Nuuskommentaar: Elf amptelike tale ’n werklikheid of klug?

Lesersfoto

Lesersfoto

Die gelykheidshof in Kaapstad het beslis dat die land se wette nie in al elf amptelike take gepubliseer hoef te word nie. Die saak is deur die taal-aktivis-prokureur, Cerneels Lourens, aanhangig gemaak. Lourens het onder meer bekendheid verwerf toe hy die president met ’n hofbevel gedwing het om ʼn talewet te onderteken, soos wat deur die grondwet vereis word.

Lourens is finansieel deur AfriForum ondersteun, en volgens AfriForum is die saak só voorberei dat dit deur al die howe gevoer kan word tot in die VN se Menseregteraad sou nie aanvanklik sukses behaal word nie.

Regter Bennie Griessel het ʼn interessante benadering gevolg deur onder meer na die grondwetlike regte vir provinsies te kyk.

Histories gesproke het die aandrang op elf amptelike tale vanuit die geledere van die ANC gekom toe van die ander Kempton Parkse onderhandelingspanne nie voor die ANC se eerste keuse, Engels as enigste amptelike taal, wou kopgee nie. Die vermoede het strykdeur bestaan dat die ANC dit as truuk gebruik het om uiteindelik tog sy sin te kry “omdat elf amptelike tale onprakties sou wees”.

Trouens, ook die skrywers van die invloedryke Fundamental Rights in the New Constitution het tot hierdie gevolgtrekking gekom, en ook gemeen dit sal uiteindelik tot slegs een amptelike taal lei. Hulle spel nie uit watter taal dit sou wees nie, maar met die meeste van die skrywers vierkantig binne die ANC-dampkring was dit duidelik dat die skrywers Engels in die oog gehad het.

In die praktyk, waghonde soos Pansat ten spyt, het die ANC opgetree asof Engels inderdaad die enigste amptelike taal is. Pansat is op verskeie maniere, soos geldelik en met ʼn gebrek aan tande, ontmagtig, maar het tog vroeg bevind dat die staat self die grootste oortreder van grondwetlike taalregte is.

Later is die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming die regte van Taal-, Godsdiens en Kulturele gemeenskappe ook deur Hoofstuk 9 van die Grondwet in die lewe geroep, maar aanvanklik deur die aanstelling van lakeie en ’n klompie ander nuttelose kommissarisse effektief tot ’n non-entiteit gereduseer. Daar is met die aanstelling van die jongste span kommissarisse belowende tekens van beterskap.

Elke Afrikaanssprekende kan getuig hoe hy of sy ervaar, of ervaar het dat teen Afrikaans gediskrimineer word. Dit is byvoorbeeld nou bitter na-aan afwesig van die nasionale uitsaaier se TV-diens. Afrikaanse nuus word op ’n kanaal uitgesaai wat in groot Afrikaanssprekende dele van die land nie opgevang kan word nie.

In die Wes-Kaap, waar meer as die helfte van die bevolking Afrikaanssprekend is, is polisie van nasionale vlak aangesê om alle amptelike kommunikasie slegs in Engels te doen. Gegewe die feit dat die polisie grondwetlik ’n gedeelde provinsiale en nasionale funksie is, met byvoorbeeld doeltreffende polisiëring spesifiek ’n provinsiale funksie, asook dat die provinsies, soos regter Griessel nou uitgewys het, bepaalde taal-bevoegdhede het, maak so ʼn besluit gewoon nie sin nie.

Voorvalle van kwaadwilligheid kom bepaald voor, soos ’n landdros wat nou uit haar eie sak moet opdok na sy geweier het om ’n borgaansoek aan te hoor wat deels in Afrikaans voorberei is “omdat hierdie ’n Engelse hof is”. Die prokureur was bereid om te tolk.

Kortom, om Afrikaans (en die ander amptelike tale uitgesonderd Engels) hul regmatige plekkie in die son te laat kry, is ’n nimmereindigende stryd.

Dit help egter nie net om die staat aan die strot te gryp hieroor, terwyl dit in die sakesektor net so gaan nie. Let maar weer op as u deur ʼn plattelandse dorpie ry waar die unieke en sprekende naamborde voor sake-ondernemings onlangs nog Afrikaans was. Hoe dit nou plek moes maak vir kitsch Engelse name.

Hoeveel Afrikaanssprekende werksoekers het hoegenaamd ’n Afrikaanse CV naas die amper vanselfsprekende Engelse CV?

Wanneer laas, as jy jou bank, mediese fonds of versekeraar gebel het kon jy in Afrikaans geholpe geraak?

Het jy al agtergekom hoe telebemarkers wat jou pes verdwyn as ʼn mens aandring om met ʼn Afrikaanssprekende te praat? Hulle het jou immers ongenooid gebel. Deur dit nié te doen nie, word eintlik bygedra dat nog ʼn deur van moontlike indiensneming vir Afrikaanssprekendes toeklap.

In ʼn groter nuusmark is Maroela Media se sukses ’n klip in die skoen, want daar is gou besef dat daar geld te maak is uit Afrikaanssprekendes se strewe om Afrikaans te hoor. Dit mag moontlik eens betaal het om Afrikaans te wees, maar nou moet iemand betaal om Afrikaans te wees – behalwe dat Maroela Media gratis is en sakeplanne bietjie omkrap.

Maar as ʼn mens meer Afrikaanse TV wil kyk, soos Afrikaanse rugby-uitsendings, is dit uithaal en wys.

Net jammer van die (groeiende aantal) wat dit nie kan bekostig nie.

Sommige instansies skiet hulself in die voet van “deur ter wille van” alles net in Engels te doen. Pas het ʼn uiters belangrike nasionale kongres van ’n bepaalde gestremdheid plaasgevind, met min of geen media-aandag. Die nuusverklarings vooraf is slegs in Engels uitgestuur. (Die nasionale voorsitter is Afrikaanssprekend.) Die ou argument “dat die media dit mos kan vertaal” werk net nie meer so nie – met die opkoms van gemeenskapsmedia is daar net nie meer vertalers nie, en dit handel boonop dikwels oor terminologie wat nie geredelik in verslaggewers se woordeskat is nie.

Politieke partye wat hul mediaverklarings slegs in Engels uitstuur, moet ook by voorbaat reken daarop dat slegs die mees belangrike verklarings aandag sal geniet.

Dit beteken nie ’n onbeskofte aandrang op Afrikaans, veral in onredelike omstandighede nie. So verloor Afrikaans ook.

Maar moenie eendag nog verkondig hoe lief ʼn mens vir Afrikaans is, en dan self met die hamer in die hand staan waarmee die laaste spyker in Afrikaans se kis geslaan is nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae