Nuuskommentaar: Einde van kleptokrasie?

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Terwyl die ANC sukkel om besliste treë te neem, veral met betrekking tot die toekoms van Jacob Zuma, probeer die gesamentlike opposisie besliste treë vooruit neem. Hoe lank kan Zuma nog die land gyselaar hou?

Hoewel die woord “onbevestig” steeds teen vanoggend in die berigte van die meer verantwoordelike media gebruik is om die toekoms van Jacob Zuma uit te spel, lui buitelandse berigte van publikasies wat nie tyd vir Zuma se kat-en-muisspeletjies het nie gewoon dat die ANC se NUK Zuma teen laat gisteraand in kennis gestel het hy moet binne 48 uur bedank óf word herroep.

Die berigte meld wel dat Zuma nog vir oulaas geweier het as hy nie drie maande bykomend in die stoel gegun word nie. Die NUK wou hiervan niks weet nie.

Dis tog interessant hoeveel terme die buitelandse media gebruik om Zuma en sy bewind te beskryf, en duidelik nie teenspraak verwag nie. Benewens die beskrywing van ’n kleptokrasie, word Zuma as die grootste eksponent van die korrupsie beskryf. Sy gespook met 783 aanklagte van onder meer korrupsie en rampokkery word telkemale geopper.

Voorts meld die berigte dat die ANC tydens Zuma se bewind flink agteruit geboer het, en dat die ekonomie, wat nou gebuk gaan onder openlike korrupsie op alle vlakke, onder Zuma ’n liederlike hou weg het. Sedert Cyril Ramaphosa se verkiesing as partyleier in Desember het die ekonomiese ratte verwissel.

Die plaaslike media skets ’n effens ander prentjie, naamlik dat Zuma laat weet het dat “julle (die NUK) nog sal sien waartoe ek in staat is”. Dit het skynbaar die gevoel dat Zuma dadelik moet verdwyn sterk aangevuur. Dit lyk nou waarskynlik dat Zuma hom in die parlement teen ’n mosie van wantroue wat deur sy eie party gestel is, kan vasloop.

Volgens berigte sal die ANC om twaalfuur vanmiddag duidelikheid deur ’n mediakonferensie bring.

Maar … dis die ANC. Horlosiekyk en duidelikheid bring is nie juis sterkpunte nie.

Intussen is dit interessant om te begin let op hoe eertydse uitgesproke dissipels van Zuma nou hul mantels begin swaai. Mag dit wees dat die “vryspraak” wat Ace Magashule met die Vrede-suiwelprojek by die openbare beskermer gekry het, tog nie ’n aanduiding is van die voortsetting van die beskerming van vriende soos wat onder die Zuma-bewind ervaar is nie. Mits jy jou natuurlik aan die “regte” kant bevind.

En dan is daar nog kwessies soos ’n verslag oor ’n provinsiale webwerf waarvoor minstens R40 miljoen opgedok is, pro-Magashule-koerantjies wat verskyn het, en ’n “fly by night” wat oorgekoop is en skielik ook ’n Magashule-mondstuk geword het.

Eisj!

Kom Ramaphosa, bewys die spesmaas verkeerd.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Estellw ·

Dankie vir die opsommende oorsig van waar ons nou staan of nie staan nie en angstig wag vir een-uur se nuus konferensie. Bly net hoop vir ‘n oplossing met die minste moontlike slegte gevolge. CR kan dit doen en ek glo hy wil.

Zumie ·

Sterkte vir diegene wat dink klep is nou uit die kleptokrasie verwyder…….
hoogstens mag dit ‘n graadverskil he..

Veritas ·

Zumie jy is doodreg. Kleptokrasieë, of wat ookal jy dit wil noem, is skynbaar aanvaarbaar in Afrika-politiek. Die inheemse bevolking van Afrika leef al vir eeue onder ‘n bestel waar alles aan die koning behoort. Dit is al só ingewortel in hul tradisies en kultuur dat selfs ‘n demokrasie onderworpe is aan hierdie beginsel. Al wat demokrasie vir hulle beteken, is dat iemand anders nou die reg tot vergryping oorgeneem het. CR sal dalk probeer om die land reg te regeer maar sy meelopers sal voluit gaan om hulself te verryk. Dit is mos nou hul beurt. Dit is te sê, as Zuma nie gaan probeer om, dmv die weermag se hulp, aan bewind te bly nie.

Johannes ·

Regtig? Wat presies sien mense in ramaphosa? Het mense dan vergeet dat ramaphosa grondonteiening sonder vergoeding steun? Vergeet mense dan wie die ANC is? ‘n Klomp kommuniste…

Hans ·

L-a-n-k gelede was dit die Boetas, toe kom die Guptas en nou is die Dumas oppad.

Jerry ·

Gedurende CR se termyn gaan dit beslis die einde van die Zupta kleptokrasie wees, tesame met ekonomiese oplewing. Suid-Afrikaners kan uitsien na n goeie tyd mbt voorspoed en interresante tyd mbt die stryd om geregtigheid teen die kleptokrasie. Kleptokrasie sal eers weer sy kop uitsteek wanneer CR se termyn eindig en daar iets oor is om te plunder. Die Afrikaner bly egter die teiken van die radikales, tydens goeie en slegte tye en sal nie kan bekostig om hulle waaksaamheid te verslap of om hulself onnodiglik bloot te stel aan misleiding, uitlokking of provokasie.

Moses ·

Jerry, wat rook jy ? Ek soek ook van daai goed. “Ekonomiese oplewing en voorspoed” nogal. Net omdat die president verander ? Jy besef nie hoe diep die probleem gewortel is nie.

Koos1 ·

Wat my die meerste verbaas is dat Thabo Mbeki uit gehaal is vir sy “politieke inmengery” en sommer baie vinnig ook deur Zuma en sy trawante. Kyk waar het dit ons gelaat? Ek is seker Thabo het deur Zuma gesien, en moet kon voorsien wat kan gebeur, en wou met nog tyd planne in plek stel. Hy is duidelik in sy spore gestop!
Ek dink ons moet CR en sy party kans gun om hulle werk te doen en so seker maak dat hulle en ons nie oor twee jaar nog met die Zuma spook oor ons koppe leef nie. Oorhaastige besluite het ALTYD die geneigtheid om jou aan die agterent te byt.

Estelle ·

Ja Jerry, Afrikaners is soms (on)plesierig en dan maak hulle so – lewer snedige kommentaar op alles wat anders klink as hulle opinie. Ek verkies jou sienswyse in hierdie debat en ons kan op Moses staat maak om dit af te skiet. En hopelik is daar ‘n goue middeweg ….

Johannes ·

Estelle, dit is juis wat ons werklike probleem is: ons het en soek steeds na ‘n “goue middeweg” met terroriste…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.