Nuuskommentaar: Engels! Engels! Alles Engels!

Die JH Neethling-gebou aan die Rooiplein van die Universiteit van Stellenbosch op die voorgrond; Die Pieke onder sneeu in die agtergrond (Argieffoto)

Die Universiteit van Stellenbosch (US) het vandeesweek weereens in die kollig beland nadat ʼn manskoor wat die vrouekoshuis Minerva met liedjies wou vermaak, glo deur een van die HK-lede gevra is om nie Afrikaanse liedjies te sing nie.

Dit gebeur ook in die lig van die onlangse omstredenheid rakende US-studente wat versoek is om selfs in private gesprekke, asook met alle ouers en besoekers net in Engels te kommunikeer – selfs al is die sprekers Afrikaans.

In albei gevalle het die universiteit in verontregting gereageer en dit duidelik gemaak dat hierdie soort optrede nie die doel van die taalbeleid, wat veeltaligheid aanmoedig, is nie. In albei gevalle het hulle verklaar dat hierdie soort sensuur op ʼn verkeerdelike interpretasie van die taalbeleid neerkom.

Die US is een van die laaste openbare universiteite wat deurgeloop het onder verengelsing. Dit is eintlik die doodsnikke van die geveg om Afrikaans stelselmatig uit alle staatsuniversiteite te werk. Al dié universiteite het eintlik ook maar op presies dieselfde manier verander – onder die vaandel van verdraagsaamheid, diversiteit en inklusiwiteit.

Die argumente teen die gebruik van Afrikaans in staatsuniversiteite is dat die gebruik daarvan neerkom op onverdraagsaamheid en die uitsluiting van diegene wat nie Afrikaans magtig is nie. Dus kom die algemene gebruik daarvan neer op ʼn soort taalmeerderwaardigheid van diegene wat wel Afrikaans praat.

Engels as algemene voertaal is daarom aanvanklik bemark in die naam van verdraagsaamheid en inklusiwiteit. Een van die ander “doelwitte” wat Engels as voertaal moet bevorder, is diversiteit – deur net Engels te gebruik, oordonder die meerderwaardige Afrikaans nie meer oor die afwesigheid van ander inheemse tale nie. Indien Afrikaans geen ruimte en aandag kry nie, word dit nie voorgetrek bo ander tale nie. Solank as wat alle tale (buiten Engels) ewe veel afgeskeep word, is almal gelyk – dit is al wat regtig saak maak.

afrikaans-sal-bly

Dié foto is in 2017 by die Universiteit stellenbosch geneem (Foto: Facebook).

Dit is die hoofstroom-boodskap en -narratief wat nie net deur die regering bevorder word nie, maar ook deur die establishment-media ondersteun is. Teenstanders van dié boodskap is ook bestempel as mense wat vooruitgang en ʼn meer regverdige openbare sfeer wil ondermyn. Die boodskap en narratief is dan nou so mooi – wie wil dan nou nie verdraagsaamheid, inklusiwiteit en diversiteit bevorder nie?

Een van die belangrikste vaardighede in vandag se wêreld is egter om te kan onderskei tussen dit wat die narratief sê en dit waarop die narratief neerkom.

Die US se taalbeleid en al die ander bewegings om staatsuniversiteite te verengels is nie verdraagsaam of inklusief nie en bevorder beslis nie diversiteit nie. Dit is eintlik net ʼn blatante vorm van taalmeerderwaardigheid. Deur Afrikaans te vertrap en net Engels te gebruik, word géén van die inheemse tale in vooruitgang ingesluit nie. Deur net Engels te gebruik word taaldiversiteit waarvolgens mense eintlik leef en kommunikeer, vernietig. Deur net Engels te bevorder, word die bevordering, gebruik en koestering van geen ander taal in die openbare ruimte verdra nie. Tog is dié beleid “inklusief”, “divers” en “verdraagsaam”.

Stellenbosch is egter nou reeds in die doodsnikke van die geveg. Feitlik alle ander staatsuniversiteite het reeds volledig verengels of is sterk op pad daarheen. Hoewel Afrikaans nog teoreties by die US beskikbaar behoort te wees, het hy dieselfde beleid wat Afrikaans by al die ander universiteite uitgewerk het (asook die politieke motivering om dit te doen). Dit beteken dat die uiteinde van die beleid reeds bekend is en eintlik maar onvermydelik is – veral gegewe die politieke druk wat hierom bestaan.

Dit beteken dat ʼn mens eintlik ʼn onbegonne, verlore stryd veg – wat regtig hartseer is. Dit is elke keer hartseer wanneer verengelsing by ʼn staatsuniversiteit deurgedwing word. Dit beteken egter nie dat ʼn mens dit nié moet beveg nie. Al is dit net uit beginsel móét ʼn mens hierdie verengelsing teenstaan as jy ruimte en respek vir jou taal wil hê. Bloot omdat dit die regte ding is om te doen. Dan vertraag die teenstand wat gebied word ook natuurlik die proses. Hoe langer Afrikaans by die universiteit beskerm word, hoe langer het moedertaalsprekers die voorreg en reg om in hulle eie taal te kan studeer.

Dit kan ongelukkig net nie die enigste plan wees nie. Verengelsing in die openbare sfeer is onafwendbaar – nie net in staatsuniversiteite nie, maar ook in ander sfere van die samelewing. Die regeringsgroepe het regtig nogal, ondanks alles wat hulle sê, nie vreeslik baie ontsag vir die bevordering en beskerming van inheemse tale nie. Hoewel hulle aktief antagonisties teenoor Afrikaans is, skeep hulle ook regtig ander inheemse tale blatant af. Hulle doen feitlik niks vir die opheffing en bevordering van grootskaalse moedertaalonderrig of die gebruik van meerderheidstale in enige streke in die land nie. ʼn Verengelste en homogene prentjie is eerder die een wat hulle telkens najaag.

Daarom moet taalgemeenskappe self met oplossings vorendag kom. Enigiemand wat sy of haar taal beskerm wil hê, gaan self veilige ruimtes en instellings daarvoor moet skep. Dit is binne hierdie instellings waarin daar juis ruimte vir die inklusiwiteit van inheemse tale sal plaasvind. Dit is juis binne hierdie ruimtes waarin alle tale en kulture nie net verdra sal word nie, maar ook gevier sal word.

Sol-Tech se nuwe Monumentpark-kampus bly ʼn lewende voorbeeld hiervan. Dit is hoe dit lyk wanneer ʼn gemeenskap sy interne kulturele selfvertroue en energie omskakel in tasbare oplossings. Dit is hoe dit lyk wanneer gemeenskappe besluit om nie verswelg te word deur die regering se verengelste homogeniteit nie. Dit is hoe dit lyk wanneer ʼn gemeenskap opstaan teen uitsluiting, stigmatisering, onverdraagsaamheid en verdrukking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Kan ek vir “our People” vra om ook asseblief nie afrikaans te vra vir n geldjie nie? Of praat en hoor ons net selektief afrikaans?

JohanR

US was altyd wel bekend vir sy koor, en daai koor kon sing in Afrikaans dat jou voete juk om te tikkie draai, en jy kry sommer soe LEKKER. Is tyd dat die hoer gesag van die universiteit ‘n booDskap uitstuur dat daar is 11 AMPTELIKE taale in SA en jy kan enige van daai 11 talle praat en sing net waar en waaneer jy wil. Is nie 10 taale, en daar doer in die agtergrond iewers is AFRIKAANS!

Ben

Elke woord hiervan (net name verander) klink vir my netso van toepassing op staatskole … Nou sou mens graag wil hoor waar soortgelyke beroepe op steun vir CVO-skole gemaak word as vir Soltech. Die stigters van die CVO-skole is al meer as 25 jaar daarmee besig. Watter erkenning gee Maroela Media en Pretoria FM regtig? Vertel ons asb. Waar is die “voorvegters” se kinders? Staatskole – die Afrikanerhaters se sosialistiese staatseiendom – wat “ons mense” help staande hou met tyd en geld vir die Lesufi-bende en meelopers. Dis vrywillige dubbele belasting -betalers vir die staat-stropers nie waar nie? Watter selfhaat… Lees meer »

Sarel

Wzt my in elk trots maak.op al hierdie gebiede ons Afrikaners kan Engels praat , lees en skryf terwyl.die
Engelse nie Afrikaans kan of wil.verstaan nie. Sonder
Hoogmoedig te klink dit wys mos nou vir jou wie is beter
Toegerus.

Samuel

Afrikaanssprekendes het deur die jare té maklik ingegee vir Engelssprekendes.