Nuuskommentaar: Erfenisdag – stories uit die spens

Foto: stirringthingsupblog.com

Foto: stirringthingsupblog.com

Erfenisdag of braaidag; ’n groot deel van die Afrikaner se kultuur loop deur sy of haar maag. En dis met respek bedoel.

Met die Groot Trek het die kosbaarste besittings in die wakis saamgery, en die kosbaarste hiervan was die Bybel. ’n Mens kan jou indink ’n hele klompie resepte het dalk ook die wakis gehaal.

Maar die Trekkers het ook geweet dat nie op ’n leë maag gereis kan word nie, en met die oppakslag is groot sorg gedra dat groot hoeveelhede nie-bederfbare kos ingepak is. Baie van daardie kos het so deel van die Afrikaner se kultuur geword soos biltong en koffie en beskuit. Toe die permanente opstalle opgerig is, was die spens dikwels die belangrikste vertrek. Dit is dikwels in die middel van die opstal ingerig, enersyds omdat vensters nie nodig was nie, maar andersyds sodat dit beter beveilig kon wees teen rondtrekkende kwaaddoeners.

’n Tipiese spens was, en is soms nog, ’n behoorlike skatkis. Daar is die slope met biltong en droë wors, gemaak volgens resepte wat families soms suinig bewaar het, gebêre. Die droë vrugte en vrugterolletjies is daar vir die maer, buite-seisoen gebêre. Flesse en flesse ingemaakte vrugte en ander lekkernye het ingepak langs mekaar in die rakke gestaan.

Die koekblikke met ’n vrugtekoek of wat, en kleinkoekies het ook op die rakke gestaan, van waar die kleinkoekies kliphard geroep het om die kleingoed in die versoeking te lei, en dikwels aan brandboud te ly.

Gemmerbier het in sulke groot glaskanne staan en gis, met die rosyntjies vreemd groot en opgeblaas-bleek bo-op. Soos wat die gemmerbier ouer geword het, het die glase waaruit ma of ouma vir die kleingoed skink al kleiner geword.

Uit hierdie vertrek is menige staaltjie gebore, byna almal gebore uit ’n groot versoeking en die onvermydelike kulturele platriem-gevolge.

ʼn Man van Robertson skryf by geleentheid op sy blog hoe sy ma elke nou en dan die lekkerste kleinkoekies gebak het. Dit is in twee koekblikke pak. Die een blik was vir hom en sy ouer broer, die ander het ’n slotjie gekry en was vir kuiermense. Nodeloos om te sê die knape se blik was al vergeet leeg, voor die eerste kuiermense gekom het. Intussen het daai koekies wat agter slot en grendel was die boeties behoorlik getreiter soos hulle uit die spens geroep het.

Maar ʼn broer maak ’n plan, en op ʼn dag wys ouboet watter blink plan hy gemaak het. Hy het vasgestel die boom van die koekblik word baie lekker deur die blikoopmaker oopgesny. So is die inhoud van onder geplunder terwyl ma vir die eerste kuiermense wag. En toe die dag aanbreek, ontdek ma ook hoe goed haar seuns kan improviseer.

Na die kuiermense weg is, ontdek omtrent die hele Robertson hoe hard ma kan looi. Maar, skryf die knaap. Dit was die moeite werd.

’n Kennis laat weet hoe hy en sy boeties en sussies weer ma “geflous” het met die ingemaakte vrugte. Die leë flesse is agter die volles ingedruk, maar noodwendig moes ma dit ook uiteindelik ontdek, en met soortgelyke gevolge. Maar ook dit was die moeite werd, getuig hy.

Die uwe het self by geleentheid so aan onttrekkingsimptome gelei oor die tempo waarteen tannie Monica haar kakao en tennisbeskuitjie-koekies “vrygestel” het dat die jong sjokolis die spens onregmatig betree het. Daar het tannie Monica die klein booswig betrap, maar was darem baie gaaf. Sy was mos ook eenmaal jonk.

Pa was self lief om periodiek allerlei dinge in te lê. Pa was ʼn wetenskaplike, en sommige pogings was eksperimenteel. Soos die slag by Kleinbrak toe pa wou kyk hoe werk ingemaakte rankvye (die destydse naam is nie meer politiek-korrek nie). Dit het nooit die flesse gehaal nie. Die inhoud in die drukkoker het die “melkkannetjie” afgeskiet, die pot se inhoud agterna. Die uwe, wat niks met die hele moord uit te gewaai het nie, moes die plafon skoonskrop. Maar sommige flesse met ander eksperimentele inhoud het tog die spens in Bloemfontein gehaal. Een dag is daar ’n reuseslag in die spens soos een van die flesse “selfmoord” pleeg, en soos ’n selmoordbomplanter ’n klomp omringende flesse saamneem. Ook hierdie skoonmaakproses was taaierig.

Wyle dr. Jurie Wessels se gesin word een nag wakker van slag op slag uit die spens. Die oorsaak, hul huiskat, sit op die boonste rak en eksperimenteer. Hy krap die een fles na die ander van die rak af. Na elke suksesvolle poging bekyk hy eers die gevolge onder, voor die volgende fles gepak word.

Ongelukkig is baie van die resepte van die lekkerste lekkertes saam met die baksters na die graf. Na tannie Alida se afsterwe het die uwe probeer vasstel of iemand haar resep het vir daardie dik droëwors wat sy gemaak het. Daai wat só hard geword het dat dit soos biltong gekerf moes word. Maar ongelukkig nie, en die volk is armer gelaat. Ook oom Japie se resep vir beesbiltong – daai wat hy so met sy knipmes gesny en vir sy watertand kuiermense uitgedeel het, is blykbaar verlore.

Dan was daar natuurlik ook die baksters soos wyle ouma Joey met haar “soveel gyt wil” maar wat ander nie met “soveel gyt wil” in dieselfde heerlike meesterstuk op meesterstuk geskep kon kry nie.

Gelukkig is ons kulturele erfenis baie groter as dit wat ter mage gaan. Maar net soos die geheime resepte van die verlede bewaar moet word, so moet ander erfenisse, soos ons taal, bewaar bly. Daarom is ʼn berig vanoggend in Media24 wat handel oor Afrikaans wat by Pukke onder skoot kom ná ʼn besoek van ʼn parlementêre komitee, ontstellend. Daarom was die druk op die SAUK om die Afrikaanse TV-nuus wat volgens ʼn “onomkeerbare proses” na SABC 3 migreer het, na SABC 2 met sy groter Afrikaanse voetspoor terug te kry, so belangrik.

Daarom dat steun vir Maroela Media om Afrikaans digitaal gratis beskikbaar te stel, so belangrik.

Erfenisdag, volgens die regering se webwerf, en met dank aan die AB wat dit vertaal het, behels die volgende: “Erfenisdag erken en vier die kulturele rykdom van ons nasie. Suid-Afrikaners vier die dag deur die kulturele erfenis te erken en te onthou van die vele kulture wat die bevolking van Suid-Afrika vorm. Die viering van hierdie dag is deel van ons pogings om die verdeeldheid van die verlede te heel en ‘n samelewing te vestig wat gegrond is op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en fundamentele menseregte. Kom ons gebruik hierdie dag om te beweeg na daardie visie van nasionale eenheid en kulturele harmonie.”

Erfenisdag erken dus almal se kulture. Maar in die praktyk word probeer om sommige kulture in die doofpot te plaas, soos die Media24-berig hierbo toon.

Wat weer die vraag vra oor hoe versoenbaar baie van die formele transformasieprogramme wat in die naam van die grondwet gedryf word, in werklikheid met die grondwet is.

Litigasie is begin om van die Christelike etos in openbare skole ontslae te raak. In lande waar dit gebeur het, het dit dikwels gelei tot die vervanging van ʼn Christelike etos met die etos van die ateïsme en word daar dikwels ’n verbete veldtog verder gevoer om dit oor die ganse samelewing vaardig te maak. Klik gerus hier om ʼn nuwe artikel hieroor in die Amerikaanse koerant, die Christian Science Monitor, te lees.

Om ʼn kulturele erfenis te vier, beteken nie iets moet ten koste van ’n ander se kulturele erfenis geskied nie. Die land kan gerus saam die hoed afhaal vir Zara Schmelen, gebore Hendricks, die Khoi-vrou wat byna 200 jaar gelede die Bybel in Nama vertaal het. En saam bly wees vir die groepie jongmense wat genooi is om met hul rieldans aan ’n internasionale byeenkoms in die VSA te gaan deelneem (maar ongelukkig nie die fondse daarvoor het nie).

Daarom was dit reg dat die hele land meer as net ’n oomblik kon gaan stilstaan, en baie ’n traan stort toe ta’ Grietjie van “Dis ‘n lekker ou Jan”-faam ook haar reis na haar Hemelse Vader voltooi het.

Ja, my erfenis is vir my mooi, maar nie om in die spens toegesluit te word, of eendag oor in museums te gaan oplees nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae