Nuuskommentaar: Ehrenreich se stokery teen Springbokke vet in vuur waar Grondwet vou

Tony Ehrenreich. Foto: Facebook

Tony Ehrenreich. Foto: Facebook

Berigte oor verregaande stellings deur Tony Ehrenreich oor wit Springbokke wat deur droog te maak die afrigter, Allister Coetzee, wil saboteer, word wyd in leserskommentare as laf of erger afgemaak. Dit raak egter aan ’n dampkring waar probeer word om ’n mombakkies van fatsoenlikheid vir kwotas opgeplak te kry.

Die ou grappie van die dwars Boer wat op die strand van ’n afgeleë eiland uitspoel, is gister sterk in herinnering geroep. Die Boer sou die spulletjie so een kyk gegee het, en sê: “Ek weet nie wie hier aan bewind is nie, maar ek is teen hulle.”

Tony Ehrenreich, omstrede baas van Cosatu in die Wes-Kaap, is op 12 Augustus verlede jaar in die media aangehaal dat hy sê: “Ek is nie ’n kenner van rugby nie. Ek kyk Formule Een, maar die span moet meer getransformeer wees.”

Hierdie selferkende onkunde het hom egter nooit verhinder om hom oor rugby (en ander sport waarvan hy blykbaar ook min weet) uit te laat nie. Hy was juis verlede jaar in die nuus toe hy beweer het van die swart Springbokke het by Cosatu gaan klik dat daar ’n groot verset teen transformasie in die Springbokspan is. Die swart spelers wat duidelik op verdienste in die span was, het sover bekend voor die voet ontken dat hulle die klaers was.

In Ehrenreich se jongste, verregaande uitlatings (lees hier en hier) gee hy in breë trekke te kenne daar is wit Springbokke wat die span doelbewus saboteer om Allister Coetzee as afrigter te laat sink. Dié spelers sou volgens Ehrenreich transformasie teenstaan.

Uit die stortvloed leserskommentare (en onthou, net dit wat nie rassisties is of haatspraak bevat nie oorleef die plasingskeurders se valbyl) is dit duidelik dat Ehrenreich diep verdeeldheid saai in ’n gemeenskap wat erg gepolariseerd is. Diskresie was egter nie deel van sy arsenaal toe hy sy mond uitgespoel het nie, en so ook oor verskeie ander aspekte in die verlede, oor byvoorbeeld plaastoestande.

Hierdie hoogvat uit ’n onkantposisie kom op dieselfde dag as wat as ’n swart dag vir Afrikaans beskryf word, met Tuks en Maties wat Afrikaans wesenlik in die tande skop. Dit terwyl uitspraak voorbehou is in ’n saak wat AfriForum, Solidariteit en ander teen Kovsies aanhangig gemaak het. Die universiteite word daarvan beskuldig dat hulle grondwetlike regte ignoreer om die optrede van anargiste te probeer voorkom.

Die woord wat wyd en syd as “fix it all” ingespan word, is “transformasie”, ’n woord wat glad nie in die Grondwet voorkom nie, en duidelik vir verskillende mense verskillende dinge beteken en dus in verskillende gedaantes neerslag vind, soms erg ras-diskriminerend (wat duidelik deur die Grondwet verbied word). ’n Tweede woord wat dikwels hiermee saamhang, is “kwotas” en in sportverband dikwels as sinoniem vir transformasie ingespan word. Die bekkige minister van sport(s), Fikile Mbalula, is ’n (wel)-sprekende voorbeeld hiervan.

Ook kwotas beteken vir verskillende mense verskillende dinge. Die mediapersoonlikheid, Echbert Boezak, skryf onlangs ’n rubriek, “Hou op om sportkwotas te blameer”, waaruit dit duidelik blyk dat hy enige speler van kleur in ’n verteenwoordigende span ’n kwotaspeler noem. Dit is in weerwil daarvan dat verskeie nasionale spelers van kleur, veral krieket-Proteas, dit al baie duidelik gemaak het dat hulle aanstoot neem om kwotaspelers genoem te word, omdat hulle glo hulle is op verdienste in die span. (Verskeie ministers het erg aanstoot geneem.)

Boezak staan egter nie alleen in sy siening nie. Onlangs is tydens ’n TV-uitsending van ’n internasionale krieketwedstryd ook onder die kommentators ’n sterk lansie vir kwotas uitgespreek nadat verskeie spelers van kleur besonder goed presteer het.

Maar ’n mens moet werklik diep gaan delf om ’n woordeboek te kry (en so iets bestaan nie) wat spelers soos Amla, Rabada en Tahir as kwotaspelers gaan definieer. Hulle is suiwer op meriete in die span.

Boezak neig in die rubriek ook om “transformasie” en “kwotas” as sinonieme of erg ineengestrengel te behandel. Dit maak dit moeilik om te sien hoe hy werklik van AfriForum se “Weg met kwotas”-veldtog verskil. By AfriForum gaan dit duidelik oor die afdwing van kwotas ongeag meriete, teen ’n agtergrond waar die regering versuim om sy eie pligte na te kom soos met die skep van geriewe op skoolvlak. By baie skole “met geriewe” bestaan die “geriewe” uit ’n skoongeskraapte stuk veld en twee sokkerdoelhokke – kwalik die soort velde waarop rugby, krieket en selfs hokkie gespeel kan word.

Nogtans druk Boezak die vinger in Kriel se oog, en Kriel antwoord hom breedvoerig. Die volgende aanhaling som die situasie goed op: “In Echbert Boezak se meningstuk, Hou op om sportkwotas te blameer, poog hy om diegene wat rassekwotas in sport teenstaan, op oppervlakkige wyse af te maak as mense wat dink ‘wit spelers is vanself bekwaam, terwyl spelers van kleur gedurig moet bewys dat hulle bekwaam is’.

“Hierdie wanvoorstelling deur Boezak het reeds kop uitgesteek tydens die Twitter-skermutseling tussen my, Boezak en ’n paar ander selfaangestelde waghonde vir politieke korrektheid kort ná die Springbokke se skoknederlaag op hul tuisveld teen 14 spelers van die beseringgeteisterde Ierse rugbyspan.”

Dit is gevaarlik om, veral as ’n mens nie veel van rugby weet nie, algemene transformasie- of kwota-afleidings op grond van een toets te maak. In daardie toets is dit so dat verskeie wit spelers triesterig gespeel het, en verskeie onder ’n ander afrigter gepos sou gewees het.

Met die tweede toets se eerste helfte was dit egter veral een speler van kleur wat erg aangejaag het, en rustyd deur die vormspeler van die seisoen, Ruan Combrinck, vervang is. Teen die einde van die toets was daar twee minder “kwotaspelers” op die veld as aan die begin. Coetzee het duidelik ’n keuse tussen ’n neerlaag gehad, of om die vinger in Mbalula se oog te druk. Tog lyk dit of Combrinck terug bank toe gaan skuif vir die derde toets.

Kortom, wie ná ’n enkele wedstryd, of ’n versameling wedstryde wat dekades uit mekaar gespeel is, kyk om vir of teen kwotas te oordeel, tender om sy naam met ’n plank te slaan.

Gisteraand was die “getransformeerde” Bafana Bafana teen rustyd nog 1–0 agter teen die ongeroemde Swaziland, en eintlik gelukkig om nie verder agter te loop nie. In die tweede helfte het die Suid-Afrikaners egter ’n ander blaadjie omgeslaan en vyf doele teen geen aangeteken.

Kwotas is vernederend vir die spelers wat daardeur “bevoordeel” word. Die afgelope krieketseisoen, waar daar streng kwotas vir wit, swart en bruin spelers op provinsiale vlak en bedryfsregvlak gegeld het, het die krieket op daardie vlakke so die kreeftegang gegaan dat gewese nasionale spelers die standaard met klubkrieket in die ou dae of selfs laer vergelyk het. Dit veroorsaak dat dit geen sin maak om ’n nasionale speler wat van stryk is wel sy vorm op bedryfsregvlak te laat herwin nie, want selfs ná ’n dubbele honderdtal blyk dit met sy terugkeer na die nasionale span dat daar nog aan die vorm haper.

Die finale woord moet nog gesê word. Tydens die afgelope Sondag se program, Kommentaar, op RSG, het Jan-Jan Joubert hom sterk ten gunste van transformasie in sport uitgespreek aangesien dit die pad na die toekoms vir internasionale deelname sou wees. Dit hang natuurlik af wat Joubert met transformasie verstaan.

Behels dit dat die nodige geriewe van grondvlak af geskep en die geleenthede daartoe toegevoeg word, asook dat dit almal die geleentheid bied om op ’n gelyke vlak om die hoogste sport mee te ding, is dit reg. Dink hy egter ook aan kwotas, kan dit Suid-Afrika juis uit internasionale deelname rangeer omdat die meeste belangrike sportkodes se manifeste politieke inmenging en rassisme in sport verbied. En dit is presies wat regeringsafgedwingde kwotas sonder suiwer meriete is.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Carel ·

Ehrenreich se bek is so groot om kwaad te stook vir die sogenaamde vorige benadeeldes, het hy al ooit iets positiefs gedoen in sy lewe? Het mens al ooit gelees van iets wat hy bygedra het tot hierdie land?

Willie E ·

Die “wit” spelers moet nou almal net soos een man voor Saterdag onttrek uit die “Rainbow Rugby team”…dan sal ons sien hoe sien hulle hulle GAT ordentlik……dis mos nou weer die wittes se skuld…goed dan.los hulle alleen laat hulle hul rainbow team self voortploeter….

Poot ·

Willie E
Ek stem saam met jou. Dit sal interessant weesom dit te aanskou. Dink net waar gaan SARU se kaartjie verkope DAN heen. As my oë my nie bedrieg nie, het ek sover nie minder as 98% lelie wit ondersteuners gesien in die stadions nie.

william ·

Hierdie ou sal enigiets doen om in die nuus te kom. Hy is nie meer relevant in die politieke bedeling nie en dus probeer hy steeds vas klou aan enige vorm van publisiteit

humor ·

Die hele land weet dat ehrenreich met totale onkun-
digheid toebedeel is en dit is vremeng met moedswilligheid en n sterk dosis rassisme asook materiele motiewe. Is dit dan nodig om soveel aandag aan hom te gee. Swyg hom dood en benut ons enrgie meer daar waar dit werklik saak maak

Connie ·

Duidelik weet hy niks van rugby af nie. Die witspelers het die game gered op Ellispark. Maar nou ja, ek mag nie sê wat ek van die meneer dink nie.

Flippie ·

Dit is tyd dat ons hierdie land onder sy gat skip en on deel van SuidAfrika afeis. Ons het regtig nie jafels soos Ehrenreich en sy Zumamaters nodig nie.

Kom ons skei, kry die pyn agter die rug sodat ons op ons eie kan aangaan sonder die alewige vinger-in-die-oog op- en aanmerkings van slangsleepsels wat hulle verbeel hulle is godgestuurde wesens nie.

pieter ·

MAAK SOOS DIE ANC EN RY DIE GRAVYTRAIN,SIT OP DIE BENCH EN VERDIEN GELD MAHALA.

johann cb ·

Ek het die oplossing vir Tony: neem al die betogers en brandstekers van die strate af en stel rugbyspanne in elke provinsie saam. Stel ‘n gedugte Springbokspan saam en stuur hulle die wêreld in. Dit sal ‘n wenresep wees. Onthou net om die hele afrigtingspan ook só saam te stel. Stel hulle ook aan as radio en TV kommentators. Die nuwe SAUK – baas moet uit dieselfde geledere wees. Gaan kyk dan rustig motorsport, want hierdie is vir seker ‘n wenresep – al die kwotas is nou bereik. Dít was nou rugby, nou vir die ander sportsoorte…

Louw ·

Dit is sleg jong, weet hierdie persoon wat hy doen? Kan hy n verskil maak of kan hy net afbreek? Woorde is baie goedkoop, maar dade kos geld!! Wat is die punt van sy uitlaatings? SA IS REEDS N KOOKPOT

Rupert Ashford ·

Jan-Jan Joubert…. Nou die dag toe julle oor RSG se “kommentaar” program gepraat het, kon ek nie die javel se naam onthou nie. Maar dit is net hy daai. Hy was een van die perre van SAUK nuusredaksie wat destyds gewerk het om die program te kaap en vir Niekie en kie te pos.

Koos Karoo ·

Die Springbok wat drie redelik maklike doelskoppe mis geskop het, en daardeur die bokke amper gekelder het, is nie wit nie (al is hy ‘n Leeu). Is hy deel van die komplot?

Lelani ·

Ag Mnr Tony Ehrenreich wil jy ook nou ietsie se as jy jou mond dan moet oop maak kyk asb na die sokker span miskien as hulle meer wit spelers insit sal ons ook iewers kom met die sokker! anders hou maar gerus jou mond!!!!

Jimmy ·

Ek wonder of hy ook sou se elke wit afrigter rig swakker af of doen minder moeite sodat die spanne in SA ni moet wen in omdat daar kwotas is

Jordaan ·

Vir my is die kruks van die saak dat rasseklassifikasie geskrap is in die vroeë 90s. Die besluite van wie die bevoordeeldes moet wees word dus suiwer op voorkoms geneem ongeag hulle herkoms of agtergrond. Dus multi miljoenêrs se nasate word bevoordeel bo arm en middelklas wittes. Dit is myns insiens erger rassisme as enigiets wat in die ou bedeling gedoen was

deon ·

Hy is kwaad vir homself want hy verstaan nie rugby so lekker nie ……verwaande mannetjie

pieter ·

William jy het die spyker op die kop geslaan ou maat dis presies wat jy da se , hy moet die sogenaamde kla bokke se name noem want ons wag al van laas jaar af vi name ma niks gebeur nie

Oudste ·

Beste Tony, verskoon tog maar die familiariteit om jou op jou voornaam te noem, maar dit is mos algemeen aanvaarbaar. Nie dat ek dink jy sal die ou stukkie kritiek lees nie, want jy is mos darem ‘n hogere persoon (soos onse maters onder mekaar se: ‘n kat met ‘n dik stert.) en meng nie maklik met die gepeupel nie, spoel net jou mond uit oor die bleeksiele. Terwyl jy die afgelope Saterdag, neem ek aan, ‘n stukkie snoek verorber het, was ek in die bevoorregte posisie om saam met heelwat “wit, swart, bruin en Indier rugby ondersteuners op Emirates Park, die ou Ellispark in Jozie, net ter inligting, rugby in die koue te loop kyk. Eloke slag asd Tendai Mtawarira die bal hanteer het, het die pawiljoene gedreun met: “Beast” en toe Damian de Allende sy vyf gedruk het, net om polities die korrekte getal weer te gee, sodat jy nie deurmekaar raak met ‘n drie wat vyf punte tel nie, het die hele stadion in ekstase hulle heppiness te kenne gegee. Ek besef nou eers, nadat ek jou mondspoel gelees het, dat ek my midde ‘n rassistiese oproer bevind het. Ek moet se, dit was nogal goed verdoesel (weggesteek, se die HAT, wat nie Engels is vir hoed nie.)

Penellope Jones ·

Die ANC het niks anders om aan te bied nie en Ehrenreich ry nou maar net doodeenvoudig lekker saam op die rassistrein wat die ANC gebruik as hul verkiesingstema.

Jan maak n Plan ·

Onder sy neusgate is n riool werke aanleg. As hy sy bek oop maak dan kom daar – julle weet mos wat – uit!!! Die grootste blikke raas gewoonlik die meeste.

cynthia ·

Ag die arme man rig ook nie veel uit nie, probeer maar so shine vang. Ag shame.

Riaan Swart ·

Ek het lankal besluit om nie die sirkus dop te hou nie politiek moet uit bly uit die sport anders gaan ons nerens kom nie en die hele wereld lag vir ons oor die slegte keuses.

Drikus ·

Besef Mnr Ehrenreich hoeveel druk hy nou op die spelers van kleur in die Springbokspan plaas. Hy het hulle nou almal onder verdenking geplaas dat hulle uit die span uit praat en nie genoeg vertroue in Mnr Coetzee het om die “kwessie” direk met hom op te neem nie. Ai tog, hoe laag daal die “politici” nie as hulle nie hulle kiesers op behoorlike dienslewering jan oortuig om hulle te ondersteun nie. Leë blikke maak die grootste geraas.

Jan ·

Tony. Jy is n verleentheid vir alle Bokke wat op meriete gekies was en word. Ongeag kleur. Ek vergewe jou want jy weet nie wat jy NIE weet nie. Maak jou mond toe die kraai maak nes daarin

Anoniem ·

Nee wat, die ANC en die geagte meneer Ehrenreich ly almal aan ‘n erge minderwaardigheidskompleks wat dit nie kan verwerk dat die witvel presteer nie, die dat hulle altyd die raskaart ingooi by hul nuttelose kommentaar. Hulle moet ‘n defitinitiewe poging aanwend om te aanvaar dat die witspelers in die Bokspan op meriete gekies word.

Floors ·

Waarom soveel prominensie aan so n persoon gee. Dis duidelik hy ondermyn alle vorme van edele waardes.

Callie ·

Kwotas een van oorsake dat pawiljoene leegloop. Tony maar kans gee om solank sy kwota toeskouers ook te gaan soek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.