Nuuskommentaar: Etzebeth, beweerde haatspraak en minderheidsregte

hande kultureel diversiteit rasse

Argieffoto (Foto: maxlkt, Pixabay)

Die geval van Eben Etzebeth is op ’n vreemde manier verbind met ’n kwessie wat al hoe sterker in die Brexit-saak na vore tree, en ook met die nasleep van die ou landsvlag se haatspraaksaak, waar die uitspraak self die oë laat rek.

Streng gesproke is Vrydag as nuusdag nie te onderskei van ander weeksdae nie, maar dit gebeur dikwels dat werklike nuuswaardige gebeure effe afplat, en dit kan ’n nuuskommentaarskrywer soos die uwe dan aan sy bas agterkom wanneer onderwerpe gesoek word vir nuuskommentaar.

Soms is dit omdat politieke partye en ander instellings vlak voor ’n naweek die kaarte styf teen die bors hou om te probeer keer dat die kat uit die boks kom, want kom dit uit is daar van naweek hou min sprake soos vure doodgeslaan moet word.

Maar soms gebeur die teenoorgestelde, en hoewel gister nie ’n Vrydag was nie, het daar laatmiddag genoeg nuus bekend geword wat heelwat mense se naweek gaan versuur.

  • Wat Suid-Afrikaners betref is die nuus dat klagte van haatspraak teen die Springbokslot, Eben Etzebeth, aanhangig gemaak is, seker die belangrikste, of minstens die nuuswaardigste. Etzebeth sou moontlik steeds Springbokkaptein gewees het as dit nie was dat hy lank beseer was, en ander spelers soos Siya Kolisi hul kanse aangegryp het nie.
  • Nog ’n vername Suid-Afrikaanse item is, soos Beeld dit in sy hoofartikel stel, die tydbom van die middestad wat aandag verdien. Dit is ’n diepsnydende probleem wat nie gister ontstaan het nie, en skynbaar voorkom kon gewees het as betyds opgetree is. Dat die metropolisie geen inligting van die polisie se intelligensie-afdeling gekry het nie, en dus onbewus van die komende uitbarsting was, is ’n ernstige aanklag teen die polisiebestuur.
  • Premier Boris Johnson van Brittanje se besluit om die Britse parlement tydelik in reses te laat gaan en die koningin en haar raadgewers se goedkeuring daarvoor gekry het, begin al meer kleintjies met skerp tande kry. Sy opponente beskuldig hom van die dwarsboming van die demokrasie. Daar het egter ook in eie geledere ’n klein gaatjie in die damwal ontstaan, en in hierdie geval is nog geen duidelike Hans Brinker op die toneel wat sy vinger in die dyk se gaatjie kon steek en keer dat die gaatjie groter word en die wal breek nie. Oorsee is dit groot nuus dat die leier van die Skotse Tories, Ruth Davidson, uit hierdie amp bedank het. Davidson, ’n jong, gay enkelma, was grootliks daarvoor verantwoordelik dat die Skotte tydens die referendum oor onafhanklikheid van Brittanje nee gestem het. Met die Brexit-referendum het sy haar formeel by die Tories se pro-Brexit-standpunt geskaar, maar die meerderheid Skotte, soos die Walliesers en Noord-Iere, het teen Brexit gestem. Om tussen die lyne te lees onthul egter ’n storie dat Johnson se Brexit-planne nie goeie aanklank by Davidson vind nie, en haar bedanking meer handel oor die feit dat sy formeel voorgee dat sy meer aandag aan haar kind wil gee, en dat sy konflik oor Brexit ervaar.

Dit is nie goeie praktyk om meer as een onderwerp in ʼn nuuskommentaar onder die loep te neem nie. Maar wat as die drie gevalle hierbo, na ook ’n informatiewe rit deur internasionale nuusberigte en ander navorsing, duidelike spore begin laat dat daar dwarsliggende faktore is wat hierdie en ander nuusgebeure aan mekaar koppel.

Die Etzebeth-saak staan nie net in die kollig weens die komende Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan nie. Dit het ook verhoogde nuuswaarde weens die onlangse besluit van die gelykheidshof wat die algemene vertoon van die ou landsvlag tot haatspraak verklaar het. Dié saak eskaleer omdat al hoe meer kommentators en joernaliste hul asem begin terugkry, en oor die meriete van die uitspraak begin skryf.

Van die kommentators is skerp in hul reaksie daarop. Lees byvoorbeeld dr. Leopold Scholtz se reaksie in Maroela Media hier, en Kallie Kriel, grootbaas van AfriForum, se Maroela Media-reaksie hier.

Die gemeenskaplike saak wat uitkristalliseer is waarna Scholtz as minderhede verwys, en meer algemeen as die miskenning van minderheidsregte, wat dikwels rondom ras vervleg is.

In die Skotse geval waarna hierbo verwys is, speel ras nie ’n rol nie. Al wil premier Johnson die intensiteit nog nie insien nie, of in die openbaar laat blyk dat hy insigte, en nog minder simpatie het, met minderheidsienings nie. Nie alleen is die Skotte en ander Keltiese minderhede “andersdenkend” oor Brexit nie; dit het implikasies wat duidelik onderskat word.

Onlangs het die Tories se meerderheid in die Britse parlement tot ’n skrale een afgeneem toe ʼn vakature in Wallis in ’n tussenverkiesing afgestaan is. Drie anti-Brexit-partye het saamgestaan en die Tory-kandidaat verslaan. Een van die partye wat saamgestaan het, was die Walliese Plaid Cymru, ’n Walliese nasionalistiese party.

Toe die saamstaan-aankondiging in Julie gedoen is, sou Johnson se meerderheid in die Britse parlement tot drie krimp sou die Tories verloor. Teen die tyd in Augustus toe die verkiesing wel plaasgevind het, was die Tories nog net met een setel voor.

Dit lyk in hierdie stadium of Johnson ook geen hond haaraf maak om die krisis van die grens tussen Ierland en Noord-Ierland op te los nie.

Dit lyk of ’n erge onderskatting (of dalk minagting) van die Keltiese siening nou ernstige gevolge kan inhou vir Brexit self.

Die miskenning, of beweerde miskenning van minderheidsregte skep maklik gevoelens. Ná pres. Donald Trump se mislukte poging om Groenland te koop het minstens een ontleder geskryf dat Trump die reputasie het dat hy minderhede nie na behore ag nie, en dat hy in die Groenland-sage die Groenlanders se eie gevoel oor so iets misken het.

Die klag teen Etzebeth is effe losstaande van die ander twee gevalle wat hierbo onder die loep geneem is. Om mee te begin, Etzebeth is (nog) nie aan die klag skuldig bevind nie.

Wat Suid-Afrika betref het howe en instansies wat haatspraak en soortgelyke sake moet hanteer, tot dusver skromelik misluk om ewehandig op te tree. Dit vererger die spanning en minderheidsgroepe word al hoe meer blootgestel. Daarom, teen wil en dank, gaan Etzebeth skerp onder die soeklig kom, en die bevinding ’n belangrike rol speel of die afwesigheid van ewehandigheid dinge net verder agteruitwaarts te laat eskaleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Michael P ·

Dit gaan my verstand te bowe Eben verskyn 5 dae na n sogenaamde voorval voor die MRK Nou is daar so n groot bohaai oor dit. Maar n boer word geskiet die vrou word wreed gemartel wil n kind in n warm oond druk en nie n woord van die regeering of MRK nie.

Hendrik ·

hulle worry tog so oor wat wit mense sê en doen, tussen vergaan als, so kleinlik dis eitlike patetiese spul.

Jerry ·

Dit is nou reeds mostert na die maal dat minderheidsgroepe in SA eerder versoenend moes optree om die wantroue skaal te laat balanseer. Dit het egter nooit gebeur nie, inteendeel was die aanslag doelbewus uitgelok vir selfsugtige eie motiewe en het dit gelei tot n eskalering in die rasnasionaliseerde aanslag op minderhede en die versnelling van die dekolonisasie agenda! Die verskillende groepe en leiers in SA kan nie meer deel wees van n oplossing vir SA as n geheel nie, omrede almal nou onlosmaaklik deel van die groterwordende wantroue probleem geword het en hulself midde in n koue oorlog bevind! Waar daar nog hoop bestaan met Brexit waar demokratiese stelsels werk, is dit nie die geval met SA nie waar die parlement, regbank en grondwet ondemokraties ingespan word om die wil van die meerderheid op die minderheid af te dwing!

Kallie ·

Wat praat jy? In die VK besluit Boris dat dat parlement se aktiwiteite vir ‘n maand opgeskort word om debatte en stemme oor Brexit te vermy. En Elizabeth 11 keur dit goed. Nie een van die twee is direk deur die mense verkies om belangrike besluite te neem nie. Wat se demokrasie is dit?

Gollie ·

Hy is ‘n alombekende figuur in die rugby wêreld so hy moet weet om hom te gedra op die veld en vanaf die veld .hy moet boet as hy skuldig is .punt

humor ·

Eben man gaan speel in die buiteland en maak jou vry van hierdie aaklige kwotastelsel en kleinlikheid.

Michael P ·

Ek kan nie glo dat Eben so iets sal doen nie n week voor hulle vertrek Japan toe elk geval hy is nie so n mens nie.Marius jy is reg hulle soek sy geld gooi die ras kaart op die tafel en sie daar ek soek n paar pennies as ek Eben is le ek n klag van naam skending teen hulle

Johann cb ·

Ons glo net dat Eben nie vir ons jok nie! Met die Bokke byna in Japan, weet ek dat hulle Suid-Afrika se naam hoog sal hou! Sterkte manne!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.