Nuuskommentaar: Feit of fiksie in die demokrasie – onkunde lei tot ondergang

Argieffoto

Argieffoto

Dié naweek behoort Suid-Afrikaners met pres. Jacob Zuma se tradisionele 8 Januarie-toespraak ’n idee te vorm van sy strategie om nie gepos te word nie. Gaan hy op die offensief bly of gaan sy inspanning van die “emokrasie” die oorhand kry?

Dié naweek vind die ANC se tradisionele 8 Januarie-byeenkoms, met pres. Jacob Zuma se “skim-staatsrede”, plaas. Waarnemers en joernaliste se oë en ore sal op dié geleentheid gefokus wees en die land daarna met die fynste ontledings en soms wildste afleidings vergas.

Geoordeel na die jongste aantal toesprake van Zuma, soos sy Nuwejaarsboodskap en sy ontwrigte “Versoeningsdagtoespraak”, kan die land hom maar gereed maak vir ’n stortvloed fiksie wat as die reine waarheid opgedis word.

Twee akademiese swaargewigte, proff. José van Dijck van die Universiteit Utrecht en Wim van Saarloos van die Universiteit van Leiden, het kragte gesnoer om te kyk hoe fiksie die demokrasie in ’n emokrasie laat weggly.

Hoewel die woord “emokrasie” al vir meer as ’n dekade in Afrikaans gebruik word, is dit eintlik in Nederlands (wat Vlaams insluit) ’n algemene term. In daardie tale het dit ’n magdom definisies, maar kom in breë trekke daarop neer dat dit neerslag vind as emosies die oorhand oor feite kry.

Van Dijk en Van Saarloos skryf onder die opskrif “Wetenschap is niet maar een mening”.

“Elkeen het die reg op ’n eie mening, maar nie op sy eie feite nie,” haal die twee professore senator Daniel Moynihan uit die tagtigerjare aan. Hulle meen dit het nou weer baie relevant geword met die verkiesing van leiers wêreldwyd wat sterk menings uitspreek, maar oor ’n gebrek aan feite beskik.

Hulle haal Tom-Jan Meeus aan: “Een cultuur, hoe superieur ook, gaat altijd verloren als ze geen gezamenlijke feiten meer kent.” Meeus is ’n politieke rubriekskrywer vir die NRC Handelsblad.

Oor bykans alles in Suid-Afrika is daar nou minstens twee stelle “feite” en so tragies soos dit mag wees, is die president self verantwoordelik vir die verspreiding van heelwat wolhaarstories. Soms is dit gewoon sy eie onkunde soos toe hy sakelui “meegedeel” het dat Afrika die grootste vasteland is, en dat die ander vastelande saam daarin pas. Soms is dit iets wat wyer geglo word soos dat die land se probleme begin het toe Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het.

Uitsprake oor grondbesit en dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, veroorsaak rassespanning.

Ook in die jongste verlede is heelwat geskryf oor die impak wat fopnuus op die samelewing het. Fopnuus kan slegs ’n impak hê as die lesers of luisteraars oningelig oor die werklike feite is.

’n Mens hoef maar net te kyk na die leserskommentare onderaan die berigte in verskeie publikasies om te sien hoe oningelig sommige lesers is (en hierby sluit ek beslis nie alle lesers in nie – talle lesers is goed ingelig en huldig ʼn geldige, goeddeurdagte mening). Hulle sal in die proses die “waarheid” van fopnuus met hand en tand verdedig, en erg beledigend oor feite raak. En is erg verontwaardig as die betrokke publikasie hul juweeltjies verwyder, veral as dit duidelik rassisties is en die publikasie in die sop kan laat beland.

Onlangs het ’n leser die bekende historikus en rubriekskrywer, dr. Leopold Scholtz, aangevat oor iets wat hy voorheen sou “geskruif” het. Scholtz het hom gedaag om die betrokke artikel wat hy sou “geskruif” het se datum en plek van publikasie uit te wys.

Kort-kort gryp iemand Maroela Media oor die spelling van Wladimir Poetin se naam en van. Hulle wil dat Maroela die Engelse transkripsie van die Russiese skrif gebruik. Die trant is dikwels beledigend asof Maroela Media uit onkunde sou optree. Nederlands gebruik dieselfde spelling as Afrikaans, en Maroela Media het al telkemale uitgewys dat hy inderdaad die regte Afrikaanse spelling gebruik.

Enige gerekende rubriekskrywer of kommentator sal voor hy sy skrywe vir publikasie voorlê, ’n groot navorsingspoging insit om seker te maak van feite. Waar hy van sy bronne verskil, sal hy gemotiveerd dit uitwys. Hy weet immers dat die lesers van meningstukke oor die algemeen self goed ingelig is, en dikwels veel beter as hy self, en dat hy erg gaan deurloop as hy bollie skruif, ekskuus, skryf. Hy selekteer binne sy vermoë die mees betroubare en objektiewe bronne en lees gereeld die meningstukke van ander.

Natuurlik kry rubriekskrywers allerlei “titels” by lesers. In ’n stadium is Scholtz byvoorbeeld gereeld deur liberale en veral “Cape libs” as “nieu-konserwatief” uitgeskel. Die uwe is al as enigiets van “die linkse Toerien” tot verkramp beskuldig.

Die gevaar van te veel ideologie wat in rubrieke deurslaan is dat dit noodwendig objektiwiteit inboet.

Dit beteken nie dat alle rubriekskrywers die gemeenskaplike waarheid sal vind en eenvormige rubrieke sal opdis nie. Daar is beslis ’n behoefte aan verskeidenheid want dit is immers waaroor demokrasie handel. Voorts is daar in elke gemeenskap ’n behoefte aan sogenaamde sonskynrubriekskrywers – daardie skrywers wat (soms) die lelike waarheid miskyk en die positiewe uitlig, selfs al is hulle dikwels erg naïef.

Op die breër front is dit noodsaaklik dat die leiers met die werklike feite vertroud is. Die Grondwet vereis immers dat, volgens die ampseed, die president in die belang van al die mense van Suid-Afrika moet optree. Maar min dinge werk so polariserend in soos om slegs een gemeenskap se weergawe as die waarheid op te dis, en die ander te laat glo die president reageer op fiksie.

Dan word die land ’n emokrasie, en die skeidslyn tussen ’n emokrasie en gekkeparadys is ragfyn.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

25 Kommentare

Leendert ·

Goeiedag Herman, sonder om nou hare te kloof, en iets aan die grootklok te hang. Ek het daardie kommentare oor die spelling van Poetin se naam en van gesien. Dalk was dit tog nie so buite orde nie, as mens gaan Google, wat ek nou gedoen het, dan sal jy sien Maroela, sowel as Netwerk24 het dit tot nou, sommer baie onlangs, op twee verskillende maniere gespel, soos nou korrek en by tye ook in Engels, soos in ‘n Skrywe van Flip Buys in November. Netwerk 24 het ook aan die begin van Desember 2016 op die korrekte spelling verwys.

Simon ·

Ai Herman,
Die opskrif van hierdie artikel het groot verwagtinge geskep.
n Ernstige verhandeling van fiksie vs feite is verwag.
Na ek nie juis n lyn in die beredenering kon vind nie, het ek besef dat daar bietjie tong in kies geskryf is en dan maak die swerwing skielik sin en word dit grappige as dit nie so ernstig opgeneem word nie.
Maar dan weer “many a truth is said in jest”
Dankie vir die “truth said in jest”, dit het my beslis aan die dink gesit.
Ek het ook na Mnr Z se nuwejaarstoespraak geluister (gewoonlik wil ek nie na wind luister en sit ek dan die klank af). Dit was gewoon opvallend hoe baie verdraaiings as feitlik prestasies en hoe weinig ware prestasies voor gehou was.

gatiep ·

Ek is een van die ape wat kla oor die verandering van n naam spelling.
My regte naam is n Franse naam en gaan belaglik klink as dit op afr spelling moet uitgespreek word.En tog in my naam se spelling nie op skool verander nie?
So iets word nie gedoen nie,die nederlanders sal dit ook doen ja want hulle is n klomp Putin haaters en wil nie he hulle mense mag iets goed lees oor hom nie.Vir die mense wat weet wat aangaan in wereld sien n mens dadelik n agenda raak in so iets.
CNN en BBC is die grootste fopnuus wat hulle mense nou al na hoeveel oorloe gekry het met hulle leuns en die nuwe een is weer dat Russia die US verkiesing gehack het en Trump n Russian agent is dit terwyl Trump nie eens Russies kan praat nie.
Tol al die Russiese diplomate net 72 uur gegee om land te verlaat. Gelukig het Putin nie die USA diplomate uitgejaag nie en gese hy wag tot n grootmens (Trump) inkom om die storie uit te praat.
Hy het eerder die USA diplomate met hulle kinders genooi na hulle oujaar partytjie.
Ek kyk baie verskilinde nuus en CNN is my gunsteling komedie kanaal,want hulle lyk regtig baie belaglik as mens weet wat aangaan.

Herman Toerien ·

Hallo Gatiep. As ons dieselfde skrifstelsel as die Russe gebruik het, sou ons die spelling net so behou het. Maar die Russe, soos die Israeli’s, gebruik ‘n eie skrifstelsel. Dan word die reël van naaste fonetiese transkribering gebruik. So het ons talle name wat uit die Bybel kom wat ons en die Engselse nie dieselfde spel nie, soos Dawid / David. Foneties sou die naaste iets soos Dawied wees. Omdat Engels nie werklik die “g”-klank ken nie, en dit ‘n volop klank in Hebreeus is, wyk die Engelse dikwels van die fonetiese af, bv Gam wat in Engels as Hêm uitgespreek word. (Hullle het darem die “m” reg).
Nou die dag was daar ‘n insetsel van Fidel Castro op RSG. Die voorleser het knaend ge-Kêstro. Toe Sun Tsu sy “Die kuns van oorlogvoering” gekryf het, het Engels vir baie eeue nog nie eens bestaan nie. Tog word algemeen (ook in Afrikaans) na Sun Tsu se werk, “The art of war” verwys. En in Engels word Su Tsu sommer “San Tsu”.
Dat ons, en die Nederlanders, Wladimir Poetin gebruik, het niks te make met of iemand van hom hou nie. Dit gaan oor die transkribering van een skrifstesel na die ander, en dan kan een taal se weergawe nie meer korrek as ‘n ander wees nie. Om die Engelse spelling in Afrikaanse teks te gebruik voel vir my soos kapitulasie.

Johann ·

My vrou het my al sterk aangespreek omdat ek Donald Trump se van altyd ‘Troemp’, uitspreek (dit kom sommer vanself), natuulik by dit Trump, ook in Afrikaans.

Johann ·

Hehe, ons Kapenaars sukkel maar om die u soos a uit te spreek.

Johann ·

My vrou het my al sterk aangespreek omdat ek Donald Trump se van altyd ‘Troemp’, uitspreek (dit kom sommer vanself), natuulik by dit Trump, ook in Afrikaans.

gatiep ·

Herman ek aan vaar jou verskoning.
Ek raak net bekomerd want ek wil nie he ons mense moet verkeerde kant van die draad staan as daar oorlog tussen die US en Russe uitbreek nie.
Die weste staan nie kans teen Russia as daar oorlog tussen hulle moet uitbreek nie.
Die hele westerse lande is te verdeeld en die Russe gaan soos een man staan vir hulle motherland.Nato sal opbreek en niks beteken op ou einde nie want hulle gaan teen hulle self baklei so ook die US en Europe. Putin is n regverdige man maar moenie aan sy verkeerde kant staan nie.
Hy het al klaar die US met rooi gesigte gelos in Syria.
As ons Afrikaners na hom gegaan het vir hulp was ons al verder gewees as nou maar ons bly vry na die weste wat niks worry oor ons nie.
Jy kan die post maar afvee want dit het niks te doen met waaroor jy gepraat het nie Herman.
Ek weet die US het bassise oor hele werd maar dit gaan niks help nie.Dit het bygedra tot die Romans se val ook.

Theuns ·

Ag nee Gatiep, Herman het jou ‘n verduideliking gegee en geensins vir jou omverskoning gevra nie? Hy het nie nodig nie!

Wim Kotze ·

Gatiep, ek deel jou mening dat “ons Afrikaners” eerder die Russe bo die Engelse wereld moet kies, maar uit jou skrywe blyk dit dat dit reeds te laat te is, want volgens jou is die VSA die US, moedertjie Rusland het “motherland Russia” geword en die Romeine is “Romans”.

gatiep ·

Dink ook dis al te laat Wim eng is afgedruk in my keel die laaste 20 jaar en is maar gedwing om sekere boeke in eng te lees.
Maroela is enigste plek waar ek nog afr praat so sukkel maar.

Henry ·

Geagte Theuns
Uit die aard van u kommentare/insette wil dit voorkom asof u een van MM se redaksie lede is. Kan u ons van nadere inligting voorsien oor gerugte dat MM ‘n Afrikaanse radiostasie in die Wes Kaap gaan vestig.

Mariné Lourens ·

Dagsê Henry

Dankie vir jou navraag. Theuns is nie ‘n redaksielid van Maroela Media nie, maar bloot ‘n leser wat kommentaar gelewer het.

Maroela Media werk saam met talle radiostasies reg oor die land, ook in die Wes-Kaap, en baie stasies saai produksies uit wat vervaardig word deur Draadloos, Maroela Media se radioproduksiehuis. Ons is egter nie van plan om ons eie stasie te begin nie, aangesien ons ons rol daarin sien om gemeenskapstasies wat in Afrikaans uitsaai, te ondersteun.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Henry ·

Baie dankie vir die inligting me Lourens!
Jammer vir die verkeerde aanname.
Bevestig weereens dat mens nie alle donkies op hul baadjie moet takseer nie. Of iets in dier voege…
:-))

gatiep ·

Ok Theuns ek het hom so ou maat dan vra ek maar omverskoning vir jou vir my stupid geid.

Theuns ·

Gatiep, nie nodig om onverskoning te vra nie.Ek en jy bly nog vriende. Groete.

miv ·

Liewe Vader, dat ‘n klomp volwasse mans nou so oor die spelling en uitspreek van ‘n naam met mekaar te kere gaan! Ek het al die kommentaar deurgelees en glo my, die meerderheid van julle se spelling is om die minste te sê ‘vrot’. Lees elkeen gerus maar sy eie kommentaar saam met ‘n oop woordeboek. Luister asseblief! Ons vroue kyk op na ons mans in Suid-Afrika – julle is ons helde! Moenie julself so verkleineer deur oor spelling en uitspreek van name te kibbel nie. Rowwe tye lê voor, ons vroue wil met geruste hart aan jul sy die toekoms aandurf. Bly saam met ons biddend vir die aanhang van geregtigheid in ons land. ‘n Geseende 2017 bid ek jul almal toe.

Jan ·

Kabbel, nie kibbel nie, mens kibbel aan jou kos as jy nie hongers is nie.

Valie ·

Ís daar enigsins ‘n skeidslyn tussen ‘n emokrasie en ‘n gekkeparadys? Vertel my asseblief Herman? Die emokrate word deur hul emosies gelei en ignoreer feite, die gekke ignoreer feite en klou desperaat aan hulle ‘menings’, wat deur hulle onbeheerde emosies soos haat, woede, plus ego en eiebelang ontwikkel. Word hulle dan nie deur emosies plus ander interne faktore gelei nie?

Ron ·

Aan Jan,
Die water KABBEL oor die klippe.
Die muis KNIBBEL of knabbel aan die kaas.
Die twee KIBBEL oor die betekenis van kabbel, kibbel en knibbel

Henry ·

Jan
Jy kan gerus vir jou ‘n Afrikaanse verklarende woordeboek aanskaf. Dit kan van groot nut wees wanneer jy aan’t kibbel wil raak.

Ron ·

Hi Jan, kan dalk streeksverwante interpretasie wees.
My ma is ‘n ou bolander en ek het eers op universiteit agtergekom mens praat van badkamer en nie badskamer nie.
Groetnis.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.