Nuuskommentaar: Fifa-debakel warm patat vir ANC-regering

Argieffoto

Argieffoto

Sommer baie kort nadat die ANC besluit het die sokkerbaas, Danny Jordaan, is sy ruiter op ’n swart perd wat moet keer dat die Nelson Mandela-metropool in volgende jaar se munisipale verkiesings uit sy beheer glip, kompliseer die  Amerikaanse vervolgingsowerheid die saak baie.

Laat dit baie duidelik gestel word: Danny Jordaan se naam word nié as verdagte genoem waar die klagstaat beweer dat die regering en twee sokkerbaronne – bloot medepligtiges 15 en 16 genoem – ter sprake kom nie.

Die probleem is terselfdertyd dat die twee verdagtes se name nié genoem word nie. Volgens die woordvoerder van die departement van sport sal min. Fikile Mbalula vandag meer lig op die saak werp.

Volgens die klagstaat het Suid-Afrika en die twee grondbaronne Fifa-ampsdraers ruim betaal sodat die bod vir die 2010-toernooi aan Suid-Afrika, eerder as aan Egipte of Marokko, toegestaan word.

Baie Suid-Afrikaners se nostalgiese herinneringe aan die toernooi was dat die land ’n ruk lank behoorlik gefunksioneer het. Die hand van Sepp Blatter en Fifa, wat in baie opsigte so te sê die land se administrasie oorgeneem het, was duidelik te sien. Afrikatyd het vir ’n ruk nie bestaan nie, en selfs chroniese laatkommers onder die premiers en ministers was eerder te vroeg by vergaderings wat iets met Fifa en sy inspekteurs te make gehad het as dalk ’n sekonde of wat te laat. Die destydse Vrystaatse premier, Winkie Direko, het in haar beeldryke Afrikaans aan joernaliste beduie hoe hulle almal onder opdrag is “om ons mooiste broodjies te bak”.

Wat ook duidelik was, was dat Fifa toegelaat het, en waarskynlik self aangedring het, dat die regering instaan vir baie van die take wat normaalweg aan die suksesvolle bodland se sokkerfederasie opgelê word. Trouens, normaalweg lei regeringsinmenging tot  skorsing uit Fifa.

Kortom, baie afwykings en blinde oë is ingespan om die aanbied van die toernooi in Afrika ’n sukses te maak.

Die wet wat die Amerikaners inspan om Fifa se korrupsie mee uit te skud staan bekend as die Racketeer Influenced and Corrupt Organizations Act, kortweg RICO. Dié wet dateer uit die sewentigerjare, en is al ingespan om groot name hard te laat val, onder andere ’n gewese buitelandse staatshoof. Wesenlik kom dit daarop neer dat die VSA en sy instellings, soos banke, bloot net betrek hoef te word om die saak binne die jurisdiksie van die Amerikaanse vervolgingsowerheid te plaas.

Nog ’n kopkrapper is dat die vervolgingsowerheid goedgeplaaste getuies het. Blykbaar sluit dit vier van die vernaamste beskuldigdes in, wat in ruil vir volle samewerking verminderde vonnisse opgelê kan word. Selfs hierdie verminderde vonnisse kan na berig word nog tot 20 jaar beloop.

Dit sal goed wees as daar gou duidelikheid kan kom dat Danny Jordaan nie onder verdenking staan nie, en ook onbewus was van die korrupsie wat in sy onmiddellike omgewing plaasgevind het. Soos sake nou staan, is daar reeds ’n aantal Vrystaatse en Noord-Kaapse LUR’e wat op aanklagte van onder meer bedrog in die twee provinsies se hooggeregshowe teregstaan. Die ANC durf internasionale konvensie aan deur hulle nie uit hul ampte te verwyder tot die strafsake afgehandel is en hulle onskuldig bevind is nie.

Pres. Jacob Zuma mag korrupsie as ’n Westerse konsep beskou, maar die probleem is dat die wêreld formeel dit as verkeerd beskou. Die rede vir die instelling van die RICO-wet en sy opvolger, die Foreign Corrupt Practices Act (FCPA) wat ook al met groot sukses ingespan is, is dat korrupsie skadelik vir lande se ekonomieë is. Dit is dus irrelevant of korrupsie in ’n land of deur sy regeringshoof as geen “big deal” beskou word nie, dit bly sleg vir ’n land.

Kort ná die klopjag waar sewe Fifa-ampsdraers uit hul hotelbeddens gepluk is, het die Switserse vervolgingsgesag aangekondig dat hulle ook ondersoek gaan instel na bewerings van korrupsie met die toekenning van die 2018-toernooi aan Rusland, en die 2022-toernooi aan Katar. Ook die VSA oorweeg so ’n ondersoek.

Sepp Blatter word al lank in die media beskryf as iemand wat Fifa soos ’n Mafiabaas bedryf. Tot dusver is hy nog nie iewers ’n verdagte nie, en formeel verwelkom Fifa die ingryping om dié organisasie skoon te maak. Tog is daar oproepe in Europese koerante dat Blatter hom nou moet onttrek as kandidaat vir ’n volgende termyn.

Suid-Afrika is juis nou weens xenofobiese aanvalle by ander Afrikalande in die warm water. Nou blyk dit dat Suid-Afrika, of minstens Suid-Afrikaanse individue, geld in tasse onder die tafel deur laat hande verwissel het om die bod voor Marokko en Egipte weg te rokkel. Uit die berigte blyk dit darem dat daardie lande nie te kwaad ir Suid-Afrika kan wees nie, want al verskil was dat die koffers uit Suid-Afrika dikker gepak was as dié uit Marokko en Egipte.

Korrupsie is ’n “big deal” en dit is noodsaaklik dat daar so gou moontlik agter die kap van die byl gekom word sodat die land nie met nog eier in die gesig sit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

jakes ·

Is dit hoekom Danny in Rapport se’ hy verdien geen salaris by Safa? Blyk hy het genoeg fondse reeds ontvang.

Johan Pic's ·

Gaan belastingbetalers pa staan vir die sokker gemors wat gaan volg? Ek glo persone wat vervolg gaan word in hul persoonlike hoedanigheid maar moet opdok! Logies gaan die persone tyd moet afstaan by hul heidige ‘werkgewers’ om die klagtes te hanteer. Sou hul hoë poste beklee in ons regering, gaan hulle met volle salaris geskors word – of gaan daar maar ‘n Nkandla kombersie oor hulle gegooi word?

Francois ·

Is dit regtig ‘n skok vir ons om uit te vind Suid Afrika het FIFA omgekoop? Dis mos hoe ALLE besigheid in die land gedoen word….koop mekaar om as dit nie natuurlik en op ‘n earlike wyse gedoen kan word nie. Sanral, Wapens, Nkandla, Marikana, en so kan mens ‘n hele boek vol noem. Ek skaam my dood om met so ‘n land geassosieer te word!

Chris v R ·

Omkoop een Afrika is sinomiem. Ek is dus glad nie verbaas nie. Jy moet die kaptein se hand “oopmaak” met ‘n geskenk.

Hennie ·

En so word die net al nouer gespan om die korruptes waaruit ons regering bestaan, en ons land “bestuur” word. Gaan hierdie uitslag nie té interessant wees nie!! Ek kan nie wag nie.

Andrew Jennings ·

Daar is alreeds in 2006 en 2007 boeke deur Andrew Jennings geskryf oor FIFA se korrupsie. Hierdie saak is dus niks nuuts nie.

Soek die volgende boeke:
FOUL! The secret world of FIFA: Vote Rigging and Ticket Scandals
deur Andrew Jennings (2006) (2007)

Theresa ·

O hulle sal ‘n antwoord vir alles hê. Glo my………………………..

Dave ·

Ten minste klaar hierdie nuutste stinkbom Zuma se woorde op oor die ‘ander’ uit Jan van Riebeeck se tyd wat hy nie by naam wou noem nie. Jakob het egter nie geweet dat dit sò vining aan die lig gaan kom van wie hy gepraat het wat die lekker saamspeel opgeneuk het. Harry die Strandloper was dit toe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.