Nuuskommentaar: Eilande van veiligheid met onveilige tussenruimtes?

André Piehl (Foto: Verskaf)

Die afgelope naweek is ʼn bekende Suid-Afrikaans driekampatleet, André Piehl, dood toe ʼn vermeende dronkbestuurder hom getref het. Piehl was besig om saam met sy vriend fiets te ry op die R512 in Lanseria. Luidens berigte oor die voorval was die bestuurder wat Piehl doodgery het onder die invloed van drank en het hy boonop van die toneel probeer vlug.

Die motoris wat Piehl doodgery het, is egter gou weer vrygelaat weens ʼn tekort aan bewyse. Dit is omdat die polisie, volgens die Piehl-familie se prokureurs, slordige werk gedoen het in die insameling van bewyse om die motoris wel in aanhouding te hou.

Netwerk24 berig ook na afloop hiervan dat Piehl die derde driekampatleet in ses maande is wat in ʼn fietsongeluk dood is. Dit is ook waarom fietsryers volgens Paul Ingpen, redakteur van Triathlon SBR, onveilig voel op Suid-Afrikaanse paaie – buiten fietsryers is drawwers en voetgangers ook nie in die spesifieke opsig veilig nie. Gegewe die koers van motorongelukke in die land is hierdie natuurlik ʼn gevoel wat motoriste self ook raak. Dit is enersyds weens die toestand van die paaie en andersyds weens die bestuursvernuf, of dikwels die tekort daaraan, van diegene wat die paaie gebruik.

So het die boeregemeenskap van Limpopo ook die afgelope week een van hul boere afgestaan aan die dood in ʼn motorongeluk veroorsaak deur ʼn slaggat. Die boer moes glo vir ʼn voertuig uitswaai wat skielik voor ʼn slaggat gerem het. Vroeër die week het ʼn gemeenskap in die Vrystaat ook ʼn gemeenskapsleier aan die dood afgestaan wat ook weens ʼn slaggat in ʼn motorongeluk dood is. Die VF Plus-raadslid van die Vrystaat was in ʼn ongeluk betrokke nadat ʼn vragmotor na bewering vir ʼn slaggat uitgeswaai het. TLU in die Vrystaat het in reaksie hierop selfs gesê dat die raadslid se dood vierkant voor die regering se deur gelê kan word – dit is niemand anders as die regering se skuld dat ons paaie in die haaglike toestand is wat dit is nie.

‘n Slaggat in die pad.

Suid-Afrikaanse paaie is veilig vir feitlik niemand nie. Nie net het dit verval as openbare ruimte nie, maar het dit tot die punt verval dat dit aktief gevaarlik is vir diegene wat dit wel benut. Dit is nogal ʼn probleem gegewe die feit dat paaie byna die enigste manier is om van een punt na ʼn ander te kom. Dit is ook nie noodwendig beperk tot paaie as openbare en gemeenskaplike ruimtes nie. Talle mense voel nie meer veilig genoeg om in ander openbare en gemeenskaplike ruimtes soos parke te verkeer nie – daar waar dit wel nog veilig is, leef mense absoluut in hierdie ruimtes. Daar waar mense in massas hulle aan openbare ruimtes onttrek het, is dit doodeenvoudig omdat hulle nie meer veilig of tuis daar voel nie. Veral eersgenoemde is toe te skryf aan die feit dat die regering doodeenvoudig nie algehele openbare wet en orde kan handhaaf nie.

Mense voel oor die algemeen egter nog veilig in hul huise, by hul werkplekke en dalk selfs in ander gemeenskapsruimtes soos kerke en skole. Dit is veral die geval van mense met ʼn sterk gemeenskapsinstelling asook mense wat ook daarin kon slaag om hulself te vestig in veilige en normale gebiede – dit is normaliteit in die opsig daarvan dat verval en onveiligheid nie aan die orde van die dag is nie. Dit kan insluit private veiligheidsdorpe of boomed off-gebiede. Gebiede soos dié verteenwoordig die sogenaamde eilande van uitnemendheid wat in vele sfere van die samelewing bestaan.

Hierdie is eilande waarin uitnemendheid, voorspoed, vooruitgang en sukses behoue bly ten spyte van die algehele verval wat aan die orde van die dag is. Eilande van uitnemendheid soos private skole, private gesondheidsorg, private veiligheidsdorpe, gemeenskapsinstellings en ook die privaatsektor verteenwoordig ʼn skrille kontras met die gebiede van verval waarvoor die regering verantwoordelik is. Sodoende verval die land, maar alles is beslis nie verlore nie. Dit is dan ook hoe ʼn mens veilige gebiede van uitnemendheid kry te midde van onveilige tussenruimtes. Mense reis sodoende tussen eilande van uitnemendheid, maar moet dikwels gebruik maak van onveilige of vervallende tussenruimtes om daar uit te kom.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Dit is op die ou einde nie ʼn volhoubare oplossing in die soeke na en bewerkstelliging van normaliteit nie. Solank as wat ʼn mens van onveilige tussenruimtes gebruik moet maak, word jy steeds blootgestel aan die gevare daarvan. Dit is waar die vrees vandaan kom dat mense dalk binne ʼn private veiligheidsgemeenskap soos Midstream werklik veilig en vry is, maar net buite die hekke daarvan beroof kan word. Die oomblik wat ʼn mens egter veiliger tussenruimtes kan skep, verklein die risiko daarvan om op reis tussen een normaliteit-eiland en ʼn ander onveilig te wees. Dit was immers moontlik om tot dusver die massas eilande van uitnemendheid te skep wat vandag bestaan.

Daar is reeds soveel funksies wat gemeenskappe in praktyk van die staat oorgeneem het, juis weens die verval van die staat. Iets soos openbare veiligheid word vir alle praktiese doeleindes nie deur die polisiediens onderhou nie, maar deur gemeenskapsveiligheidstrukture en private sekuriteitsmaatskappye. Die abnormaliteit wat geskep word deur staatsverval kan dus vervang word met die normaliteit van ʼn funksionerende, veilige samelewing en gemeenskap. Dit is natuurlik nie maklik nie en gebeur ook nie oornag nie, maar is beslis moontlik.

Dit is hoe ʼn mens na die onveilige tussenruimtes moet kyk in die samelewing – dit moet bloot gesien word as ruimtes waarin die gemeenskap nog nie genoegsaam beheer kon kry en neem nie. Dat ʼn gemeenskap beheer neem van sy eie vryheid, veiligheid en voorspoed is uiteindelik die beste kans wat ons staan om ʼn normale samelewing te hê. Een waarin mense veilig is om te floreer. Dit is daarom gemeenskappe se eie verantwoordelikheid om die gemeenskapsinstellings te skep wat hiervoor nodig is, self selfstandig en sterk te word in staatsbestandheid en uiteindelik dan ook saam met ander gemeenskappe ʼn gemeenskap van sterk gemeenskappe te vorm – so word eilande van uitnemendheid verbind deur veilige tussenruimtes waarin groter mates van normaliteit heers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Ek stem Monica. Dat gemeenskappe NOU beheer moet neem in orderlike verband was nog nooit so relevant soos nou. Te lank het hierdie politieke anargisme hoogty gevier. Eilande van veiligheid nie goed genoeg aangesien sommiges uitgesluit sal; voel (verwys na bekostigbaarheid). Die HELE land moet ‘n plek van veiligheid wees en ‘n plek van vrees vir boewe, kriminele, staatskapers en vele meer van die karaktertipe! TE lank was gemeenskappe te passief!

annie

Daai foto is een van ‘n mooi slaggat. Ons ken van baaaie erger… ‘Veilig’ kom talle kere voor in meegaande berig; die crux van Suid-Afrikaners se begeerte om in dié land te oorleef wat nog gelukkig wees. Is dit nie juis enige regering se oogmerk om sy land se inwoners se voorspoed te bewerk nie? Ons regering gee duidelik nie om of inwoners op paaie of weens misdaad sterf nie, solank ons net nie sonder virusentstof in ons lywe beswyk nie.

Shakespeare

Nog ‘n veer in die ANCD. Die D staan vir DIABOLIC.

Marianna

Waarvoor betaal ons motorlisensies? En belasting? Wat word met die geld gemaak?

AW

Almal “WEET” wat met die ‘geld’ gedoen word !!