Nuuskommentaar: Ekonomiese bogpraatjies van ekonomiese ministers

Argieffoto.

Argieffoto.

Dis geen geheim dat Suid-Afrika se ekonomie struikel nie – met ’n hemelhoë werkloosheidskoers en ’n fiskus wat al swaarder kry om al die gate met beskikbare taksgeld toe te stop.

Let wel, hierdie nuuskommentaar is nie bedoel om ’n ekonomiese ontleding van die jongste gebeure te verskaf nie, maar te wys op die skade wat onverantwoordelike politieke praatjies en idees daarop kan uitoefen.

’n Swak regering wat nog swakker gelei word, ryklik besprinkel met korrupsie, help ook nie dat Suid-Afrika ’n soortgelyke groeikoers as die res van Afrika kan handhaaf nie – en vandag word juis weer nuwe syfers verwag wat daarop sal dui dat die groeikoers nie meer, soos voorheen verwag, bo 2 persent sal wees nie.

Teen dié agtergrond staan twee onlangse opmerkings van Suid-Afrikaanse ministers in die ekonomiese groepering soos seer duime uit. Eers het min. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, in ’n TV-onderhoud gesê die tipe sosialistiese ekonomie wat hy voorstaan, kan werk, want kyk na China. (Nie almal sal saamstem dat daar in die Chinese ekonomie nog baie sosialisme oor is nie.) Daardie kaartehuis het nou skouspelagtig op die wêreldekonomie ingeplof.

Intussen raak die VSA weer langlippie vir Suid-Afrika wat burokratiese voete sleep om struikelblokke om Suid-Afrika deel van die uiters voordelige Agoa-handelsooreenkoms met die VSA te hou.

Maar so ken ons min. Davies. Skaars is die Nasionale Ontwikkelingsplan goedgekeur, of sy departement begin wetgewing voorberei om nog meer groei-struikelblokke in die kleiner sektore te plaas – lynreg teen die plan in. Dit was juis toe hy sy juweeltjie oor die Chinese ekonomie kwytgeraak het.

’n Opmerking van min. Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, wat gekwalifiseerd skerp deurgeloop het, boemerang ook nou mildelik. Toe dit werklik, en in weerwil van versekeringe van pres. Jacob Zuma tot die teendeel, blyk dat Suid-Afrika se ekonomie in die sop is, het hy na berig word, gesê Suid-Afrika het nie ekonomiese probleme van sy eie nie – die probleme maak alles deel van ’n globale ekonomiese probleem uit. In daardie stadium het van die land se voorste ekonome reeds gemaan dat die land, met of sonder Chinese “hulp”, tot die randjie van ’n fiskale afgrond beweeg het.

En Suid-Afrika sal nie die eerste land wees wat sy eie sukkelgang gaan ongeag die wêreldekonomie nie. Griekeland sukkel steeds om enigsins te herstel van die 2008-Wall Street-inploffing omdat die land uiters onwillig is om die nodige medisyne te neem.

Die probleem is dat Patel en Davies albei geswore kommuniste is, en uiters traag is om erkende, werkende ekonomiese modelle in te span om die ekonomie te laat vloei. Met die beergreep wat die SAKP op ’n strompelende Zuma het, lyk dit ook nie of die twee gedwing sal word om realisties te raak of die trekpas te kry nie.

Dan is daar nog natuurlik die radikale vakbonde wat steeds glo bloed kan uit ’n klip getap word.

’n Selektiewe beoordeling van wat nou op die wêreldmarkte gebeur, kan maklik daartoe lei dat Patel se woorde as profeties bewys klink. Wêreldwyd het aandelebeurse, soos die JSE, harde houe gevat, maar Suid-Afrika se ekonomiese klikbek het ook hard gewerk om te verklap dat die land se probleme tog eiesoortige elemente het … die rand-dollar-wisselkoers het in ’n stadium teen R14 teen die dollar verhandel.

Die rand het wel weer versterk teen die vernaamste geldeenhede, en die rand was ook nie al geldeenheid wat geknyp het nie – met onder meer die Brics-lande wat feitlik voor die voet klippe gekou het.

Suid-Afrika se eiesoortige ekonomiese probleme durf nie nou onder die gerieflike mat van die wêreldekonomie ingevee te word nie, en nog minder moet ontoepaslike verskonings gesoek word. Om maar net die probleem van korrupsie en die afwesigheid van ’n behoorlike droogtehulpprogram vir die landbou te noem. Die droogte, wat volgens aanduidings ook die volgende somer-plantseisoen nadelig gaan tref, gaan tot ’n kettingreaksie van duurder kos lei. Mielies, die stapelvoedsel van veral die armes en ook belangrik as veevoer, moet byvoorbeeld met hoë vervoerkoste ingevoer word, en die swak wisselkoers help ook nie.

Die swak wisselkoers help ook nie dat Suid-Afrika behoorlik voordeel trek uit die olieprysbonanza wat volgens aanduidings nou uit Opul se hande glip nie.

Die wisselkoers maak Suid-Afrika armer.

Tweedens, pasop vir China. ’n Deel van die probleem is oneerlikheid. Baie ekonome meen China bak steeds kluitjies deur formeel ’n te hoë groeikoers van in die orde van 7 persent te publiseer, terwyl dit in werklikheid net 2 persent is. Die Christian Science Monitor was gou uit die blokke om te argumenteer oor die enorme impak wat korrupsie op die Chinese ekonomie en nou die krisis het. Die ironie is dat dit op die oog af juis die regering se veldtog teen korrupsie is wat die ekonomie nou help afkoel het omdat beleggers onseker is oor hoe om te werk te gaan, maar terselfdertyd besef dat ’n gees van eerlikheid by ampsdraers die weg tot volgehoue ekonomiese groei is.

Kortom, as korrupsie endemies is, is dit bitter moeilik om die ekonomie met die beste politieke wil weer skoon te maak daarvan. Suid-Afrika moet kennis neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DAAN LIKEWAAN ·

CHINA HET 60 MILJOEN KOMUNISTE , DIE RES IS SLAWE. DIE LEE SPOOK DORPE IS N PONZI SKEMA WAT MENSE SE PENSIOEN FONDSE OPSLURP. DIE ENIGSTE GROOT SKEMA WAT IN CHINA KAN WERK IS DIE SILK SPOORLYN WAT TUSSEN CHINA EN EUROPA GEBOU WORD. DIS IN DIE BEGIN FASE MAAR EK HET VERGEET HOEVEEL GELD DIT GAAN KOS OM TE BOU.

Winston ·

Vertel nou hierdie storie vir n magsbehepte swart SA minister en President en kyk of hy jou glo. Hulle verstaan in totaliteit nie eers waaroor dit gaan nie. Hulle kyk en sien net die witman se nalatenskap uit een hoek. Apartheid. Van die res het hy geeen benul nie. Geeeen!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.