Nuuskommentaar: Fokus op 2012 se silwer randjie

In die Nederlandse stad Alkmaar het ‘n groep mense ‘n vindingryke plan beraam om in die nuwe jaar groot geld te maak. Hulle het ‘n besonder swaar muntpers vasgelê pas dit klaar gerestoureer is…Die polisie krap kop oor hoe die diewe dié loodsware pers verwyder gekry het.

Dwars oor die wêreld is regerings besig om kop te krap oor hoe om die wêreld uit sy ekonomiese sleur gelig te kry.
Vandag vra die Obama-administrasie dat die kongres sy skuldplafon met ‘n verdere $1,2 Amerikaanse triljoen verhoog, wat die skuldplafon op $16,4 Amerikaanse triljoen te staan bring. Dit is die laaste, en finale verhoging wat in werking tree na die Kongres vroeër vanjaar hewig koppe gestamp het hieroor, en streng voorwaardes daaraan gekoppel is.

Japan se post-tsunami- ekonomiese probleme het die leierskap vir die herstel van die Wêreldekonomie grootliks na Wes-Europa laat verskuif, waar die Duitse kanselier Angela Merkel aanvanklik traag was om sterk leiding te neem, en probeer het om pres. Nicola Sarkozy van Frankryk saam aan die voorpunt te laat trek. Frankryk toon egter selfs simptome van die Piigs-sindroom, daardie virus wat die ekonomieë van Griekeland, Portugal, Spanje, Ierland en Italië aantas. Haar rugsteun het sy uiteindelik van kleiner, maar gesonder ekonomieë soos dié van Nederland gekry, en danksy Brittanje wat homself in isolasie gaan plaas het, is daar min twyfel dat Duitsland Europa, en so ook in ‘n groot mate die wêreld se ekonomiese herstel gaan inlei nie.

Wat Europa betref, is daarop nou op die ekonomiese gebied min twyfel is dat dit ‘n geval is van Deutschland über alles is. Boonop het Brasilië vanjaar reeds Brittanje se posisie as sesde grootste ekonomie in die wêreld oorgeneem, en sal Frankryk na verwagting in 2015 ook verbysteek. ‘n Belangrike stap was Wes-Europa se vermoë om daarin te slaag om China se bereidwilligheid om te help, van die hand te wys.

Ook Japan kyk in ‘n groot mate na eie bronne. Die Japannese kabinet het pas ‘n bykomende steunpakket van 12 biljoen yen (€113 miljard) goedgekeur, meer as twee keer so groot soos die vorige twee hulppakette saam. Dit word veral gebruik om die noordelike dele wat deur die aardbewing en tsunami getref is, te laat herstel, maar Japannese bedrywe sal ook 2 biljoen yen se steun verkry. Dié hulp word uit eie bronne soos die verkoop van staatsbates en die verkoop van obligasies gefinansier.

Die VSA hou in 2012 weer presidentsverkiesing, en hoewel dit lyk of pres. Barack Obama in peilings, voorlopig altans effe steun teruggewen het, word ‘n groot deel van die voortuitskouings spandeer daaraan om die ekonomiese beleide en verkiesingsbeloftes van Republikeinse aanspraakmakers te vergelyk. Altesaam 13 miljoen Amerikaners is werkloos, en salarisverhogings is laer as die inflasiekoers.

‘n Belangrike meetfaktor is om aan te dui hoe China hanteer gaan word. China besit sowat $1,6 Amerikaanse triljoen van die VSA se skuld aan ander lande. Dis heelwat meer as wat aan Japan en Brittanje geskuld word. Dis ‘n teer punt vir die Amerikaners, wat voel China is ‘n wisselkoers-manipuleerder, en dat die VSA deur die diens van hul Chinese lenings eintlik China in staat stel om ‘n nog sterker vervaardigingsmededinger te word, en dus nog meer Amerikaanse werksgeleenthede laat verlore gaan. Tuisoplossings is dus gewild.

Die Republikeinse kandidate se opsies vir ekonomiese herstel is beperk en klink dus baie eenders. Twee sake wat by bykans elkeen genoem word is dat die regulering van die ekonomie ter wille van werkskepping beperk moet word, en dat ‘n sterk binnelandse energie-industrie gebou moet word. ‘n Interessante aspek is dat bykans al die kandidate op ‘n manier die mes vir die Amerikaanse Federale Bank in het. Van die voorstelle sluit in dat die magte van die Fed beperk word, en dat die Fed behoorlik ge-oudit en geëvalueer moet word.

Die Europese se ekonomiese nuus bly groen. Bykans geen ekonomiese groei of vooruitsigte word nie meer aan die koolstofspoor gemeet nie, en die VSA sal, as dit ‘n internasionale rolspeler wil bly, hierby moet kers vashou. Die bou van ‘n binnelandse energiebedryf sal dus steeds ‘n belangrike groen stempel moet afdruk, en hernubare bronne sal waarskynlik steeds via subsidies die fokuspunt van die skepping van werksgeleenthede bly.

‘n Belangrike element van die herlewing van ‘n positiewe ingesteldheid wat nodig is vir ekonomiese herstel en die etiese norme wat dit moet rugsteun, is ‘n fokus op godsdiens en die spirituele. In die VSA word kandidate se geskiktheid al dan nie deur invloedryke drukgroepe gemeet aan die hand van die kandidaat se pro-lewestandpunt, of die kandidaat sy stem dik genoeg maak teen Obama se beleid dat die staat vir aborsies op aanvraag moet betaal, terwyl die fokus in Europa meer generies is. Geestelike temas bly egter in Europa teenwoordig – die onlangse jaar van morele higiëne word in verskeie manifestasies voortgesit.

Berigte oor die groei van die Christendom geniet prominensie, terwyl ellelange artikels die invloed van Moslem-fundamentalisme in die Arabiese rewolusies onder die vergrootglas plaas. ‘n Belofte van die Egiptiese Moslem-broederskap dat dit die Christelike kerke in dié land sal beskerm het groot prominensie verkry. Daar is heelwat silwer randjies in die wêreld en Suid-Afrika sal baat om by heelwat hiervan te gaan kers opsteek. Kwame Nkruma het met Ghana se onafhanklikheid glo uitgeroep: “Ontvang hiermee jul politieke vryheid, en alles sal vir julle daarby gevoeg word.” Toe nou nie. Harde werk, werksetiek, improvisasie en die uitroei van korrupsie en die optimale aanwending van kundigheid en talent…kortom, moraliteit, is wat nodig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.