Nuuskommentaar: Fisiologie van ’n rampokkerstaat

Argieffoto

Korrupsie is nou so endemies in Suid-Afrika dat die ANC se steun daal, en veral sigbaar daar waar dit met pres. Jacob Zuma verweef is. Maar alle beweerde korrupsie kan nie op die een of ander manier na Zuma toe herlei word nie – daar is om elke hoek en draai iemand wat konkel – van ’n verkeersbeampte wat boetes teen afslag “verkoop”, tot munisipale en ander staatsamptenare wat geld laat verdwyn, met die staatskaping wat oorhoofs ook sy tentakels diep inslaan.

Terwyl dit ou nuus begin word oor die mate waarin Suid-Afrika gekaap is, is dit duidelik dat dit net ’n deeltjie van die probleem is. Korrupsie-berigte slaan uit in die media waarby die Guptas waarskynlik nie eens met verbeelding betrokke sou kon wees nie. Vanoggend tref die volgende berigte in een dagblad alleen:

–       Van die miljarde rande se droogtehulp deur die staat (altesaam sowat R3 miljard, aldus pres. Jacob Zuma se staatsrede), het net ’n fraksie die georganiseerde landbou bereik. Net 5% van die sowat R1 miljard wat verlede jaar aan droogtehulp bestee moes word, het die bestemming bereik. Agri SA gaan môre tydens ’n mediakonferensie meer besonderhede bekend maak.

–       Dit lyk of die nuwe minister van energie, Mmamoloko Kubayi, sterk van plan is om agter die kap van die byl te kom oor die spotgoedkoop verkoop van Suid-Afrika se oliereserwes. Dit is reeds duidelik dat die 10 milljoen vate nie as deel van die “rotasieprogram” verkoop is soos haar voorganger, Tina Joemat Petterson, beweer nie. Strafregtelike stappe word nou oorweeg.

–       Vroeër het dieselfde koerant (Volksblad) berig dat die Vrystaatse LUR vir huisvesting ’n klag gelê het oor R600 miljoen rand wat nie spandeer is nie, en toe lustig deur sy voorganger, Mosebenzi Zwane, laat uitdeel is sodat die geld nie aan die einde van die boekjaar na die staatskas terugval nie. Zwane is nou minister van minerale sake. Onder die begunstigdes, aldus die klag wat by die Hooggeregshof ingedien is, tel Hlaudi Motsoeneng, en onder andere ook die eggenoot van die nuwe minister van polisie, Fikile Mbalula.

Kort-kort is daar berigte oor amptenare wat vir korrupsie vervolg word. Dit sluit twee Vrystaatse LUR’e in, asook John Block, vorige Noord-Kaapse leier van die ANC. Oor die algemeen is die indruk egter dat dit klein vissies is wat vir relatief geringe bedrae se bedrog aangekeer word. Maar die bietjies-bietjies maak naderhand die emmer vol, en veral in ’n munisipaliteit wat noustrop trek, kan ’n paar rand wat hier en daar voete kry ’n groot verskil maak.

President Jacob Zuma aan die lag tydens ‘n vorige geleentheid in die Nasionale Vergadering. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

News24 dra vanoggend ’n omvattende artikel oor wat as tweedefasebedrog beskryf kan word. Die HOP-huise word wel gebou, en die nuwe bewoners neem hul intrek. Maar skaars is die kontrakteurs weg, of die brouwerk blyk. Barste ontstaan en in die winterreënvalgebiede slaan die muf teen die mure uit. Dit raak ’n stryd om klere binnenshuis behoorlik droog en mufvry te kry – en dit met twee agtereenvolgende droë winters. Kontrakteurs kan nie altyd die skuld kry nie, met laekoste-behuisingskemas wat op gronde opgerig word wat nie werklik geskik is vir die bou van huise nie. Tog verklap die name van sulke woongebiede, soos Turflaagte, dikwels dat die noodlot geteister word. Ironies genoeg het die LP’s se ter plaatse ondersoek by Nkandla aan die lig gebring dat ook dié geboue erg onder barste en ander duidelike tekens van afskeep-bouwerk (waarvoor dikwels buitensporige bedrae belastingbetalersgeld opgedok is) deurloop.

Die uiteinde van so ’n proses waar staatsgeld deurlopend in verkeerde sakke beland? Dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus het dit soos volg in die parlement gestel: “Die besef sal binnekort posvat dat daar nie meer geld is om links en regs uit te gee nie. Die tesourie sal dit mooi verduidelik: Die ekonomie groei nie meer nie, daar kom nie meer geld in nie. Dit is op. Die ANC-regering se vergrype het hom eindelik ingehaal.” Kort en kragtig.

In ’n rubriek deur dr. Leopold Scholtz op Maroela, “Die probleem met korrupsie”, word omvattend gekyk na die vele fasette van korrupsie, die gevolge daarvan soos dat dit die armes die meeste benadeel, en persepsies oor korrupsie in Suid-Afrika, tenderpreneurskap en vele meer. Daar kan geen ander slotsom wees nie, Suid-Afrika is ruim die slagoffer van omvattende korrupsie.

Die hartseer is dat dit ook duidelik is dat die afdanking van Zuma wel ’n groot verskil aan die vlakke van die leegsuig van die land te weeg sal bring, maar dat dit nie oornag die einde van korrupsie gaan beteken nie. Korrupsie mag dalk van sy aantrekkingskrag verloor as die nuwe leiers ’n goeie voorbeeld stel. As die talle instansies wat bestaan om korrupsie vas te vat, soos die Valke, werklik bemagtig word om hul taak te verrig en te wíl verrig, en behoorlike strawwe sonder aansiens des persoons toegepas word. ’n Wydlopende morele herlewing sal baie help, maar dis nie iets wat te enige tyd sommer oor die pos bestel kan word, of “per opdrag” aan kerke sal realiseer nie.

Intussen stuur die behoud van ’n president oor wie se kop soveel donker wolke hang al die verkeerde seine uit. Volgens die jongste peilings deur eNCA-Ipsos betaal die ANC egter ’n prys. Meer as die helfte van alle ANC-ondersteuners wil hê Zuma moet bedank, en sy gewildheid het tot die laagste vlak vir ’n Suid-Afrikaanse president sedert 1993 geval.

So lank as wat die ANC aan Zuma kleef, so lank sal al sy bekpraatjies oor die bekamping van korrupsie net as bekpraatjies ervaar word. Die peiling toon egter ook dat terwyl Zuma se gewildheid daal, adjunk-pres. Cyril Ramaphosa se gewildheid toeneem. Dit bied aan die ANC ’n ontsnaproete, al is dit suiwer op persepsies gebaseer, maar die beergreep op die land is te sterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

jan van riebeeck ·

die probleem is dat al hierdie korrupsie sake lei n niks , n ligte waarskuwing of n tikkie oor die vingers op die meeste en dan gaan hulle maar net aan ? in sjina word korrupte ministers gehang .. dit klink mos meer na n afskrik middel

al ·

Gelukkig dat ons nog ñ morele bewuste land is – ons moet hierdie korrupsie en gedrag van politieke leiers nou stop, terwyl dit relatief jonk is, voordat dit ingebed word in ons samelewing as die norm.

Leendert ·

Jip, en ek sê al vir ‘n geruime tyd, die hele land is nou al gekontamineer. Ons beleef ‘n vryval wat skrik vir niks.

andrea van vuren ·

Die magtige Guptas se liggewig prokureurtjie ‘n sekere Van der Merwe(tjie) is ‘n wit Afrikaner wat ons almal verraai het vir geld!

MCH ·

Dit is uit die artikel baie duidelik dat die Suide van Afrika kwalifiseer as n rampokkerstaat. Die totale gebrek aan politieke wil om die situasie om te swaai is seker die grootste bydraende faktor met nommer een wie se hande kronies in die kasregister is. Daar bestaan nie in die regerende party tans n yster wat die probleem kan uitroei nie. Dit gaan afgesien van meedoënlose jag op die skuldiges, ook impliseer om van seker goed 70% van huidige mense in verantwoordelike posisies ontslae te raak wat nie naaste by kapasiteit het om hul posisie te bekleë nie, om nie te praat van ondergskiktes in dieselfde bootjie nie. Née, ons is so ver heen dat jy krygswet sal moet afkondig ten einde die verrotting uit te roei anders sit jy met Coligny in elke dorp. Dis al wat sal werk. Om dit op n demokratiese en vredeliewende wyse aan te pak, werk nie in Afrika nie.

Vra maar net ·

Indien ons almal in S.A. dit gaan los om so voort te gaan, is ons dalk een van die mooi dae die VN en UN se probleem….? Dan ontvang ons ook kos pakkies uit die lug uit? D.w.s. as hulle dan van ons as Suid Afrika bewus gaan word?

Nico K ·

Ek het 30 jaar terug ‘n artikel in Time Magazine gelees dat die groot rede hoekom Suid Amerika ekonomies nie vooruit kom nie is as gevolg van die hoë korrupsie in daar streek. Dit gaan vandag nie beter nie. Meeste lande daar is arm. En ons weet dit kan nie kolonialisme se skuld wees nie, want feitlik alle Suid Amerikaanse state was teen 1830 al onafhanklik. Amper 200 jaar. Dit voorspel niks goed vir SA nie.

Johannes Meintjes ·

Een manier om te oorwin is om elke gemeenskap op grondvlak te beveilig en volhoubare sosio-ekonomiese modelle binne alternatiewe strukture tot stand te bring. Dit verg gesonde (nie-korrupte) leierskap en alle plaaslike inwoners se wen-wen medewerking. So ‘n model word reeds in Pretoria of te wel Tshwane beplan.

andrea van vuren ·

Liewe Johannes, ek stem nie met jou saam nie. Jy droom vir ‘n oplossing, maar dit het tydens FW de Klerk se oorhandiging van ons kosbare land aan die ANC in die niet verdwyn. Ek glo in niks meer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.