Nuuskommentaar: Ekonomie: Hoop of Griekse tragedie

Kyriakos Mitsotakis. Foto: (AP Photo/Petros Giannakouris)

Gaan die nuwe Griekse regering wat feitlik uit die bloute ’n volstrekte meerderheid behaal het, daarin slaag om die ekonomie reg te ruk deur belasting drasties te verminder?

Die probleme kom sterk ooreen met dié van die Suid-Afrikaanse ekonomie, waar daar druk van binne die ANC aan die opbou is om à la Mugabe se Zimbabwe ’n ekonomiese paradys te skep deur meer geld te druk net om in die intensiewe sorgeenheid te beland.

Die werkloosheidskoers is steeds 18%, die owerheidskuld beloop 181% van die BNP, armoede is pynlik erg – en die nuwe regeringshoof het beloof hy gaan belasting drasties minder maak, veral van bedrywe sodat buitelandse beleggings getrek kan word.

Nee, dis nie die ekonomiese posisie van Suid-Afrika of Zimbabwe wat genoem is nie. Dis die nuwe Griekse premier, Kyriakos Mitsotakis wat so sê. Sy party, die Nea Dimokratia (ND), wat as regs-konserwatief beskryf word, het asof uit die niet ’n volstrekte meerderheid behaal, al het die vorige premier se party ook sy stemtotaal verbeter. Sedert Mei se verkiesing vir die Europese Parlement het die prentjie drasties verander, en die ND sy persentasie stemme van 33% tot ’n volstrekte meerderheid opgeskuif.

Mitsotakis is ’n gewese bankier wat aan Harvard studeer het. Sy party het egter ’n reputasie van korrupsie en nepotisme. En is sy voorgenome ekonomiese beleid nie maar dieselfde as die beleid wat daartoe gelei het dat die Griekse ekonomie so rampsalig was nie. Destyds was Griekeland ’n paradys vir loodswaaiers. Pensioene en ander voordele was hemelhoog, maatskaplike voordele so aanloklik dat ’n salaris nie veel van ’n trekpleister was nie.

Maar die spreekwoord lui dat sosialisme neig om goed te werk tot iemand anders se geld opraak. Die Griekse ekonomie kon nie die rekening van die luilekker lewe betaal nie, vandaar die enorme staatskuld.

Sedertdien het die Europese Unie die Griekse ekonomie met hulppakkette bygestaan, maar die Grieke terselfdertyd in ’n kopklem beetgehad. Die onwillige kiesers was naderhand gedwing om te besef hul eie wil kan nie teen die ekonomiese beleid opweeg nie.

Die wêreld sal gou agterkom hoe Mitsotakis se ekonomiese beleid verskil van die beleid wat die land so netjies die moeras laat inry het.

In Europa is daar ’n sterk opvatting dat sou kiesers die rug op sosialistiese partye draai, daardie kiesers “nie vir die armes omgee nie”. Wanneer daar na ’n verkiesing ’n nuwe koalisie gevorm word, is dit ook nie vreemd as sosialiste, al het hulle hoe swak gevaar, ander partye basies met persepsies van hardvogtigheid teenoor armes afdreig as die sosialiste nié deel van die koalisie sal uitmaak nie. Dit wil voorkom asof dit nou weer in België aan die gebeur is.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Maar is dit nie maar wat ook in Suid-Afrika aan die gebeur is nie? Radikale vakbonde dreig gewoon die regering af om met beleid voort te gaan, al vernietig daardie beleid die ekonomie. ’n Mens sou verwag dat na Zimbabwe sy ekonomiese probleme probeer oplos het deur gewoon meer geld te druk, en die ekonomie feitlik oornag ingeplof het, dat Suid-Afrikaners van beter sou weet as om bloot meer geld te wil druk. Een van die outomatiese gevolge van so ’n oplossing is dat iemand ’n kruiwa nodig het om sy daaglikse loon mee huis toe neem. Met ’n kruiwa vir miljoen dollar-note is die werker gelukkig om ’n brood te kan bekostig.

En wat gebeur nou? Van die prominente ANC-leiers bied die druk van meer geld as “oplossing” aan. Die diskoers vind meestal oor ’n voorgestelde nuwe rol vir die Reserwebank plaas.

Die posisie en probleme word goed uiteengesit in ’n artikel in BusinessTech van 5 Junie 2019. Dié artikel, met die opskrif “Talk of printing money spooks rand” is deur Bloomberg voorsien, en lui onder meer soos volg: “‘Where does the central bank get the money?’ Kganyago (Governor of the Reserve Bank) asked in an interview with Bloomberg News at his office in the capital, Pretoria.”

“We’ll have to print it. There would be a lot of money ‘chasing very few goods’ in South Africa,” he said. “That is the classic definition of inflation. It will not take long for inflation to really tick up.”

Die wiel is reeds uitgevind.

Ramaphosa se grootste probleem gaan egter bly dat sy praatjies oor grondgryp sonder vergoeding, ongeag hoe soet die heuning is waarin hy dit dompel, alles afbreek wat op ’n werkbare program afgestem is om die ekonomie reg te ruk. Die radikale vakbonde se aandrang op beleidsrigtings wat bewese selfvernietigend is, help ook nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jerry ·

Die ekonomiese denke van “top to bottom” in die ANC/EFF om vandag soveel as moontlik te skep, want more moet vir homself sorg, gaan nie verander nie. Strukture word nie verklein nie, maar vergroot sodat meer, meer kan skep. Dit is net n kwessie van tyd voordat die reserwe bank en finansiele instellings ook geannekseer word, want daar gaan geen ander uitweg oorbly nie!

Gert van Wierdapark ·

Suid-Afrika bevind hom tans in n Griekse Traag-gedie!!! Almal wag “Op die Kaptein” (CR), maar die Kakistokrasie van SA is so goed ingeburger, dat die papaja die “fan” feitlik daagliks raak slaan terwyl hy vure probeer dood slaan!!! “Say no More”

Harry ·

Uitstekende berig wat ekonomiese rampe in perspektief stel – hierdie berig moet vertaal word en ook in News 24 geplaas word, sodat dit kan help om die donker massas wakker te maak om hopenlik die lig in ons donker ekonomie raak te sien.

Andreas ·

As dit vertaal is kan Zindzi Mandela dit en Herman se vorige rubriek sommer op haar Facebook blad deel, dink net hoeveel meer mense sal die breik, ook Max en ander vir wie sy so ‘n greep of twee daaruit kan twiet.

Jan ·

Nee wat julle oukies slaap en julle besef nie cyril en sy meesters se agenda nie. Ramaposa weet presies wat hy dien…hy gaan almal van julle verarm en self skarryk bly…dis sy hele plan ou mensies….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.