Nuuskommentaar: EFF oorboord – was nog nooit aan boord

EFF-leier, Julius Malema. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Hoe lank kan selfs die skyn van ’n demokrasie volgehou word as partye soos die EFF en die BLF toegelaat word om die einste demokrasie te benut om dit vir die gek te hou?

Veral een minderheid word giftig uitgesoek om te probeer om dit te vervreem en op te teer. Iewers is daar ook ’n grens van waar ’n analis of kommentator nie meer met versigtige, verantwoordelike, en laat staan nog akademiese, skrywes aanvaar gaan word nie. ’n Padlangse skrywe gestroop van fatsoenlikheid klink egter ook of dit meer skade as goed aanrig.

Kort nadat die EFF-opperbevelvoerder, Julius Malema, ondersteuners op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) toegespreek het, en onder meer gesê het die EFF is nie anargisties nie, het EFF-studente motors van onskuldige motoriste in ’n straat buite die kampus met klippe bestook.

Hulle het presies die teenoorgestelde opgetree as wat hul leier pas gesê het. Na die betoging is die betogers nie selle toe nie, maar het hulle na die kampus teruggekeer.

Ter wille van haarklowery, dit was na bewering EFF-studente, en het onder meer die rooi EFF-T-hemde gedra, maar die buurtwag se WhatsApp‑diens het nie doekies omgedraai nie.

Die EFF-studente was van alle kampusse landswyd byeen vir hul jaarlikse kongres.

Maar die motoriste wat skade gely het, asook Grey Kollege se busse vol sportspanne wat ook deurgeloop het, is op skadevergoeding geregtig. Kriminele dade is gepleeg. Interessantheidshalwe, die EFF beheer die plaaslike studenteraad. Maak dit die EFF nie minstens deels aanspreeklik vir die skade nie?

Of vrywaar die bewering hulle dat die anargie plaasgevind het uit ontevredenheid oor ’n besluit van die kongres wat die molesmakers nie aanstaan nie? Dieselfde dag het ’n EFF-LP in die parlement na Afrikaans as ’n walglike taal verwys, en geweier om die stelling terug te trek.

Word na die onlangse leserskommentare van rubrieke van verskeie kommentators gekyk, is dit duidelik dat baie van hierdie lesers “taai” word om hulle te laat beïnvloed deur uitlegte met ’n akademiese aanskyn waar woorde versigtig gekies word.

Wanneer ’n leser voel hy het nou oorgenoeg gehad en wil die land verlaat, veral ter wille van sy kinders, is ’n “versigtige” rubriek weinig meer as ’n irritasie, en soms loop die beker opgeboude gal oor. Maar hoe klink ’n nuuskommentaar wat doodgewoon padlangs loop en allerlei hindernisse onsagkens uit die pad probeer loop, soos hier ter wille van demonstrasie gedoen is. Nie almal is so goed toegerus soos die Afrikanerbond wat deur die begaafde pennevrug van Jan Bosman oor die vermoë beskik om onregte by die naam te noem, soos met kritiek op die Menseregtekommissie se blatante dubbele maatstawwe, en dit nog heel fatsoenlik te laat klink ook nie.

Toe die EFF tot stand gekom het, het die EFF dit duidelik gestel dat dié nuwe party minder op versoening, en meer op revolusie ingestel sou wees. Dus, die Nasionale Vredesakkoord word nie erken nie, en die Grondwet word geminag. Dit was duidelik dat die argitekte hulle blink aan die Grondwet afgevee het, en dus nie werklik gekwalifiseer het om as party te registreer wat aan verkiesings deelneem nie.

Andile Mngxitama, president van die BLF. Foto: ANA.

Die Vryheidsfront Plus het heeltemal tereg beswaar gemaak teen die EFF se registrasie, maar die Onafhanklike Verkiesingskommissie het die party nogtans geregistreer. Dié stiksienigheid is vanjaar herhaal toe die nog radikaler BLF ten spyte van grondwetlike besware omdat die BLF nie blanke lede toelaat nie, wél geregistreer is. Die BLF het genadiglik nie ’n setel verower nie, maar rig steeds enorme skade aan die land aan.

Moontlik sal dit eendag duidelik word hoekom Malema die land se vervolgings-Houdini is, maar op die oomblik is dit moeilik om enige ander rede as politiekery daarin te lees. Nie eens ’n redelik wilde siening van regspraak kan die gemors verklaar nie. En elke keer wat AfriForum presies ingevolge die reg ingryp en die Nasionale Vervolgingsgesag probeer dwing om Malema te vervolg, of minstens te verduidelik waarom hy nié vervolg sal word nie, word AfriForum as rassisties afgemaak en erg verkwalik, ook deur mense van wie beter verwag is.

Om ’n instansie te verbied is nie altyd die oplossing nie. Kyk maar waar het die verbod op die ANC die land gebring, hoewel gewoonlik geargumenteer word dat die nuwe Suid-Afrika darem uiteindelik ’n baie beter ANC gekry het as wat vroeër die geval sou wees voor die val van die ystergordyn. Net jammer die vakbonde het nog nie die nuus gekry die kommunisme het misluk nie, en daardie boodskap dring maar stadig tot die ANC self deur. Die groot liefde vir Kuba bestaan steeds. Oudpres. Jacob Zuma het kort voor hy die trekpas gekry het, nog gesê die ANC streef na ’n sosialisties-kommunistiese land. Selfs pres. Cyril Ramaphosa versterk verhoudinge met China en skeep die VSA af. Dit is wel eenvoudig gestel, maar kan ook nie geïgnoreer word nie.

’n Vraag wat nou hard om ’n antwoord begin vra, is hoeveel mag die EFF oor die ANC uitoefen? Dit is veral belangrik oor die koers wat grondgryp sonder vergoeding onder EFF en algemene populistiese druk uitoefen. Die EFF maak dit duidelik dat dit vir geen steun anders as sy eie beleid, geskoei op die Groot Leuen, gaan skik nie. Die beleid, soos blyk uit BLF-pamflette behoorlik gepak met blatante historiese leuens, kan as niks anders as blatante aanhitsing tot grondroof beskryf word nie.

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: ANA

Opnames toon dat sowat 85% van die swart bevolking ook meen wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Dié opvatting is onder andere ook deur destydse pres. Zuma aangestook wat vrugteloos hieroor by die Menseregtekommissie verkla is. Nou moet probeer word om ’n perd te ry met doringdraad onder die saal, of op ’n donkie wat agtergekom het hy kan die taaiste ruiter afgeskud kry deur met die ruiter al langs ’n doringdraad af te hardloop.

Al meer stemme gaan ook op dat dié aanhitsing regstreeks tot plaasaanvalle bydra.

Wie is in beheer van die ANC as die ambassadeur in Denemarke ’n siedende rassistiese aanval op wit mense aan die gang sit, en in weerwil van ’n tikkie op die kneukels daarmee voortgaan, en boonop deur die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Jesse Duarte, gesteun word? En o ja, die ambassadeur, Zindzi Mandela is ’n EFF-ondersteuner wat haar openlik van haar pa se versoening distansieer, en haar radikale ma, wyle Winnie, steun.

Die EFF se veldtog om die reënboog met haat en radikalisme te verdring bevestig dat dié party nog voor sy stigting oorboord geval het, maar die ANC se optredes en gebrek aan optredes toon ook nie (meer) op ’n party wat (altyd) aan boord is nie.

Ja, die Zondo-kommissie en ander kommissies skep hoop. Vandag verskyn Zuma juis voor adjunkhoofregter Zondo se kommissie, en dis moeilik om te voorspel wat die uitkoms hiervan gaan wees.

In ’n demokrasie kry die bevolking altyd die regering wat dit verdien. Maar verdien internasionaal-erkende minderhede dieselfde piesangrepubliek-gevolge waarvoor ’n meerderheid stem? En gaan die afteken van minderheidsregte en assimilasie met die meerderheid die nodige towerstaffies oplewer om met die middelpuntvliedende kragte weg te doen, soos wat die Orakel van Stellenbosch in sy onlangse kritiek op Solidariteit en sy selfhelpprogram bepleit het?

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Willie ·

Hulle is ongelukkig on stuitbaar… Almal van hulle is kop en een mis.. Al hierdie gebeutenisse is vir hulle normaal..

M ·

Willie jys reg. Dis alles lank terug beplan. EFF is daar met n spesifieke doel en dis die plan vd ANC dat hulle radikaal is en dan moet ons die mindere opsie aanvaar wat die ANC daar stel. EFF se vat alle grond en ANC net sekere grond. Ons skrik so groot dat ons maar ANC se opsie vat. Padda in kook water. Media te onnosel om te besef wat aangaan in die land … elk geval, ons gaan alles verloor. Aanvaar dit maar …

marous ·

Tot daar net ‘n geraamte oorbly , wat binnekort gaan wees …

Estelle Wessels ·

Goeie berig!Kan dit in Engels ook geplaas word. Of sommer direk aan Pres Ramapoza gestuur word. Dalk help dit!

Gert van Wierdapark ·

Die betrokke partye is van die instansies wat ‘n al hoe groter rol speel om vir hul aanhangers/volgelinge/stemvee’ n ware lyers-rol te speel, want op hul pad gaan almal in SA SAAM DAARONDER LY!!!

Johann M van Heerden ·

Pragtig uiteengesitte artikel. Doet so voort en hou aan en aan hamer. Doen dit ook internasionaal asseblief. Die proses moet soos druppende water wees.

Annalize Pienaar ·

Wanneer kom die tydperk dat daar opgetree kan word teen Malene en sy Opstokery?

Andreas ·

Hulle lok jou uit en kyk of hulle jou so laag kan laat daal om saam met hulle in die modder te rol.

Jack ·

Hiermee ‘n paar van my gunsteling HL Mencken aanhalings oor demokrasie:
1. Democracy is the art and science of running the circus from the monkey cage.
2. Democracy is a pathetic belief in the collective wisdom of individual ignorance.
3. Democracy, too, is a religion. It is the worship of jackals by jackasses.

Persoonlik glo ek die EFF, BLF en ANC is nie die problem nie, die probleem is dié wat hulle ondersteun.

Foxi ·

Van spring, sing, dans, beledigings en allerhande onmenslike uitlatings oor mense, moet jy weet dat een vinger wat gewys word, vier terug gewys word. Maar ook net……tyd sal leer.

Andreas ·

Met die herhaling van die ‘groot’ leuen, of leuens dan, waarmee hulle en die ANC volhard, word die wit mense al lank blootgestel aan erge vergrype en diskriminasie teen hulle, in effek is hulle blykbaar besig om die geskiedenis heel suksesvol te herskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.