Nuuskommentaar: Fees van kluitjies bak en rassistiese doodsdreigemente

Hlaudi Motsoeneng. Argieffoto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng. Argieffoto: news.iafrica.com

Wolke bestaande uit robyne en smaragde? Nou nie hier op aarde nie, maar op ’n reuse-eksoplaneet heelwat groter as Jupiter, en wat bitter na aan sy moederster wentel, en dus een vuurwarm kant altyd na sy son gedraai hou.

Die skynbare wolhaarstorie oor wolke van robyne en smaragde (eintlik korundium, die suiwer kristalvorm wat ook die edelstene oplewer) is meer waarskynlik as van die getuienis wat nou voor die parlementêre ad hoc-komitee aangebied word. Die feit dat iemand die komiteelede probeer wys maak perdevye is heerlike vrugte is duidelik uit die teenstrydige getuienis wat afgelê word.

Die een groep, gelei deur min. Faith Muthambi, en die voorsitter, prof. Obert Mughuve, meen dinge het min of meer seepglad onder die “bewind” van hul blink robyn, Hlaudi Motsoeneng, verloop. Hulle ontken die stringe getuienis wat deur ander amptenare en voormalige raadslede gelewer is. Muthambi het selfs getuig sy was onbewus van enige klagtes teen Motsoeneng. Was sy onbewus van die hofsake wat die SAUK verloor het?

Dat die SAUK (lees die Hlaudi-clan) steeds weier om sekere dokumente aan die ad hoc-komitee te lewer, versterk die vermoedens dat op die hoogste vlak probeer word om met die komitee spek te skiet. (Volgens nog ’n berig het die voorsitter van die ad hoc-komitee, Vincent Smith, gesê dit het R500 000 en drie weke gekos om die dokumente te bekom.)

Hofuitsprake en ’n bevinding van Icasa laat die minister en voorsitter se getuienis ook maar bleek om die kiewe lyk.

Uiteraard is dit nie aangewese om die ad hoc-komitee se bevindings vooruit te loop nie, al is die komitee geen hof nie. Tog is dit duidelik dat verskeie lede van die komitee, ook ANC-lede – sterk voel dat hulle lank genoeg deur die SAUK se Hlaudi-geleide groepering aan die neus rondgelei is. Een komiteelid het ná ’n aantal vrae, en baie vreemde antwoorde van Maghuve, gesê sy en die beleërde voorsitter hoort op verskillende planete.

Dit som basies die stand van die verrigtinge op.

Stellig die siekste aspek van die SAUK-gebeure is die doodsdreigemente wat joernaliste van die SAUK kry. Dit het al ’n ruk gelede begin toe die sogenaamde SAUK-8 sulke SMS’e gekry het. In sommige gevalle was daar skynbaar wel aanslae op van dié lede se lewe. Nou het diegene wat namens die agt getuienis afgelê het weer sulke dreigemente ontvang, en met ’n duidelike rassistiese strekking. Die ad hoc-komitee neem dit baie ernstig op.

Die skuldige of skuldiges sal uiteraard eers vasgetrek moet word om vas te stel hoe diep hierdie rassisme in die SAUK se topbestuur verweef is.

Dit gaan ’n gedugte taak vir die ad hoc-komitee wees om deur die doolhof van meineed en wrokkighede, en ’n SAUK wat lank reeds begin ontspoor het en deur juis parlementêre versuim toegelaat is om verder te ontspoor, ’n gebalanseerde feitelike verslag aan die parlement voor te hou.

Dit sal interessant wees om te sien of die ANC-koukus in daardie stadium weer uit Luthuli-huis opdrag kry om die geledere om Zuma se lakeie te sluit, en die hele kaboedel onder die mat invee. Die kanse hierop lyk al egter al skraler, met die ad hoc-komitee wat skynbaar ’n lewe van sy eie gekry het, en werklik hard probeer om dit wat vermoed, en eintlik geweet word, met harde feite en gelouterde getuienis te stel.

Vir pres. Jacob Zuma om nou tot sy kornuite se redding te kom, kan die politieke druk op hom baie skerp verhoog en weer woema aan die #ZumaMustFall-veldtog gee. Hy kan dit nie nou bekostig nie, en dis makliker om sy eertydse maatjies vir die wolwe te voer.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Hasie ·

Ek dink regtig dat Faith Muthambi, Hlaudi Motsoeneng en Prof. Mughuwe vir waarneming na Weskoppies hospitaal gestuur word. Hulle klink nie vir my lekker nie.

trucker ·

@ Hasie baie goed gestel. Ou zuma moet saam met hulle ingeboek word.
Hulle is almal baie siek in die KOP.

zoom zoom ·

Sluit dir sauk se deure en begin met n nuwe werwing vir werkers.

Piet Pompies ·

In die verlede is daar gewoonlik liefdjies geskryf om tye en gebeurtenisse te onthou, ek sal graag een aan die SAUK wil opdra.
Believe – Cher

My tweesent bydrae ·

You can’t always get what you want . Rolling Stones .

Lance ·

Alles waaraan die mense vat verander in n verlies n verleentheid en n GROOT gemors !

snoefie ·

its a living thing….
soos ek al gelees het,due anc viel steek die land eerder in sy kanon gepresident word as om zuma as president te verwyder en die ANC skade aan te doen. tog was mbeki verwyder. sy foute was nete teen die luise

John ·

… die sekretaris kan ook maar saam om onsigbare notules te genereer… Het die ad hoc-komitee te veel geluister na ‘Die bootjie na Kammaland’ oor die radio dat hulle nou eers na groot skade en vele skandes wakkerskrik. Die storie kom mos al ‘n lang pad?

Jan ·

So braai die kierangtjies die een na die ander uit. Die ANC lede van ad-hoc komitees, is nou ewe skielik net sulke ywerige ondervraers as dié van die opposisiepartye. Nou is hulle krities wat skrik vir niks, maar hulle was dan juis van meet af saam knoeiers in die bed.

Dit lyk dit spring nou een vir een van die skip af en swem vir ‘n vale, dat die wit skuim so spat.

Ken2 ·

Lekker om te lees. Nou verstaan ek ook beter wat aangaan en het lekker gelag ook in die proses. Dankie Herman vir jou skryfstyl.

Louis ·

Die klomp in beheer leef in n droomwereld. Dit lyk asof hulle werklik glo daar is niks verkeerd nie, en indien hulle werklik nie weet nie behoort hulle nie daardie poste te beklee nie. Ek glo egter dat hulle geglo het dat hulle niks sal oorkom nie omdat hulle beskerming van heel bo sal kry. Wat my egter die kwaadate maak is dat hulle dink ons is so onnosel dat ons hulle glo.

Albert Marais ·

My broer isal agt jaar in die tronk maar ek weet niks daarvan nie?? Hulle het my niks daarvan vertel nie?? Hu hu??
Julle moet my nie al die vrae oor die SAUK se doen en late vra nie, ek is net die voorsitter van die raad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.