Nuuskommentaar: #FeesMustFall: #WaarWasAfrikaner?

feesmustfallMet al hoe meer berigte dat die veldtog om kampusse gesluit te hou in weerwil van ’n massiewe oorwinning oor die Zuma-regering, is die Seunse Weenkoor onder die leiding van Max du Preez besig om die refrein  te sing van waar die Afrikaner was tydens die veldtog.

AfriForum Jeug oorhandig vandag ’n memorandum aan die presidensie waarin hierdie vraag juis beantwoord word, maar intussen bied die leserskommentaar onderaan Max se stuk heelwat lig op die saak. Leserskommentaar, veral reaksies op omstrede meningsvormers se skryfwerk, word dikwels afgemaak as die werk van internetploerte (wat dit ongelukkig dikwels is), maar in hierdie geval word dikwels uit die hart geskryf.

Max se kritiek op die Solidariteit Beweging se Plan B het ook nie gaaf afgegaan nie.

Dis maklik om iemand se argumente asdrom toe te stuur as hy dikwels ideologies deur ’n antieke pipet redeneer en die Seunse Weenkoor is ’n klassieke manifestasie hiervan. Max kan egter weens die blootstellingsgeleenthede wat hy kry nie sommer so van die tafel gevee word nie. Gisteraand was hy weer ’n gas op RSG se program Kommentaar, waar hy aangevoer het mense soos hy, wat dit kan bekostig dat hul kinders studeer, moet klasgeld betaal. Hy meen studiegeld beloop nou R60 000 per jaar, en hy kan dit bekostig, en so het hy ’n steek kon inkry na die kommentaarskrywer wat na hom as werkloos verwys het.

Die raakste opsomming van ’n antwoord op Max se vraag oor waar die Afrikaner was, kom weliswaar nie uit die sosiale media nie, maar ’n ware geval by Kovsies. Op die dag waarop die studentemeisie as strooimeisie by ’n troue moes optree, moet sy nou weens die uitstel van die eksamen ’n vraestel skryf. Sy kon net sowel die bruid gewees het.

Ook ’n ware verhaal is die een waar die ouers van ’n gestremde kind vir dié kind moet verduidelik hoekom sy judoklas wat in die Allie Man-saal (voorheen voor ’n paar letters afgeval of afgetransformeer het die Callie Humansaal) op die Kovsiekampus plaasvind, in die slag bly. Dié judoklas is die één hoogtepunt van die week wanneer die kind kans kry om met jong mense te sosialiseer. Nou lyk dit of die graderingsproses ook met die beplande verlengde sluiting van die kampus in die slag kan bly.

Die rits ontwrigtings, dikwels teen groot koste soos dosente wat nou ’n week van vakansieverblyf waarvoor hulle reeds ten duurste opgedok het, nie sal kan benut nie, raak nie net die studente wie se private verblyf net tot ’n sekere datum betaal is nie. Baie studente doen reeds deeltydse werk om die tekorte tussen stygende studiegeld en die geldjie wat pa of oupa “ruim” vir die jongelinge se studiegeld weggesit het, eenvoudig ontoereikend geword het. Nie almal is so gelukkig soos Max om dit lopend te kan finansier nie. Nou moet inderhaas met hierdie werkgewers onderhandel word om langer te kan werk om die bykomende kostes te dek.

Uit die sosiale kommentaar kom die verduideliking dat wit mense grootliks afwesig was weens die feit dat hulle moet studeer want hulle kry nie beurse en studielenings nie, en moes vir die eksamen voorberei. Meer algemeen is die feit dat die kultuur van protes onder die Afrikaner heel anders lyk as dit wat die veldtog gekenmerk het. Die feit dat daar geweld en plundering plaasgevind het, al is dit ook soos Max oor RSG gesê het die werk van ANC-geplante operateurs, help ook nie om ’n sosiale kohesie te vorm nie.

In die agterkop vorm die idee ook dat om die geld vir die sukses van die veldtog te vind, in elk geval op die een of ander wyse grootliks van wit ouers verhaal sal word, soos byvoorbeeld ’n “gradebelasting.”

Die kultuurkwessie is egter ’n punt waar Max en die mense wat reageer die verste uitmekaar dryf. Oor die kwessie van die Totiusbeeld wat bedreig word skryf Max soos volg: “Die enigste Afrikaanse studente wat die nuus gehaal het, was die arme siele wat die standbeeld van ’n ou volksvader en apartheids­profeet in Potchefstroom teen ’n ‘aanslag’ van medestudente gaan ‘beskerm het’.”

Deur sulke opmerkings vertroebel Max sy eie argumente wat ook baie meriete bevat. Hy fokus so op die positiewe aspekte van die veldtog dat hy skynbaar horende doof was vir die “bykomende” boodskappe wat van die studenteleiers uit megafone voor veral Luthuli-huis uitgebasuin het – soos boodskappe van steun aan die “#OpenStellenbosch”-veldtog. Hoe kan van die Afrikaner verwag word om ’n veldtog te steun wat ook met die veldtog versmelt is om van Afrikaans en Afrikanersimbole by ’n handjievol kampusse waar hierdie “euwels” nog voorkom ontslae te raak?

Meningsvormers wat nie daarin slaag om konteks te hou in hul skrywes en openbare redes nie, is onverantwoordelik en gedy op die sensasie wat hulle ontlok. Ja, ’n kommentaarskrywer wat nie gereeld sy lesers se intellek met waagmoed toets nie, se werk gaan grootliks ongelees in die hoekies en krakies van die sosiale media en koerante se argiewe verdwyn en net so vergete wees soos die vragte meesterplanne van die owerheid wat burokraties “gerak” raak en lê en stof vergaar terwyl ander weer die wiel ontwerp, ook merietetoekennings kry, en wie se werk ook weer op die rak beland.

Belangrike goed het die afgelope weke gebeur. Die belangrikste is stellig dat pres. Jacob Zuma, in sy poging om populariteit te wen, so erg respek verloor het dat die beplande mediatribunaal waarskynlik geen impak op sy en die ANC se “goeie storie” kan hê nie. Daar is diep in die hart van die ANC se mossienes van selfverryking en magsversameling gegryp. Die land kan net daarby baat, hoewel die EFF waarskynlik as die groot wenner na vore kan tree.

Maar die land het ook ’n ander sy wat veronderstel is om grondwetlik beskerm te word – die land van minderhede met hul kultuur- en voortspruitende grondwetlike belange. En tot dusver toon die #Veldtog nog geen simpatieke oor hiervoor nie. Inteendeel…

Nie almal sal, en kan netjies in gelid inval nie, en Plan B word al hoe meer ’n baken van hoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Vic ·

Waar was die Afrikaner? Heel moontlik besig om te werk sodat ons kan belasting betaal sodat die nie – Afrikaner dit op universiteit kan vermors.

Charl Coetzee ·

#maakdittoe …. Die landsburger wat nie universiteit toe kan gaan nie moet nou werk en tax betaal wat gebruik word om die lot wat gaan swot te help. Party mors net ons geld terwyl die wat graad vang terug kom om ons ‘n arm en ‘n been te vra vir ‘n “diens” wat hulle ons lewer want hulle is mos nou gegradieer….

Swot verniet, werk verniet. Hoeveel afslag gaan hierdie studente aan ons gee in die toekoms. Nee wat, sodra hulle miljoene verdien is ons lankal vergeet wat moet swoeg en sweet sodat hulle ons leeg suig.

Grassie ·

Ek weet waar my Afrikaner-kleinkinders was wat studente is. Hulle was iewers op ‘n stil plekkie besig om te leer vir die taai eksamen wat voorlê. Hulle gaan hul studies voltooi en daarna ‘n sukses van hul loopbane maak. Die ou spul wat so betoog, gedans, geplunder en verniel het, en dit in bloktyd voor die eksamen, gaan langs die pad uitsak en later maar kinders in die wêreld bring om toelaes te kry. Ons volk se behoud is die akademiese vermoëns van ons jeug.

Fanie ·

Ja wat. Die minderheid belastingbetalers moet maar sorg. En dit is nie net vir studies nie, dit behels ALLES. Hulle sê mos die Rykes sal maar moet opdok. Nou wat nou?

Dries ·

Goed gestel GRASSIE.Die gepeupel sal eendag hopelik besef dat hierdie gemors van vandag eendag hulle sal inhaal net soos dit met al die ander probleme wat hierdie huidige anargiste wat regeer hul inhaal.

PIET DU PLESSIS ·

Eerstens, veels geluk, Herman, met die briljante tipering van die Max-brigade as die “Seunse Weenkoor”! Dit sê voorwaar baie oor hul geweldige naïewiteit en ‘n voortdurende “geween en gekners van tande” oor die Afrikaner kan waag om vir sy minderheidsregte op te staan en nie (wat alles aanbetref) wil konformeer as dit by die massas se wense kom nie.

Tweedens, ek is BAIE trots op ons studente van alle rasse en oortuigings se moedige opstand teen die regering (want dit is in wese die groter saak waaroor dit ientlik gegaan het).

Max het weer ‘n paar goeie punte beet, maar moes soos gewoonlik sy paar vet klappe inkry, veral gemik op Afrikaners. Eerstens, daar was Afrikaner-studente wat die veldtog aktief gesteun het. Tweedens, daar was ook ander wat dit gesteun het, maar nie aktief aan betogings deelgeneem het nie. Hoekom? Max wil nou maar eenmaal hê dat almal die meerderheid se manier van doen slaafs moet navolg. Het hy vir ‘n oomblik gedink dat wit en swart dalk verskillende kulture het wanneer dit kom by protes aanteken? Omdat die meerderheid hou van toyi toyi, moet almal maar toyi toyi! (Terloops, het Max al gesien hoe lyk witmense wat probeer toyi toyi, of moet VOORGEE dat hulle saam met die massas vryheidsliedere kan sing, wat hulle NIE kan doen nie?! Aaklig! HeHe!)

Ja, Max is duidelik teen minderheidsregte en wil hê die minderhede moet in die groot smeltkroes opgaan. Dit is ook die wens van die massas. Sulke sieninge is NIE versoenbaar met die siening van diegene vir wie hul “andersheid” in terme van taalvoorkeur, manier van protes aanteken, vryheid van assosiasie ens. belangrik is nie. Ek dink dus ons sal maar op die ou einde eindig by diegene wat Plan B steun en diegene wat bloot in die meerderheidskultuur opgeneem sal word. Maar hoekom eersgenoemde so afgekraak moet word, sal net Max en sy denkgennote verstaan…
Max het weer ‘n paar goeie punte beet, maar moes soos gewoonlik sy paar vet klappe inkry, veral gemik op Afrikaners. Eerstens, daar was Afrikaner-studente wat die veldtog aktief gesteun het. Tweedens, daar was ook ander wat dit gesteun het, maar nie aktief aan betogings deelgeneem het nie. Hoekom? Max wil nou maar eenmaal hê dat almal die meerderheid se manier van doen slaafs moet navolg. Het hy vir ‘n oomblik gedink dat wit en swart dalk verskillende kulture het wanneer dit kom by protes aanteken? Omdat die meerderheid hou van toyi toyi, moet almal maar toyi toyi! (Terloops, het Max al gesien hoe lyk witmense wat probeer toyi toyi, of moet VOORGEE dat hulle saam met die massas vryheidsliedere kan sing, wat hulle NIE kan doen nie?! Aaklig! HeHe!)

Ja, Max is duidelik teen minderheidsregte en wil hê die minderhede moet in die groot smeltkroes opgaan. Dit is ook die wens van die massas. Sulke sieninge is NIE versoenbaar met die siening van diegene vir wie hul “andersheid” in terme van taalvoorkeur, manier van protes aanteken, vryheid van assosiasie ens. belangrik is nie. Ek dink dus ons sal maar op die ou einde eindig by diegene wat Plan B steun en diegene wat bloot in die meerderheidskultuur opgeneem sal word. Maar hoekom eersgenoemde so afgekraak moet word, sal net Max en sy denkgennote verstaan…

jo ·

Ek is deurmekaar dit het dan gelyk of hulle teen afr ook betoog,en ons moet saam teen ons self betoog.
Dis soos ons moet saam sing kill the boer.Nou verwag hulle darm baie

Henry ·

Waarom ‘n mens enige aandag aan ou Max se plaksels skenk, is my pot en veral ‘n ander deel van my anatomie se deksel.

Lees die ou se skryfsels indien jy wil, maar onthou ook dat internetploerte nie alleen as trolle bekendheid verwerf nie. Daar is heelwat goeie voorbeelde van plaaslike rubriekskrywers aan die linker- en regterkant wie se pogings aan al die kenmerke van ‘n internetploert voldoen.

Dirk Hermann het onlangs Piet Croukamp en geesgenote soos du Preez, se uitsprake uitstekend raak gevat. So goed dat ek dit graag wil herhaal. In antwoord op Hanlie Retief se vrae antwoord hy onder andere:
“…Daar sal altyd die 10% Croukamps (aan die linkerkant) en die 10% aan die regterkant wees. In die peiling op N24 sê 91% van die lesers ons planne is puik. Ons steur ons nie aan randfigure soos Croukamp aan die linkerkant en Dan Roodt en Sunette Bridges aan die regterkant nie. Laat hulle maar hul eiertjies lê…”

Mynsinsiens hoort ou Max by hierdie linkerkant waarna Dirk Hermann verwys.

Soos 91% ander siele reeds te kenne gegee het, het ons nie mense soos Croukamp, ou Max en andere nodig om ons oor die stand van sake in hierdie droewe land in te lig nie.
Ons weet reeds en verwar laaaankal nie meer allerlei snert wat deur diesulkes aangebied word, as vye nie.

Pretbederwer ·

Ek voel regtig jammer vir die strooimeisie en vir die judoklassie wat gekanseller is! Dis so tragies! Maar ek voel ook jammer vir duisende studente wat hongerkry en graag iets van hulleself wil maak maar nie oor die middele beskik nie. Ek was daar (Kovsies) en baie ander Afrikaner-studente ook (trouens, koshuise het daar opgedaag) – maar natuurlik WIL die media dit nie publiseer nie,.. Hulle verkoop meer deur te polariseer, hulle is die inligting Warlords. Ek is jammer dat julle die geleentheid gemis het om een van die groot oomblikke in ons geskiedenis mee te maak, julle stralende afwesigheid het voorts geen gunste gedoen vir die onderhouding van Afrikaans nie. Maar nou ja, daar is seker belangriker dinge in die lewe, so geniet die troue en die judoklas.

Jannie ·

Ek het ‘n heel ander siening oor waarom baie Afrikaners nie aan die protesaksie deelgeneem het nie. Baie Afrikaners word nog met die Bybel grootgemaak en opstand teen diegene wat oor jou aangestel is, is ‘n oortreding van die vyfde gebod. Bowendien is dit ook ‘n wegdoen van die liefdesgebod omdat ons ander mense verbaal aanval en ook skade berokken aan eiendom. my kinders sou beslis weggebly het, maar hulle is gelukkig reeds deur universiteit (op my koste).

Swanna ·

Ag nee maroela dit help nie. Julle plaas nie eers ons kommetare nie. Hoekom lok julle ons uit. SIES.

Sune van Heerden ·

Dagsê Swanna

Verwys jy na kommentaar wat jy op hierdie berig gelewer het? Ek kan nie sien dat ons jou kommentaar op hierdie berig afgekeur het nie. Daar het moontlik ‘n tegniese fout ingesluip indien jy wel kommentaar gelewer het. Vergewis jouself gerus van ons bepalings en voorwaardes om seker te maak dat jou kommentare nie gemodereer word nie. Let asseblief ook daarop dat kommentaar soms in ‘n mandjie beland waar dit per hand goedgekeur moet word en dit neem dan soms ‘n wyle voor die kommentaar verskyn.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Douw ·

Studeer verniet… Dis alles goed & wel; maar as dit net by die studies wil uitkom en nie alewig rede soek vir politiek nie dan kan dit dalk ook deure oopmaak vir die Afrikaners wat ook swaar kry… Daar is enorme talent wat in blanke plakkerskampe rondle omdat hule ook nie die geleentheid het om te studeer nie!
Maar wat van ‘n ooreenkoms met die studente – Julle kan gratis studeer; MAAR eers moet al die koste van die verwoesting wat julle gesaai het verhaal word… En as dit weer gebeur dan word julle voordele net eenvoudig weggeneem!!

Johannes Meintjes ·

Die etiek en moraliteit van die hardwerkende Afrikaner protesteer op ander maniere wat altyd ook nuwe oplossings aan die hand probeer doen. Maar, terloops … waar was die oproerige gespuis op Rooiballon Dag en die proteste teen plaasmoorde ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.