Nuuskommentaar: Eskom se twak (is nat), en die wêreld brand

kragdradeBeurtkrag is kwalik wat ‘n regerende party twee maande voor ‘n algemene verkiesing wil hê. Eskom se verweer dat die baie reën die steenkool te nat gemaak het, word redelik algemeen as twakstorie beskou, terwyl ander meen die geure dui op ‘n omvattender probleem. Die minister bevestig ook dat die baie reën nie die enigste oorsaak is nie.

Omdat baie mense die beurtkrag Donderdag aan hul eie basse gevoel het – hetsy tuis sonder krag, op reis deur dooie verkeersligte, of by werksplekke en ondernemings wat stilgestaan het, het dit vir baie die Oscar Pistoriussaak, voorlopig altans, as die belangrikste nuus van die dag verdring.

Maar Eskom is nie al rede hoekom daar nie tydens die Oscar-saak so ‘n algemene nuusstilstand geld soos na die afsterwe van oud-pres. Nelson Mandela nie. Mandela se dood het aan die begin van ‘n tyd van die jaar gekom waar nuusgebeure gewoonlik stiller raak, en die komkommertyd inlui. Die Pistoriussaak kom na die wêreld die roes van die feestyd afgeskud het en weer lustig nuus en selfs oorlog stook.

In Donderdag se Volksblad het Gert Coetzee, ‘n assistent-redakteur, in ‘n interessante rubriek die lesers laat dink oor die taak om te midde van al hierdie nuusaansprake die voorbladstories te soek, en te besluit wat as nuus heeltemal moet uitval.

In die nuusomgewing het die belangrikste nuus reeds baie verander sedert die rubriek gepubliseer is.

Eskom het sesuur Donderdagoggend, dus lank na die koerante gedruk is, ‘n noodtoestand aangekondig en beurtkrag begin toepas. Die minister sê “die regering het nog geen berigte ontvang oor skade wat aan die ekonomie aangerig is nie”.  Meer mense sou gelag het as hulle nie so kwaad was nie.

Oorstromings in dele van die land eis lewens, en rig groot skade en ontwrigting aan, en lewer ook sy verhale van dapperheid op.

Pres. Jacob Zuma is weer tydens ‘n belangrike geleentheid in die ENB-stadion in Soweto deur ‘n deel van die skare uitgejou.

Die rektor van die PUK, dr. Theuns Eloff, se aftrede word vervroeg na die beriggewing oor die “Hitler-saluut” en ‘n boikot teen Beeld van stapel gestuur is oor die wyse waarop die koerant daaroor berig het. Die Potchefstroomse kampus van die PUK word wyd as die laaste Afrikaanse kampus in die land beskou.

Amcu se staking duur al ses weke en hou ‘n optog na die Uniegebou.

Die DA nader die hof oor die e-toltariewe, en die VF Plus wys daarop dat die DA hul regsargumente gegaps het.
Julius Malema en sy EFF probeer om die enorme deposito’s om aan die verkiesing deel te neem afgeskaf te kry. Die hof het sy uitspraak voorbehou.

Dit word bekend dat ‘n hoofdirekteur van die Departement van Kuns en Kultuur ‘n opiniestuk geskryf het wat rassisme waarskynlik tot ‘n nuwe laagtepunt voer, en hy word van haatspraak beskuldig. Die regering swyg.

Verskerpte rasdiskriminerende wetgewing en wetgewing om grondeise weer oop te stel, word nou deur die parlement gevoer in wat algemeen beskou word as die speel van die rassekaart om weer van die verkiesing ‘n rassesensus te maak, en so die druk van die ANC weens swak prestasies af te haal.

In wat sommiges as die formele verklaring van ‘n nuwe Koue Oorlog beskryf, kondig pres. Barack Obama ‘n reisverbod aan vir Russe en Oekraïners wat die Oekraïne se soewereiniteit skend. Kort hierna verklaar die Krim-skiereiland se outonome parlement dat die gebied per dekreet nie meer deel van die Oekraïne is nie, maar van Rusland. Die sekretraris-generaal van Navo beskryf dit as die “naaste wat die wêreld weer aan die Koue Oorlog gekom het sedert die vorige Koue Oorlog beëindig is.”

Die Europese Unie stel weer visums in vir Russe wat die Unie wil besoek, asook ander strafmaatreëls. Verdere strafmaatreëls sal volg as Rusland nie kopgee nie. Na ‘n telefoniese gesprek van meer as ‘n uur lank tussen Obama en pres. Poetin van Rusland, reik Rusland ‘n verklaring uit waarin gesê word dat die gesprek dit duidelik gemaak het dat die twee leiers totaal verskillende beskouinge het van wat aan die gebeur is. Die VSA stuur ook 12 F-16 gevegsvliegtuie om aan gesamentlike miliêre oefeninge in Pole deel te neem in reaksie op die gebeure in die Oekraïne.

Suid-Korea kondig aan dat Noord-Korea met sy onlangse toets van kortafstand-missiele ‘n missiel deur die vlugroete van ‘n Chinese passasiersvliegtuig gelanseer het, net vyf minute voor die vliegtuig met 2002 passasiers aan boord daar verby is. Noord-Korea het nie lugbeheer laat weet dat hy missiele deur ‘n internasionale vlugroete gaan lanseer nie.

Sirië het weer nie die spertyd vir die aftakeling van sy chemiese wapens gehaal nie.

In die gewelddadige betogings in Venezuela is reeds minstens 20 mense dood – en Donderdag het twee mense, waaronder ook ‘n soldaat, die lewe gelaat. Dié land is ‘n groot olieprodusent.

Die menslike tragedies in die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Suid-Soedan duur voort en neem heelwat publikasieruimte in Westerse koerante op.

Die Paralimpiese Winterspele begin vandag in Sotsji terwyl verskeie regeringsleiers aangedui het dat hulle afgesien het van hul planne om dit by te woon.

Al hierdie nuus sou waarskynlik net plek mors in ‘n koerant as te veel van die lesers net een ding in die kop het – die Oscar-sepie. En ja, daar is mense, ook mense van wie dit nie verwag is nie, wat openlik bieg dat hulle die Oscar-sepie slaafs volg.  Vir hulle het daar weer ‘n nuusstilstand aangebreek, wat eers uit die diepvries gaan kom wanneer die Oscar-sage eendag verby is.

Maar Eskom se probleme is die een saak wat die Oscar-sepie van die verhoog af kan druk. As die krag af is, kan die TV nie werk nie. En dit dien as herinnering dat die nuus nie gaan stilstaan het nie – nuus wat ‘n mens nie werklik kan bekostig om mis te loop nie.

Maroela gaan voort om aan sy lesers hierdie belangrike nuus – al is dit buite die openbare oog, gratis te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

henryjonck ·

Geliewe

Wel,ek sukkel al 2jaar om n uitvindsel wat krag lewer sonder stoom,(waarby uraan/kernkrag,

son,wind enige bio olie,petrol of diesel gebruik,op die been te bring

Wel,die lange afspraak wat ek nou weer het,en die wat nog gaan volg sal seker nog n jaar neem

Sela

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.