Nuuskommentaar: Fopnuus aan die keel gegryp

Foto ter illustrasie.

Gaan die Europese Unie se beoogde veldtog om burgers toe te rus om fopnuus te herken kan werk as metode om dit te bekamp? Kan so ’n strategie in Suid-Afrika werk? Of moet die veldtogte om fopnuus in die wortel af te knip eerder gesteun word?

“Ons lewe in ’n tydperk waar die inligtingstroom en fopnuus byna oorweldigend geword het. Daarom moet ons ons burgers toerus om fopnuus te identifiseer en die inligting wat hulle ontvang, te verwerk.”

Aan die woord is Frans Timmermans, eerste vise-president van die Europese Unie.

Van vandag af kry burgers, nuusorganisasies, navorsers en owerhede die geleentheid om voorstelle by die Europese Unie in te dien oor wat die EU kan doen om burgers toe te rus om betroubare inligting te kan identifiseer. ’n Groep van kundiges wat die probleem moet ontleed en aanbevelings doen, word ook in die vooruitsig gestel.

Die interessantheid is dat hierdie strategie nie regstreeks daarop gemik is om op die een of ander wyse die verspreiding van fopnuus te voorkom nie. Die EU word gebind deur die bepalings van die vryheid van inligting en mediapluralisme in die handves van fundamentele regte. Die doel, in hierdie stadium, is eerder om fopnuus se tande te trek deur ’n burgery wat goed toegerus is om dit te identifiseer.

Ook in Suid-Afrika was die skrif aan die muur oor hoe blootgestel Suid-Afrikaners vir fopnuus geword het toe verskeie instansies formele veldtogte, soos ’n sensus of bemarking van die belastingseinsoen, begin reël het dat hul veldtogte in die storielyn van sepies soos 7de Laan ingewerk word. Dít nadat dit geblyk het die spandeer van enorme bedrae om die veldtogte deur konvensionele metodes bekend te stel het nie die gewenste uitwerking gehad nie.

Fopnuus in Suid-Afrika het algemeen geword, en kort-kort is ’n groot groep mense op loop weens ’n juweel van ’n hoop bollie wat deur die sosiale media versprei is. Enigeen wat net redelik deur konvensionele nuus oor die werklikheid ingelig is, sou die fopnuus dadelik herken, maar ’n groot deel van die bevolking val eenvoudig daarvoor.

Die interessantheid is dat die regering hom ook tot die beskuldiging van fopnuus begin wend, onder meer om die boeke wat met ernstige aantygings oor die president kom, as fopnuus af te maak. Hierdeur word probeer om die moeisame taak te systap om goed nagevorste inligting met feite te weerlê. Die aantygings word eenvoudig met die titel “fopnuus” onder die mat ingevee.

Sonder veel sukses, want om dit suksesvol te kan doen moet diegene wat dit onder die mat wil invee, geloofwaardigheid hê, en dit het Zuma en sy kornuite lank nie meer nie, in elk geval nie meer onder ’n groot deel van die bevolking nie.

Argieffoto

Is ’n deel van die krisis wat die ANC nou beleef nie die gevolg daarvan dat te veel lede wel toegerus is om fopnuus te herken, en hulle daarteen te verset nie? Met die laaste munisipale verkiesing het die ANC weer met sy “goeie storie om te vertel”-strategie gekom. Dit het klaarblyklik nie meer gewerk nie.

Voorts is mislukkings steeds aan die “nalatenskap van apartheid” toegeskryf. Ook dit wou nie behoorlik werk nie.

Die grondkwessie is hierna met fopnuus gelaai, en dit het ’n effek onder dié deel van die bevolking wat belangstel. Dit kan nou bekamp word ná die eerste behoorlike grondoudit aan die lig gebring het met hoeveel fopnuus die regering die kwessie gelaai het.

Voeg hierby die probleem van politieke korrektheid wat in wese ook niks anders as fopnuus is nie. Is die feit dat Kovsies onlangs die Afrikaanse opsie van hul webwerf verwyder het, dan nie nuus nie, of is dit gewoon politiek inkorrek om dit te noem? Rhoda Kadalie het by geleentheid politieke korrektheid as die diktatuur van die liberalis beskryf.

Waar die grense van fopnuus in die vorm van politieke korrektheid en verantwoordelikheid lê, sal ’n kwessie van debat bly, soos die kwessie van die werklike impak van kolonialisme.

Maar om fopnuus in te span om korrupsie, staatskaping, verkiesingsfoefies en vele meer ’n ander aanskyn te gee, is sleg.

Is ons mense egter in den brede gereed om toegerus te word om fopnuus te herken en te verwerp? Of moet die land hom maar verlaat op die vele veldtogte om fopnuus heeltemal te voorkom?

Uiteindelik word ’n prys vir fopnuus betaal. Jare lange beloftes oor gratis hoër onderwys eendag, het nou die regering aan die hakskeen begin hap. Die Heher-kommissie se objektiewe verslag (in die media die “harsh truth” genoem) gaan nie voorkom dat fopnuus weer tot studente-onluste lei nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Johan du Toit ·

Hier is mos nou `n wonderlike geleentheid om `n toepassing te ontwerp wat jy kan aflaai om “fake news” op sosiale media te blok. waar is ons jong slimmes met rekenaars. Hier is julle kans!

JoeV ·

Wat is “fop nuus” anders as “bedrog nuus”. Dit is bedoel om lesers te bedrieg, ontbreek aan feite, is bedoel om skade aan te rig, en word vir eie gewin gebruik.
Wat sê die wet oor enige van die feite?

John ·

Dis ‘n eeue oue storie… die leuen. Hierdie is net weer ‘n nuwe fop-metode om geld te maak uit twak… (kyk maar net hoe ryk is sigaretmaatskappye…) Dieselfde mense wat so oeee en aaaa oor die fobnuus-vervaardigers is selfs lekker verslaaf aan die high’s daarvan… kyk net hoe draai mense se oe in die kaste as Trump of Putin net hard asemhaal… dan is almal by CNN op hul asma-pompies en die Clintons gekoppel aan vol suurstoftenks…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.