Nuuskommentaar: Ek is reg, jy is verkeerd

Argieffoto

Argieffoto

Om uit te pluis wie vriend, en wie vyand in die wêreld is, of eerder behoort te wees, is so verwarrend soos dit vir ‘n verkleurmannetjie moet wees om hom te probeer kamoefleer wanneer hy oor ‘n boksie Smarties loop.

Om ‘n paar huidige voorbeelde te noem:

– In Kaapstad neem sowat 60 000 mense deel aan ‘n pro-Palestynse betoging. Maar uit kommentare veral in die kuberruim is dit baie duidelik dat baie Suid-Afrikaners onkrities die kant van Israel kies. Nog ‘n groep meen Israel het geen keuse nie omdat Hamas, en die selfs meer radikale Islamitiese Jihad met hul vuurpylaanvalle geen ander opsie oorlaat nie.

– Europa en die VSA het baie streng sanksies teen Rusland ingestel weens die Russe se rol in die konflik in Oos-Oekraïne. Maar, weereens hoofsaaklik in die kuberruim, is daar ‘n hardnekkige groep wat glo Rusland beklee die morele hoë grond, en openbaar selfs ‘n tipe heldeverering vir pres. Wladimir Poetin.

Oor sekere sake is daar wel redelike konsensus, soos die afsku van die IS (voorheen Isis) se onbeskryflike onmenslike optredes in gebiede in Sirië en Irak wat hulle verower. Pas is berig hoe hulle as deel van ‘n veldtog teen minderhede veral die Yazidi’s wreed uitmoor, onder meer deur vroue en kinders lewend te begrawe. Dit kan op geen manier as iets anders as verkeerd beskou word nie.

In die internasionale politiek word gereeld gesê ‘n land het geen vriende nie, net belange. Dit is ‘n oorvereenvoudigde stelling, aangesien daar duidelik vriendskaplike betrekkinge tussen sekere lande bestaan – hoewel dit ook geblyk het dat dit hulle nie verhinder het om op mekaar te spioeneer dat die biesies bewe nie.

Tog slaan belange, eerder as beginsels soms deur. Die VSA-geleide inval in Irak om die Irakese anneksasie van Koeweit ongedaan te maak, verhinder nie die VSA om vriendskaplike betrekkinge met Marokko te hê wat Wes-Sahara geannekseer het nie.

Voor 1994 is Suid-Afrika se buitelandse betrekkinge sterk gerig deur realiteite soos wie hoegenaamd bereid was om betrekkinge met die land aan te knoop – lande soos Taiwan en Israel. Na 1994 is die buitelandse betrekkinge gekenmerk deur ‘n beantwoording van vriendskap en hulpverlening aan die ANC deur die struggle-jare. In die proses is vriendskappe onderhou met van die wêreld se grootste muishondlande. Oud-pres. Nelson Mandela se omhelsing van Moeammar Ghaddafi het nie sonder ‘n rimpeling in Suid-Afrika se absorpsie in die internasionale gemeenskap afgegaan nie.

Daar was ook die vreemde periode toe dit gelyk het of Suid-Afrika soos taks die kant van teen-demokratiese bewinde kies, soos toe die VN teen die destydse diktatuur in Mianmar wou optree en Suid-Afrika erg wal probeer gooi het. Daarna het Suid-Afrika nog hoog op bemiddeling opgegee, toe het die internasionale gemeenskap reeds ingevolge die internasionale regsbeginsel van die Verantwoordelikheid om te Beskerm (Responsiblity 2 Protect) van oud-pres. Laurent Gbagbo in die Ivoorkus en Ghaddafi in Libië ontslae geraak.

Dit is makliker om te verklaar oor hoekom daar so ‘n verdeeldheid in Suid-Afrika is oor die kies van die Israelse of Palestynse kant in die Gaza-strook.

Hoewel die groot Moslembevolking in Suid-Afrika ongetwyfeld as groot katalisator dien vir steun vir die Palestyne, en selfs vir Hamas, verklaar dit nie hoekom groot getalle Christene en ander georganiseerde groepe ook so maak nie. Dit kan eerder teruggevoer word na sentimente voortspruitend uit die tydperk toe Israel so hartlik met die vorige bedeling saamgewerk het.

Voorts is daar internasionaal ‘n wegbeweeg van simpatie met Israel ten gunste van die Palestyne. Dit sny selfs in op Joodse gemeenskappe soos in die VSA, waar baie anders oor die kwessie as in Israel gevoel word. Die vestiging van nedersettings in verowerde gebiede in die Wes-Oewer speel hierin ‘n belangrike rol.

Die ironie is dat Hamas byna volledig geïsoleerd in die Moslemwêreld is. Egipte pas byvoorbeeld die blokkade met Gaza met byna net soveel entoesiasme teen Hamas toe as Israel. Hamas het eerder die steun van ryk Arabiese-families in onder meer lande soos Katar as van regerings wat veel ooghare vir hom het.

Die rede is eenvoudig dat die vorm van Islam wat Hamas onderskryf te naby lê aan dit wat die Moslembroederskap onderlê, wat op sy beurt weer neig na dit wat die IS en Al Kaïda ondervang. Die simpatie van Turkye vir Hamas is waarskynlik ‘n poging van die sekulêre Turkse regering om die opkoms van radikale Islam in dié land min of meer te absorbeer.

Van Israel se buurlande het selfs ongemak met die meer gematigde PLO.

Dit is ingewikkelder om te verstaan hoekom soveel uitgesproke Afrikaners hul steun so uitgesproke aan Rusland toesê in die Oekraïne-kwessie.
Dit kom voor asof ‘n aanvoeling vir identiteitspolitiek hier ‘n sterk rol speel. Presies dieselfde sentimente wat tot sterk simpatie vir die Duitssprekendes in Suid-Tirool in die noorde van Italië geld, word op die Russies-sprekende bevolking in Oekraïne geprojekteer.

Dit staan as die beginsel van Irredentisme bekend. Dit gebeur dikwels dat landsgrense nie die verspreidingslyne van volksbewoning volg nie, wat beteken dat beduidende dele van volke hulle in buurlande kan bevind waar hulle minderhede uitmaak. Daar is byvoorbeeld ‘n beduidende Duitssprekende-gemeenskap in België. Nog ‘n groter minderheidsgemeenskap is die Franssprekende Wale. Onlangs het die regeringsleier van die Belgiese Duitssprekende-gemeenskap gevra dat sy gemeenskap saam met die Wale en die Vlaminge regstreeks inspraak in die Belgiese regeringstruktuur verkry, en nie meer in wese via Wallonië nie.

Die Ogaden-oorlog, en daarvoor die Shifta-oorlog, was goeie voorbeelde van Somaliese Irredentisme. Vandag nog is daar ‘n hele spektrum van enklawes en eksklawes in Europa en die Kaukasus-gebied waar volksgenote hulle geografies in buurlande bevind. ‘n Magdom staatkundige maatreëls is getref, wat wissel van selfregering tot ‘n munisipale status wat die dorp of stad ‘n naelstring met die moederland bied.

Hierdie beginsels word byna blindelings op Oekraïne van toepassing gemaak. Die Krim was “oorspronklik” Russiese gebied wat eers in die betreklike onlangse geskiedenis aan Oekraïne oorgedra was. Daar word nie in ag geneem dat die Russe self betreklike onlangse aankomelinge in die Krim was nie. Die oudste inwoners waarvan daar nog beduidende getalle oor is, is die Krim-Tartare, wat baie erg onder die Russe gelei het, en in ‘n stadium selfs deur Stalin in Siberië hervestig is. Onder Oekraïense bewind het hulle ‘n tipe eie korporatiewe parlement gekry, wat sterk deur die Russiese meerderheid in die gebied teengestaan word.

Die Krim was egter nie al deel van die ou Sowjet-Unie waar Russe hulle op groot skaal gaan vestig het nie. In die ou Oos-Pruise is die Duite bevolking selfs uitgeskop, en vandag is dié gebied Kalingrad, Russies en deel van Rusland, hoewel ver geleë van die Russiese Federasie.

Hoewel daar in ‘n deel van die ooste van hedendaagse Oekraïne van die Middeleeue af ‘n Russiese groep gewoon het, is hulle getallegewys deur Oekraïenssprekendes oorheers. Etniese Russiese immigrasie het eers heelwat later ‘n groter aanvang geneem. Nogtans is die enigste gebied wat volgens die 2001-sensus ‘n Russiessprekende meerderheid gehad het, die Krim met 58,3 persent. In Oos-Oekraïne is die gebied met die meeste etniese Russe ‘n deel waar hulle 39 persent van die bevolking uitmaak.

Die beste plaaslike analoog sou wees om in die toekoms, weens die grootskaalse Xhosa-migrasie na die Wes-Kaap, te argumenteer dat die Wes-Kaap weens sy Xhosa-karakter by die Oos-Kaap ingelyf moet word.

Etniese Russe het ook tydens die bestaan van die Sowjet-Unie in verskeie ander Sowjet-republieke soos Estland en Letland gaan vestig. Hierdie etniese Russe handhaaf groot pro-Russiese sentimente en dring dikwels op die uitsluitlike gebruik van Russies aan. Hierdie lande is uiteraard bekommerd dat die ervaring van Oekraïne na hulle uitgebrei kan word.

Die pro-Russiese sentimente in die ooste van Oekraïne is veel eerder histories van aard. Dié gebied was langer onder Russiese beheer, en het ‘n gans ander geskiedenis as die westelike dele wat voorheen onder Poolse en Roemeense bewind gestaan het.

Een van die plaaslike pro-Russiese argumente is dat die voormalige president van Oekraïne deur geweldpleging afgesit sou gewees het, maar daar word versuim om te meld dat dit uiteindelik die parlement was wat hom die trekpas gegee het. Hy is vervolgens ook uit sy eie party geskop na die omvang van sy korrupsie aan die lig gekom het. Oekraïne het intussen ‘n demokratiese presidentsverkiesing gehou.

Dit is besonder moeilik om te sien hoe Oekraïne, of ‘n deel van Oekraïne, beter daaraan toe sal wees as deel van Rusland as deel van ‘n pro-Westerse demokrasie.

‘n Verdere argument is om die VSA as die swart skaap van die internasionale politiek uit te maak. Dit is so dat van die VSA se keuses nie algemene byval sou vind nie, maar dit is darem die VSA wat nou die meeste doen om die IS in Irak te stuit en noodvoorrade by die vlugtelinge uit te kry.

As deel van die Brics-lande, waarvan ook Rusland deel is, het Suid-Afrika ‘n gedeelde belang met Rusland. Of dit genoegsaam is om alle Suid-Afrikaners tot ‘n kantkiesery vir Rusland in die Oekraïne-stryd op te vorder is te betwyfel.

Boonop was Suid-Afrika ‘n belangrike rolspeler in die Amerika-Afrika-beraad wat pas plaasgevind het, en sal boonop graag wil sien dat die voordele van die Agoa-ooreenkoms nie net verleng word nie, maar uitgebrei word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae