Nuuskommentaar: Eindfluitjie vir Zuma?

Pres. Jacob Zuma by die gedenkdiens Foto: Skermskoot van regstreekse uitsending van eNCA

Pres. Jacob Zuma by die gedenkdiens Foto: Skermskoot van regstreekse uitsending van eNCA

Die Madiba-nuusoorheersing het gister ‘n interessante tussenspel gehad toe berigte die rondte begin doen het dat pres. Jacob Zuma die omstrede Snoerwet onderteken het. Hoewel dit baie gou geblyk het ‘n wolhaarstorie te wees, het die nuus bitter vinnig versprei.

Hoewel daar vanuit die staanspoor groot verbasing was dat Zuma juis nou sou kies om so ‘n omstrede wet te onderteken, was die verrassing nie so groot dat die storie eers vir waarheid ondersoek is voor dit die wêreld ingestuur is nie. En hierin lê die werklike slegte nuus vir Zuma… sy reputasie loop hom so vooruit dat selfs ervare joernaliste op sigwaarde van die onwaarskynlike die ergste van hom glo.

Tot krediet van die joernalistieke beroep… die waarheid is gou vasgestel en daar is met ewe groot ywer om verskoning gevra dat dit gebeur het.

Sou Zuma die wet onderteken het, sou dit dadelik enorme implikasies vir die land inhou. Verslaggewers Sonder Grense (VSG) finaliseer nou sy jongste persvryheidsindeks. VSG het die ANC reeds telkemale die afgelope aantal jare gemaan dat dié wetsontwerp nie ongestraf sal bly nie. Intussen het die land op die persvryheidsindeks bly tuimel. Waar Suid-Afrika in 2003 nog die 21ste mees persvrye land ter wêreld, en die mees persvrye land in Afrika was, het Suid-Afrika aan die begin van 2013 tot die 52ste plek teruggesak. Verskeie Afrikalande is nou meer persvry as Suid-Afrika, waaronder Namibië (19), Ghana (30) en Niger (43). Telkemale die afgelope aantal jare het VSG aangedui dat die blote oorweging van hierdie wetsontwerp een van die hoofredes is waarom die land so die kreeftegang op die indeks gaan.

Die ondertekening van die wetgewing sou boonop saamval met VSG se ondersoek na die SAUK se beweerde aanvanklike verswyging, onder skynbare politieke druk, van die uitjouery wat Zuma ten tyde van die Madiba-gedenkdiens deur ‘n deel van die skare te beurt geval het.

Kort voor Mandela se heengaan het Transparency International bekend gemaak dat Suid-Afrika tot die 72ste posisie op die korrupsie-persepsie-indeks teruggesak het. In 2010 het Suid-Afrika nog die 54ste plek beklee. Dat die land onder Zuma se presidentskap byna 20 plekke op die indeks kon terugsak (nog voor die Nkandla-bevindings van die Openbare Beskermer daarby verreken kon word) het in die konteks van die Madiba-nuus geswig.

Selfs al word die feit buite rekening gelaat dat Suid-Afrika ook op ander indekse soos die indeks vir mislukte state, die innovasie-indeks en die geweldsindeks agteruit boer op sy reeds bedenklike posisie, is dit duidelik dat ‘n groot deel van die wêreld Zuma se presidentskap as sleg vir die land, indien nie ‘n ramp nie, ervaar.

Mandela se afsterwe het Zuma se gebreke net verder beklemtoon.

Binne Suid-Afrika het die Zuma-“bashing” in felheid toegeneem, maar op die oog af nie sy grondvlaksteun genoegsaam aangetas om die ANC te laat herbesin oor sy voortgesette presidentskap nie. Selfs na die yslike gedenkdiens-verleentheid lyk dit of die ANC eerder simptome as oorsake wil aanspreek.

Oud-pres. Thabo Mbeki het nou in ‘n klaarblyklike verwysing na Zuma en Zuma se lakeie voorgestel dat die ANC nuwe leiers kry. Onlangs het hy, in klaarblyklike verwysing na Zuma (hundred percent Zulu boy) se Zoeloefikasie van die land se topstrukture, die huidig leierskap van “tribalism” beskuldig. Dit is kort hierna deur Winnie Madikezela-Mandela geëgo.

Ook die bekende dr. Barney Pityana het pas versoek dat Zuma moet bedank.

Vroeër vanjaar was emeritus aartsbiskop Desmond Tutu in die nuus toe hy gesê het hy gaan nie volgende jaar sy kruisie by die ANC trek nie. Verskeie senior ANC-leiers uit die Mandela- en Mbeki-eras laat toenemend blyk hulle meen die ANC is sy morele kompas kwyt.

Op 1 April vanjaar – Aprilgekdag – het die opskrif van Maroela se “nuuskommentaar” soos volg gelui: “Zuma se herontplooiing.” Hoewel baie ooglopend tong in die kies geskryf is om nie dalk iewers ernstig opgeneem te word nie, klink die “redes” wat destyds vir die “herontplooiing aangevoer” is, baie na die redes wat nou aangevoer word hoekom Zuma die trekpas moet kry.

Omtrent al wat nou bygekom het, is die verwikkelinge in die vakbondwese, veral rondom eers die opkoms van Amcu en toe die tweespalt binne Cosatu. In die Cosatu-stryd kom Zuma-lojalisme tot ‘n groot mate teen Zuma-afvalligheid te staan, en die impak van “tribalism” word al hoe groter hierin.

Geoordeel op dié week se tussenverkiesingsuitslae in die Tlokwe-stadsraad kan die ANC se volharding met Zuma se president en gesig vir die verkiesing wel onrustigheid in die ANC bly veroorsaak, maar kom dit by kruisie trek gaan slegs ‘n bygeloof dat ‘n stem vir die ANC die kiesers se hand sal laat afval voorkom dat die kruisies maar weer by die ANC getrek word.

Zuma kan slegs homself blameer dat die wolhaarstorie oor die ondertekening van die snoerwet so geloofwaardig geklink het. Hy het immers onlangs ook die wet onderteken wat dit moontlik gemaak het om die e-tol in werking te stel nog voor die hofprosesse afgehandel is. Sy gereelde omstrede uitsprake wat die land enorme skade berokken is goed bekend.  En so verkry die onwaarskynlike en selfs onmoontlike skielik wiele van geloofwaardigheid.

Die meeste ontleders meen Zuma sal nog ‘n geruime tyd die politieke valbyl oorleef, maar dit is ook duidelik dat die druk om Zuma se politieke doodsklok aan die einde van die Mandela-era te lui, sterk aan die opbou is.

Zuma gaan dit inderdaad onmoontlik vind om met die statuur wat nou van Mandela gebou is mee te ding, en om dit te oorleef gaan nie maklik wees nie. Maar Zuma het homself al telkemale as politieke Houdini bewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

sarie ·

Miskien vir Zuma, maar nie vir die ANC nie en daar le die knop. Daar is genoeg korruptes oor om ons verder die afgrond in te lei.

Sarie van Niekerk ·

Nie eers Houdini kom altyd weg nie. Iewers gaan Zuma se voete vashaak en hy gaan bitterhard val ek glo my ek dink die vashaak het klaar begin. Dit kan net tot die ANC se voordeel strek as hulle hom nie volgende jaar verkiesbaar stel nie. As die ANC nie nou, veral met die uitjouery sien wat aan die gebeur is is nie dan is Mandela se begrafnis nie alleen die einde van Zuma nie, maar die einde van die ANC

JJ Els ·

Mandela se afsterwe het vir oom Zumpie een ding tot gevolg gehad: Dag van lang lesse….en nie die verwagte “Nag van lang messe”

Mckayline ·

Die feit dat Zuma tydens die Madiba gedenkdiens, uitgejou is, spreek vir my boekdele. Dit sê vir my dat ten spyte van die feit dat Madiba as ‘n ‘god’/ikoon beskou en gerespekteer word en die oomblik as feitlik heilig vir die meeste Suid-Afrikaners gesien kan word, dit hulle nie weerhou het om hom uit te jou nie!!

Demokraat ·

‘n Meningspeiling deur die Sunday Times dui juis daarop dat die ANC se steun erg geknou word deur Zuma se korrupte dade soos die Nkandla-spandering en verder ook deur die grootskaalse armoede en werkloosheid wat steeds heers.

Indien Zuma nie vroegtydig deur die ANC as presidentskandidaat verwyder word nie, gaan die ANC die swakste nog ooit vaar in ‘n verkiesing sedert 1994 – talle ANC-ondersteuners is voornemens om nie te gaan stem nie terwyl baie vir opposisie-partye gaan stem.

Ant ·

Die nuus kommentaar van die afgelope weke bly op dieselfde trant, met die reaktiewe menings oor Zuma en die ANC. Miskien kan ons joernaliste oorweeg wie Zuma sal opvolg en nou reeds begin druk uitoefen op Ramaposa en sy vriende.

Ek sou graag ook meer klem op afrikaanse nuus en ons uitnemende mense wil sien. Met gelofte dag wat nie meer die aandag kry wat ons destydse leiers aan God beloof het nie, moet ons dalk besin waarop ons behoort te fokus. Ons kan ons mense opbeur en sterk maak deur na ons goeie nuus te kyk, of ons kan die een na die ander negatiewe kommentaar opslurp wat niks goed vir ons gemoed doen nie

kan ons nie maar die aanslag verander nie?

Ant ·

Met gelofte dag wat voorle, wonder ek of die media nie eerder moet fokus op die uitnemendheid van ons eie mense eerder as die volgehoue nuus dekking van mandela en zuma nie. Ek aanvaar ons moet weet wat aangaan met die gekke spul maar dit oorheers tans die nuus en daar is geen fokus op die goeie van ons eie mense nie. As ons verandering wil kweek, kom ons praat oor die positiewe ten spyte van ons omstandighede.

Danie ·

Ek glo nie Zuma sal herontplooi word voor die verkiesing nie,jammer om te moet se,maar ek dink dit is die feite.Aan die een kant,gaan dit beteken dat die ANC baie stemme gaan verloor,aan die ander kant beteken dit dat meer korrupsie ons voorland is.Ook gaan Zuma voortbeur met die sogenaamde muilband wet,wat sy korrupsie gaan toesmeer,en ook die rasse kwota wet.Die enigste manier waarop hy gaan oorleef is om meer soos Mugabe te word,maw om nog meer en meer weg te vat van veral blankes om dit vir sy ondersteuners te gee.So kan hy verseker dat mense en sy kliek hom bly ondersteun.
Dit is hoekom dit so belangrik is om te begin saamstaan,veral rondom organisasies soos Solidariteit en Afriforum.Hulle los die politiek en fokus net op regte in terme van die grondwet,dit is waar almal se beskerming le.Stem is ook belangrik,maar dan vir n party wat n verskil gaan maak soos die DA,EN BESLIS nie die VF+ NIE.n Party met minder as 1% van die stemme is geen antwoord nie.
Los die ontvlugting sindroom om nog van apartheid en selfbeskikking te praat,kyk wat kry Afriforum en Solidariteit alles reg.Kyk net hoeveel sake hulle al in die howe gewen het.Ek is n betalende lid van beide,want hulle is doeners en nie net praters nie.

Danie ·

Ek dink Zuma gaan ongelukkig oorleef,hy het homself diep ingegrawe en onring deur lojaliste in die sekuriteit sektor,weermag,polisie en intelligensie.Al sy lojaliste is ook mede Zoeloes.So die opossisie gaan beslis met Zuma te doen kry in die verkiesing.
Die enigste vraag is nou watter party om voor te stem.Ek hoop nie opposisie kiesers gaan hul waardevolle stem mors op die VF+,of n ander muskiet grootte party nie.Om vir die VF+ te stem is om te wil he dat n muis moet n olifant uitdaag.Stem eerder DA,want onder Helen Zille is die DA n sterk en beginselvaste party wat hom nie laat intimideer nie.Suid Afrikaners sien dit raak en daarom is die DA n dinamiese en groeiende party,die party se kurwe gaan net boontoe.
Dan glo ek dis nodig om te begin saamstaan rondom Solidariteit en Afriforum,want stemtyd is een keer elke 5 jaar,maar Solidariteit en Afriforum is elke dag daar,besig om hul mense se regte te beskerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.