Nuuskommentaar: Erfenis word weggetransformeer

Argieffoto Foto: www.saccess-project.eu

Argieffoto Foto: www.saccess-project.eu

In ’n wydlopende verklaring ter herdenking van Erfenisdag sê die FW de Klerkstigting dat die visie van ’n kloppende multikulturele samelewing met ’n mosaïek van kulture en tale wat in harmonie, verdraagsaamheid en respek saambestaan, na 21 jaar nie gerealiseer het nie.

Trouens, van die grondwetlike regte van tale en hul sprekers, kom daar dadels. Vir alle praktiese doeleindes het Suid-Afrika nou een amptelike taal, Engels.

Die FW de Klerkstigting herlei die probleem na die ANC se beskouing van die Nasionale Demokratiese Rewolusie as oppermagtig oor die grondwet.

Jan Publiek sal egter ervaar dat een woord breed oor die pad na ’n grondwetlike uitkoms gespan word – transformasie. Of gevoer tot transformanie, soos Solidariteit dit onlangs gestel het.

Die vlak waar enige rassistiese heksebrousel onder die vaandel van transformasie ingevee word en so oombliklik ’n onaantasbare, “gerespekteerde” baadjie aangetrek kry. ’n Mens hoef maar net die woord “transformasie” te gebruik, en die onreg kry engelevlerke.

Dit laat ’n bitter smaak in die mond as die US onder die vorige rektor ’n spesiale eenheid op die been bring om ’n transformasieplan, wat nié deur die raad goedgekeur is nie, te begin implementeer, maar as ’n raadslid sy demokratiese reg uitoefen en later bedenkinge opper oor alles wat onder die dekmantel van transformasie in die kookpot ingesmokkel word, word gedreig om dissiplinêr teen hom op te tree.

Al hoe meer kommentators en ontleders begin hulle nou by hierdie skrywer se ou en herhaalde standpunt voeg dat daar net te veel gevalle begin voorkom waar transformasieplanne lynreg teen die grondwet indruis. Die FW de Klerkstigting doen dit effektief nou ook goed-gemotiveerd hoewel dit die Nasionale Demokratiese Rewolusie is wat onder skoot kom. Die Stigting stel dit (ongelukkig nog net in Engels) soos volg: “It (the constitution) recognises our 11 national languages and accords them parity of esteem. It enjoins the state to develop our indigenous languages and requires government to be conducted in at least two languages at national and provincial level. It recognises the right of everyone to practise their cultures and use their languages. It accepts the right of everyone to education in the language or languages of their choice at public educational institutions. Above all, it recognises as a foundational value the right to human dignity which is inextricably interlinked with the cultural, language and religious identities of citizens. It establishes the equality of all our communities and prohibits unfair discrimination by anyone inter alia on the basis of language, race or culture.”

In gewone Afrikaans, so lyk dit, beteken “inter alia” (onder andere) hier gewoon Afrikaans het sy alie gesien.

Die Talewet word gebruik om Afrikaans, die enigste Afrikataal met ’n woordeboek vir ruimteterme, as amptelike taal van die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap te verwyder. Engels, isiZulu en Sepedi sal voortaan gebruik word. Hierdie skrywer, wat vir Maroela Media ruimtenuus skryf wat RSG ook in sy program Sterre en Planete gebruik, boikot gevolglik enige nuus van die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap.

Op kampusse word ’n bisarre veldtog gevoer om van Afrikaans ontslae te raak “om diskriminasie uit te skakel” omdat, so word geargumenteer, dit meer studente dwing om hul akademiese kwalifikasies in ’n taal wat nie hul moedertaal is nie te verwerf. In die proses word die grondwet vir ’n ses geslaan, maar meer nog die argument is vol gate omdat werklike Engelssprekendes mos nou erg onregverdig bevoordeel word. Boonop spruit die argument dat “alle” akademiese werk internasionaal in Engels geskied uit ideologiese blindheid – al voltooi ’n groot persentasie Nederlanders hul doktorale verhandelings in Engels, is daar ’n reuse skatkis van nie-Engelse akademiese werk in Nederlands en veral tale soos Duits en Spaans. Van die werke in hierdie tale is op velerlei terreine toonaangewend, soos in die arbeidsreg, internasionale reg, administratiefreg, talle tegnologiese velde, en vele meer. Vroeër het min Afrikaanse studente nie ’n Nederlandse handboek of twee gehad nie, en kon heelwat ook Duits lees. Juis noudat die internet dit meer toeganklik maak, nou moet die Suid-Afrikaanse student “verontnooslik” word deur hom tot die Engelse literatuur te beperk.

Hoe ontsettend eng en kleinburgerlik!

Voorts voer die slegs-Engels-drywers aan dat parallelle medium onderrig daartoe lei dat studente op grond van ras geskei word, en sosiale interaksie uitgesluit word. Hulle vergeet dis een ding om saam in ʼn klas te sit, maar ’n ander ding om gedwing te word om in enige verband te sosialiseer met mense wat jou taal-, kultuur en gebruike minag, en heel dikwels weens naakte rassisme jou haat weens jou velkleur. Daar is mos ander maniere om dit aan te spreek as om iemand van sy grondwetlike regte te beroof.

In ’n land waar ontevrede studente sommer R30 miljoen se skade deur brandstigting van geboue en voertuie aanrig en klasse langdurig opgeskort moet word, is dit seker “verstaanbaar” dat die owerhede en universiteitsowerhede die rug agteroor sal buig om ter wille te wees. Wie weet, dalk is hulle die volgende om onder swepe en sambokke deur te loop.

Die feit is egter hulle het nie die grondwetlike reg hiertoe nie – selfs nie eens onder ’n grondwet wat ewe bisar die reg op staking, maar nie die reg om te werk nie, erken.

Daarenteen hét diegene wat graag moedertaalonderrig wil ontvang, ’n grondwetlike reg hiertoe. Met die grondwet daaragter, is dit mos nie nodig nie, trouens, dis heeltemal onbehoorlik, dat dit ’n slagveld sal wees.

My erfenis is vir my mooi, en ek wil graag hê dat my kinders, kleinkinders en verdere nageslagte daarvan sal kan geniet.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

Bruno Stef ·

Die ironie van alles wat vandag plaasvind deur heelparty mense voorsien en gewaarsku is in die verlede .As die steeds bewusteloses onder ons tog net n Damaskus ervaring kan ondervind behoort daar n groot weerstand teen die slim bewoorde agterbakse aksies van n goed beplande aanslag te fnuik.Pasop vir die rugstekers en verraaiers in ons eie midde hulle is gevaarliker as die persone wat jou ondergang probeer bewerkstellig.

Henri Benade ·

Allerhande wonderlike menseregte. Maar hoe dit toegepas word, word ‘bereg’ deur n grondwethof waarvan die regters deur n komitee oorheers deur ANC politici uitgesoek word en dan deur Zuma uitgekies word.
“Go figure…….”

Grassie ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die FW de Klerkstigting nog die vermetelheid het om hul mond oop te maak oor hierdie aangeleentheid. Plaas dat hulle hul hoofde in skaamte laat sak.

Dan ·

Ek wil nie eers die volle berig lees nie, as jy net dit begin lees ontstaan daar klaar die vraag waar is die sogenaamde afrikaanse instansies en bewaakkers wat hulle inkomste verdien om toe te sien dat hierdie nie gebeur nie. DIT IS NIKS ANDERS BLOTE RASSISME NIE. Ons bly maar n slapgat nasie PUNT

Dirk Bosman ·

Niemand kan ons erfenis steel nie.Ons kan dit self weggooi deur argeloosheid.

Winston ·

Miskien moet ons weer n waarheids en versoenings kommissie op die been bring waartydens die voormalige nasionale party ons om vergifnis kan vra vir die bollie wat hulle (nieteenstaande talle waarskuwings) aangejaag het. Dit was duidelik dat dit nie kon werk nie. Sportgod het gewen vir die “JA” STEM. NIE OORTUIGING DAT DIT SAL WERK NIE.

Alwyn Beetge ·

Stem Bruno. Hier is baie politieke idiote onder ons.

HEVW ·

Grassie jy se dit soos dit MOET gese word. Enige organisasie of liggaam wat in die toekoms gestig word tot redding van taal, kultuur of die Afrikaner in sigself moet liefs geen verbintenis met fw toon nie, want dit plaas so n liggaan onmiddelik onder verdenking en ons beland weer in n straat wat nie n mooi naam het nie. Wonder as fw soms dink as hy maar weer dit oor kon begin, wat dink hy. Ag nouja????

Fanie ·

Ja die massa het lekker geërf. Danksy de Klerk. Vir hulle moet Hy die Hero wees, en nie Mandela of enigiemand anders nie. Hulle moet vir de Klerk ‘n standbeeld oprig, die Uniegebou afbreek, en sinke daar oprig. Dit sal eg demokraties wees, op die African manier.

Johannes Meintjes ·

Boerevolk o Boerevolk, nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande vou om uit te rus … onboetvaardig, verdeeld, lamsakkig en begriploos-eiewys al armer in alle opsigte, elke nuwe dag.

Johan 2 ·

Johannes wanneer gaan jy landuit? Jou paspoort al bestel? Of gaan jy ophou jou eie mense slegse? (FW is geskiedenis en ons moet hom erken vir wat hy was en vir die groep wat hy verteenwoordiging)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.