Nuuskommentaar: Emosies en die wêreld se rampe

Reddingswerkers besig met die reddingsoperasie in die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand (30 Junie 2018). Foto: Xinhua

Die wêreld word voortdurend geskud deur groot rampe, soos die veldbrande in Kalifornië, oorstromings in Maryland, en nou weer verwoestende oorstromings in Japan. Tog, word na die nuus gekyk, lyk dit of die reddingspoging van 12 seuns en hul afrigter uit ’n Thaise grotstelsel groter nuus is. Die wêreld kan eenvoudig nie bekostig om werklike groot rampe te vergeet terwyl ’n ophef van kleiner rampe gemaak word nie.

Dat daar hoegenaamd nou ’n reddingsoperasie onderweg is om die 12 vasgevangde kinders en hul afrigter uit ’n Thaise grot te red, is eintlik ’n wonderwerk. Dit is ’n komplekse grotstelsel waarvan kilometers in pikdonkerte onderwater is.

Vir dae het die wêreld asem opgehou voor aangekondig is dat die kinders gekry is. Die gevaar was egter ver van verby, al is honderde paddamanne van Thailand en ander lande ontplooi. Die moesonreëns is onderweg en kon die kinders se skuilplek heeltemal onder water laat, of die suurstof laat opraak.

Een van die duikers het reeds self omgekom.

Maar dit handel oor “net” 12 kinders en een volwassene. Enorm baie geld is bestee. Die reddingsoperasie is begin voordat ingenieurs en ander hulpdienswerkers, asook reddingstoerusting van Elon Musk, Suid-Afrikaans gebore ruimtepionier van die VSA, op die toneel kon aankom. Op die oog af het dit gelyk of ’n luggevulde onderwatertonnel van Musk die reddingsoperasie moontlik sou maak.

Dit alles gebeur terwyl talle Japannese reeds in reusevloede omgekom het, en tien miljoen Japannese aangesê is om hul huise te verlaat, en nog meer as drie miljoen aangeraai is om so te maak. Tog het die lot van die 12 kinders nuusgewys bygehou met die Japannese tragedie, en dit plek-plek oortref.

Om ondergronds vasgekeer te wees, en veral dan nog vermis te wees, gryp die wêreld egter gereeld aan. Onlangs het Suid-Afrika ook weer ’n proesel hiervan gehad toe dit aan die lig gekom het altesaam 21 mynwerkers het al vanjaar in Sibanye se myne omgekom. ’n Hele aantal was in stadia ook vermis.

Tog weerspieël hierdie syfer ’n merkwaardige verbetering in mynveiligheid. Volgens die jaarverslag oor mynsterftes vir 1959, die jaar voor die Coalbrook-mynramp, is 700 mynwerkers daardie jaar in mynrampe dood. Met Coalbrook self in 1960 is 435 mynwerkers dood. Daar was meer as 1 000 mense in die myn toe die dak begin ingee het, maar die meeste kon met behulp van ’n skuins skag ontsnap.

Die sokkerspan en hul afrigter wat in die grot vasgekeer is. Foto: Via nationmultimedia.com

In die 11 dae wat die reddingsoperasie geduur het, het die land die gebeure as’t ware met ingehoue asem gevolg. Alle hoop is laat vaar toe mikrofone in nuwe boorgate laat afsak is, en geen geluide gehoor is nie.

Familie en vriende van vasgekeerde mynwerkers oefen dikwels geweldige druk op mynbase uit om met reddingsoperasies vol te hou, al is daar objektief geen kans dat die vasgekeerdes nog kan leef nie. ’n Goeie voorbeeld was met die Lily-mynramp in Mpumalanga in Februarie 2016 toe ’n gedeelte van die myn ineengestort het. Drie mense in ’n skeepshouer het in ’n sinkgat verdwyn, en hul oorskot kon nie herwin word nie.

Sibanye, wat deur ontevrede aandeelhouers hof toe gesleep word vir laer aandeelpryse weens die “baie” mynongelukke, het die blaam op seismiese aktiwiteite geplaas. Suid-Afrika is gelukkig nie ’n sterk aardbewingland nie, aangesien al die groot verskuiwingsvlakke om die land weg van die kontinent beweeg. Tog kom daar gewoonlik ligte aardbewings en aardtrillings ongeveer landwyd voor. Heelwat hiervan kom in myngebiede voor, en heel dikwels kry myne die skuld vir die aardbewings.

Een van die beskuldigings is dat ondergrondse sinkgate deur mynaktiwiteite leeggepomp word, en dat die sinkgate se “dakke” ingee. Selfs al het Suid-Afrika van die diepste myne, en is die episentrum van sulke aardbewings en -trillings vlak, is dit nie altyd moontlik om die mynaktiwiteite in verband te bring nie, aangesien ’n relatiewe vlak episentrum (tien kilometer) steeds heelwat dieper as die diepste myn is. Agt van die tien diepste myne is in Suid-Afrika geleë, en die diepste is Mponeng wat meer as vier kilometer diep is.

Ons moet versigtig trap dat emosionaliteit oor ’n bestaande stel feite nie ons ingesteldheid oor werklike groot rampe verdoesel nie. Soos die ou spreekwoord lui: “Moenie die een ding doen, en die ander nalaat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anita ·

1. Ophef word van die kinders gemaak, want daar is hoop; daar is lewe; iets kan gedoen word.
2. Dalk minder van ‘n ophef oor dinge waaraan niks gedoen kan word nie… sjoe, tough.
3. Is die kinders se ramp ‘n kleiner ramp?’n ramp is ‘n ramp…
4. Wat is die werklike ramp wat ons van vergeet?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.