Nuuskommentaar: Eskom: Inligting in donkerte gehul laat ons kragteloos

Argieffoto

Argieffoto

“Wat het Suid-Afrika voor kerse gehad?” Elektrisiteit.

Die vinger is op pad na die “send”-knoppie. Belangrike inligting bestem vir iemand baie ver.

Maar soos die vinger op die muis sak, is daar eers ’n ander “kliek” en alles is donker.

’n Bakster wat haar bestaan maak uit die bak van beskuit se nuwe mengsel is net ’n halfuur in die oond, en die “kliek” beteken duisende rande se skade.

Om tot vier ure lank in ʼn hysbak te sit wanneer die krag afgaan, is geen pret nie.

Dis beurtkrag, of miskien meer korrek, jou beurt sonder krag. Dikwels met duisende rande skade.

Hier en daar wonder mense of koopkrag, wat vooraf aan verbruikers verkoop word, wél verkoop mag word as die lewering van die produk nie werklik gewaarborg kan word nie.

Eise aan munisipaliteite laat die parlement die week na die aanbreek van die Kersreses weer bymekaar kom.

Na ʼn naweek van groot ontwrigting en miljarde rande se skade word die bevolking beloon met ’n versekering dat beurtkrag tot Woensdag afgeweer is weens die “blaaskans” om reserwes op te bou. Maandagoggend slaan die beurtkrag weer toe.

Maar, verduidelik Eskom se grootbaas in ’n “openhartige” mededeling aan die media, Eskom beleef geen krisis nie. Eskom het wel ’n krisis om genoeg krag te voorsien, maar Eskom self het nie ’n krisis nie. “Go figure.”

Minstens word erken dat Eskom oor die jare ’n jarelange agterstand met onderhoud opgebou het.

’n Ope geheim is minstens nou op die lappe. Toe voorsiening gemaak moes word, is die ore toegedruk en op ander sake gefokus. Die vingers wys meestal na die regering, wat boonop diegene wat die waarskuwings gerig het, as alarmiste afgemaak het.

Die harde werklikheid is dat die horlosie nie teruggedraai kan word nie. Die land sit nou met die gebakte pere (wat ten spyte van beurtkrag tog gaar geword het), en dit gaan tyd neem om die nuwe kapasiteit op te bou. En dit gaan peperduur wees, veral weens rojale pakkette vir uitdienstreding van grootbase, die koste van kernkragsentrales, kragdiefstal, onbetaalde rekenings van munisipaliteite, peperduur Eskom-“spanboue” en die liewe stakings. Soos Medupi wat al ’n jaar gelede in bedryf moes begin kom het.

Die miljoene onwettige immigrante gebruik ook sekerlik nie geen krag nie.

Burokrasie skep skynbaar ’n slagveld vir privaat inisiatiewe om op groot skaal in die elektrisiteitsvoorsieningsbedryf betrokke te raak. Tog skiet private inisiatiewe oral in die land op, en bymekaar gesit moet hul bydraes met sonkrag, windkrag en klein hidro-opwekkers al aansienlik wees.

Daar is bykans niks wat nie met elektrisiteit werk nie. Tot die eerste generasie waterstofmotors soos die Toyota Mirai gebruik die waterstof om elektrisiteit op te wek sodat die motor eintlik ’n elektriese motor is wat skoon waterdamp afgee.

Die landingstuig, Philae, wat tien miljoen kilometer na ’n komeet gereis het, kon net ’n paar uur werk omdat sy sonkragpanele in die skaduwee beland het. Saterdag is die Nasa-tuig onderweg na Pluto, New Horizons, uit sy finale “winterslaap” gewek nadat dit tot 200 miljoen kilometer van Pluto gevorder het, en nou met sy werksaamhede moet begin.

Bitter min tegnologie is nie van elektrisiteit van die een of ander aard afhanklik nie.

Maar in Suid-Afrika is daarin geslaag om die toekomstige behoefte aan krag te onderskat. Reuse afvaardiging op nog groter afvaardiging het na al wat geleentheid in die wêreld gereis om buitelandse beleggers te oortuig om in Suid-Afrika te kom belê. Onder meer met beloftes van ’n oorvloed goedkoop krag.

ʼn Behoorlike kommunikasiestelsel sal opgebou moet word om kragverbruikers betyds te waarsku dit gaan hul beurt wees as beurtkrag ingestel gaan word, veral sodat sensitiewe toerusting vooraf afgeskakel kan word, en die baksters nie pas duisende rande se deeg in die oond gesit het nie. En die trappe eerder as die hysbakke aangedurf word. Die radio is miskien die doeltreffendste manier, wat die meeste mense sal kan bereik, maar nie almal kan en mag radio by die werk luister nie.

Maar dié wat mag en kan, moet ook luistervaardighede aanleer en wanneer die boodskap kom, ander kan waarsku.

Want so kan dit regtig nie aangaan nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Herman Toerien ·

Dankie Henrietta. Ons jongste (reeds 21) is outisties en sy venster na die lewe, veral noudat sy judoklasse en ander terapie vir die jaar klaargemaak het, is deur die TV. Dis moeilik. Eers kom ons agter ons is in die dog box omdat ons krag koop en nou het ons nie krag nie – moet dus ons fout wees. Toe maar weer verduidelik van die “stoute oom in Johannseburg.” Sondag, op sterkte van Eskom se mededeling, troos ons hom daar sal nie beurtkrag voor Woensdag wees nie. Maandagoggend is dit weer so. ‘n Mens moet regtig hard aan jou eie geloofwaardigheid werk as die inligting so verkeerd verskaf word.
Een van die baksters waarna ek verwys het, het baie jonk weduwee geword. Onlangs, na sy ‘n deel van haar kleinhoewe afverkoop het, kon sy die huis laat regmaak. Die Saterdag is sy by die boeremark om beskuit te verkoop, toe die krag afgaan met die baksel daarin, Die hulp sien die krag kom nie aan nie, en gaan huis toe sonder om die stoof af te sit. ‘n Ruk later kom die krag aan. Kortom, die stoof is verwoes, die plafon swart gerook, ander skade, in totaal van sowat R23 000. Elke baksel wat platval, is sowat R3 000 skade. En sy luister omtrent pal radio, maar die inligting is of nie betyds nie, of nie reg nie. So ver ek kan agterkom verander die grense van die sones wat beurtkrag kry ook. Nou hou ‘n mens die sone se skedule dop, maar die krag bly aan. Wanneer die volgende sone aan die beurt kom, en die gevaar verby is, is mens skielik in ‘n ander sone en die krag is af. Dit beteken in effek ‘n mens het nou twee sones se tyd nie kon werk nie.

Henrietta Klaasing ·

Dit is SO hartseer om van mense se belewenisse te verneem, en dankie vir jou openhartigheid oor jul seun, Herman. Ons het ook goeie vriende wat sonder enige staatspensioen, net van hul bakkery se inkomste afhanklik is, met twee kinders wat met die inkomste op Universiteit gehou word. Soos jy sê, dit is derduisende Rande se skade bo en behalwe al die ander implikasies vir mense wie se lewens daarvan afhang.

willie olivier ·

N baie simpel maar efektiewe manier om baie mense ui n’ panarie te red soos om vas te sit in huisbakke is om ten minste 5 minute voor n kragonderbreeking nrt die ligtee te flikker (sekonde aan en af) . Dit sal ten minste mense uit huisbakke kry ens. Of is dit ook te veel gevra?

Ant ·

Hierdie is ons werklikheid en om te kla en te hoop dit verander, gaan nie enige verandering bring nie. Ek is bly die leefbaarheids peiling wys uit daar is areas waar lewens standaard beter is. Ons enigste behoud is om in die areas wat werk bymekaar te groepeer en ons eie oplossing te kry eerder as om te wag vir die wanbestuur van die regering om dit vir ons te doen.

Cathy Kotze ·

Miskien moet daar weer na sonkrag gekyk word, veral aangesien dit duidelik word dat die koste van elektrisiteit die hoogte gaan inskiet. Die aanvanklike koste sal hoog wees, maar op die ou end sal onafhanklikheid ‘n gegewe wees.

Ons het al doer in die negentigerjare basiese son-oonde gemaak waarin mens selfs brood kan bak. Google dit!

Op die ou end gaan daar wel ‘n paar innoverende persone wees wat met blink planne vorendag gaan kom. Ek ry daagliks verby ‘n huis wat oortrek is met sonpanele en die eienaar het sommer ook vir die wis en onwis sy eie windturbines rondom die huis. Ek twyfel of kragonderbrekings hom pla.

Feit is egter dat daar groot chaos in aantog is indien ESKOM nie vinnig hulle sake in orde kry nie. Hospitale, fabrieke, kommunikasie, verkeer – om maar net ‘n paar te noem – kan tot stilstand kom.

AD ·

Al hierdie feite wat nou op paier geplaas word, is reeds in Mnr Mbeki se tyd uitgewys. Omdat Eskom uit die apartheidsera dateer, is alles van die tafel af gevee. Jy hoef nie my woord daarvoor te neem nie, maar dit is die waarheid.

Hoekom het Adams (wat so wonderlik was en groot bonusse gekry het) ewe skielik weg by Eskom? Hy het presies geweet wat aangaan en wou nnie meer die blaam dra nie.

Ek kan persone net aanraai – raak so ver moontlik onafhanklik van ESKOM.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.