Nuuskommentaar: Eisj, morele kompas of aanslag teen Ramaphosa?

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, spreek ‘n geleentheid toe op 3 September 2018. Foto: Nhlanhla Phillips/African News Agency

Van ’n eens modelstaat tot ’n spartelende provinsie met ’n (oud)premier oor wie daar bedenkinge is oor sy morele kompas. Boonop is Ace Magashule ’n Zuma-aanhanger, en as sekretaris-generaal van die ANC baie gevaarlik vir pres. Cyril Ramaphosa. Is sy morele kompas ’n aanwins vir die benouende stryd teen misdaad in die land?

Die ANC se sekretaris-generaal en oud-Vrystaatse premier, Ace Magashule, het die nuus saam met ontstellende misdaadstatistieke hard geslaan. Die regering is die morele kompas kwyt omdat die land ’n ernstige tekort aan morele gewete het. Prof. Pieter Labuschagne van Unisa, in sy jong dae bekend as die afrigter wat Zola Budd tot wêreldhoogtes gelei het, draai nie doekies om nie.

Boonop hang daar opnuut ’n wolk oor die betroubaarheid van die polisie se statistieke vir onder meer moorde. Ten spyte van ’n skerp styging wat Suid-Afrika se moordkoers, wat aldus die Vryheidsfront Plus op vyf keer die wêreldgemiddeld te staan kom, wys TLU-SA daarop dat die polisie se syfers vir plaasmoorde (al weer) veel laer is as hul eie versigtig gekontroleerde syfers vir dié kategorie misdaad.

Volgens TLU-SA se syfers is 70 lede van die boeregemeenskap in dié tydperk vermoor, teenoor die polisie se syfers van 62. Die verskil is te groot om liggies af te maak.

Magashule, in die handel en wandel bekend as comrade Eisj, tree kort tevore in die mediakollig. Daarvolgens het hy, asook ander lede van die sogenaamde premiersliga en ander ondersteuners van Jacob Zuma, na bewering pas “geheime” vergaderings in en om Durban gehou glo om oor maniere te besin om van pres. Cyril Ramaphosa ontslae te raak. Magashule erken die vergaderings is gehou, maar ontken dat dit deel van ’n komplot teen Ramaphosa was.

In watter rigting wys Magashule se morele kompas? Al is daar nou baie kritiek op Ramaphosa, veral omdat hy as adjunkpresident van die euwels van die staatskaping bewus moes gewees het, maar saam met die ANC geswyg het, en al het die Ramaforia grootliks verdamp, is dit te betwyfel of dit die regte, of beste ding is om te doen om van Ramaphosa ontslae te raak.

Tot by Nasrec was daar in elk geval nie juis alternatiewe kandidate nie, en die vooruitsig dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma die pyp sou kon rook het menige burger laat stik.

Ramaphosa se beweegruimte is ook uiters beperk, al bied dit al minder verskoning vir sy skynbaar groeiende verknogtheid aan die idee dat grondonteiening sonder vergoeding op die een of ander manier welvaart sal bring.

Wat kan van Magashule verwag word? Onder die omstandighede is die beste manier waarskynlik om te kyk hoe sy morele kompas hom tot dusver belig het. Die rekonstruksie daarvan tussen feite [bona fide, prima facie (met eerste oogopslag), bo redelike twyfel, oorwig van waarskynlikhede en die dobber tussen potensieel lasterlike aantygings] is kompleks. Heelwat is gepubliseer, en nie alles is ontken of met regshandelinge opgevolg nie. Nog baie ander is nie gepubliseer nie en word van mond tot oor lewend gehou.

By hierdie rekonstruksie sal so ver moontlik by bronne gehou word wat of betroubaar is/was, of wie se bewerings nie ontken is nie.

Met die totstandkoming van die nuwe Suid-Afrika was die Vrystaat twee “provinsies” in die ANC se strukture. Mosiuoa Lekota het in die suide die septer geswaai en was onder meer via Robbeneiland met Nelson Mandela bevriend. Magashule het die septer in die Noord-Vrystaat geswaai wat danksy onder meer Qwaqwa die grootste “provinsie” was.

Tegnies was hy dus die aangewese premier, maar Mandela het Lekota aangewys – ’n reg wat hy uitgeoefen het om plek-plek sy vriende aan te wys in plaas van die populêre keuses, soos Popo Molefe in Noordwes in plaas van die populistiese Rocky Malebane Metsing.

Magashule kon in die Vrystaat nie heeltemal opsy geskuif word nie, en het ook met sy beste voetjie voor weggespring soos om sy LUR-ampseed in Afrikaans af te lê. Hy is, soos Lekota, vlot in Afrikaans.

Magashule het ook met onderskeiding ’n struikelblok oorkom. Hy is naamlik self ’n Tswana, wat maar deur 6,5% van die Vrystaatse bevolking gepraat word, teenoor 62,1% Sesotho (Sensus 2011).

Na die eerste termyn was dit duidelik dat Magashule op die Vrystaatse kongres as eerste keuse aangewys sou word. Dit was in weerwil van sy afdanking as LUR vir ekonomiese sake nadat die openbare beskermer ’n verdoemende verslag oor sy departement uitgespreek het, en die departement effektief ontbind is.

Volgens ’n betroubare bron het pres. Mandela verskeie afgevaardigdes by die kongres in Qwaqwa gebel en “aangesê” om vir Lekota te stem. Magashule het egter volstrek geweier, en toe die versoek ’n regstreekse opdrag word, het hy ingestem om nie vir homself te stem nie, maar ’n derde persoon. Pat Matosa is hierop tot nominale Vrystaatse leier verkies, en Lekota het premier gebly. Matosa is hierop polities deur Lekota begrawe.

Lekota het hierna minister van verdediging geword, en die Vrystaat het (ook in die Mbeki-era) ’n vreemde pakket premiers gehad, waaronder dr. Ivy Matsepe Cassaburi, Beatrice Marshoff en Winky Direko. Veral Direko was in sommige opsigte gewild, en kon ’n Afrikaanse gehoor in die mooiste idiomatiese (soms self opgemaakte) Afrikaans vergas.

Voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, en oudpres. Jacob Zuma (Desember 2012). Foto: Flickr/GovernmentZA

Sy het die wêreldmedia gehaal toe sy kort voordat sy ’n sensus amptelik moes open, die toneel van ’n plaasmoord by Senekal besoek het. Daar is sy so ontstel dat sy by die sensusopening, en voor die wêreldmedia, gesê het sy voel plaasmoordenaars moet geskiet word nog voor hulle opgesluit word. Sy was aangegryp deur die verlorenheid van die plaaswerkers wat toe sonder heenkome was. (Sy was verplig om haar eie woorde te ontken.)

Sy het egter ook ’n peperduur ondersoek ingestel na “wantoestande” op plase en getuies van heinde en verre op staatskoste laat aanry. Toe die “gewenste” uitslag nie behaal is nie, is die verslag effektief “gerak”. Sy het ook na kommandokantore wat in die proses van uitfasering was, as rowersneste verwys.

Hoe minder oor die ander premiers gesê word, hoe beter.

Intussen het Magashule skynbaar op die kantlyn deurgebring, maar in werklikheid die swakhede benut om sy rol in die kern te konsolideer. Hy het egter ongewild gebly by die presidente (later Mbeki). In ’n stadium was dit “algemene kennis” onder die LUR’e dat Magashule op die punt was om deur die Skerpioene gearresteer te word.

Zuma het egter as president oorgeneem en die Skerpioene is oornag ontbind.

Magashule kon uiteindelik premier word. Die strome aansprake oor nepotisme, rassisme, korrupsie en vele meer het hierop begin instroom. Sy lojaliteit teenoor Zuma, en later die Guptas, het duidelik geblyk, ook dat minstens een van sy seuns vir die Guptas werk. Die ander se naam is voortdurend in die konteks van tenders met vreemde uitkomste genoem.

Magashule se kantoor het al hoe meer funksies gesentraliseer, en saam daarmee fondse, en al hoe meer vreemde projekte soos die Vrede-melkplaasprojek het die lig begin sien. ’n Peperduur webwerf wat skynbaar as befondsing vir die oorkoop van gemeenskapskoerante gebruik is wat die Magashule-bewind meer vriendskaplik gesind is, was blykbaar net die voorloper vir die grootskaalse finansiering van die Guptas se New Age.

Zuma se voet in die wind-slanery tydens ’n Cosatu-feesviering was ’n terugslag.

Wat nou saak maak is dat Magashule sy bereidheid verklaar om voor die Zondo-kommissie te getuig. In hoe ’n mate die Zondo-kommissie self nog ongeskonde is, sal waarskynlik Donderdag blyk.

Maar kan iemand raai na watter kant die “dice” gaan val?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

christa ·

hoekom loop die skelm nog steds rond. Hy moes lankal agter tralies gesit het dan sou h nie nog verder kon knoei nie.

Paul ·

Mens raak skoon moedeloos verby, maar daar is net één ligpunt in die wêreld vandag, dink nou net daaraan as Jesus in negatiwiteit moes verval het.

Mag ·

CR kan ook maar waai, in die kort tydjie wat hy daar sit het hy al baie meer skade aangerig dan sy voorloper oor ‘n paar jaar.

Adam ·

Interessante pennevrug. Ongelukkig het Ace geen kompas nie en moraliteit is vir hom ‘n vloekwoord.

John ·

Die ANC is presies soos daai oulike Aspidestra(spelling?)-plantjie wat tog so oulik was en daarom binnenshuis geplant is, maar toe dit vertroetel en natgegooi is, die gebou oorgeneem en die inwoners bygekom het. Voorkoms is bedrieglik en name nog meer. Dit raak werklik sleg in ‘n land wanneer skurke so gehard raak dat hulle vir die waarheidsmasjien ore aansit. Oppas vir die ouens wat sommer vra vir sulke toetse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.