Nuuskommentaar: Friesiese lesse vir die Afrikaanssprekende voor Erfenisdag

Argieffoto

Argieffoto

Van 21 September neem talle Friese deel aan ’n proses om die Friesiese taal ook as taal op Google Translate te vestig. Hulle moet Engelse woorde en sinsnedes in Fries vertaal wat dan opgeneem word.

Dit is geen maklike taak nie, want hoewel daar na raming 730 000 Friese is wie se moedertaal Fries is, of te wel Frysk (eintlik Wes-Fries), kan nie almal dit vlot skryf nie.

Hoewel die Friese ná hul aankoms in die noorde van Nederland in ongeveer 500 v.C. in ’n stadium oor groot dele van die huidige Nederland en omringende lande soos Denemarke and Duitsland regeer het, is hulle nou organisatories veral beperk tot die provinsie Friesland. ’n Baie trotse geskiedenis – hulle het in ’n stadium die Romeine verslaan (om te keer dat hulle gekersten word) – is afgewissel met groot tragedies soos dat groot dele van die land wat hulle van die see herwin het, in vloede weggespoel en baie van hulle omgekom het.

Hulle word as deel van die Nordiese volke wat uit Skandinawië kom beskou, en tydens die vloede het baie na die huidige Engeland gevlug waar hulle gemaklike aansluiting by die Angele en Sakse gevind het wat ook uit Skandinawië kom. Baie het later na die huidige Nederland teruggekeer.

Frysk word nie as dialek van Nederlands beskou nie, maar as ’n taal in eie reg wat volgens sommige ouer bronne ook meer aan Engels as aan Nederlands verwant is.

Hoewel die Fryske Akademie reeds in 1938 gestig is, word die indruk van ’n herlewing van die Friesiese taal en kultuur eers die afgelope paar dekades gevorm. Hierin speel die Fryske Akademie ’n enorme rol as “ûndernimmend ynstitút dat wittenskiplik ûndersyk docht op it mêd fan de Fryske taal, kultuer, skiednis en maatskippij.” (Alle aspekte van die Friesiese taal, kultuur, geskiedenis en maatskappy word wetenskaplik ondersoek).

Die vet was enkele jare gelede behoorlik in die vuur toe onnadenkende Nederlandse politici die provinsie Friesland wou ontbind en administratief by omringende provinsies wou indeel. Dit het uit ’n suiwer geografies-ekonomiese hoek sin gemaak.

Kort hierna was daar egter munisipale verkiesings, en hierdie politici is, wanneer hulle in Friesland opgedaag het om werwingswerk te doen, behoorlik gehoon dat hulle “so met verkiesings darem nog onthou hoe die pad na Friesland loop”.

Eers sedert 1951 het Fries geleidelik formele erkenning in Nederland begin geniet, ná wat die Friesiese geskiedenisboeke Kneppelfreed (Knuppelvrydag) noem. Betogende Friese is in Leeuwarden uiteengejaag waar hulle betoog het teen ’n regter wat ’n Fries (in Friesland) die reg ontsê het om hom in Fries te verdedig. Die taal het hierna in Friesland meer status geniet.

Sedert 1955 word Fries in verskeie onderwyswette genoem en in 1995 het dit die status van bestuurstaal naas Nederlands verwerf. In 2014 het Fries wetlik en as bestuurstaal ’n amptelike taal geword. Dit het ook via die handves van die Europese Unie amptelike status in Nederland verkry, maar die toepassing het grootliks van die goedgesindheid van die owerheid afgehang.

Die eerste volledige Friesiese Bybel is in 1943 gedruk, en vandag is verskeie weergawes aanlyn beskikbaar. Handelaars bemark Friesiese Bybels, veral oues as waardevolle versamelitems omdat dit ’n “sterwende” taal sou wees. Hiermee stem die Friese uiteraard nie saam nie. ’n Paar jaar gelede, toe die oplaes van Nederlandse koerante skerp gedaal het, het Friesiese koerante nog gegroei.

Mense van Friese herkoms het ook diep spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en veral kerkgeskiedenis getrap. Hulle word veral in die Gereformeerde Kerke van SA en in ’n mindere mate die Hervormde Kerk herken aan vanne soos Dykema (Friesies gebruik nie soos Nederlands die ij nie), Reitsma, Aartsma, Denkema, Postma, of waar vanne vernederlands het, in voorname soos Tjsite, Auke en Aylfa.

Die les uit Fryslân (Friesland) is dat die behoud van selfs ’n eens groot taal nie sommer gebeur nie. Dit verg harde werk, groot entoesiasme met ’n inskatting van ’n waarde daaraan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Dave ·

Wat ook interessant is, is dat daar Nerderlandse dialekte is wat groter verskil van
Amsterdam-Nederlands as as Afrikaans. ‘n Tipiese Nederlander sal byvoorbeeld makliker kan kommunikeer met ‘n Afrikaanssprekende as met ‘n Frieslander (en hier onthou ek jou stelling dat die Frieslandse taal as ‘n onafhanklike taal beskou word).

Ek is nuuskierig oor of die tale wat op die Skandinawiese Eilande gepraat word, Nederlands verwant is.

Henrietta Klaasing ·

Fries is vir Afrikaanssprekendes heelwat moeiliker om by “aan te pas” as Nederlands en Vlaams. Van al die Dietse tale is Vlaams die naaste aan Afrikaans. My man is ‘n Nederlander en ek het dus heelwat kontak met Nederlanders. ‘n Mens moet net stadig praat en goed artikuleer – en nie so baie die woord “BAIE” gebruik nie ! ( hulle ken dit glad nie)

HEVW ·

Dit gaan eintlik hier oor die insette en eeue lange stryd ter behoud van hul taal wat hier ter lande as voorbeeld moet dien. Dit sal maar taai gaan om almal te groepeer vir ons taalstryd. n Baie groot deel van ons Afrikaners verkies eerder die geratbraak tussen engels en Afrikaans. Die eerste stap sal moet wees n suiweringsoffensief en om veral by ons jeug n trots vir ons moedertaal te kweek. Dit is n saak wat van onder af sal moet groei en nie alleen van bo af geforseer word nie.

Henry ·

Hopelik vaar die Friese beter as hul Nederlandstalige broers en susters wanneer dit by die vertaling van Engelse begrippe en sinsnedes kom.
Hedendaagse Hollands is deurspek met Anglisismes, leenwoorde, ens.
As voorbeeld: Die Engelse se ‘favorite’ word presies so in Nederlands gespel en as ‘Faworiete’ uitgespreek.

Dave ·

Glad nie anders met Afrikaans nie. Net so word Afrikaans met anglisismes deurweef. Jy verwys na ‘favourite’ maar wanneer laas het jy die pragtige woord ‘neiging’ gehoor? Afikaanssprekendes se faworiete woord daarvoor is tendens. Jou stelling is dus ook van toepassing op Afrikaans.

Henry ·

Ja, Afrikaanssprekendes la’ waai graag met die anglisismes. Dit is skynbaar ‘n ‘hip’ neiging onder die jongeres.
Die Amerikaanse spelling – favorite – is my faworiete ene.

Dave ·

En ek het die tendens om neiging as ‘n faworiet te gebruik wanneer ons oor anglisismes gesels maar die slêngsprekers mismaak die Afrikaanse taal regdeur die hele woordeskat.

Ropie ·

Henry: die spelling in Nederlands van die Engelse ‘favorite’ is
favoriet (selfstandig naamwoord) en favoriete (byvoeglik naamwoord).

Dave ·

Ropie, ‘favorite is nie Engels nie maar Amerikaans omdat dit favourite is in Britse Engels.

Arie ·

HermanToerien, Baie dankie vir die insiggewende artikel.
Ek is self van Friese afkoms en stel baie belang in die taal – kan dit lees, op lae vlak verstaan maar niks nie praat nie.
Ek het uit `n verhaal van `n neef uit Drente wat sy ervaring in Duitsland grensend aan Drente oorgekom het afgelei dat die Drentse taal soos Fries dalk `n ouer taal is as Nederland of selfs Vlaams. Vanwee sommige woorde wat duidelik dieselfde is as in Nederlands of self Afrikaans is dit duidelik dat Fries ook as een van die “Dietse” tale bekend kan staan. Na my wete isDuits, Engels, Frans, Nederlands en moontlik Italiaans ( vanwee sy verbintenis met Latyn) almal sg Dietse tale.

Johannes Meintjes ·

Inderdaad kan taal, kultuur, erfenis, bestaansreg, norme en standaarde nie bloot deur ‘n sit-sit-so, plaas-sonder-baas of laat-Gods-water-oor-Gods-akker-loop mentaliteit instand gehou word nie.

Wilma Kromm ·

Ek is in SA gebore,
Grootgeword by Nederlanders: praat Nederlands
Woon nou in Nederland
Is getroud met ‘n Fries, ons praat net Fries
Fries kom baie na aan Sweeds en Noors (Scandinavise lande)
Maar die mooiste taal vir my is regtig : Suid-Afrikaans: ‘ Diepe woorde’ kan nie in Nederlands of Fries verduidelik word nie
My Afrikaanse Bybeltjie lees ek nog altyd.

Dave ·

Wilma, dit is lekker om jou komplimente vir Afrikaans te hoor. Ek lei af dat jy nou min indien ooit Afrikaans praat, maar dit steeds lees en skryf. Jy skryf pragtige Afrikaans maar jou aksent sal heeltemal verander, indien nie reeds nie. Jy het onbedoeld ‘n antwoord gegee op die vraag in my heel eerste skrywe met betrekking tot die tale op die Skandinawiese Eilande. Hou asseblief aan met skryf in Maroela se forum.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.