Nuuskommentaar: Fopnuus in die nuus

Foto ter illustrasie.

Goeie verslaggewers se taak om berigte en artikels te voorsien behels veel meer as net ’n mediaverklaring en ’n enkele telefoniese oproep. ’n Enorme algemene kennis is byna altyd nodig, asook ewewigtigheid en insig. Fopnuus het geen plek nie. Tog is dit ironies hoe van die mees gerespekteerde joernaliste se meesterstukke soms onder die kritiek van ’n groepie lesers, wat skynbaar verslaaf is aan fopnuus, smerig deurloop.

’n Mens kruis nie swaarde met diegene wat hul ink by die konka aankoop nie. So het ’n afgetrede regter wat ná sy aftrede polities aktief geraak het, by geleentheid moedeloos gesê.

Die regter het destyds, toe dit nog algemene praktyk was vir dagblaaie om ’n spesifieke politieke party se bondgenoot te wees, dié opmerking gemaak. Die regter het naamlik sy gewig by ’n “verkeerde” politieke party ingewerp. Skielik was die eens hoogs gerespekteerde regter ook politieke vrybuit. By geleentheid het dit so erg gegaan dat die regter en ander ringkoppe van die betrokke party sonder afspraak by die plaaslike dagblad opgedaag het, want andersins was die redakteur wat as ʼn groot lafaard beskryf is, nooit beskikbaar nie.

Die redakteur is dié dag letterlik op die troon gevang. “Die man het soos ’n vark gesweet van die bangheid,” het die regter gesê, en toe tog die kort lootjie getrek.

Die koerant se hoofkantoor het nie verniet die bynaam van “fort” gekry nie.

’n Paar jaar later het die redakteur se werkgewers hom onttrek as getuie aan ’n saak voor die mededingingskommissie, so asof daar nie vertroue in hom as getuie sou wees nie.

Fopnuus bly in die nuus. Een van die groot bydraende faktore hiertoe is dat pres. Donald Trump dit gereeld as ammunisie aanwend in wat Rasmussen-peilings as sy “oorlog teen die media” noem. En voor die slaafse Trump-ondersteuners Rasmussen slegsê, dis stellig die saakmakende agentskap wat Trump die meeste goedgesind is, en sodoende byna soos klokslag in die kol met voorspellings is.

In ’n nuwe artikel, “The Rasmussen Minute REVISITED: ‘Fake News?’”, skryf  Rasmussen: “This week’s Rasmussen Minute takes you to the front lines of Trump’s media war and highlights surveys that suggest many voters share the president’s doubts about reporters and what they report.”

Kort voor die jongste Wall Street-duikslag het daar in Europa ’n beweging tot stand gekom met die doel om groot sakelui, die politici en die media te oortuig om ’n groter mate van moraliteit aan die dag te lê. Die aanslag teen die media het egter min of meer verdamp toe die media op die voorpunt gestaan het om wanpraktyke deur groot sakelui, soos bankbase, aan die kaak te stel.

Pres. Donald Trump van die VSA. (Foto: Susan Walsh, AP)

Rasmussen meen Trump het, met sy gewese politieke opponente op die ashoop agtergelaat, sy jongste vyand geïdentifiseer, naamlik die media. Die vernaamste pyl in sy koker is om te beweer die media gebruik fopnuus – nie net om Trump by te kom nie, maar in die algemeen. Rasmussen sluit af deur daarop te wys dat baie kiesers die president se mening deel dat hulle bedenkinge het oor verslaggewers en wat hulle skryf.

(Politici en hul moraliteit is ’n onderwerp op sy eie. Dink maar aan ’n voormalige premier van Mpumalanga wat gesê het dit is in die haak vir politici om te lieg.) Die Malusi Gigaba-sage is nou vol in die nuus en sy afdanking as minister is al ’n geruime tyd te wagte.

In Suid-Afrika speel die media ’n belangrike rol om staatskaping bloot te lê. Dit word die media se waghondfunksie genoem.

Met die ommeswaai in Europa oor wie meer moreel behoort op te tree, het verskeie politici die media erg heuning om die mond probeer smeer. Die media is selfs die vierde been, weliswaar nie-amptelik, van die demokrasie genoem, ’n waarheid wat terloops bly staan.

Die media, en veral die gedrukte media, is egter om verskeie redes erg onder druk. Die opkoms van die internet word gewoonlik geblameer, maar binne die media is daar ook ’n gewaarwording dat die media in sy reaksie skeefgetrap het toe ervare joernaliste om kostes ontwil, met jong en onervare joernaliste vervang is. Die eise wat aan joernaliste gestel word om goeie werk te lewer word nie aldag besef nie. Een so ’n bate is enorme algemene kennis.

Ter demonstrasie. ’n Skakelbeampte van ’n politieke party reik op sterkte van ’n mededeling deur sy LPW (lid van die provinsiale wetgewer) ’n verklaring uit oor ’n predikant wat met sy motorfiets in rou riool gegly en geval het. Die LPW was ’n tentmaker-leraar en kollega van die predikant wat met die motorfiets geval het.

’n Baie ervare verslaggewer volg die storie op, en skakel die skakelbeampte. Hy neem die selfoon reguit na die LPW, en sukkel onderweg om aan die verslaggewer (wat al verskeie mediatoekennings ontvang het) te verduidelik wat ’n LPW is. Die predikant ontken die storie toe dit verskyn, en kla by die koerant. Die verslaggewer word vir ’n verduideliking gevra, en sy, skynbaar steeds onbewus van wat ’n LPW is, pak die skuld op die skakelbeampte. Die redakteur verklaar dat dit wys “watter soort mens” die skakelbeampte is.

Sal Trump ’n baie ou opvatting, naamlik dat die pen magtiger as die swaard is, verkeerd kan bewys?

Of is dit eintlik ’n veldslag tussen die konvensionele media en die hoofsaaklik sosiale media, bygestaan deur enkele nuusdienste wat ’n ander ingesteldheid as die hoofstroommedia het? Of het die tegnologiese era ’n omgewing geskep wat ongunstig is vir die gedrukte media se oorlewing? Dit ten spyte daarvan dat sentimentele (en ’n aantal praktiese oorwegings) (nog) ’n belangrike lewensaar is, en sosiale media steeds nie so ’n aantreklike advertensiemedium is dat dit die nodige lewensbloed voorsien nie.

Die media moet egter deurlopend die knap, wydbelese verslaggewers wat vaardig met die pen en taal is, koester. Om ’n “verslaggewer” in te span wat meen ’n mediaverklaring en een oproep is voldoende om ’n berig op te lewer, bring moontlik groot kostebesparings teweeg, maar is ’n belediging vir die leser, wat op die een of ander manier gaan reageer.

’n Verkeerde keuse met ’n redakteur kan egter ook ’n kitsramp beteken, en daarvan het die land die afgelope paar jaar genoeg beleef. Regstellende optrede neem egter dikwels lank, en die skade word selde volledig omgekeer.

Nuusverbruikers het nou soveel toegang tot nuus, ’n medium wat fopnuus inspan, of selfs bona fide-foute maak, word gou ontbloot.

Al is dit duidelik dat daar ’n element onder die lesers is wat graag fopnuus glo, en in die kommentaargeriewe vir lesers nie skaam is om heftig vir die ongeloofwaardigste bollie in die bresse te tree nie. Vanuit hierdie geskepte illusiewêrelde word verslaggewers onder die modder (en soms vrot eiers en tamaties) gesteek. Hierdie “kommentaarskrywers”, gewoonlik agter ’n skuilnaam verskans, is dikwels boos as hul meesterbollie verwyder word.

  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

So Rasmussen dokter nie sy inligting nie; altoos perfek en korrek? En joernaliste kan sonder respek, maak nie saak wie nie, mense doodskree selfs mede joernaliste oordonder. Die meeste VSA-presidente was rokkejagters, met die geliefde Kennedy skaamteloos aan die voorpunt, maar nou dat liberale partye groei, is hulle tog so heilig en Trump die boef. Verskaf asb ‘n lys van alles wat Trump verkeerd gedoen het wat sy land en die wereld bedreig. Skynbaar is enigeen wat repliek lewer op die ou garde joernaliste uit die dae toe die volk bek-moes-hou-en-luister, dom en oningelig en moet deur Maroela ontmasker word. Die lys sal baie waardeer word en nie Hillary of Soros of Mueller ea s’n nie. Dalk moet daar nie kommentaar toegelaat word by die paar ou penne sonder ink nie, ons weet mos wie, want hulle alleen weet en dink.

Kryger ·

Probleem is dat joernaliste nooit hulle eie professie beskerm het deur die fop nuus te ontbloot nie en die journaliste wat dit versprei aan die kaak te stel nie. Daar moes lankal al ‘n paneel gewees het wat lieg stories in die media moes ondersoek en die betrokke joernalis en selfs sy werkgewer op ‘n manier tugtig. Nou dat die joernaliste (wat nie in die sakke van politici is nie), deur middel van internet die waarhede blootle, nou is die hoofstroom media skielik die slagoffers.
AS CNN by verskeie geleenthede al uit en uit gelieg het, sonder dat verskonings aangebied is of enige regstellings, moet ons nog steeds die ander berigte wat nie verkeerd bewys kan word glo?
Hoekom het die “ervare joernaliste” nog nie hulle kolegas aangevat nie? Miskien bang hul word afgedank? ‘n Joernalis wat sy sout werd is sal nie bang wees om afgedank te word nie… en ja, dis erg, maar dis die bedryf wat hy gekies het.

Gerhard ·

Die groot probleem is dat joernaliste nie behoorlik gereguleer word soos ander professionele beroepe nie. Dink maar net wat gebeur as mediese dokters, ingenieurs, prokureurs, ens. nie gereguleer word nie. Dit is waarom fopnuus binne en buite die hoofstroom media plaasvind.

Twakkie ·

Interessante artikel uit die oogpunt van die media! As ‘n leser met die wye algemene en mensekennis wat ‘n langerige leeftyd van werk met idees en menings mens leer, stem ek grotendeels saam. Ek is ‘n ondersteuner van pres. Trump se politieke beleid en juis die verwoede en aanhoudende persoonlike aanvalle op hom deur sy politieke teenstanders en hulle meelopers in die media, sonder ‘n eie positiewe politieke beleid, het my gewaarsku om wyer te gaan soek as juis dié media, wat al is wat ons hier in SA te sien kry. Pres. Trump se beskuldigings is spesifiek op sekere media gerig, allermins alle media, en dit is baie duidelik dat dié media lankal afgesien het van enige poging tot balans. Veral as ‘n mens toegang het tot pro-Trump-media, soos Amerikaners almal het, en jy kan bv. pres. Trump se toesprake op video vergelyk met die anti-Trump-media se weergawe daarvan. Die anti-Trump-media in die VSA het hulle eie graf gegrawe. In SA is daar ook ‘n baie groot Afrikaanse mediagroep wat, soos die hoofstroommedia in die VSA, dalk vergeet het dat hulle nie regtig die land regeer nie, en te besig is om te probeer voorsê eerder as rapporteer en menings gee. Onervare lesers, kykers en luisteraars sal meegesleur word deur propaganda; ervare mense nie.

sweiz ·

Ek stem saam met President Trump die media is ons grootste vyand,mense glo wat hulle in koerante lees en vorm dan n opinie.Die meeste verslaggewers gee nie die feite soos dit is nie agv vrees vir rassisme of vrees dat hulle geteiken sal word.Die meeste verslaggewers jaag ook net sensasie na en daar gaan die feite verlore of so verdraai dat dit dan n naam kry …FOBNUUS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.