Nuuskommentaar: En toe dank Zuma Gordhan waaragtig af

President Zuma during a press briefing

President Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Minstens sit Suid-Afrika nie meer met ’n uitgerekte sage oor die Gordhan-kwessie nie, maar volgens sommige ontleders kan Suid-Afrika die naweek al ’n afgradering beleef. Dinge gaan nou vinnig verander.

Suid-Afrika kan reeds die naweek ’n afgradering beleef, waarsku sommige ontleders. Oor die algemeen is die gevoel dat die gradering nie baie deur die kabinetskommeling en minister Pravin Gordhan se trekpas gaan afhang nie, maar van die reaksie hierop. Dit sluit politieke en ekonomiese gevolge in.

Die ironie is dat die ekonomie waarskynlik negatief sal reageer sou dit blyk dat Zuma sy posisie versterk het, maar eweneens ’n duik kan vat as dit blyk dat Zuma die politieke galgtou om sy eie nek geplaas het.

’n Kabinetskommeling was te wagte. Verskeie ministers het weens wanprestasies skerp in die nuus deurgeloop, maar die twee wat die meeste verbrou het, Faith Muthambi en Bathabile Dlamini, is steeds in die kabinet. Muthambi het boonop “bevordering” gekry.

Derek Hanekom is, soos verwag is, weggelaat nadat hy vroeër die mosie van wantroue in die NUK teen Zuma ingestel het, wat baie amper geslaag het.

Tina Joemat-Pettersson is (uiteindelik) as minister gepos, nadat sy lank soos ’n senuweebol van portefeulje tot portefeulje gehop het, en ironies, in die jongste tyd skynbaar haar voete gevind het.

Of dit so bedoel is of nie, Zuma het met die kabinetskommeling sy kabinet aansienlik “verswart”. Dit volg nadat min of meer dieselfde met die NUK gebeur het. Dit pas in elk geval in by Zuma se beheptheid met ras, en dat swart mense spesiale bevoordeling moet kry.

’n Min of meer konsensusmening onder analiste is dat Malusi Gigaba as nuwe minister van finansies daartoe bydra dat die tesourie aansienlik meer blootgestel sal wees aan Zuma se grypsug en die Guptas se planne.

Die byna middernagtelike kabinetskommeling kon nie verhinder dat die rand skerp waarde verloor het nie. Teen vanoggend 07:00 was die dollar R13,95 werd.

Pravin Gordhan (22 Februarie 2017) Foto: GCIS

Kort voor die kabinetskommeling was daar sterk sprake dat Zuma se planne skerp teenstand kry, onder meer uit die geledere van die Groot Ses, die SAKP en senior ministers. Volgens hardnekkige berigte sou 12 ministers hul bedanking indien as Gordhan die trekpas kry. Later is aan die hand van ongenoemde bronne bespiegel dat Zuma aangebied het om in Desember vanjaar, wanneer die ANC se nuwe president verkies word, of kort daarna, ook as staatspresident die tuig neer te lê. Zuma sou verskeie voorwaardes hiervoor stel, wat weer weerstandigheid ontlok het omdat gevoel is Zuma se bedingingsposisie is nou so swak hy moet net sy goed vat en loop.

Zuma het dit in die onlangse verlede egter duidelik gemaak dat hy nie nou sal bedank nie. Volgens hom sou dit beteken dat hy voor “wit monopolistiese kapitaal” kapituleer en dat sy vyande wat hom in die tronk wil hê sou seëvier.

Die druk het nietemin gister so hoog teen Zuma opgelaai dat bespiegel is of Zuma nie dalk weens die druk die handdoek sal inwerp nie. Druk soos toe die EFF, gerugsteun deur Cope en die UDM, die konstitusionele hof genader het om ’n bevel uit te reik dat die speaker vir Zuma oor sy Nkandla-manewales in ’n staat van beskuldiging plaas.

Hoe minder ’n analis nou skryf, hoe minder foute gaan hy maak. As Zuma een ding in sy tyd as president bewys het, en ook nadat die destydse pres. Thabo Mbeki hom as adjunk-president gepos het, is dit dat hy ’n ongelooflike politieke oorlewingsvermoë het. En hy hét steun – genoeg steun om die Groot Ses impotent te laat.

Sake gaan egter nou baie gou op ’n spits gedryf word. Twee “spoke” wat hiertoe behoort by te dra is die lamlendige “intelligensie”-verslag waarop Zuma glo sy motivering gebou het, en wat nou deur die inspekteur-generaal vir intelligensie ondersoek behoort te word, asook ’n nuwe mosie van wantroue in Zuma in die parlement.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Apie ·

Zuma is soos onkruid, en soos onkruid sal hy oorleef. Daar is net een raad wat sal help!?

Johan Likkewaan ·

Die Gupta’s lyk my het BAIE invloed, as hy so voor die ooglopend so iets doen…

marous ·

Die wiele vir die rol van vernietiging is reeds volstoom. Sy bedanking gaan niks aan die land se onherstelbare skade en verval kan doen nie. Hy is net ‘n pion.

lw ·

Ons burgers moet NOU die wa deur die drif trek. Dis nou of nooit. Hierdie maak geskiedenis. Geen president mag nooit weer in so n allemintige mag sit nie.
Ek neem die ANC NUK kwalik, hul kon hierdie petalje gestop het al in Desember.

Rupert Ashford ·

Jy is heeltemal reg. Dit is nie Zuma wat die probleem is nie (wel nie NET hy nie!), dit is ook die organisasie wat hom teen wil en dank as leier verkies het en hom daar gehou het, en dan die bevolking wat vir so ‘n petalje stem. Die probleme is baie groter as (net) Zuma.

Nellie ·

As die 12 ministers wel hulle bedankings indien, soos daar bespiegel is, dan verswak hulle die kanse om ‘n mosie van wantroue te laat slaag teen JZ, wat beslis nou ingedien sal word. Ons hoop maar hulle bly om van binne ‘n verskil te maak. Komaan, Cyril, staan op en wys vir ons jy het wel ‘n ruggraat. Ons het nou leierskap nodig, nie politiekery nie.

Grassie ·

Nellie – ek glo nie hulle sal werklik bedank nie. As hulle dit doen verloor hulle ‘n vet salaris, ‘n luilekker lewe en ‘n sitplek op die soustrein sonder grense. Onthou, hulle is ook maar net ANC-kaders soos Zoempas. Ek hoop ook nie hulle doen dit nie want dan stel Zuma net ‘n klomp van sy onbevoegde kornuite in hul plek aan.

christa ·

Die Slang nou wanneer kom daar bietjie wit mense in die cabinet is dit nie ook Rassisme nie wag sy dag is om die draai.

Will i am ·

Nou moet ons net begin om te weier om belastings te betaal. Waar kan ons met so iets begin. Ek is ń pensioenaris en myne word net eenvoudig afgetrek

AL ·

Jul pensioenarisse kan eerder die tronkvoël toelae kry van meer as n R300 pd vir n gevangene.
Dis n skande dat ons belastingbetalers beter sorg vir gevangenes as vir ons bejaardes wie wetsgwhoorsame en produktiewe lewe gelei het.
Gee die gevangenes eerder R1400 pm aan Versorging!

Louis ·

Ons kan belasting wettiglik weerhou deur op te hou rook, drink (drank), minder versnapperige en koeldrank ens. ens. ens. te koop. Hulle gaan baie BTW en aksynsbelasting verloor.

Grassie ·

Zuma het nou sy doel bereik. Hy weet sy heerskappy se tyd is besig om kort te raak en hy en sy geldvriende wil vir oulaas die staatskas liederlik plunder maar Gordhan het soos ‘n muur in hul pad gestaan. Nou is hul pad oop. Die feit dat die land gaan seerkry, en reeds besig is om seer te kry, skeel hom nie – al wat vir hom van belang is is sy eie welvaart, te hel met die land en sy mense.
Die verskuiwing van een van sy pelle na polisie is interessant. Ek het verwag dat hy een van sy meer militante trawante na verdediging sou skuif, maar miskien kom dit nog in die toekoms. Hy is nie van plan om tronk toe te gaan nie. As hy nie een of ander soort van amnestie kan beding nie gaan hy veg of vlug.
Ons moet hom nie onderskat nie.

charmaine ·

Gordhan lyk nie te hartseer oor sy afdanking, dalk is hy bly om nou van die sirkus ontslae te wees. En ja wonder hoeveel se het die Gupta’s in die skuif gehad, noudat hulle hofsaak ook amper moet gebeur interresant wonder of dit nou sal voortgaan?

Maria Van Dieweeck ·

Wat kan ons doen? Ons is leierloos en versplinter. Ons kan nie eens as n volk saam bid nie. n Gees van hoogmoed en beterweterigheid het ons verdeel. My eie volk maak my hartseer.

deceptio ·

Blankes moet nou soos een man agter Zuma staan en saampraat. Die onderliggende konflik hier is nog steeds wit vs swart en ‘n suggestie dat blankes voordeel trek uit Zuma se manewales sal hom finaal sink.

deceptio ·

Blankes moet nou soos een man agter Zuma staan en saampraat. Die onderliggende konflik hier is nog steeds wit vs swart en ‘n suggestie dat blankes voordeel trek uit Zuma se manewales sal hom finaal sink. Aan die anderkant kan ons net doodstil sit en kyk hoe hy man alleen die anc vernietig.

Johnny Heystek ·

Ps 37 stel baie duidelik wat ons reaksie moet wees…

JV ·

Net so! daar is ‘n tyd en plek vir alles. Nou is die tyd om rustig te wees. Waarom jou vyand help? Laat hy homself vernietig.

Bs ·

Maroela Media kan jul nie daardie website link met ons deel vir petisie om van Zum ontslae te raak nie? Iets soos web for change of so iets dat ons dit kan onderteken nie?

Annie ·

Hy is net daar vir eie gewin … en voel niks vir die mense in die land nie. Wens die ANC ondersteuners wil wakker skrik. Hy is n oneerlike pateet!!!

Paula ·

Nog nooit iemand gesien wat soveel hase uit sy hoed kan trek nie. Dit hou net nie op nie. Hoop die volgende “haas” gaan sy uitrede wees.

Erna ·

Wonder of ons nie die persoon met die grootste gebrek aan integriteit en karakter teveel krediet gee nie. Is sy groot vriende van saxonworld nie die eintlike puppet masters nie? Zumpie is bekend daarvoor dat hy lief is vir geld, veral ander mense se geld en as hulle geld na sy kant toe laat kom wen hy mos al die pad.

Rian ·

As ons kinder sielkunde gebruik het en aañgedring het dat namba wan vir Gordhan moes afdank was hy definitief vandag nog in sy pos. Onthou vir volgende keer.

Yvonne ·

When you replay the past
You poison the present
and that kills the future
NO confidence in Zuma

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.