Nuuskommentaar: Fopspeen vir Afrikaner?

Argieffoto

Argieffoto

Die meeste ervare kommentators is oorbluf oor die stroom positiewe reaksie op pres. Jacob Zuma se repliek op die debat op sy staatsrede wat versoenend, en die eienskappe van staatsmanskap sou hê.

Veral Zuma se versekering aan witmense oor hoe deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap hulle sou wees, is aangegryp.

Die hardebaard-kommentators wys daarop dat daar eintlik niks nuuts aan Zuma se repliek was nie. Hy het al lekker saam met Afrikaners (en Steve) gebraai, het al beloftes gemaak, en het al verduidelik hoe nodig Afrikaners se kundigheid is dat diegene wat hulle nou oorsee bevind, moet kom help om die land te bou.

’n Mens kan sinies daarop wys dat daar al verskerpte optrede teen korrupsie beloof is, dat Eersterus wat pas weer op groot skaal oor die beergreep van dwelmhandelaars betoog het, al ter plaatse van omvattende regeringsinmenging beloof was (en daar was selfs ’n ruk lank), dat vermorsing sal end kry, en vele meer.

Beloftes maak is maklik, om uitvoering aan die beloftes te gee is heelwat moeiliker, veral as beloftes teenstrydig is.

Vandag neem Die Burger en Beeld die kwessie ook in oënskou in ’n hoofartikel, getiteld ANC moet dié paaiery van Afrikaners staak. Oor of die “towerformule” min of meer volbring word bloot deur die grondwet se bepalings aan “alle Suid-Afrikaners gelyke regte en vryhede bied, hoef niemand dus vir spesiale behandeling uitgesonder te word nie” as vertrekpunt  gebruik kan word , is dalk ’n naïewe oorvereenvoudiging. Staatsreg (Grondwetlike Reg) is selde in die vorm van ʼn simplistiese kode gegiet, veral Suid-Afrika se finale grondwet wat baie soos ʼn raamwerk geskryf is, en waaraan die howe deur uitsprake, die parlement deur wette en op ander erkende maniere soos internasionale konvensie, inhoud gegee moet word.

In Suid-Afrika het dit daartoe gelei dat selfs kundiges die grondwet en sy bedoeling deur ’n eie ideologiese bril beoordeel. Verlede jaar is die kop geskud oor prof. Adam Habib, die rektor van Wits, wat Afrikaners verkwalik het wat die grondwet sou “misbruik” om “enklawes” op kampusse te bou. Die politieke kommentator, dr. Piet Croucamp, het dit veral teen diegene gehad wat die grondwet gebruik om die liberale grondwet mee om te trek.

Habib had dit ook daarteen dat mense wat die grondwet so “misbruik” die “opdrag” (vermoedelik transformasie) in die wiele sou ry.

Dit moet darem ’n baie patetiese grondwet wees as dit teen homself ingespan kan word. Die werklikheid is dat elkeen sy eie ideologiese uitkoms in die grondwet raaklees. Op die RSG-program, Kommentaar, het Max du Preez verlede jaar erg uitgepak teen mense wat op vorme van selfbeskikking aandring, omdat die grondwet ’n unitêre staat sou voorstaan. Artikel 235 se opskrif lui egter: “Selfbeskikking.”

Beeld en Die Burger is deels reg oor die regte wat die grondwet aan almal bied, maar versuim om te noem dat dit ’n heel ander kwessie is om daardie regte te laat geld. Die howe moet male sonder tal opgesoek word, en dikwels volg die regering maar ’n enkele strategie – om die sake wat hy verloor maar net op appèl te neem met die hoofdoel om sy opponent (wat nie so lekker uit die staatskas kan put nie) geldelik te breek voor die howe wel besluit nie. Die bekende Modderklip-saak was ’n uitstekende voorbeeld waar die staat al die rondes verloor het, en in die appèlhof selfs ’n dag afgestaan is om die staat die geleentheid te bied om te skik (en sy beursie saam te bring).

Verskeie kere moes die staat oor dieselfde saak meer as een keer hof toe geneem word. ’n Voorbeeld was die aanstelling van die raad by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, waar ’n skikking buite die hof ʼn hofbevel gemaak is. Toe die destydse minister nie uitvoering aan die skikking gee nie, moes die hof weer genader word. ’n Paar jaar later was daar skynbaar ’n presiese herhaling van die ongeldige aanstellingsproses, maar dié keer is die saak nie hof toe nie, en is probeer om die media oor die verwikkelinge agter die skerms in die duister te hou.

Nog ʼn bekende voorbeeld was toe Vrystaat Landbou die staat hof toe geneem het oor veral die veiligheid van boere op die grens wat verslons is. Ook hier is ’n skikking buite die hof bereik en ’n bevel van die hof gemaak. ’n Ruk later moes Vrystaat Landbou die staat opnuut hof toe neem vir nie-nakoming, en is ’n nuwe skikking bereik en ’n bevel van die hof gemaak.

Die ANC het ook tot in die appèlhof gevorder na Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak, en ook daar is ’n skikking bereik wat ’n bevel van die hof gemaak is.

Soms lei dit tot absurde situasies. Met die Anwa Dramat-verwante hofsage is die skorsings deur die minister in twee hooggeregshofsake onwettig en ongrondwetlik verklaar. Die persone wat (waarnemend) in hul plekke aangestel is, se aanstellings is ewe-eens ongrondwetlik verklaar. Nou appelleer een van die betrokkenes wie se aanstelling ongrondwetlik verklaar is in daardie (ongrondwetlike) hoedanigheid in ’n verwante saak. As dit darem nie minagting van die grondwet is nie, is dit moeilik om ʼn mens in te dink wat dan op minagting van die grondwet neerkom.

Kortom, in hierdie komplekse doolhof bied die grondwetlike raamwerk groot ruimte vir allerlei beloftes, wat bloot weer deur ander agendas uit ander hoeke van die grondwet gerysmier kan word.

Wanneer sal Zuma met sy beloftes aan die Afrikaner ernstig daarmee opgeneem kan word?

  • Wanneer hy sterk en ferm dr. Blade Nzimande se dreigement om Akademia te sluit, repudieer. Daar is vooraf intensief navorsing gedoen om te verseker Akademia sal aan alle grondwetlike vereistes voldoen. Dit sluit niemand uit wat sy lesings in Afrikaans wil bywoon nie. Tog dreig Nzimande om dit te sluit omdat dit “uitsluitend” sou wees. As Nzimande konsekwent wou wees, moes hy Ikeys, Wits en ander ook met sluiting hieroor dreig omdat iemand wat na daardie universiteite wil gaan, maar hul lesings in Afrikaans wil bywoon, ’n bloutjie sal loop.
  • As Zuma die kwessie van plaasmoorde aangeraak het, en verkieslik tot prioriteitsmisdaad verklaar het. Hieroor het hy egter in al elf amptelike tale geswyg.
  • As hy hom oor die werklikhede van die geskiedenis sou vergewis. Hy volstaan egter by sy weergawe van die geskiedenis rondom die koms van Jan van Riebeeck.

Dit beteken nie die grondwet is uiters belangrik nie. Dit beteken ongelukkig dat dit vir die individu bykans onmoontlik is om te sorg dat die regte, en selfs bedoelde vleis, in die grondwetlike uitlegte ingeskryf word. Dit maak die rol van burgerlike organisasies net nog belangriker, want as die regering vet kanse met die grondwet vat, of die grondwet doelbewus ondermyn, beteken dit dat in die howe geboer sal moet word. ’n Mens sidder om te dink waar die land sou wees sonder hofsake waarby die Right 2 Know-veldtog, AfriForum, Outa, TLU SA, Agri SA, Solidariteit en vele meer betrokke sou wees. Solidariteit is selfs deur die omstandighede gedwing om ʼn hofstrategie te aanvaar.

Hierdie situasie lei ongelukkig ook daartoe dat daar vanuit onder meer links-liberale kringe ’n soms skynbaar georkestreerde veldtog van verdagmakery teen meer behoudende burgerlike instansies van stapel gestuur word. Word sulke instansies suksesvol gediskrediteer sal wantroue oor hul motiewe vir hofsake bestaan. Vergelyk onder meer die stroom Kaapse artikels oor AfriForum se haatspraakklag teen Dookoom, waarby Solidariteit ook sommer breedvoerig ingetrek is, en selfs die voorganger, die Mynwerkersunie, bygedam is. Nou is dit die Steve-Treurgrondsage.

So lank die grondwet so vaag geskryf is dat “’n wa en span osse daarin kan draai” sal die howe vir uitlegte genader word om deur presedente die vleis daarin te gee. ’n Saak wat nou baie aandag trek is die hofsaak wat ’n ateïstiese groep teen ’n aantal openbare skole aanhangig gemaak het oor die skole se keuse om ’n Christelike etos te handhaaf. Elkeen van die strydende partye glo dat die grondwet hom gelyk gee.

Terwyl die fopspeen wat Zuma nou en dan aan die Afrikaner bied oor ’n lang afstand herken word, is dit nie altyd so maklik om te bepaal wanneer mense met minder edel motiewe die Afrikaner met ’n gesus oor die grondwet ’n fopspeen in die mond stop nie.

In die VSA dryf ateïstiese groepe, wat eintlik in aktivistiese groepe ontaard het, die een saak na die ander. In ’n onlangse Rasmussen-peiling blyk dit egter onder meer dat 52% van die respondente meen daar is te min godsdiens in skole, terwyl net 11% meen dit is te veel. Ongeveer die helfte van die Amerikaners meen die VSA sal ’n beter plek wees as meer mense op ʼn gereelde grondslag godsdiens beoefen, terwyl net 7% meen dit sal van die VSA ’n slegter plek maak.

Onder die jongste aanslae in die VSA is ’n ateïstiese groep wat ’n skool wil dagvaar oor ’n ou gedenksteen wat op die skoolterrein opgerig is. Dit is opgerig ter ere van ʼn onderwyseres wat jare lank daar skoolgehou het, en uiters gewild was, maar toe verongeluk het. Die ateïstiese groep het dit teen engele wat op die gedenksteen gegraveer is.

Dit is nodig dat die howe nou klarigheid gee oor die interpretasie wat ons grondwet hieroor  bied. Vir die Afrikaner was godsdiens nog altyd baie sentraal, maar ʼn ongunstige hofuitslag kan die Afrikaner se godsdiensbelewenis en uitlewing ernstig inkort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hans Pietersen ·

Die howe sal uitspraak oor die godsdiens-in-skole vraagstuk kan lewer sodra die Afribendes ophou sloer. Intussen, vir die rekord:

1) OGOD is nie ‘n ateïstiese groep nie maar geniet ondersteuning van, onder andere , Christene.
2) OGOD het en sal nooit vra vir die verbanning van godsdiens in openbare skole nie, maar slegs vir inklusiwiteit en vrywillige deelname, dit wil sê die beëindiging van godsdiensapartheid en -elitisme.

Herman Toerien ·

Hallo Hans. Hierdie storie kom al sedert die dagvaarding aan, en eintlik vroeër toe dit nog onder die vaandel van Vrydenker Suid-Afrika gedryf is. Daar is toe die onderwerp spesifiek aangespreek is baie moeite gedoen om feite agtermekaar te sit.
Ek aanvaar daar kan Christenouers en ouers van ander gelowe in die organisasie wees. Die veldtog volg egter baie sterk ooreenkomste met veral ateïstiese drukgroepe in die VSA.
Jou tweede stelling val vreemd op, want dit is min of meer wat die skole ook wil hê, en formeel (hoewel dalk lomp) bedryf. Die inligting strook ook nie met ‘n onlangse berig uit Volksblad wat die NG Kerk se standpunt hieroor reflekteer nie – maw dit wat julle voorstaan het nie so by die instansies wat dit teenstaan uitgekom nie. Vgl Volksblad-berig waarop ek nie ‘n regstelling in die argiewe sien nie: NGK vra lidmate om vir onderwys te bid
Anika Marais
KAAPSTAD. – Die NG Kerk het ’n beroep op lidmate gedoen om Sondag vir die onderwys en die hofsaak teen ses skole te bid.
Ses Afrikaanse skole word deur die Organisasie vir Godsdiens­onderrig en Demokrasie (Ogod) voor die hof gedaag om hulle te verbied om onder meer Christelike waardes en norme voor te staan.
Die NGK beoog om saam met ander geloofsgroepe as “vriend van die hof” op te tree.
“Dit is ons geloofsoortuiging dat die kerk baie belangrike geestelike ondersteuning aan die onderwys kan bied. Ons kan nie eenvoudig terugstaan en toelaat dat godsdiens uit die opvoedingsdomein gehaal word nie,” het dr. Braam ­Hane- kom, moderator van die NGK in Wes- en Suid-Kaapland, gesê.
“Ons doen dit nie net ter wille van onsself nie, maar ons glo godsdiens kan ’n belangrike bydrae tot die onderwys lewer as dit op die regte manier benader word.”
Die voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fed­sas), Paul Colditz, wat die hofsaak namens die skole koördineer, voorspel dat die saak eers aan die einde van die jaar die hof sal haal. “Ons het nog ’n ver pad om te stap. Ons doen nou navorsing by die ses skole en hoop om die hofstukke teen einde Mei in te dien.”
Die skole het in Oktober in die hof uitstel gevra om op Ogod se aansoek te antwoord.
Navorsing word onder die leerlinge van die ses skole gedoen om uit te vind hoe hulle godsdiensgebruike in die skole ervaar.
Die Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven-Gimnasium in Oudtshoorn is twee van die ses skole wat deur Ogod voor die hof gedaag word.
Ds. Gustav Claassen van die Algemene Sinode van die NG Kerk het in ’n nuusbrief lidmate gevra om vir dié hofsaak te bid. “Die saak raak nie net die ses skole nie, maar alle skole. Die saak raak die kern van hoe Suid-Afrika in ’n grondwetlike bestel funksioneer.”
In dieselfde nuusbrief doen die NG Kerk ’n beroep op die departement van basiese onderwys om dit te heroorweeg om matrikulante se name en uitslae te publiseer.
“Leerlinge, ouers, onderwysers en skole wat streef na uitnemendheid, verdien om daarvoor erkenning te kry. Positiewe erkenning het meer waarde as om die negatiewe te verbloem,” het Claassen gesê.

Dirk de Wet ·

Herman, dit is omdat die Afribendes mense wil opsweep om geld te maak dat hulle nie ware feite beskikbaar stel nie.

Gaan vra eerder vir Paul Colditz hoekom hulle die waarheid verdraai dat mense godsdiens uit (wit, Afrikaner en Christelike) skole wil haal.

Dit het natuurlik ooreenkomste met VSA se situasie, bloot omdat daar ook geveg word vir die erkening van regte van elkeen se reg tot denke en geloof.

Fanie ·

Lyk my Herman se klip in die bos het getref, noudat 2 tjankende brakkies uitgekef kom. Dirk en Hans, jul groep se ‘naam’ wys sommer duidelik julle wil Christene in die gesig spoeg. As julle opreg was, kon julle ‘n ander weg gevolg het. Julle moet maar die veiligheidsbelde vasmaak- julle het mos ‘n geveg gesoek en gedink Christene sal sommer gaan lê. Onthou net:’Cowboys don’t cry, especially not in front of their horses! Fedsas word met steun en beursies bygestaan, genoeg mense is moeg vir ‘n mikrogroepie boelies met mediasteun.

Hans Pietersen ·

Herman (en ander): Ek neem niemand kwalik dat hulle die OGOD-aksie verkeerd verstaan nie – Afriforum, SAOU en FEDSAS help hard om die verkeerde beeld van Christenvervolging te skep, hetsy opsetlik (dit help om koffers te laat bult) of terloops (onkunde stimuleer samesweringteorieë). Maar die feite sal ongetwyfeld in die hof uitkom. Ek dink ons almal sien na daardie dag uit.

Ongeag wat in die VSA gebeur is ons Grondwet (en ook OGOD se doelwitte) anders, goed verwoord deur die Nasionale Godsdiensbeleid van 2003. OGOD se mosie stel dit pertinent dat ons aksie nie teen Christene óf Afrikaners is nie, en vra beslis nié vir die totale afskaffing van godsdiensrituele en -gebruike in skole nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.