Nuuskommentaar: My erfenis is vir my mooi

voortrekkermonument“Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”

Met dié woorde van Dawid het Radio Pretoria gister op Erfenisdag sy nuuskommentaar ingelui. Die Psalmdigter, Dawid, het God se seën op die volksgenote wat trou aan die Here was, in ‘n gedig as Psalm 16:6 in die 1953-vertaling so bewoord.

Vanjaar is ‘n ryk erfenisjaar vir Afrikaans en die Afrikaner. Dit is vanjaar 80 jaar sedert Afrikaans sy eerste Bybelvertaling gekry het – nie net ‘n besondere prestasie in terme van die hoeveelheid werk en kundigheid wat daarin gegaan het nie, maar die stempel van Totius is duidelik in die byna melodiese woordkuns te bemerk.

Voorts vier die Vrouemonument sy honderdste bestaansjaar, en die Groot Trek sy 175ste herdenking.

Drie afsonderlike gebeure, maar wat die Afrikaner se gebondenheid om met God hand aan hand die toekoms tegemoet te stap in gemeen het – selfs as dit moet kaalvoet die Drakensberge oor.

Tog is daar oproepe dat almal moet saamspan om ‘n nuwe erfenis te skep.

Om ‘n nuwe erfenis te wil skep beteken daar moet iets fout met die bestaande wees, of dat die bestaande uitgedien is.

Maar as daardie erfenis mooi is en die Here behaag?

Die gevaar bestaan dat ‘n mens die Bybel kan manipuleer om gewig te verleen aan wat ‘n mens graag self wil sien.

Kom dit egter by die Christelike erfenis van die Afrikaner, soos suiwer geïnspireer en uitgeleef uit die volle konteks van die Evangelie, kan dit tog nie wees dat iemand ‘n nuwe erfenis wil opeis nie. Dit is wel so dat daar vlekke op die geskiedenis van ons erfenis gelaat is – ons is immers mense en geen mens, nie eens een, is sonder sonde nie. Maar as daar ‘n vuil kol op ‘n kledingstuk kom, word probeer om dit skoon gewas te kry, en word daarna versigtig te werk gegaan om te keer dat daar weer vlekke kom. Iets word nie sommer net weggegooi nie.

Maar as ‘n erfenis versaak móét word, moet dit waarmee dit vervang word immers beter wees.

As na die jongste misdaadstatistiek gekyk word, moet daar nie eerder gevra word of dit nie nodig is dat die waardes van die Christelike erfenis herstel moet word, eerder as dat ‘n nuwe gevind moet word nie? Dit is immers iets wat, volgens Suid-Afrikaners se eie aansprake, 80% van die bevolking kan deel sonder om die verskillende volke se kultuureie erfenis te moet inboet.

Het die nuwe erfenis nie reeds genoeg skade aangerig nie? Aborsies, dobbel en pornografie is gewettig, korrupsie ruk hande uit, ‘n waardestelsel vir die voorsiening van basiese dienste is daarmee heen en vele meer adem beslis nie die gees van ‘n Christelike erfenis nie. Omvangryke rassediskriminasie vind plaas en word ab infinitum goedgepraat en versuikerde name gegee.

Baie Afrikaners voel soos vreemdelinge in hul eie land, volgens ‘n onlangse skrywe van die Hervormde Kerk toe gemeentes vir ‘n dag van verootmoediging opgeroep is. Dieselfde gewaarwording groei ook onder ander minderhede.

Daar is ook wetenskaplike gronde waarom omsigtig met die wegbeweeg van ‘n bestaande kultuur omgegaan moet word. Die sosiologie beskryf die begrip van kultuur in transito goed, waar die onbedoelde newe-effek dikwels die ontstaan van anti-kulture is soos die bendekultuur op die Kaapse Vlakte, seksuele losbandigheid wat die bekamping van Vigs erg bemoeilik, en vele meer. Die seksuele losbandigheid wat so dikwels as “dis deel van ons kultuur” opgedis word, is in werklikheid ligjare verwyder van streng stamtradisies wat in enkele gevalle tot selfs die maagdelikheidstoetse insluit. Trekarbeid het groot ontwrigting gebring – nie net aan die sloop van tradisionele waardes nie, maar ook die dubbelgesinstelsel wat weer ‘n groot rol speel in die omvang van salariseise veral op die myne, en onder sekere gemeenskappe in die landbou in die Wes-Kaap.

Die ironie is dat van die ergste vorme van kulturele verval dikwels as reg opgeëis word omdat dit glo deel van die kultuur sou wees. Die impak van dagga wat tot eise lei om dit te wettig, het weinig te make met stamtradisies. Dagga kom immers oorspronklik uit Asië. Vele vingers wys na die oorspronklike mynbase wat daggagebruik onder mynwerkers aangemoedig het wat hulle afgestomp het en onder haglike omstandighede harder laat werk het. Dis nie ‘n erfenis waarop enigeen trots kan wees nie.

Natuurlik kan die kultuurerfenis ten goede deur die goeie van ander en nuwe kulture verryk word. As dit nie so was nie was ons steeds nie aan die Christendom blootgestel nie, en het ons ook nie skrif geken nie. Dan was daar geen kerklike hervorming of latere ontstaan van die gereformeerde leer nie.

Ons sou nie geweet het van ons naaste (en ons vyande) liefhê nie.

Die geheim is om die goeie van dit wat beproef word te behou – dit wat heilsaam is. Dit wat die lelike vlekke skoon uitwas.

Oproepe vir morele herlewing is daar gereeld en daar is pragtige pogings. Pas het die minister van Justisie opnuut ‘n oproep op morele herlewing gedoen, maar dié funksie in die proses weer aan die kerke opgedra asof die staat die gesag het om take aan kerke te delegeer. Die kerke sal immers altyd ‘n opdraande stryd voer solank die regering self die proses rysmier, soos deur die manier waarop die Nkandla-skandaal hanteer word, en uitgevangde kaders bloot hersirkuleer word.

Die Christen-Afrikaner wéét hoe om sy erfenis mooi te hou al struikel hy dikwels. Deur dit te hou na God se Woord.

As dit gedoen word kan dit as voorbeeld vir ander dien. Dat ons ook Dawid se woorde ons eie kan maak. Dieselfde Psalm 16: 6 lees in die 1983-vertaling: ‘n “Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.”

Asof simbolies dat na die beproefde, goeie van ons erfenis teruggekeer moet word, lui dieselfde vers in die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling waaraan nou gewerk word soos volg: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” Dit is woordeliks dieselfde as die 1953-vertaling!

Ja, my erfenis is vir my mooi. Baie mooi.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Somerset Morkel ·

Die erfenis van die Afrikaner is onder beleg. Die grootste faktor wat dit veroorsaak, is nie die feit dat ons apartheid gehad het nie, maar dat ons ‘n sterk evangeliese erfenis het wat baie min volke beskore is. Dit maak ons sterk, veral moreel sterk, ten spyte van foute – soos die artikel hierbo tereg se.. Die vorige bestel het oudit-stelsels en verantwoordelikheidsprosesse in plek gehad wat mense wat korrup was, vasgevat het, en kabinetsministers (bv Pietie du Plessis, en ook Fanie Botha, vir wie sy privaatsekretaris die ‘rap’ gevat het, maar iemand het geboet) het in die tronk gaan sit. Ons moet egter besef dat ‘n eensydige erfenis-belewenis hier nie moontlik is nie – dit bots onvermydellik met ander se erfenis. Dit is ook God se raadsplan in werking. Boerevolk-Afrikaners wat ander rasse haat onder die waan dat hulle hul eie beskerm, is anathema.. Daarom moet hulle ook maar in die tronk sit. Gesonde Afrikanerskap is nie deel van die bestel wat hulle beplan nie.

H J Bester ·

Somerset Morkel, jou aanhef is waar in dié opsig dat ons ‘n sterk evangeliese erfenis gehad het wat min volke beskore was. Ten spyte daarvan dat dit ons moreel en andersyds sterk gemaak het bly die kwelvraag verder ook wat ons met hierdie evangeliese erfenis gemaak het – het ons dit laat verbrei soos die Bybelse opdrag dit vir ons duidelik uitspel of het ons dit sodanig vertroetel dat dit vir ons mettergaan meer kulturele en politieke waarde gehad.

Vandag worstel die kerk juis met die probleem dat bysaak hoofsaak begin raak het – het ons nie te besig geraak met die kerk van God in plaas van met die God van die kerk nie ? Is dit nie juis vanweë hierdie “sondigheid” dat ons God se toorn ontgeld nie ? Ek is van opinie dat die tyd aangebreek het dat ons weer terugkeer na die weë waarop ons sorgvry kan wandel, vertrouend op God wat vir ons die weg moet baan.

german ·

Ons staan saam om die nuwe erfenis te dien, want dit word nie uitgedien nie, maar uitgewerp.

Pauline Scholtz ·

Ek wil graag uit vind wat is die gedenk boek van die ossewatrek 1838_1938 werd oorspronklike druk van 1940

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.