Nuuskommentaar: El Niño en grondgryp sonder vergoeding

Argieffoto: Pixabay

Dit gebeur soms, soos met die ontwikkeling van die Lourierpark-HOP-ontwikkeling in Bloemfontein, dat die armstes van die armes uitverkoop word deur die HOP-huise op erg swellende kleigrond te bou. Boonop beplan die munisipale raad om dieselfde te doen met die nog swakker Cecilia-grond.

In dieselfde gees kan gevra word of die planne vir grondonteiening sonder vergoeding nie geweldig kan inplof as die impak van klimaatsverandering en die periodieke voorkoms van El Niño nog nie behoorlik verstaan word nie, en wat wel geweet word, iewers onder stoflae op rakke verlore gaan?

Een van pres. Cyril Ramaphosa se doelstellings met grondonteiening sonder vergoeding is dat voedselsekuriteit nie in die slag moet bly nie. ’n Ander is dat die ekonomie nie moet skade ly nie.

Terwyl landbou-ekonome en ander landboukundiges, en voorste ekonome nog kopkrap oor hoe so iets moontlik kan wees, en die eerste sarsie skade aan die ekonomie reeds ingeskop het, is daar nog groot faktore wat dit onmoontlik gaan maak om nie onomkeerbare skade te ly nie – die impak van klimaatsverandering en El Niño.

Die feit is dat die wetenskap nog nie genoeg weet om sulke verskynsels, en die intensiteit daarvan presies te voorspel nie. En selfs al weet ons presies, gaan die regering hom aan sulke data steur wanneer grond aan nuweling-boere oorgedra word?

Daar lê immers dik stoflae op verslae wat reeds met die beste beskikbare kennis opgestel is, wat onder meer aandui waar nié stedelike ontwikkeling in die toekoms moet plaasvind nie, en wat ook aandui waar met ander diersoorte, of nuwe gewasse geboer sal moet word. Die Wes-Kaap se droogte is byvoorbeeld voorspel, maar eers ’n paar jaar later en so is die inwoners grootliks met bokkoms in die drinkwater gevang.

Dit lyk of die kanse net te goed is dat die nuwelingboere effektief uitverkoop kan word wanneer grond oorgedra word net mooi wanneer ’n groot droogte aanbreek. Selfs ervare en gevestigde boere maak dit nie as hulle ’n peperduur oes in die grond sit, en ’n erge droogte maak dat daar dadels van kom.

Daar is ’n 75-80% kans dat ’n nuwe El Niño die aarde binnekort gaan tref, aldus die Europese Ruimte-agentskap (ESA). Wetenskaplikes kom tot dié gevolgtrekking nadat data van die Copernicus Sentinel-3 satelliete bestudeer is. Dié satelliete meet onder meer die seetemperature.

El Niño kom elke twee tot sewe jaar voor, en veroorsaak op sommige plekke warm en droë weer, en op ander groot oorstromings. Nog akkurater data sal nou beskikbaar word nadat die Aeolus-sendings onlangs gelanseer is.

Die groot vraag wat ESA en ander wetenskaplikes egter vra, is of die klimaatsverwarming ’n invloed het op El Niño. Die verband tussen die twee verskynsels ontwyk die wetenskap nog.

Nasa is ook intensief besig om ’n oog oor klimaatverskynsels te hou, en hierin speel die OSTM/Jason-2 satelliet ’n groot rol. In Maart verlede jaar het Nasa juis die vraag gevra of die oorskiet-hitte van die vorige El Niño nie genoeg is om ’n nuwe te veroorsaak nie.

Nie een van die twee is nuwe verskynsels nie. Argeologiese navorsing bring aan die lig dat ganse gemeenskappe hul tuistes moes verlaat nadat die klimaat ’n wending geneem het – hetsy te koud geword het soos met die oorspronklike Viking-setlaars in Groenland, of te warm en droog soos met Indiaanse stamme wat in Canyons in die Suidweste van die VSA indrukwekkende beskawings opgerig het.

El Niño se verskynsel is al eeue lank onwetend in amptelike dokumente, soos dié van die VOC, opgeteken.

Die somtotaal is dat ons nog te min weet om veranderinge in klimaat akkuraat te voorspel – wanneer dit gaan voorkom en wat die uitwerking daarvan gaan wees.  Daar is boonop veranderlikes waaraan die mens niks kan doen nie, soos presies hoe lank ’n son-minimum, en ’n son-maksimum gaan duur.

Dit klink net logies dat die regering ’n bietjie vasbyt met enige grondhervormingsplanne, en dat veral die EFF se lawwe planne ashoop toe moet gaan.

Ironies steek daar meer in wat Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU-SA, gesê het ná afloop van die naweek se grondberaad. Hy het gesê daar moet eerder ’n klimaat van sekerheid geskep word. Die regering maak ’n ideologiese, politieke en rassespeelbal van die proses eerder as om by ’n proses te hou wat ekonomies volhoubaar is.

Van Zyl het in hierdie konteks duidelik na ’n ander soort klimaat verwys, maar in die proses tog, ironies, die vinger op die werklike pols gelê.

Ignoreer wat sienderoë voor ons afspeel en die land kan ’n hongersnood-ramp beleef soos nog nooit tevore nie.


  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.
Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Paul ·

Dankie Herman vir die insig en perspektief. Ja, as mens moggetroffe besluite neem, net omdat dit goed klink, gewild is en sonder om te dink, die natuur te verstaan en wat se invloed dit kan hê, sal dit mens nogal baat om eers huiswerk te doen en by die kundiges kersop te steek. Mens moet ook verder dink as wat jou neus lank is. Boer is ook nie sommer net om ‘n pit in die grond te druk nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.