Nuuskommentaar: Fort Zuma se skanse teen howe

Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Maak pres. Jacob Zuma se strategies juridiese en kwasi-juridiese skanse hom onaantasbaar of bly hy kwesbaar? Kan sy juridiese verskansing byvoorbeeld keer dat die land tot rommelstatus afgegradeer word?

Pres. Zuma en sy besluite was pas weer deel van verskeie hofuitsprake, en die huidige toedrag van sake is dat dit “met ’n oorwig van waarskynlikhede” lyk of Fort Zuma onindringbaar is, selfs deur die howe.

Die een oomblik juig Suid-Afrikaners oor hofuitsprake wat op die onafhanklikheid van die regbank, waaronder die konstitusionele hof, dui. Die volgende oomblik word gehuil wanneer daar ’n ander uitspraak is as wat gehoop is.

Die onlangse lofprysings van die howe ná die konstitusionele hof Zuma oor die Nkandla-kwessie met die kluitjie in die wind gestuur het, het prof. Koos Malan van Tuks na die pen laat gryp. In Rapport skryf hy onder meer: “Enkele kommentators was ligweg uitasem oor die wonder van geregtelike hersiening en ingryping in die dwaalweë van die wetgewer en die uitvoerende gesag – en by implikasie van die ANC, wat in beheer van hierdie organe is. Hierdie sienswyse is, helaas, oordrewe. Verkeer jy onder die bekoring van hierdie weldadige wanindruk, is jy vir ’n onaangename teleurstelling bestem.”

Hy gaan voort om na verskeie uitsprake van die konstitusionele hof te verwys wat nie so lekker afgegaan het nie, waaronder die Renate Barnard-saak, die onteiening van minerale regte, en dan ’n kwessie wat sommer gou weer kom spook het – die outonomie van skoolbeheerliggame. Sy ink was skaars droog, toe verloor Fedsas ’n saak in die konstitusionele hof teen die omstrede Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, wat skoolbeheerliggame se magte so beperk dat daar nou onsekerheid is oor die voortbestaan van Afrikaansmediumskole.

Voor hierdie uitspraak is egter in ’n verskeidenheid replieke van Malan verskil.

Malan is egter nie heeltemal alleen roepende in die woestyn nie. Ook die FW de Klerkstigting het by geleentheid ’n hele rits uitsprake van die konstitusionele hof gelys wat volgens die stigting foutief was. Dit was reeds bekend dat Solidariteit die Barnard-saak wil internasionaliseer, en met die Fedsas-saak het AfriForum soortgelyk gereageer. Solidariteit meen selfs die Fedsas-uitspraak kan ’n skending van die vredesakkoord wees waarop Suid-Afrika se hele grondwetlike bedeling berus.

So iets het uit die aard van die saak ook niestaatsregtelike implikasies. Hoewel taamlik wyd gevoel word dat Suid-Afrika se Grondwet te veel gebreke het om, soos gereeld verkondig word, “as die beste grondwet ter wêreld” beskryf te word, is dit ongetwyfeld al waarmee intussen gewerk kan word sonder om in tamatiestraat te beland. Dit moet goed genoeg wees dat dit vir belangrike sake gebruik kan word, soos om Afrikaanse hoër onderwys te verseker. AfriForum se reeks interdikte teen die US, en komende hofsaak teen Kovsies oor die taalkwessie, is hopelik voorbeelde hiervan. Voorts word seker gemaak deur ’n gordel, kruisband en ’n stywe rek in te span om die broek op te hou deur die ontwikkeling van Akademia.

Wanneer die konstitusionele hof egter uitsprake maak soos dit wat Malan uitgewys het, verswak dit die posisie van diegene wat aanvoer dat die Grondwet vir onder meer minderheidsregte, beskerming van eiendomsbelange en vele meer ingespan moet word. Die druk kom van “links” en “regs”. Links, soos van diegene wat skynbaar glo daar is nie plek vir voet neersit teen die owerheid, rektore, en so meer nie, en dat gehou moet word by ’n soort ewigdurende (onderdanige) dialoog en klimaatskepping (ongeag die grondwetlike regte wat skynbaar bestaan), want kyk net wat het met die Renate-saak gebeur.

Van regs van diegene wat erg radikale taal gebruik wat dit dikwels laat klink of die sprong na gewapende optrede net ’n hanetreetjie weg is, en dikwels hartseer agter die tralies eindig.

Die direkteur van Nasionale Vervolging, Shaun Abrahams, se besluit om ’n hooggeregshofbeslissing oor die vervolging van Zuma op appèl te neem, lyk op die oog af na skraal vyeblaartaktiek, maar die proses kan die uiteindelike vervolging van Zuma bitter lank frustreer.

Een van Zuma se skynbaar getrouste aanhangers in die Nasionale Vervolgingsgesag, adv. Nomgcobo Jiba, het pas ’n reddingstou gekry ná die DA se hofaksie misluk het. En dit is maar enkele voorbeelde van hoe Zuma sy aanvanklike kwesbaarheid strategies gaan verskans het.

Die probleem met ’n fort is egter dat die persoon soms uit die fort moet kom. Jare gelede het ’n kluisenaarboer van Parys sy huis behoorlik in ’n fort omskep, met skietgate en al. En toe wag sy moordenaar hom buite in waar hy volkome kwesbaar was.

Die juridiese en kwasi-juridiese skanse wat Zuma om hom opgerig het, kan hom egter nie teen ’n verskeidenheid optredes beskerm nie. Die #ZumaMustFall-veldtog se doeltreffendheid hang byvoorbeeld nie af van hoe sterk Zuma se juridiese skanse is nie, maar van die integriteit van die ANC.

Graderingsagentskappe sal hulle ook weinig steur aan hoe goed Zuma gekussing is, en hoe goed die president hom met napraters en kruipers omring het. Trouens, dit kan teen die land tel. Die vertroue wat Zuma deur woord en daad kan skep (en verkieslik aangehelp deur daadwerklike gevolge soos die vasvat van korrupsie), gaan bepaal of Suid-Afrika rommelstatus verkry of nie.

Regte, selfs grondwetlike regte, is egter sinneloos as dit nie opgeneem kan word nie. Om daardie regte as individu op te neem kan egter onbekostigbaar wees. Daarom word ’n grondwetlike demokrasie as nie volledig nie en kwesbaar beskou as daar nie ’n behoorlike vrye pers en burgerlike instellings is nie. Burgerlike instellings moet egter breë steun kry om doeltreffend te kan wees.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Theuns ·

Jou aanames is weer 100% korrek en relevant. Net wanneer ons baie moed en hoop kry dan word ons weereens teleurgestel. Vat maar die saak tussen Fedsas en Lesufi. Assistent Hoof Regter Motseneki se uitspraak kan nie korek wees nie en my opinie ‘n skending van die Vredesooreenkoms van 1994. Ek is nogal bly dat hy nie die “top job” gekry het nie want dit sou die onlangse saak teen Zuma in die Konstitunele Hof beinvloed het. Motseneki wou seker maar met sy laaste uitspraak die ANC bevoordeel.

humor ·

Vir lewe en dood klou hy aan die presidentsamp, en waar daar tekens van swig is, hou sy geplante kaders hom staande. Dit bly net ondenkbaar dat hy nie reeds voor sy toetrede al self sy tasse gepak het nie, want toe was daar al die vieslike verkragtingsklag.Sy hele lewensbestaan is al pikswart beklat, maar nouja as jy die gewete van n krokkedil het dan kan dit sekerlik nie anders nie.

alida ·

Maroela ons het regtig nou genoeg gehad van Zuma en sy streke. Hoekom lees ons niks in MM van Standard Bank se verliese nie. Sekerlik is daar ander nuus wat mense wil lees. Ons is regtig moeg vir Zuma stories want daar gaan in elk geval niks met hom gebeur nie. Ons gaan rommelstatus kry en dan in ‘n resessie ingaan. Soek asb ander nuuswaardighede behalwe Zuma bollie.

Henry ·

Jis Alida!
Ek dink jy het ‘n uitstekende punt beet. Wys net hoe ‘n vroumens kan raakvat wanneer sy die dag besluit het – genoeg is genoeg.
Ou Zupta en die kaders wat op sy betaalstaat is, steur hul in ieder geval aan geen grondwet, integriteit, staat, bevolking, onderdaan, of wat ookal nie.
Om week in en week uit oor die spul se wandade te teem, sal bowendien nie verhoed dat hulle steeds al wat trog gaan leeg maak nie. (Ampoer sê ek opvreet!)
Soos Flip Buys van Solidariteit en die ander makkers van Afriforum doen, kan ons veel eerder saam met hulle gesels en planne maak om ons eie belange te beskerm.
Om oor daardie dinge te kekkel waaraan ons inderwaarheid iets kan DOEN.
Om dag na dag oor die spul te kerm, is weens die getalle oorwig ‘n oefening in futiliteit en gaan geen verskil aan mens of dier in hierdie droewe land maak nie.
Is uiteindelik sooo oorbekend en vervelig…

EH ·

Alida,

Jy hoef natuurlik nie die artikels oor Zuma te lees nie. Niemand dwing jou nie. Hoekom jouself so straf om iets te lees wat jou so gaan omkrap? Hoekom Maroela Media kritiseer as jy self nie iets positief kan bydra nie?

As dit vir jou belangrik is om oor ‘Standard Bank se verliese’ te lees, hoekom lees jy nie maar net Netwerk 24 ook nie, of is jou 10 gratis berigte vir die maand daar ook opgebruik?

Jy herinner my aan iemand wat nie bereid is om vir iets te werk nie, iemand wat net wil ontvang en niks gee nie, iemand wat glo alles kom hulle toe, en wanneer hulle wel ontvang, het hulle die vermetelheid om nog daaroor te kla ook.

Groete van n leser wat Zuma se bollie as nuuswaardig beskou.

Dankie Maroela Media, vir hierdie GRATIS nuusblad en vir al julle insette en harde werk. Dankie dat ons hier kan lees oor hoe Standard Bank hulle destyds kortsigtig van Chris Hart gedistansieer het en wat intussen bedank het.

Petrus ·

EH
Soos jy, het alida ook ‘n mening wat sy wil uitspreek.
Soos jy sê, hoef jy natuurlik ook nie alida se bydrae te lees nie.

Johan ·

Alida, word wakker mens, hoe meer mense insig het hoe (klein nommertjie) 1 doen en hoe hy doen, kan die voetsool mense hom dalkies “uithaal”

Loeis ·

Herman, Zuma gee nie ‘n flenter om wat graderings agnetskappe dink, of doen, nie.

En die ANC het ‘n harnas van die beste metaal aan – kyk maar na verkiesingsuitslae. Hul “integriteit” (wat is dit?) is irrelevant, tensy iemand in die party Zuma opponeer, en na wat met Motlanthe gebeur het, gaan ANC leiers mooi dink voor hulle numba one opponeer.

Daar is (stadig van begrip) mense wie reken dat die ANC by die stembus verslaan gaan word (gewoonlik blanke, Afrikaanssprekende DA ondersteuners wie nie in graag een wiskkunde deurgekom het nie). En dan reken hulle ook dat die ANC die mag sal afstaan, sou hulle uitgestem word.

Sug…

Oom Kalahari ·

@Herman, puik stuk en opsomming weereens uit jou pen. Nr 1 (Zupta) sit en wag vir die regte tyd en daar moet eers nog paar veranderingtjies geteken word, paar randjies nog na DXB Oases gaan vir ‘n goeie verblyf en die nuwe vliegtuig…….O’aarde as die tyd tog net reg speel kan daardie nuwe vliegmasjientjie baie help as die chaos op bodem ontwikkel tot riool (Rommel) status en dan is dit vakansie tyd anderkant met die miljarde vir die gealieerde afgevaardigdes.

John ·

President Zuma is net die hoofakteur. Vir hom is enige blootstelling goeie publisiteit, volgens sy publiteitsbeampte. Onthou, hy is glo volgens ‘n opname, net so gewild soos Thuli. Ons moet ook eerder praat van die Zuma’s want daar is baie spelers van die clan in die ‘opvoering’ betrokke. Oosterse faksies is grootliks in aksie as spelleier, draaiboek en -toespraakskrywers, met die kritiese rolverdeling en die ‘know-how’ — alles teen vergoeding natuurlik. Die SAUK en tv-kannale is tans besig met sy nuwe draaiboek en rolverdeling. Van die tv-/nuuskannale voer voltyds bewonderaars met inligting oor die ‘waarheid’ rondom die sage met sy goed betaalde (uiters prima donna-agtige) hoofrolspelers wat nou al oor meer as 2 dekades landswyd opgevoer word. Gewildheidspeilings word elke paar jaar gedoen.

EH ·

Ja, dis ook waar, Petrus. Dankie.

“Those who judge will never understand, and those who understand will never judge.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.