Nuuskommentaar: Eskom, Poskantoor en SAL – hospitaal-“pass” vir Cyril?

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

In 2002 het min. Jeff Radebe ontken dat die regering voete sleep met die privatisering van staatsinstellings. Sedertdien het baie gebeur – onder meer het die regering ’n buitelandse maatskappy met ’n goeie rekord in die poswese wat ʼn beduidende aantal aandele in die Suid-Afrikaanse Poskantoor wou aanskaf, met ’n kluitjie in die wind weggestuur.

Die SAL, wat eens gespog het dat hy nou wel nie die vliegkuns uitgevind het nie, nét vervolmaak het, sou sonder belastingbetalersbydraes lank reeds nie meer in die lug gewees het nie. Die Poskantoor was vanjaar vir ’n hele paar maande “buite werking” met ’n staking wat ‘n groot rol gespeel het.

Elkeen weet teen hierdie tyd hoe dit by Eskom gaan.

Nou het die regering ’n regrukplan aangekondig. ’n Deel van die plan is ’n 30 dae volskaalse ingryping, met ’n beheerkamer. Kundigheid uit die private sektor word wel betrek, maar nou is daar nie ’n piep oor privatisering nie. Cosatu het hieroor die laaste woord gespreek. Die SAL word van Openbare Ondernemings na die Tesourie verskuif – ’n duidelike aanduiding dat steeds gedink word die belastingbetalers moet pa staan vir ander se brouwerk, én dat daar die nodige kundigheid in Tesourie is om die SAL winsgewend in die lug te hou.

Adjunk-president Cyril Ramaphosa word aan die stuur van sake geplaas.

Ramaphosa het die jongste tyd ontpop as Mr Fix-it. In Suid-Soedan en in Lesotho moes Ramaphosa ingryp waar pres. Jacob Zuma die wiele aan die rol gesit het, maar sake duidelik op pad was om in die dryfsand weg te sink.

Of Ramaphosa hierdie werkies kry omdat gemeen word hy kan dit doen, en of dit aan hom gegee word met die hoop dat hy misluk en speaker Baleka Mbete se kanse om Zuma op te volg versterk word, is nog moeilik om te bepaal.

Nou kom Ramaphosa voor die grootste toets van sy lewe te staan, insluitend sy verduidelikings oor sy vermeende rol in die Marikana-skietery.
Dertig dae, boonop oor die Kerstyd, is min tyd om sake enigsins geroer te kry, laat staan nog in die regte rigting te stuur. Een positiewe verwikkeling is dat Ellen Tshabalala, voorsitter van die SAUK-raad (en sonder die kwalifikasies wat sy aangegee het), uit die nuwe SAL-raad wegggelaat is. Miskien, net miskien is hier iets in te lese dat kundigheid nou meer saak gaan maak as kader-verwantskap. En wie wie se nyatsi is of nie.

Die kort antwoord is dat om te slaag, die taakspan en Ramaphosa ten spyte van Zuma se invloedsfeer moet slaag, nie danksy Zuma nie. Van die planne wat gesmee word, is voor die hand liggend. Sedert Suid-Afrika se eie gasreserwes “onverwags” vinnig opgedroog het, is die gas-kragopwekkers met diesel aangedryf. Suid-Afrika se buurland, Mosambiek, beskik oor enorme gasreserwes, maar om daardie gas per skip tot in die Suid-Kaap te kry en die gasturbines te “voed” blyk problematies te wees. Omgewingskundiges is onder dié wat vasskop, onder meer weens besoedelingsgevare. In dié stadium lyk dit of Namibië sy eie gasreserwes uit onder meer die Kudu-gasveld eers self sal benut om ’n gas-kragstasie by Oranjemund in bedryf te stel. Dit lyk nie of daar haas is om Suid-Afrika se eie gasreserwes in die omgewing te ontgin nie.

Dit lyk of ’n belangrike deel van die regrukplan nou sal wees om toe te sien dat die turbines die gas kry wat hulle verdien, waarskynlik uit Mosambiek. Hierdie kragstasies is egter ontwerp om in spitstye krag te voorsien, nie om dag en nag te loop nie. Daar kan verwag word dat die regering sy planne vir skaliegas-ontwikkeling in die Karoo sal probeer versnel.

Dit sal wonderlik wees as die staat nou uiteindelik kopgee, en privatesektordeelname in die opwekking van krag op ’n behoorlike skaal toelaat. Op die oomblik sleep die regering erg voete met die proses. Dit sal al baie help as myne krag vir hul eie behoeftes kan opwek, wat ’n hele aantal graag wil doen.

Een van Ramaphosa se moeilikste struikelblokke is dat die verantwoordelike ministers hul verantwoordelikhede behou. Ramaphosa het hulle nie aangestel nie – hulle is vertrouelinge van Zuma, en Zuma is nie daarvoor bekend dat hy noodwendig die skerpste potlode in die pakkie kies nie. Só gaan min. Tina Joemat-Persson byvoorbeeld ook ’n sleutelrol speel – ’n minister wat, soos Zuma, onlangs ’n een uit tien op die DA se verslagkaart gerky het.

Boonop word bepaal dat Ramaphosa slegs politieke toesig sal voer. Ramaphosa sal dus maniere moet vind om die ministers sywaarts te rangeer en regstreeks met die kundiges in die taakspan te kan werk en operasioneel te hou.

Dit beteken waarskynlik dat Ramaphosa enige vakansieplanne dié Kersyd op sy maag moet skryf, terwyl hy maar moet hoop en bid die ministers hou by hul vakansieplanne.

Sou Ramaphosa daarin slaag om Zuma as president op te volg, leer hy minstens nou harde lesse van wat gebeur as politici hulle doof hou vir kundiges wat waarsku oor ’n krisis wat onafwendbaar word. Hierdie nukkerige doofheid van politici in veral die Mbeki-era het die land nou miljarde der miljarde rand skade laat ly wees onder meer beurtkrag.

Selfs al sou die regering nou privatiseringsplanne met die Poskantoor en die SAL kry, sal dit nou maar moeilik gaan om kopers te vind wat aandele sal opneem – veral as die aandeelhouding hulle nie volle beheer verskaf om die nodige regruk te doen nie.

Al speel niks anders ‘n rol nie – die munisipale verkiesings kom nader. As die huidige tendens nie omgekeer word nie, gaan bitter baie ANC-raadslede hul setels verloor. Minder raadslede beteken minder owerheidsgefinansierde amptenare – dus minder kaders en maatjies wat versorg kan word. Die minder setels in Wetgewers en die Parlement wat die ANC na vanjaar se algemene verkiesing het, het reeds aan die ANC se geldsake begin krap, en daardie proses kan met die munisipale verkiesing versnel word.

Die ANC het in ’n sekere sin sy eie grootste vyand geword (soos met die Cosatu/Numsa-uitval ook blyk), en beloftes wil nie meer genoeg paai nie.
’n Groot deel van die vyfpuntplan beteken dat munisipaliteite, wat dikwels as “agente” vir Eskom optree, behoorlik moet funksioneer. Min. Pravin Gordhan is reeds met hierdie onbegonne taak besig.

Nou moet sake reggeruk word, en die gesond dokter van die drie siek kinders is die eerste stap hiervan. Dit kan Ramaphosa maak of breek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

lillian ·

Nou as Cyril Ramaposa so goed is, dank ou eierkop af en stel hom aan as president dat hy kan red wat daar nog te redde is!

pop ·

Mnr Ramaposa, Doen wat Zuma met Mbeki gedoen het. Druk hom uit. Jy het ten minste n paar breinselle wat werk. Herstel ons land asb!!!!

Rupert Ashford ·

Hy is Mr Fix-it ja. Hy is die een wat ou Roelf aan sy neus rondgelei het by die destydse onderhandelings. Hy is geen messias of vriend van witmense nie, maar met sy tyd in die politieke woestyn nadat Mbeki die leierskap gekaap het, het hy dalk ten minste in sy besigheede geleer dat dinge moet werk en dit sal al ‘n groot stap in die regte rigting wees vir SA as ons ten minste dit kan kry – dat bekwame “kaders” aangestel word. Maar moenie vergeet nie: Dit is nog steeds politiek waarvan ons praat – jy moet nog steeds genoeg ondersteuners he om te oorleef so Cyril sal nog steeds met ten minste 50% van die huidige spul opgeskeep moet sit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.