Nuuskommentaar: “Ere-diplomaat” Zuma versus die IS

Die ontstellende foto van 'n sewejarige seuntjie van Australië wat die afgekapte kop van "die vyand" vashou. Die seuntjie se pa, Khaled Sharrouf, Australië se mees gesoekte terroris, het die foto op die internet gelaai Foto: Twitter

Die ontstellende foto van ‘n sewejarige seuntjie van Australië wat die afgekapte kop van “die vyand” vashou. Die seuntjie se pa, Khaled Sharrouf, Australië se mees gesoekte terroris, het die foto op die internet gelaai Foto: Twitter

Pres. Jacob Zuma is sedert die algemene verkiesing só uit die openbare oog dat dit byna lyk of die ANC ‘n staatsgreep teen hom uitgevoer het om sy rol te beperk tot “ere-diplomaat” en om hier en daar ‘n seremoniële funksie te verrig.

Vandag is Zuma egter in die nuus – die appèlhof hoor weer ‘n aansoek van die DA aan oor die sogenaamde Zuma-bande wat in teorie die president sy dag in die hof, en sy jis in die tjoekie kan besorg. Zuma het dié week sy erg uitstaande verslag oor Nkandla aan die parlement oorhandig na die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) sy verslag voltooi het en die weerlig daarvan eers elders, veral die argitek en die departement van openbare werke, gepiets het.

Een kommentator meen dis heel waarskynlik dat die SOE so ‘n groot siviele eis teen die argitek ingestel het om hom te dwing om met die sak patats vorendag te kom oor wie die werklike opdraggewer was.

Maar nie een van die groot Afrikaanse koerante verwerdig hulle vandag om ‘n hoofartikel of rubriek aan Zuma af te staan nie. So amper of Zuma nou nie meer saakmakende nuus is nie. Nuus wel – Die Burger het ‘n voorbladstorie oor Zuma – en rubriekskrywers sal stellig nog weer opvang wanneer die omgewing vir nuusmededinging minder is. In dié stadium het die hoofredaksies besluit die kosbare ruimte vir redaksionele kommentaar word beter in beslag geneem deur die afloop van die Griekwastad-moorde (Volksblad), Saru se verlenging van Jurie Roux se kontrak terwyl daar regsprosesse in die weer is (Beeld) en Gwede Mantashe se meer bemoedigende woorde aan boere (Die Burger).

Net die tyd sal leer of Zuma weer in al sy regerende “glorie” sal terugkeer. Daar is inderdaad nou belangriker sake wat rubriekskrywers se grysstof moet beproef.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het pas gesê die omvang en sterftes van die ebola-virus word erg onderskat en joernaliste wat die Russiese humanitêre konvooi na Oos-Oekraïne vergesel het, berig van vroeg vanoggend af dat ‘n konvooi van 23 Russiese gepantserde voertuie voor die vragmotors met humanitêre hulp oor die grens geglip het. Indien dit wel so is, kan die stryd verder internasionaliseer. Wanneer daar ‘n skietstilstand in Gasa is wat darem hou, val hierdie gebied uit die internasionale media se oorversadigde net, terwyl die probleem heel duidelik nog baie ver van opgelos is.

Waarskynlik die grootste menslike ramp met langtermyngevolge speel hom nou in Sirië en Irak af, waar die IS (voorheen ISIS) ‘n kalifaat uitgeroep het en die mees onmenslike wreedhede verrig.

‘n Foto op die internet waar ‘n IS-stryder met die IS-kalifaat se vlag op die voorgrond, sit, en die Withuis op die agtergrond, het Amerikaanse Kongreslede bekommerd dat die IS die terreur wat dit nou in Irak en Sirië saai, na die VSA en ander wêrelddele kan uitvoer. Dié saak word breedvoerig in die Christian Science Monitor onder die loep geneem.

Die IS beskou na berig word die Amerikaanse inmenging in die terreuropmars, deur die lugbombardement van IS-stryders as ‘n oorlogsverklaring.

Ook ander Westerse lande het reeds logisties begin bydra tot die poging om die IS se uitwissingspogings van minderhede, veral die Yazidi’s, te stuit. Die IS beskou die Yazidi’s as duiwelsaanbidders.

Die IS se geledere word aangevul deur talle westerlinge, veral jong mense van Islamitiese herkoms, wat uit hul lande soos Nederland, Brittanje en Frankryk, glip om as “jihadstryders” aan die kant van die IS te gaan veg.

Die IS is besig om die wêreld te skok: in Australië het een jihadstryder ‘n foto op die internet geplaas waar sy sewejarige seuntjie die afgekapte kop van ‘n vyand vashou.

Die IS het uit Al Kaïda ontstaan, maar is uitgeskop omdat hulle te erg geword het. Nogtans het hulle iets vermag wat Al Kaïda self nog nooit kon vermag nie, naamlik om beduidende stukke grond te beset.

Toe die domino-rewolusies van die Arabiese lente ook Sirië bereik het, het kenners dadelik gewaarsku dat sou pres. Bashar al Assad se bewind ‘n ruk lank kan stand hou, sal die opstand teen hom deur radikale magte gekaap word. Dit is blykbaar presies wat gebeur het. Die pro-demokratiese opstand het nooit entoesiastiese ondersteuning van minderhede soos die Christene gekry nie, juis uit vrees dat ‘n nuwe bedeling aan hulle ‘n nog korter lootjie sou besorg as die Assad-bewind waar minderhede ‘n mate van beskerming geniet het.

Na berig word, is daar nou baie min van die pro-demokrasie-alliansie oor. Hulle het mettertyd nie net teen Assad se magte moes veg nie, maar ook teen Isis (wat nou as IS bekend staan). Dit is as ‘n burgeroorlog binne ‘n burgeroorlog beskryf. Pas het die IS nog twee Siriese dorpe aan die Turkse grens in Sirië by die pro-demokratiese rebelle afgeneem.

In Westerse lande is lank reeds ‘n klimaat geskep, onder meer deur gewilde webwerwe, waar die vorm van Islam wat die IS handhaaf, geïdealiseer word. Dit staan in skrille kontras met die sekulêre karakter van die Westerse lande waarin hulle woon. Hulle is dikwels werkloos, en glip hul gasheerlande uit om by die IS aan te sluit. Hier word hulle nie net in terreur opgelei nie, maar erg gebreinspoel. Na hul “diensplig” keer hulle, gewoonlik werkloos, na die Westerse lande terug, die ideale sogenaamde “sleeper agents”.

En dit is juis hier waar die gevaar lê. Hulle is burgers van daardie Westerse lande – hulle hoef dus nie vir visums aansoek te doen om die lande waar hulle terreur kan pleeg, binne te gaan nie. Hulle hou paspoorte en identiteitsdokumente van daardie lande.

Met die skielike opmars van die IS in Irak, het die VSA erken dat sy intelligensie oor dié bedreiging gebrekkig was. Dit is sedertdien skerp opgeknap. Dit neem egter steeds tyd om so ‘n tipe bedreiging te ontleed, en veral om profiele van moontlike internasionale terroriste uit hierdie geledere op te stel. Boonop kan die oog nie van bestaande bedreigings uit ‘n soortgelyke dampkring uit die oog verloor word nie, en hulle is heelwat. Al Kaïda is nog ‘n deeglike bedreiging, en speel nou in veral Jemen ‘n groot rol waar ‘n faksie ook die Suid-Afrikaner, Pierre Korkie, ontvoer het. Dan is daar die Taliban, Al Shabaab en Boko Haram om ‘n paar voorbeelde te noem, en ook groepe uit Tsjesnië en Dagestan. Hamas kan ook nie uit die oog verloor word nie.

Sal die IS ‘n bedreiging kan inhou wat Al Kaïda ten spyte van beloftes nie kon inhou nie?

Die IS het benewens die voordeel dat hy oor “troepe” beskik wat in hul teikenlande kan “wegsmelt,” – baie soos die Tsjetsjniese terroriste, wat vlot Russies kan praat en soos die Russe lyk – ook die voordeel dat die Westerse intelligensiedienste se profiele nog volledig ontwikkel moet word.

Volgens van die jongste berigte is daar nou ook ‘n stroom jong Koerde in diaspora wat na Irak se Koerdistan reis om die Koerde teen die IS te help beskerm. Hoewel dit in die meeste Westerse lande onwettig is om in vreemde weermagte te dien, word dit oogluikend toegelaat soortgelyk as wat mense toegelaat word om diens in Israel se weermag gaan doen.

Hou die IS ‘n gevaar vir Suid-Afrika in?

Met die Golfoorloë het ‘n aantal Suid-Afrikaanse Moslems ook na Irak gegaan om aan die kant van Saddam se magte te veg. Die Suid-Afrikaanse Moslems toon ook groot solidariteit met Hamas. Kort-kort is daar berigte oor Al Kaïda wat logisties van Suid-Afrika gebruik maak en selfs basisse sou hê.

Dit is byna ondenkbaar dat daar nie minstens ‘n paar enkelinge sal wees wat die “romantieke” roepstem sal hoor en gehoor gee, en by die IS sal gaan aansluit nie. Wanneer hulle na Suid-Afrika terugkeer sal hulle sterk gebreinspoel wees teen die sekularisme wat in Suid-Afrika vaardig is.

Intussen is die eerste brandende vraag of Suid-Afrika die dowe oor en blinde oog durf bly draai na die verskriklike lot van Christene, Yazidi’s en ander minderhede wat wreed deur die IS vervolg word? Waar vroue en kinders in die berge vasgekeer sit, sonder kos en water, en kinders sterf omdat hulle boomblare en bas eet. (Volgens die jongste berigte is hierdie groep se lot al aansienlik verlig).

Waar vroue en kinders vermoor word, onder meer deur hulle lewend te begrawe, omdat hulle godsdienstig uit pas met die IS is.

En elke land wat deelneem aan die humanitêre pogings om die slagoffers se lot te verlig, ook tot vyande toegevoeg word wat sal moet wakker loop vir ‘n nuwe bedreiging van internasionale terreur.

Moet Suid-Afrika se “ere-diplomaat” nie eerder sy aandag van Gasa, waar hy nie eens ‘n simboliese bydrae kan lewer nie, verskuif na die “kalifaat” nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barry Saayman ·

@ Meneer Herman Toerien.

Dit is die beste stukkie joernalistiek wat ek in jare in Afrikaans gelees het.

Jy is in voeling met brandpunte in die res van die wêreld. Ek voel dat die redaksies van Afrikaanse hoofstroom koerante hulle lesers benadeel deur wêreldgebeure meestal oppervlakkig te dek.

Adriaan Marthinus van der Westhuizen ·

Die Universiteit van die Vrystaat wil nou ‘ eredoktersgraad aan Mnr Pellan Jordan toeken. Ek wonder is dit nou omdat hy so goed met sy prestasies wat hy nie behaal het nie gepronk het. Prof. Jansen wil seker sy vriend hiermee beindruk. Skande!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.