Nuuskommentaar: ‘Ekstreemlinkse kwasi-intellektuele twak wat deesdae vir denke onder sogenaamde akademici deurgaan’

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê selfbestuur sal nog momentum kry soos wat Afrikaners sien hoe hierdie projekte sukses begin behaal. Foto: Reint Dykema.

Was dit nie al lankal tyd dat linkses wat hulself so as ware demokrate voorhou, ander wat die bepalings van die Grondwet nougeset nakom, hul gevolglike regte gun nie? Wie is die voorbeeldigste demokraat – die Solidariteit Beweging wat binne die bepalings van die Grondwet bly met sy toekomsplanne vir minderhede, of die liberale wat in hul kritiek daarop, ernstig aan onverdraagsaamheidsitis ly en boonop feite met kluitjies vervang?

Die sin in vandag se opskrif kom uit ’n leserskommentaar van ene Johan Opperman in reaksie op ’n omvattende artikel van Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, op sy beurt in reaksie op ’n artikel deur prof. Elmien du Plessis (NWU Potchefstroomkampus) oor Solidariteit se selfbestuursplan wat dié sambreel-organisasies tydens ’n onlangse toekomsberaad in Pretoria bekend gestel het.

Maar hoort ’n nuuskommentaar wat handel oor ’n “debat” wat in Netwerk24 gevoer word op Maroela Media? Al is dit net oor die artikels hierbo agter ’n betaalmuur skuil en Maroela Media-lesers wat nie maandeliks hoes-om-te-lees nie, dit nie kan lees nie. Maar Maroela Media is saam met Helpende Hand, die FAK, AfriForum en ander ’n lidorganisasie van die Solidariteit Beweging, en ingekoop op wat aanvanklik as Plan B bekend gestaan het. ’n Plan wat kampusse vir tersiêre Afrikaanse gehalte onderrig oprig en met miljarde rande ’n werklikheid maak.

Waar tydens die Toekomsberaad ’n stewige manifestasie van positiwiteit ervaar is, kort na Afrikaanssprekendes met die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Afrikaans op Maties ’n enorme hou onder die gordel gemoker is.

Du Plessis se artikel is dus in effek ook op Maroela Media van toepassing al is dit Maroela Media se taak om objektief die waarheid weer te gee, en nie om iemand se klakkelose spreekBuys te wees nie. Boonop is die uwe ook nog ’n vryskut onafhanklike kommentator, maar een wat gemaklik in sy Afrikaanse klere pas, en groot respek het vir dit wat deur die Beweging vermag word.

Ook die uwe kan nie koud staan oor die tipe skryfsels wat Du Plessis nou opgedis het, en vendettas teen Solidariteit, dikwels gebaseer op misplaaste gronde, wat deur die Seunse Weenkoor aangehef word nie. Wie sal nog die mislukte “treffer”, “Solidariteit het die Afrikaner gestaatskaap,” en gesing op die melodie van “Die gevryde weekklad” vergeet?

Om etiese redes sal die uwe nie ’n debat wat in ’n ander mediagroep afspeel, na Maroela Media verplant nie.

Die uwe het ook nie Du Plessis se geskiedenis met instansies in die Solidariteit Beweging gevolg nie, wat na ’n kuiertjie by dr. Google geblyk het nie net aansienlik te wees nie, maar skynbaar strykdeur negatief. Sy het byvoorbeeld AfriForum probeer aanvat oor wat sy as foutiewe plaasaanvalsyfers beskryf het, en ook AfriForum se buitelandse optrede om Suid-Afrikaanse werklikhede, soos plaasaanvalle, onder die aandag van die buiteland te bring, gekritiseer. Meestal het instansies van die Solidariteit Beweging haar geïgnoreer.

Die uwe het eers werklik van haar mediaprofiel bewus geword toe sy, as dosent in die Regte, as gesaghebbende oor die staatsreg en die Grondwet ’n profiel gebou het, en haar taamlik gerusstellend uitgelaat het oor grondwetlike beperkings wat die onteieningsplanne sonder vergoeding baie verswaar het. Haar stellings is oor ’n wye front opgeraap, en sy is/was ’n gewilde gas by landboutydskrifte en sekere landbou-organisasies.

Teen die uwe se agtergrond van self in staatsreg gekwalifiseer te wees, sou die enigste indruk wees dat Du Plessis se beskouing van die kwaliteit van die Grondwet effe aan die naïewe raak. Uit die oorvloedige lesersreaksies op beide haar en Buys se artikels, is dit duidelik dat die oorheersende persepsie oor haar is dat sy tot die linkerkant van die politieke spektrum behoort, en is sy oorweldigend gelooi. Is daar geldigheid in die leser se opmerking dat haar skrywe deel is van die “ekstreemlinkse kwasi-intellektuele twak wat deesdae vir denke onder sogenaamde akademici deurgaan”?

Herman Toerien

Tydens die wydlopende aanvalle uit veral links-intellektuele geledere op AfriForum nadat AfriForum met die Nasionale Vervolgingsgesag swaarde gekruis het oor die gesloer met ’n besluit oor die voortgesette vervolging van Julius Malema in die bedrogverhoor waarin hy tereggestaan het toe die verhoorlanddros die saak onverwags van die hofrol verwyder het (weens die ongesteldheid van ’n medebeskuldigde), was die aanduidings baie sterk dat daar inderdaad sterk gedeelde persepsies onder dié intellektuele was. Dit kon kwalik as feite beskou word, nadat hiervan as agtergrond verskaf is in ’n petisie wat ’n bekende Stellenbosse intellektueel teen Ernst Roets begin het, en Roets uitgewys het dat baie hiervan vals was, en met regsoptrede oor die verdere verspreiding daarvan gedreig het. So ver bekend is daar hierna nooit weer van die petisie gehoor nie.

Wat moet aan die voortgesette inspan van vitrioel teen die Solidariteit Beweging gedoen word?

Solank as wat instansies soos Netwerk24 en sy koerante regverdige geleenthede bied om te reageer, kan die waarheid telkemale na die oppervlak kom, soos nou met Buys se reaksie op die Du Plessis-aanval gebeur het. Dit is nie die eerste keer dat so ’n soort aanval sommer al in die lesersreaksies op die oorspronklike aanval, sleg geboemerang het nie.

Selfs al word Du Plessis die voordeel van die twyfel gegee dat haar aanval op “die gevaar van Volkspele” net, volgens ’n leser, ’n metafoor was, het sy in alle waarskynlikheid meer skade aan haarself aangerig as wat enige van haar kritici kon.

Nou is die tyd om ware demokratiese volwassenheid aan die dag te lê. Die grondslag hiervan is om die ideologiese en intellektuele beskouings van ander buite die eie raamwerk, byvoorbeeld liberale raamwerk van ’n persoon, of die persoon se mede-dinkskrumgenote, nie soos misdadige denke te probeer brandmerk nie. Om apartheidsdenke te gaan soek, en so te benoem, terwyl dit net groter fokus op diversiteit en identiteitspolitiek plaas, hoort eenvoudig nie tuis by liberale denke nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Werkgewer ·

Vandag se “gegradueerdes” is n grap. Die universiteite het heeltemal tres met realiteit verloor. Ek laat al my kandidate deeglike praktiese toetse deurkom om te sien of hulle wel n idee het wat aangaan

HV ·

Herman ek ook al baie hieroor nagedink. Gaan dit nie oor die ultra linkse liberaliste teenoor die nugtere nie naïewe realiste nie.

Dawie ·

Wat Du Plessis betref is sy een van daardie onbekeerbare linkses wie se uitlatings deur enkele individue van dieselfde mening ondersteun word. Geen persoon met enige gesonde verstand neem haar ernstig op nie. Onthou “clickbait” is die naam van die speletjie in die media deesdae.
Net omdat iemand geleerd is beteken nie dat hulle enige vestandige kennis het nie.

Jimmy ·

Ons kan maar onderling stry en baklei. Feit is, ons sink saam. Met of sonder selfbestuur.

Chris ·

Graag rig ek n versoek aan Redaksie om te luister na die potgooi op RSG vanoggend 08:00 en daarop te reageer deur politieke kommentaar in samehang met kommentaar soos vandag in Maroela weer gegee

Leon ·

Volgens studente word hulle sosialisme en kommunisme en diesgelyke dinge geleer soos wat die kaders in Rusland en Sjina en Kuba gestudeer het. Hulle word dus gebreinspoel sodat hulle die ideale van die regerende party eendag kan vergestalt.
Wat het die unies al vir hulle lede gedoen, Solidariteit uigesluit hier. Al wat hulle doen is om optogte te reel waar hulle eiendom kan vernietig en afbrand. Hulle probeer nie die lewens kwaliteit verbeter nie.
Solidariteit probeer darem kolleges en universiteite bou sodat die lede se lewenskwaliteit kan verbeter.
Die res van die unies kan net kritiseer en elke maand ledegeld opskuif sodat hulle leiers kan mooier en groter en duurder huise en motorkarre kan ry. Hulle lede kry nie eers salarisse as hulle soms staak nie, maar die lede moet nogsteeds hulle ledegeld betaal.
Ek dink ons kan Solidariteit daar ‘n pluimpie gee waar hulle lede se geld ten minste probeer nuttig gebruik.

TDW ·

Die sogenaamde “experts”
Mens moet net onthou om alles te bevraagteken, veral dit wat kenners vir jou voordra as feite, want kenners se feite word gewoonlik op verdraaide bewyse gebaseer.
Herman, my kommentaar slaag nie altyd die sensuurraad se goedkeuring nie, maar ek hoop met hierdie een kan ek vir jou sê hoe baie jou skrywes vir ons beteken. Baie dankie.

Oopkop ·

Net so pateties as wat sommige akademici se uitsprake en standpunte is , net so pateties is sommige politici en sogenaamde leiers in die samelewing! Indien hulle van beter geweet het, sou dit beter gegaan het met almal in die samelewing.

Feite ·

Oopkop jy is oopkop, want jy slaan die spyker op die kop. Kyk jy na die NG kerk sinode wat honderde akademici/leraars insluit en wie inderdaad eintlik afrikanergemeenskapleiers is, se debatvoering en gebrek aan insig en wysheid vir oplossings soos die “gay issue” dan slaan jy die spyker op die kop. Kyk jy na politici wie nie weet of hulle links, in die middel of regs moet gaan nie, dan slaan jy ook die spyker op die kop. Die probleem met opposisiepartye politici en akademici is dat hulle net soos gewone Suid Afrikaners deur die ANC se transformasie agenda gyselaar geneem is en afgedreig word en ook maar losprys na losprys betaal om die vrede te bewaar. “Lets face it” gyselaars het nie veel van n opsie as om toe te gee en weer toe te gee totdat daar niks meer is om te gee. So ja oopkop, jy slaan daai spyker op die kop, nie dat dit ook enigsins iets gaan verander nie!

Werner ·

Die afgevaardigdes na die NG Kerk Sinode is almal spesifiek uitgenooi omdat hulle standpunte dieselfde is. Dit was lagwekkend toe n dominee aan die Weskus in die media vertel het dat hy sy siening oor byvoorbeeld homoseks verander het nadat die Hemelse Vader hom daarvan oortuig het. Myns insiens het hy maar net geswig onder die druk van die Sinode-gangers.

Afrikaanders ·

Hierdie einste akademici is die jarelange resultaat van dieselfde wit gemeenskap wat hulle gekweek het, en nou kla hulle daaroor. Hoe kostelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.