Nuuskommentaar: Entstof-saak ʼn beginselsaak  

(Argieffoto: Unsplash)

Solidariteit en AfriForum het hul hofsaak teen die regering oor entstowwe teruggetrek nadat die regering in sy hofstukke bevestig het dat daar geen statutêre beperking op private rolspelers se aankoop van Covid-19-entstowwe is nie.

Talle kommentators meen nou dat die hofsaak nie eintlik saak maak nie, omdat entstofverskaffers tans net aan sentrale of federale regerings verskaf. Private rolspelers en provinsiale regerings kan buitendien nie nou self entstowwe aankoop nie, al mag hulle.

Hierdie hofsaak is egter steeds ʼn belangrike beginselsaak.

Die regering het dit so lank moontlik laat sloer om totale deursigtigheid oor die proses te gee. Selfs rolspelers soos Business Unity South Africa (Busa) wat by regeringsgesprekke betrokke is, het gekla oor ʼn tekort aan deursigtigheid. Veral tydens die hele proses van entstofverkryging – niemand was ooit werklik seker hoe regeringsgesprekke met watter entstofverskaffers vorder nie. Daar heers steeds onsekerheid oor wat presies dit beteken wanneer die regering sê dat hy ʼn sekere aantal entstowwe “verseker” het.

Die regering het ook sleg gekommunikeer oor óf private rolspelers enigsins entstowwe gaan mag aankoop. Solidariteit en AfriForum het aanvanklik eers duidelikheid hieroor in ʼn amptelike skrywe gevra. Die regering het egter versuim om die brief te antwoord, wat AfriForum en Solidariteit hof toe gedwing het vir klarigheid.

Dit beteken dat die regering so lank moontlik onduidelikheid oor dié kwessie wou laat voortduur. Vandat die regering oor die entstof begin praat het, het hy gesê dat hy die enigste aankoper van die entstowwe gaan wees. In sy repliek op die staatsrededebat het pres. Cyril Ramaphosa bevestig dat die regering die alleenaankoper van die entstowwe gaan bly.

Dit is waar dat die regering se uitsprake nie op ʼn statutêre verbod neergekom het nie. Die regering was egter glad nie eerlik en deursigtig oor die hele proses nie. Minister Zweli Mkize het ook by verskeie geleenthede genoem hoe hierdie entstofplan die perfekte toetslopie vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal wees.

Dit beteken dat die regering so lank moontlik hierdie sentrale aanslag wou neem. Indien hy verwarring kon veroorsaak deur swak kommunikasie, kon hy in die tussentyd aangaan met sy NGV-toetslopie.

Die regering het dus sy politieke mag gebruik om onsekerheid oor die stand van sake te bewerkstellig – juis om sy eie planne te bevorder. Vir ʼn lank het niemand met sekerheid geweet of ons wel net aan die regering uitgelewer gaan bly nie. Dit is nie uit diepliggende boosheid gedoen nie, maar eerder uit ʼn ideologiese obsessie met sentralistiese beleid soos die NGV.

Met die regering se baanrekord van wanadministrasie, onbevoegdheid en korrupsie is dit belangrik om minstens die ruimte te hê vir die privaatsektor en burgerlike samelewing om na hulself te kan omsien. Veral in ʼn krisis soos dié een. Daar kan nie net ingrypende beleidsrigtings ingeslaan word sonder enige teenstand of bevraagtekening nie. Ons moet die spasies waarin ons wel kan beweeg soveel en groot as moontlik hou – juis vanweë die regering se slegte baanrekord.

Die een ding wat die regering reg deur verlede jaar gedoen het, is om so terloops te regeer en te “wetgee”. Onder die vaandel van die ramptoestand het die regering verreikende reëls ingestel – dikwels sonder enige waarskuwing. Sodoende het Ramaphosa se “with immediate effect” een van die mees gevreesde en gevaarlike frases geword. Die nasionale koronavirus-beheerraad het die rol van wetgewende en uitvoerende gesag oornag oorgeneem. Sodoende kon die regering ingrypende veranderinge aanbring sonder die nodige konsultasie, prosesse, wigte en teenwigte as beheermaatreëls.

Juis in die lig hiervan is dit kritiek belangrik om die regering deurlopend aanspreeklik en deursigtig te probeer hou. Wanneer die regering iets doen, moet hy kan sê op grond waarvan, deur watter wetgewing en wat die omvang en duur daarvan gaan wees. Indien ons die regering nie aanspreeklik hou nie, gaan hy bloot voortgaan met sy ideologiese en beleidsambisies.

Die regering het immers ʼn vreeslike swakplek vir groter en meer gesentraliseerde mag – daar waar hy kan, sal hy dit graag neem.

In een of ander stadium gaan private verskaffers wel entstowwe kan begin aankoop. Hoewel vraag nou uitsonderlik groot en aanbod redelik beperk is, gaan dit ook nie vir ewig die geval wees nie. In hierdie stadium lyk dit asof entstofverskaffers net nie aan private rolspelers of provinsiale regerings gaan verskaf totdat die federale en sentrale kontrakte afgehandel is nie. Dit beteken dat federale en sentrale regerings nou die enigste kontakpunte is, maar nie noodwendig vir ewig gaan wees nie. Dit is dan belangrik om sekerheid te hê oor die statutêre stand van sake.

Sodoende maak dit nou nie sóveel saak of private rolspelers nóú entstowwe kan aankoop nie. Dit is belangrik om die regering te herinner dat hy nie net die NGV-toetslopie sonder vraagtekens en teenstand gaan kan deurdruk nie. Dit is belangrik om ons spasies te beskerm, sodat ons ten minste die opsie het om na onsself om te sien. Indien ons nie eers dié spasies het nie, gaan ons volledig van die regering afhanklik wees – dit is nie noodwendig iets wat ons wil hê nie. Ons weet hoe die regering se geskiedenis van bestuur lyk – entiteite soos Eskom en SAL is enkele voorbeelde van die regering se onvermoë om ʼn moderne land suksesvol te bestuur.

Dit is in die lig hiervan dat die burgerlike samelewing die regering konstant aanspreeklik moet hou. Die regering gaan nie sommer sy eie mag beperk of homself aanspreeklik hou nie. Die regering se geskiedenis van onbevoegdheid en wanbestuur maak ook dat ʼn mens so min as moontlik van hom afhanklik wil wees.

Indien ons so goed as moontlik uit hierdie krisis wil tree, gaan hierdie verantwoordelikheid op ons skouers val. Daarom moet ons vir onsself soveel as moontlik ruimtes en opsies gee om so regeringsbestand as moontlik te wees. Ons gaan nie die regering net kan regruk of op ʼn beter trajek stuur nie. Daarom moet ons net spasies hê waarin ons van hom onafhanklik kan wees. Dit is vanuit hierdie weerbaarheid wat ons nie saam met die regering sal misluk of verbrokkel nie, meer eerder sterk en selfstandig bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Baardman ·

Viva AfriForum en Solidariteit. Enigste 2 organisasies wat vir ALMAL in SA baklei, en gereeld wen. Ek sou almal aanraai om by een of albei van die organisasies aan te sluit om sodoende hulle bedingingsmag te vergroot.

Jacobus ·

Het dit so gehad – maar die mate waartoe regering hom aan geen uitspraak steur nie ís kommerwekkend. Weens hulle eie onvermoë om iets uit te voer moet tóg ‘n skrale troos wees vir ons arme agterdogtiges

JohanR ·

Se weer as daar gedink word dat die ANC doen ietsie wat onregverdig is gaan dadelik hof toe. Moenie nog met hulle sukkel of redeneer nie….gaan hof toe!

Karel Kobus Kruger ·

Die privaatsektor hoef nie ter wille van my haastig te wees nie. Ek sal die spulletjie eers op n afstand dophou voordat ek in die ry gaan staan.

Baardman ·

Hoe gouer die privaatsektor aksie neem, hoe gouer keer ons terug na normaal. Dankbaar AfriForum en Solidariteit is betrokke. Daars nie n ding soos die”nuwe normaal” nie. Normaal beteken vryheid vir almal, sonder ‘n regering wat beperkings plaas op ekonomiese vooruitgang, vryheid van beweging, ens, ens

Dries ·

Afriforum moet navorsing doen vir ware entstof en dit dan probeer aankoop en versprei onder ons mense

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.