Nuuskommentaar: Ekonomiese krisis ANC se skuld, nie pandemie s’n

Pres. Cyril Ramaphosa, (Foto: GCIS)

President Cyril Ramaphosa meen dat die ekonomiese inkrimping van die tweede kwartaal vanjaar die ernstige impak van die Covid-19-pandemie op die ekonomie weerspieël. Ons ekonomie het in die tweede kwartaal met ʼn skokkende 51% ingekrimp.

Ramaphosa is van mening dat hierdie ekonomiese krisis een is wat lande reg oor die wêreld gaan tref weens die pandemie. Suid-Afrika is bloot ʼn slagoffer van hierdie breër tendens. Ramaphosa probeer ons hiermee oortuig dat geen beleidsbesluite wat die regering oor die afgelope paar maande geneem het ʼn wesenlike impak op ons uiteindelike ekonomiese inkrimping gehad het nie – alle lande gaan ongeag hul optrede in ʼn krisis wees.

Dit is egter net nie waar nie. Suid-Afrika het een van die langste en strengste inperkings ter wêreld gehad en is steeds daarmee besig. Ons regering het die ekonomie hanteer soos ʼn eenvoudige skakelaar wat bloot aan en af geskakel kan word na hulle wens.

Die ekonoom Mike Schüssler het in reaksie op die BBP-syfers gister op Twitter infografika gedeel wat die verwantskap tussen inperkings en ekonomiese inkrimping aandui. Schüssler dui daarmee ʼn byna direkte verwantskap tussen die lengte en strengheid van inperkings en die ekonomiese inkrimping vir die tweede kwartaal vanjaar aan.

Daarmee saam was Suid-Afrika reeds vóór die krisis in ʼn resessie. Hierdie skokkende kwartaal was dus die vierde opeenvolgende kwartaal waarin ons ekonomie ingekrimp het.

President Ramaphosa gaan nie daarmee wegkom om ons ekonomiese ongeluk bloot op eksterne omstandighede te blameer nie. Beleidsbesluite hét ʼn impak op die werklikheid. Hoewel krisisse onvoorsiens met ʼn mens kan gebeur, is die wyse waarop jy dit hanteer wat belangrik is.

Hierdie feit is ook te bespeur in die ekonomiese herstel waarmee Amerika reeds besig is – selfs midde in die pandemie. Hoewel ʼn mens nie sommer Suid-Afrika se huidige ekonomiese omstandighede met die van Amerika kan vergelyk nie, is dit wel regverdig om Amerika met Amerika te vergelyk. Deur Amerika se hantering en herstel van die 2008-’09‑ ekonomiese krisis te kontrasteer met die huidige ekonomiese krisis, is daar talle beleidslesse te leer.

Weens die pandemie was Amerika se werkloosheidsyfer byna 15% in April vanjaar – dit is die hoogste vlak wat dié syfer sedert die Groot Depressie bereik het. Amerika se ekonomie het ook in die tweede kwartaal vanjaar met meer as 30% ingekrimp.

Ten spyte van die paniek wat dié syfers veroorsaak het, het die land se ekonomie reeds byna volledig herstel. In Augustus het die werkloosheidsyfer weer tot 8,4% gedaal. Ten einde dié ongelooflike herstel te waardeer, moet ʼn mens dit vergelyk met Amerika se ekonomiese herstel na die 2008-’09‑ ekonomiese krisis. Na dié krisis het dit Amerika drie jaar geneem om dieselfde vlakke van herstel te toon as wat dit reeds in die vier maande sedert April vanjaar getoon het. In Augustus van 2012 was die werkloosheidsyfer steeds 8,1% na die hoogtepunt van 10% in 2009.

Verder is daar nou sowat een miljoen mense minder afhanklik van maatskaplike toelae vir ongeskiktheid as wat daar in Augustus van 2012 was. Die maatskaplike las van die regering is dus veel kleiner as tydens die vorige krisis.

In reaksie op die 2008-’09‑ ekonomiese krisis het die Amerikaanse regering die welsynstaat vergroot. Sodoende het hulle dit meer lonend gemaak om van die regering afhanklik te wees as wat dit is om bloot te werk.

Die groot verskil tussen Amerika se hantering van die vorige krisis en hulle hantering van die huidige ekonomiese krisis is ʼn verskil in beleid. Destyds het hulle die impak van die krisis probeer versag deur méér regeringsinmenging. In vanjaar se krisis was die aanslag eerder om die ekonomie sover moontlik te dereguleer en die private sektor sodoende die beste moontlike kans te gee om self te herstel.

Die lesse wat Amerika sedert die vorige krisis geleer het, het ons regering ongelukkig nog nie geleer nie. Die regering was in die tweede kwartaal vanjaar die enkele grootste sektor wat tot die BBP bygedra het – die regering glo die regering moet die dryfveer van die ekonomie wees.

President Ramaphosa het reeds aangekondig dat die regering die dryfveer van herstel gaan wees in die krisis. Sodoende gaan die regering by die resep hou waarmee hulle oor die afgelope 26 jaar ons ekonomie telkens gekniehalter het. Die regering gaan waarskynlik weer daarin misluk om ons uit die krisis te lei wat hulle self geskep het.

Daarom gaan ons die krisis self móét aanspreek. Solidariteit gaan in Oktober vanjaar ʼn werkherstelprogram van stapel stuur in reaksie op die ekonomiese krisis wat die regering vir ons geskep het. Dié herstelprogram gaan die grootste opstaanprogram wees in die vakbond se 118-jarige bestaan. Deur hierdie program sal ons as gemeenskap die geleentheid en krag hê om sélf op te staan.

In die vroeë 1900’s het die Afrikaner die eerste les van ekonomiese bewuswording geleer. Na die Afrikanerrebellie van 1914 en 1915 was Afrikaners genoop om self ʼn oplossing te vind vir die ekonomiese en maatskaplike krisis wat hulle in die gesig gestaar het. Uit hierdie noodsaak is die Helpmekaar-beweging gebore met die beroep op Afrikaners: “Laat ons mekaar en andere ook help”.

Hierdie beweging het die Protestantse werkswyse diepliggend aan ons kultuur met die Afrikaner se gemeenskapsbesef gekombineer. Deur harde werk, dissipline en selfstandigheid het die Afrikaner hom as gemeenskap opgehef en bemagtig.

Ons is uit dieselfde lap as die Voortrekkers en Bittereinders gesny. Hoewel ons groot krisisse vandag beleef, is dit iets wat ons gaan oorleef. Ons het nog altyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Juffrou ·

Ja, baie gerieflik om hul mislukkings op die pandemie te pak. Hulle is self die grootste virus ooit! G’n só ń ding soos Covid!

Anel ·

En as hy sê die regering dan praat hy van ons pensioene. Hulle wil hê die mense moet van die staat afhanklik wees sodat hulle die mense kan beheer. Volslae komunustiese beleid. Saam met hulle gaan die land net verder die afgrond in.

Genis ·

Vet gevreet ne ANC kaders? Nou kry Covid die skuld.. Die Virus het op n eiland uigebreek, en verspei na SA… Onder die vaandel van die ANC, regstellende diefstal… Oral in Afrika sal jy sien hoe die leiers hulle veryk, en die armes honger en dom laat… Dit kom hulle mos toe… Jy CR is n mislikking net jou party..

Nic ·

GENIS moet ook nie die Eff uitsluit nie net so ryk geword uit vbs bank

Alex ·

Meneer die President, laat vaar die beleid van BEE en ons kan almal help om dinge weer reg te ruk. Dit gaan ‘n tydjie neem, maar om ‘n 1/8 van die populasie wat des die ekonomie was, te onderdruk, gaan nie jou probleme oplos en ook nie help om die ekonomie reg te ruk nie. Hier is baie wat n bydra kan maak en nie geld gulsig is om die ekonomie reg te ruk nie…

gatgogga ·

Ons kan vir Cyril loof omdat hy die ANC vernietig het, en
ons kan vir Cyril haat omdat hy die land verwoes het.

christo ·

Cyril Ramaphosa is die president van die land en die ANC. Die ANC ignoreer vir Ramaphosa. Hy het geen steun van die ANC se NUK nie. Die ANC het die ekonomie vernietig en so ook die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.