie. Maar gaan die onttrekking nie dalk op die duur meer stabiliteit as onstabiliteit bring nie? Op kort termyn is dit jammer, op langer termyn waarskynlik goed omdat dit die land se politieke partye sal dwing om die behoorlike bedryf van koalisiepolitiek onder die knie te kry en geldende en afdwingbare konvensies te vorm. Dit maak immers nie sin om ’n kiesstelsel te hê wat koalisies aanwakker nie, maar dit in die praktyk weer ondermyn of misbruik nie.

Min Suid-Afrikaners is seker verbaas dat die EFF besluit het om sy steun aan die DA se koalisiepolitiek op munisipale vlak te onttrek. Veral nadat die EFF ook so gemaak het toe die EFF gehelp het om die UDM in staat te stel om die UDM se omstrede burgemeesterskandidaat (lees, vriend van genl. Bantu Holomisa) in Port Elizabeth te steun. Dat die DA se afgesette burgemeester, Athol Trollip, ’n wit man is, het opsigtelik teen hom getel.

Nou, so lyk dit, gaan veral Johannesburg en Tshwane die spit afbyt, waar geen party ’n volstrekte meerderheid het nie, en ook nie met die hulp van ander verdraagsame partye ’n lewensvatbare meerderheid kan vorm nie.

Die situasie wat nou ontvou, is waarteen heelwat mense, onder wie prof. Amanda Gouws van die US, met die vorige munisipale verkiesing in 2014 gewaarsku het dat dit onstabiel sou wees.

Hierdie argument was opmerklik ook deel van die DA se eie propaganda wat daarna gestreef het om sover moontlik alleen die septer te swaai.

In wese het die pap nou tussen die bak en die hond op die grond beland.

In Europa, waar al lank van ’n soortgelyke kiesstelsel gebruik gemaak word as in Suid-Afrika, is koalisiepolitiek iets alledaags. Trouens, glad geskuur deur die praktyk, is die stelsel min of meer vervolmaak. Die “onstabiliteit” word benut om te verseker dat geen party so ’n greep kan bewerkstellig dat ’n soort Mafiastaat kan ontwikkel nie. Hiervan het Suid-Afrika, in die vorm van staatskaping, meer as genoeg gehad.

Die probleem kom in waar daar nie in een magsblok genoeg steun verwerf kan word om ’n koalisie te vorm nie. ’n Party buite hierdie dampkring kan dan toetree met wat in Nederland as “gedoogde steun” bekend staan. Dit beteken dat so ’n party eintlik net een groep in staat stel om die bewind oor te neem, sonder om self aktief aan die regering deel te neem. In Nederland het Geert Wilders en sy party dit gedoen, maar uiteindelik tog sy gedoogde steun onttrek en die regering laat val.

In Suid-Afrika was daar vroeg in die nuwe bedeling groot ontsteltenis, ook binne die ACDP, toe die ACDP in KwaZulu-Natal sy “gedoogde” steun aan die ANC toegesê het om die provinsiale regering by die IVP oor te neem.

In België het nog ’n probleem kop uitgesteek, naamlik dat dit bykans onmoontlik was om ’n koalisie te vorm. Die probleem is vererger deur konvensie en die koning se eie voorkeur oor wie die premier moet wees. Uiteindelik was België 598 dae lank sonder ’n verkose regering.

Daar is nie net nadele nie. Grondwetlike bepalings, waaronder konvensie, het gesorg dat die land steeds regeer is, en wel met sterk tegnokratiese elemente, sodat enige besluit wat wel geneem is, ten minste vanuit ’n bestuursoorweging die beste sou wees.

Konvensie is gebruike wat oor tyd deel van die reg geword het, en nie noodwendig op die wetboek staan nie. Switserland se federale bedeling waar die presidente mekaar so moet aflos dat die verteenwoordigers van die verskillende taalgroepe elk ’n termyn regeerkans moet kry, is deel van ’n konvensie en staan nie op die wetboek nie, maar dis net so afdwingbaar.

Brittanje het selfs geen geskrewe grondwet nie. Die grondwet bestaan egter al 800 jaar en is in verskillende wette, gebruike, hofuitsprake en konvensies gesetel. Selfs die Magna Carta is op ’n manier daarin geïnkorporeer. Die nodigheid van ’n enkele wet as geskrewe grondwet is al telkemale op talle vlakke bespreek, veral tussen 2010 en 2015.

In Suid-Afrika, waar ’n hoë premie op kaderontplooiing geplaas word, en die tegnokrasie so iets eintlik frustreer, is daar weinig sinnigheid in enige vorm van tegnokrasie – selfs die soort kundige hulp wat AfriForum aan munisipaliteite verleen – en word elke dag wat onverkose kaders geplaas kan word, as ramp geskou. Kaders wat dit byvoorbeeld nié gemaak het tydens ’n munisipale verkiesing nie, word op reuseskaal bo sterkte as “politieke raadgewers” aangestel. Wel, “raadgewers” in enige rigting waarin vaardighede vir munisipale funksies van waarde sou wees, tel eenvoudig nie punte nie.

En wie twyfel of dit regtig so is, gaan kyk maar na die laaste oorsig van die ouditeur-generaal oor Suid-Afrika se landwye munisipale sake. Dit is nou al dae sedert die verslag bekend gemaak is en koerante skryf steeds hoofartikels oor die ramp wat die land getref het. En daar is gemotiveerde ontsteltenis oor die opvatting dat die probleem “opgelos” kan word deur nog meer geld in hierdie bodemlose put in te pomp.

Is daar fout met die DA se benadering tot koalisies?

Nie alle ontleders stem saam dat dit ’n fout is dat die DA tydens verkiesingsveldtogte die indruk wek dat die DA die enigste alternatiewe opsie is as die ANC nie. Potensiële koalisievennote word dan dikwels met oënskynlike minagting behandel, en ’n te groot deel van die verkiesingsaanslag word afgestaan aan foefies soos dat stemme vir klein partye op stemvermorsing neerkom, en dat kiesers hul stemme aan die DA moet “leen”.

Alles is uiteraard nie die DA se skuld nie. Die EFF se onttrekking omdat die koalisie in die Tshwane-raad nie die burgemeesterstoel aan die EFF wou oorhandig nie, soos deur die EFF geëis, is opportunisties en dui op onbetroubaarheid. So ook die omspringery in die Nelson Mandelabaai Metropool (PE) wat meer op opportunisme as die beste belang van die inwoners dui.

Minstens een ontleder meen die EFF sal nie uitvoering aan sy onttrekkingsplanne gee nie. Volgens hom sal Malema nie die moed van sy oortuiging hê nie, en is dit net bekpraatjies soos ander bekpraatjies waar Malema bloot iets sê om die tyd te verwyl.

Die feit bly egter dat die land nog nie ’n koalisie-etiek aangeleer het nie en dat die stelsel wat die land die beste kan dien, daarom nog erge geboortepyne gaan beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

John ·

.. die EFF wag dalk op die kaptein vir ‘n beter aanbieding.. met ‘n plasie of twee as betaling wanneer die wet op grondonteiening in die parlement dien. Beloftes maak skuld en die ANC betaal kwaai af aan hul skuld aan kaders. Waarom val die EFF vir Gorhan so heftig aan? Dalk net word hulle aangevuur deur die ANC self. Nog ‘n gunsie dalk wat op betaling wag. Niks is soos dit lyk nie… Dit sien ons nou wel deeglik. Malema is nie die hoof-induna nie. Iemand betaal die hofkostes. Wie?

JJ ·

Ja ek weet baie ouens gaan ‘n miljoen antwoorde hê, maar hoekom Moet stadsrade enigsins deur (onbevoegde en korrupte) politieke partye beheer word. Kan elke voor stad of dorp nie sy eie (sonder politieke partye) behher word nie?

mc ·

Behoede die dag wanneer politiek stabiel raak. Laat die politieke spulletjie maar aangaan met hulle bek-oorloë en mekaar tog nou maar net heeltemal vernietig en klaarkry – hulle is besig om almal se tyd en geld te mors en aan die einde is dit ons wat die spit afbyt. Nee wat, hoe vinniger dit verby kom, hoe beter.

Felix ·

Julius is soos ‘n ongenooide gas wat by partytjies inbars en dit ontwrig, kan nie sonder die kollig nie, soos nou ook weer wat hy verkondig dat Cyril Ramaphosa kan binnekort met David Mabuza as president vervang word.

Dit sal vir ‘n verandering rustiger wees as hy net kan stilsit en nie van hom laat hoor nie, maar ek het ‘n idee dit sal nie vir langer as 5 minute wees nie, dan kry die werklike Julius in hom weer die oorhand.

Andreas ·

Ek sal graag wil sien dat ek toegelaat word om Julius te beskryf soos hy homself bekend stel, niks meer nie.

Boy van die Suburbs ·

@ Felix – Julius se inside Info oor wat in die ANC aangaan, is gewoonlik in die kol! So ja, dan is David Mabuza seker maar ons voorland…..

Andreas ·

Ek kan altyd ‘n skakel hoe hy hom beskryf hier plaas. Weet nie of dit die ding sal doen nie, maar hoe sien die lesers hom met die rooi aan wat opsigself ‘n boodskap uitdra… daai rooi…

JP ·

My mening is dat die eef slegs opgetree het as snuffel gidse by die da

Andreas ·

da? …. Is dit nou daardie nuwe plantasies wat oral beplan word en die land van armoede kan verlos, waarvan self pizzas gemaak word?

jaco ·

Skaf al die ou verkose rade af en maak SA ‘n eenpartystaat, maar dan PRESIES soos die voormalige ou Oos-Duitsland. Daardie land was sonder demokrasie maar ook SONDER goed soos:
=Nkandla-styl korrupsie
=Swak vuil staatshospitale
=Swak lae standaard onderwys met skole sonder skoolbanke en waar dit amper reg is dat leerders onderwysers aanrand
-Beurtkrag
-slaggate in paaie wat eenvoudig nie reggemaak word nie
En so kan my lys aangaan en aangaan.
Oos-Duitsland het wel godsdiensvryheid sterk aan bande gelê, maar dit was ‘n baie klein prys om te betaal of opoffering om te maak vir ‘n leefwyse en stelsel waarin alles anders behoorlik gewerk het.
Tog vreemd dat so baie van die ANC se ouer kaders in Oos-Duitsland in ballingskap was, maar blykbaar NIKS daar geleer het nie…

David ·

Níks wat hierdie dwaas kwytraak is nuuswaardig nie.

Behalwe dalk, dat mens houtwerk moet neem op skool, sodat jy die kabinet kan maak….

piet piet ·

Ek stem hoekom word die dwaas en sy party enige nuusdekking gegee boikot hom soos anc met Steve Hofmeyer maak ,hou n meningspeiling en vind uit of die lesers hoegenaamd belangstel in hom of sy party.

Adri ·

Die groot vraag bly of Cyril die wil en kennis-ondervinding het om te regeer. Dalk hou ‘n Afrika leier van ‘n situasie soos in Zim waar die gewone burgers te arm is om in opstand te kom. Wat ookal ons toekoms is sal ons vasbyters met geloof moet wees en ook moet leer om saam te staan as ons hier wil oorleef.

Andreas ·

Negatiewe kommentare oor hoe die land regeer word sal net gebeur as …..

voltooi die sin hier bo en niemand hoef ‘n Einstein te wees om in die kol te wees nie

Andreas ·

Maroela, ek wou al lank gelede omverskonig vra, jare gelede al, na ek kommentaar gestuur het, sien ek ek het dalk ‘n woord met ‘n ander een omgedraai, selfs letters, gatkant voor, maar as ek die in Word Dok tik lyk als reg, ook die speltoetser wys nie fout nie, so sorry man ek probeer my bes. Ek het idee dis my sleutelbord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.