Nuuskommentaar: Ekonomiese rampe in VSA – gaan SA leer?

Foto: AP Photo/Mark Lennihan, File

Ons het almal, nog lank voor die mees onlangse Wall Street- ekonomiese ramp, op skool geleer dat as Amerika se ekonomie nies, die res van die wêreld verkoue kry. Maar te dikwels het lande wat noustrop trek self ’n milde bydrae gelewer om die omvang van die ekonomiese krisis te skep wat volg op ’n Amerikaanse insinking – en wat die hoof gebied moes word.

Griekeland het maar pas die afgedwingde voorwaardes kon nakom wat veral die Europese Unie op hom geplaas het – ’n baie groot deel van die bevolking was maar te traag om van die luilekkerlewe afstand te doen wat vorige regerings op buitelandse skuld geskep het.

Dit is hierdie week, aldus Los Angeles Times, presies tien jaar sedert Wall Street ’n ekonomiese ramp beleef het wat die wêreld se ekonomie geskud het, en vandag word Al Kaïda se aanval op die wêreldhandelsentrum in Manhattan en die Pentagon in 2001, ook gedenk. Vandag beleef die VSA, met die uitsondering van enkele kolle, ’n ekonomiese oplewing nadat bitter baie lesse geleer is.

Kan Suid-Afrika, wat nou ’n tegniese resessie beleef en op Avbob se stoep speel met planne van onteiening sonder vergoeding, die lesse nie net leer nie, maar ook ter harte neem?

Foto: AP Photo/Mark Lennihan, File

Dit is onmoontlik om die oorsake van die finansiële krisis, wat veral van 2007 tot 2008 gestrek het, op te som. Die amptelike verslag was meer as 600 bladsye lank en reeds ’n opsomming van skriftelike insette van meer as twee miljoen bladsye. Terwyl die Amerikaners hoofsaaklik na huishoudelike probleme kyk, soos die toestaan van gewaagde huislenings (die sogenaamde “mortgage crisis”), is uit ander wêrelddele gekyk na ’n gebrek aan moraliteit in groot sakeondernemings, en veral die inhaligheid van bankbase, maar ook ander groot sakeondernemings. Enorme bonusse aan direksielede, selfs van ondernemings wat op die punt was om in te plof, was aan die orde van die dag, en ’n onderneming wat deur die staat met ’n aansienlike bedrag uitgehelp is, het sidderings deur die wêreld gestuur toe die geld ook gebruik is om bonusse van miljoene dollar elk aan direksielede uit te betaal.

Die raakvlak met Suid-Afrika word sidderend as bekende graderingsagentskappe soos Moody’s en Standard & Poor in die Wall Street-konteks opduik. Trippel A-graderings vir riskante verbande is soos soetkoekies uitgedeel, omdat die ondernemings van Wall Street se grotes van kontrakte afhanklik was. Met die strenger toepassing was die mislukte verbande in die orde van een persent, maar toe hulle roekeloos geword het, het tot 90 persent van die verbande misluk. Vir baie jare is gereeld in die Amerikaanse pers berig oor die impak dat mense se huisverbande groter is as die waarde van die huise.

Gister se Los Angeles Times som die situasie, met stawende skakels, mooi op: “A decade ago this week, the Wall Street investment bank Lehman Bros. collapsed. Combined with the housing market crash and an economy in recession, it plunged the U.S. into the worst financial crisis since the Great Depression. Though the wealthiest 5% of Americans have seen their income rise substantially, many average folks are still struggling to get their lives back in order. In Southern California, home prices in many areas are near their historic highs, but not in places like Victorville. Though the economy is booming, some question whether we are ready for the next recession. And columnist Michael Hiltzik thinks we’ve already forgotten some of the lessons of ten years ago.”

griekeland-geldkrisis

Duisende mense betoog voor die parlement in Griekeland. Foto: Facebook

Veel kan egter ook uit Europa geleer word, al word nie nou probeer om die dieper ekonomiese intriges te ontrafel nie. ’n Beweging om moraliteit onder die groot sakelui en die media te hervestig het by ’n groot deel van die bevolking ontstaan.

Toe die werklike krisis ontstaan, het die media hom egter aan die kant van moraliteit geskaar en dikwels groot werk gedoen om selfs ongelooflike wanpraktyke van inhaligheid aan die kaak te stel. In Ysland het die sakelui (en kwalik heimlik gesteun deur die destydse regering) baie ou wette probeer inspan om die waarheid te probeer verbloem. Die media het egter so hard teruggeveg dat Ysland se gewoonlik goeie posisie op die persvryheidsindeks gehandhaaf kon word.

Betogers het vir lang tye in verskeie wêreldstede uitgekamp om beswaar te maak teen die wanpraktyke wat hulle geglo het in Wall Street uitgebroei het. Die polisie in verskeie lande was nie altyd ewe suksesvol om hierdie betogings, bekend as Occupy Wall Street, uitmekaar gejaag te kry nie.

Hoewel daar groot verskille is tussen wat in die VSA gebeur het en wat nou in Suid-Afrika aan die gebeur is, is daar een groot gemene deler – iemand probeer ’n ekonomie op wind bou. Ekonoom op ekonoom waarsku dat Suid-Afrika se ekonomie grootliks gebaseer is die sekuriteit wat vaste eiendom bied. Maak dit onderhewig, selfs onder uitsonderlike omstandighede, aan die wegval van vergoeding, dan word die mat by wyse van spreke onder die ekonomie se voete uitgeruk.

Om dan nog vergesigte van ekonomiese welvaart daaraan te gaan koppel, laat die land se voorste ekonome op hul agterpote kom en goed gemotiveerde besware opper. Verskeie wys daarop dat selfs net die Nasrec-besluit reeds so ’n impak gehad het dat dit reeds deels in die ekonomie verreken is. Maar die emmer bly lek, groter oopgedwing deur politici wat self niks van die ekonomie weet nie, maar ook hul ore vir die tegnokrate in die ekonomiese en diensleweringsektor toedruk.

Foto: AP Photo/Mary Altaffer

Politieke korrektheid vloei weer soos ’n tsoenami ’n leë baai binne. Dit vervang demokratiese verantwoordelikheid met “politieke korrekte” kluitjies. Enigeen wat nou, sonder die nodige finesse die waarheid probeer kommunikeer, word sleg gemaak, en veral van rassisme beskuldig.

Tog gebeur iets belangriks. Ontleders hou al meer die oog op die redes hoekom pres. Cyril Ramaphosa se beeld van ramaforia besig is om al meer te glip. Al meer word gewys op die selfs ondermynende aksies van Jacob Zuma en sy kornuite wat skynbaar probeer om Ramaphosa uit te werk. Op die oog af word Ramaphosa se beweegruimte om die Mafiastaat wat hy geërf het bedroewend klein.

En dit maak ekonomiese herstel erg moeilik.

Suid-Afrika het nie die luukse van die VSA as dit kom by staatsekuriteite en vele meer nie. Voor die krisis in die VSA is “maar” 35% van alle huislenings deur die staat gewaarborg. Nou is dit 70%. Sou die storie weer inplof, sal die situasie dus minder katastrofaal in omvang wees, want meer lenings is nou staatsgewaarborg. Maar in Suid-Afrika stuur die fiskus op ’n tekort in sy teiken van invordering af. Die staat staan ook reeds pa vir gratis hoër onderwys en koppe word gekrap oor van waar daardie geld verhaal gaan word.

En met ’n staat waar korrupsie de facto meer as net wortelgeskiet het, kan die lekkende emmer nie so maklik gelas word soos in die VSA nie. Leer by die VSA en kyk weg van tassies vol geld wat individue uit die knoffel hou.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Jerry ·

Die persoon wat n oplossing het vir SA se ekonomiese ramp moet nog gebore word. Sosialistiese ideologiese ekonomiese beleidsrigting, NDR programme soos OSV, grondgryp, ondermyning, korrupsie, misdaad, werkloosheid, staatsbesteding en skuld, en so kan die lys aangaan sonder stop. Plundering en brand sal voortduur tot daar net besoedelde water oor is!

Casper Labuschagne ·

Vir die radikale swart nasionaliste gaan dit hoegenaamd nie oor die ekonomie nie, hulle hou allermins Sjina voor as ‘n suksesvolle model vir onteiening alhoewel daar na die kommunistiese oorname in Sjina twee keer hongersnood voorgekom het waarin nagenoeg 46 miljoen mense gesterf het. Inteendeel onteiening word nou in hierdie tyd van ekonomiese inkrimping gesien as ‘n model om swart mense te help. Die werklikheid is dat ons inteendeel ‘n reuse ekonomiese insinking sal beleef, maar feite gaan eenvoudig nie die ideologie oortref nie.

Natan ·

Ekonomiese realiteit ontbreek in die parlement en by die staatshoof. Dit sal beter vir die land wees om ‘n party aan beheer te hê wat ekonomies gefokus is. Die ANC met sy wortels in die landelike Oos-Kaap en landelike KZN is meer op afbrekende retoriek en rewolusie gebou as ekonomiese vooruitgang wat duidelik is na 24-jaar se ANC bewind. In daardie gebiede gaan nog steeds niks ekonomies aan nie en teer op Suid Afrika se vet. Die EFF breek alles af en is krimineel van aard, hulle salarisse word betaal van ekonomies aktiewe belastingbetalers, terwyl hulle die ekonomie saboteer.

Die staatshoof en sy swaer is skatryk, maar sy wan insig in die ekonomie dui daarop dat sy rykdom nie deur sake vernuf opgebou is nie, maar uit skelm/korrupte bedrywighede soos politieke affiliasie en BEE. BEE skep ‘n wanindruk van hoe die ekonomie werk en teer eerder op ekonomiese sukses sonder om dit self te verbeter.

Maar sekerlik kan die sirkus aangaan in ‘n toestand van chaos en populistiese, ongetoetste uitsprake. Voeg daarby politieke befondsing uit transito rooftogte, ongure elemente en ander. Dit is duidelik dat suiwer finansiële politieke befondsing nie vanuit ‘n gesonde ekonomiese bron kom nie. Daarom kan hierdie parlement nie die ekonomie laat groei nie. Hulle kan eerder hul tyd spandeer aan beleidsekerheid, dan weet almal waartoe ons op pad is, na die Transkei of Sandton?

Anoniem ·

Eish Natan, wens ek kan met jou gesels oor ‘n koppie koffie. Jy het goeie insig.

Liberaal ·

Dit is nie polities korrek om te noem dat die amerikaanse ekonomie goed doen nie, joernaliste moet eerder fokus op trum se haarkleur en fotos van hom publiseer versigtig geneem waar sy gesig skeef getrek is sodat hy sleg lyk, dit is die liberaal polities korrekte ding om te doen.

Annie ·

Net ‘n klein regstelling… die aanvalle op die Wêreldhandelsentrum en Pentagon het in 2001 plaasgevind, nie 2011 nie… vandag presies 17 jaar gelede…

Kosie Kramer ·

`n Verdere regstelling: die geboue in New York wat aangeval is, is (was) geregistreer as die World Trade Center. In vertaling bly dit die World Trade Center.

Tania Heyns ·

Dagsê Vraagteken

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die vingerfout, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.