Nuuskommentaar: FW en die stryd om Afrikaans

FW de Klerk. Foto: FW de Klerk-stigting/Facebook

FW de Klerk. Foto: FW de Klerk-stigting/Facebook

Die gereelde kritiek van FW de Klerk en die FW de Klerkstigting op die ANC, het onlangs kritiek van die ANC ontlok. Maar kan die Afrikaner sy belange legitiem bly opeis sonder dat die FW de Klerkstigting, as laaste bastion van die onderhandelinge van Afrikanerbelange by Kodesa, nie ook gesag daaraan gee nie?

Oud-president FW de Klerk se onlangse kritiek op die ANC was nie heeltemal nuut nie. Die geleentheid vir die toespraak, waarop mense steeds reageer in die koerante se briewekolomme, was met die jaarlikse herdenking van sy bekende toespraak op 2 Februarie 1990. Netwerk 24 se opskrif van die berig was “ANC op pad om wit minderheid te ‘verdryf’”.

Die ANC het woedend hierop reageer deur te sê FW het geen respek vir swart mense se sukses nie.

ʼn Bekgeveg woed al jare oor of FW ʼn held of verraaier van Afrikanerbelange is en gaan stellig nog lank onderling onbeïnvloedbaar woed.

Maar hoekom, soveel jare nadat hy uit die politiek getree het, bly die naam FW polities “aktief” en beteken FW in die tegnologiese era nie bloot “Forward” nie? (Bedoelende eintlik “Fast Forward” omdat baie lesers klaarblyklik ander nuus verkies.)

Een van die hoofredes is dat die Nasionale Vredesakkoord, ten spyte van die wye rits instansies en partye wat dit onderteken het, tog meer ʼn handeling tussen ʼn ou en nuwe regering was. Op ʼn staatkundige vlak dra ʼn verdrag baie gewig, soos Duitsland wat met die totstandkoming van Israel, die Joodse staat se onafhanklikheid en bestaan gewaarborg het. Duitsland het dit gedoen ten spyte daarvan dat nugter voorsien moes word dat Israel en Duitsland se belange nie vir altyd in harmonie kon bly nie. Tog sal Duitsland periodiek laat blyk dat hy hom tog by sy onderneming hou.

ʼn Verdrag impliseer minstens twee partye of groepe wat elk die belange van die ou strydende groepe verteenwoordig. Met die NNP se opname in die ANC, het die “verteenwoordiger” van Afrikanerbelange, in die konteks van die Vredesakkoord, sielkundig verdwyn. Die FW de Klerkstigting en sy filiaal, die Sentrum vir Grondwetlike Geregtigheid, het in ʼn sekere sin daardie rol oorgeneem en die ANC is gereeld streng aangespreek. Hoewel gering in getalle, is die sentrum danksy knap regsgeleerdes goed toegerus om ʼn wakende oog te hou oor die handhawing van die juridiese verantwoordelikhede wat die skep van ʼn volwaardige (hoewel effens gebrekkige) regstaat teweeg gebring het.

Hiervandaan is die beoordeling van die Stigting se rol en aandeel in die handhawing van Afrikaans en minderheidsbelange (wat Afrikanerbelange insluit) subjektief en lyk dit of transformasie ʼn logistieke probleem skep om “reg oor te kom” en teikengehore te bereik.

Waar die Stigting aanvanklik baie gesteld was daarop dat alle mediaverklarings in Engels en Afrikaans is (al sou die Afrikaanse teks eers later op die Afrikaanse segment van die webwerf beskikbaar wees), is dit nou met hoë uitsondering slegs in Engels. Wanneer die huidige uitvoerende hoof, dr. Theuns Eloff, iets uitreik, is ʼn Afrikaanse teks wel beskikbaar.

Die indruk wat van buite gekry word as na die name van betrokke personeel gekyk word, is dat daar eenvoudig nie meer ʼn interne kapasiteit is om teks in Afrikaans voor te berei en versorg nie. Transformasie het skynbaar ʼn groot rol hierin gespeel.

Die regstreekse Afrikaanse betrokkenheid, soos die Stigting se aktiewe rol om te keer dat Afrikaans ʼn regverdige aandeel in onderrig op die US verbeur, het op die oog af in die slag gebly.

Die FW de Klerk-stigting is lank nie die enigste instansie wat in hierdie soort troebel water beland het nie. Betrokkenheid by internasionale organisasies en transformasie-aanstellings dra op die oog af by dat heelwat materiaal, wat deur Agri SA aan die media vrygestel word, nou net in Engels is.

Verskeie politieke partye, wat op nasionale vlak alles slegs in Engels uitreik, verklaar in reaksie bloot “die media kan dit mos self vertaal.” Die probleem is egter dat die media ook die afgelope dekade of wat deur sy eie “transformasie” beweeg het en die gemeenskapsradio- en koerantwese beskik selde oor die personeel om nog te vertaal ook. Hierdie media sal nie hul eie kele afsny deur belangrike nuus, wat slegs in Engels aangebied word te ignoreer nie, maar dit sal waarskynlik in die kortste moontlike weergawe neerslag vind.

In die verlede het die FW de Klerkstigting dit ook duidelik gemaak dat van die lang mediastukke eintlik vir koerante se middelblad bedoel word, dit wil sê, die blad vir prestige-tipe artikels teenoor die hoofartikelblad. Selfs koerante of koerantgroepe met ʼn sterk vertalingskapasiteit moet groot waarde heg daaraan om so ʼn artikel te vertaal, in plaas van ʼn horde berigte wat in Engels van nuusagentskappe ontvang word.

Op ʼn manier slaan dit ook deur na meer tradisionele media wat wel voltydse vertalers in diens het. Gaan kyk byvoorbeeld na die groot aantal mediaverklarings wat die DA daagliks slegs in Engels uitreik op die DA se webwerf en vergelyk dit met die aantal wat die plaaslike Afrikaanse koerant haal.

Kortom, die FW de Klerkstigting, soos ander instansies wat tradisioneel baie Afrikaanssprekendes verteenwoordig, maak homself effektief ontoeganklik vir ʼn groot deel van die Afrikaanssprekende bevolking wat die gemeenskapsmedia verkies.

Afrikaans betaal reeds ʼn duur prys vir die vertalings wat reeds deur mense gedoen word wat nie werklik hiervoor opgelei is nie. Let maar op hoe lustig word die Engelse “billion” met “biljoen” vertaal (terwyl daar ʼn reuse verskil is) en hoeveel instansies word “verban” uit die Engelse “ban”, terwyl hulle eintlik net verbied of ingeperk word. (Taalkenners maak gereeld ellelange lyste van hierdie goggas bekend.)

Intussen kla professionele vryskut-vertalers dat hulle nie werk inkry nie.

Miskien vereis die moderne tegnologie dat gekyk word na ʼn goed-georganiseerde, gesentraliseerde, professionele vertalersentrum waarheen instansies met sterk Afrikaanse belange, maar sonder ʼn eie Afrikaanse kapasiteit, hul materiaal vir vertaling en versorging kan stuur. Elke deelnemende instansie moet egter ʼn tarief betaal ooreenkomstig sy benutting.

Daar is meningsverskil oor of die nasionale vredesakkoord nog bestaan en enigsins neerslag vind, of behoort te vind in die land. Vanuit ANC-geledere kom opmerkings, soos dat dele nie meer bestaan nie, of heronderhandel moet word.  Ander meen soos wat die grondwet van hierdie beginsels ondervang, “verdwyn” dit as afsonderlike dokumente. Daar is dus ook onsekerheid oor die juridiese posisie van die grondwetlike beginsels wat onderhandel is en as bylae in die oorgangsgrondwet opgeneem is.

Daar bly dus ʼn behoefte aan ʼn instansie wat met gesag kan sê wanneer die ANC van die beginsels van die ooreenkoms afwyk en waaroor die grondwet self vaag is of swyg. Met dié soort gesag kan ander instansies, wat wel oor die nodige middele beskik, met gesag tot die kwessie toetree en waar van toepassing, dit selfs hof toe sleep.

Om hierdie soort belange te beskerm, vereis egter dat die mense daarop moet inkoop. Dit moet doeltreffender aan die mense oorgedra word en dit beteken dat die betrokke mense se taal ten volle gerespekteer moet word.

En miskien moet FW de Klerk ernstig daaraan dink om, soos ʼn bekende ontleder ook onlangs voorgestel het, te erken dat dinge met die onderhandelinge gebreke gehad het. Om vol te hou dat die NNP en regering se onderhandelaars baie goed gedoen het, rym nie met gereelde en goed-gemotiveerde kritiek op die uitkoms nie. Vir baie is dit ʼn groot struikelblok in die weg van geloofwaardigheid.

Die les is egter dat die Afrikaner nie kan bekostig om sy rug op die FW de Klerkstigting, met sy bande met onder meer die Konrad Adenauerstigting, te verbreek nie. Dit is die laaste stem wat outentiek en met gesag kan praat oor wat in die letter en gees van die Vredesakkoord, in Afrikanerbelange,  opgeneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

56 Kommentare

Heinrich ·

Toe die bewind van PW oorgegaan het na FW was die grappie van die dag gewees PW = “Past Worries” en FW = “Future Worries”. Baie van ons het tog geweet hoe diep in die toekoms hierdie worries sou strek en hoe diep dit regtig sou word; maar ai tog ons wou maar net (en wil tog nog steeds net nie) rassisties wees deur iets teen die ANC te sê nie!

Rynhardt ·

FW De Klerk moet ophou hom voordoen as n tipe superheld! By Kodesa was die NP en Anc een groot broederskap.Hoe kan dit normaal wees dat die Afrikaner/Boervolk geen land en geen toekoms het nie? Alles van onderdrukking en moord vind teen die Afrikaner vandag plaas, waarvan die einste De Klerk en sy geliefde De Klerkstigting niks van wil hoor nie! Die nuwe SA wat De Klerk en sy NP geskep het in opdrag van die nuwe wereldorde was alles beplan.De Klerk moet n bietjie verduidelik, hoe is dit moontlik dat hy en Cyril Ramaphosa (De Klerk se Kodesa-vriend), albei in Leeuwkop in R30miljoen-huise sit, terwyl die Afrikaner geen toekoms het nie.FW ook bekend as Frikkie het geonderhandel volgens die vryheidsmanifes van Anc.Nou ervaar mense vandag Kodesa se negatiewe implikasies! N Boek in Engels het onlangs oor Frikkie verskyn.Frikkie wil na 23jaar die regte balans vind.De Klerk en sy stigting se rol is lankal uitgedien in SA.Frikkie, u is geen faktor meer nie.

Boetman ·

FW wil maar net nie die ironie daarin sien om te kerm en kla oor die ANC se manewales nie.
Skop tog net die wigte en teenwigte in plek dan is alles mos reg.

Lampies Lambrechts ·

De Klerk en sy stigting kan geen aanspraak maak op enige geloofwaardigheid nie; hy het dit reeds 23 jaar gelede verkwansel. Die skrywer kan gerus ook vir De Klerk vra wat het van al sy sogenaamde “wigte en teenwigte” geword. Dit het destyds niks beteken nie en het sedertdien, soos deur realiste voorspel is, soos mis voor die son verdwyn.

Egbert ·

FW is steeds besig om die NP se onderhandelinge te verdedig. Die fout is altyd die ANC se versaking van “ons” goeie grondwet. Gelukkig is ons nou ‘n “regstaat”. Sy oorwinning teen die KP en hulle onbeholpenheid en swak posisie tov van die ANC het gemaak dat die NP die “opposisie” totaal geïgnoreer het en alle besluite alleen geneem het.
Egbert Bosman

Eugene ·

Wil julle oumense hierbo nie gerus julle ossewaens vat en Orania toe trek nie. Rerig mense ons lewe nou lekker in ons Nuwe Suid Afrika!

Lampies Lambrechts ·

Ja, Eugene, jy is ‘n sprekende voorbeeld van liberale onverdraagsaamheid. Julle glo mos sogenaamd aan demokrasie en aan vryheid van spraak, maar met die voorbehoud dat die ander persoon altyd verkeerd is en op ‘n ossewa tuishoort.

Grotman ·

Mnr jy het waarlik geen idee waarvan jy praat nie. Geniet maar jou wonderlik nuwe SA solank jy kan.

Anne ·

Hannes , Eugene (hulle ) sal eers wakker skrik as dit te laat is , soos gewoonlik! Ouma almal het Nie ja gestem nie. Mandela was beslis nie die held wat hy gemaak word nie. De Klerk bly ‘n volksverraaier!

Verwonderd ·

Ek het in 2006 as ‘n sekuriteitswag in VISA Europe se kantore in Paddington, London gewerk. Mnr de Klerk het as ‘n visiepresident van VISA Europe die tak besoek. Omdat ek ‘n Suid Afrikaner was het ek die voorreg gehad om diens te doen in die voorportaal, wat om veiligheidsredes ontruim is. FW en sy lyfwagte het aangemeld en Mnr van der Velde, uitvoerdende hoof van VISA daardie tyd, ontmoet en ‘n vergadering gehou. Ek wonder nou nog waaroor dit gegaan het?

Ouma ·

Ons het almal skuld daaraan! Wie kan onthou van die JA/NEE stemmery? Wie het toe gewen? Die JA.s! Mooi man! So sal ons maar stil bly en aanvaar! Die koeël is deur die kerk!. Slap riem het ons gevang!

Jan ·

Die “JA” stemme was daardie tyd nie die probleem nie, maar wel dat FW toe verder die uitslag gekaap het en gemaak het asof dit hom ‘n mandaad gegee het om sy eie model met die ANC te onderhandel, terwyl hy eers daardie model, of modelle, wat hy beoog het aan die kiesers moes voorlê vir goedkeuring en in ‘n volgende referendum die mandaad moes gekry het.

Hy het dus wel verraad gepleeg en hy lieg nou nog daaroor.

ouma ·

Sê ek ook. …Almal het JA gestem. Dit is maklik om met die terugblik te sien dat dit ‘n fout was. Pres Mandela was ‘n heel ander mens as ons huidige president. Wat sou die alternatief wees ? Bloed van baie onskuldiges in die strate van Suid Afrika? Is dit wat julle wou sien? Mense soos Afriforum en Steve en nog baie ander praat nie net nie, hulle doén ook. Al wat die res kan doen is kla en kerm. Vind eerder uit waar jy jouself kan handig maak vir jou volk. Want onthou: een drag maak mag.

Pieter ·

Ouma,
Ou fw het niks gekeer nie, daar vloei strome bloed van ons mense elke dag en dit word net erger soos die anc/eff se moordveldtogte so gerieflik as roof afgemaak word. fw het ook seker gemaak niemand kan die stemme van die referendum oortel of verifieer nie, die gebou waar die stembriewe geberg is,het enkele ure na die referendum afgebrand.

Ruby ·

Nie eers sy eie vrou kon hom vertrou.

vader van verraaier van vele.

Jean ·

Ag regtig oom FW, wil nie eers jou storie luister nie … JY het SA uitverkoop, jy en ROELFIE, het julle. regtig gedink julle het onderhandelingsmag .. gedink minderhede sou ‘n plek in SA hê, hoe naief kan iemand van jou statuur wees? Help nie jy is nou spyt nie .. blankes en Afrikaans het GEEN plek meer in SA nie, en ja apartheid sou nie langer kon werk nie maar julle kon onderhandel het vir ‘n KOALISIEREGERING … dis nou te laat om te oeh en aah .. jy weet jy kan vlug as dinge hier te warm raak .. Ons ander gaan onder JOU besluite moet ly …

Ada ·

Eugene, is jy tevrede met die Nuwe Suid-Afrika? Die moorde, die korrupsie, die veg vir jou taal?
Is jy gelukkig daarmee? Ek is seker ons almal sal wil weet wat jy daaroor te se het. Ons wag in spanning…… Indien dit jou nie pla nie – waarom skenk jy nie jou huis – omdat jy ‘n lib is- aan ‘n minder gegoede swart familie nie? kan hulle by jou intrek? Die nuwe S A het ook nog nie genoeg huise gebou vir die “demands” nie. Is jy tevrede met die skole? Die munisipaliteite? Die SAL? Die polisie? Waarmee is jy tevrede in die Nuwe S A Eugene? Noem een.

Dirk Breytenbach ·

Eugenelyk soos ‘n disinformasie agent wat agter die skerms opereer wat met opset wil oprui en verwar, moet julle nie te veel aan sy verwronge ideologiese gesanik steur nie. Voormalige en huidige leiers aan albei kante weet dat hulle ons met ‘n slap riem gevang het en het lankal die rug op Afrikaner belange gedraai. Ons het onbeholpe leiers gehad wat bang is om in die openbaar te erken hulle is Afrikaners, behoudend is en nie bereid om vir ons regte te beding nie. Al wat vir hulle oorgebly het is om hulself te prys terwyl daar daagliks mense afgemaai en geslag word. Die wat wel hul stemme laat hoor word deur ons eie mense afgemaak as nie verteenwoordigend of dat hulle die vrede versteur. Dis tyd vir ‘n Afrikaner volksvergadering sodat daar vir eens en vir altyd besluit kan word wie is Afrikanners, wie gaan ons ondersteun en waarheen nou. Daar kan ook besluit word of daar so iets soos ‘n Afrikaner is en wat sy eienskappe is en of daar ‘n ander naam vir ‘n Afrikaner behoort te wees. Ons is verdeeld en ons vyande buit dit aanhoudend uit.

groenewaldt ·

Se my Eugene, waaroor is jy die verheugste in die Nuwe SA?
Die korrupsie?
Die moorde?
Die SAUK?
Die SAL?
Die munisipaliteite?
Die groot persentasie mense sonder werk?
Laaat weet gerus

Dirk Breytenbach ·

Of:
Skole
Universiteite
Dept van Gesondheid
SAPD
Waterwese
BEE

Pietser ·

Nuwe SA dankie – dat ek nie my lewe verloor het in ‘n burgeroorlog wat my Afrikaner mense totaal sou vernietig het nie; dat ek my pragtige huis, cosy werk en mooi motor kon behou; dat daar soveel geleenthede was dat ek my werk twee keer kon bedank en beter doen as tevore; dat ek op eie inisiatief en aandrang vir myself kon begin werk en mense indiensneem; dat dit so goed gaan dat ek volgende maand nog ‘n kantoor gaan oopmaak en nog meer mense indiens gaan neem; dat die handelsdeure van die ganse wereld vir ons oop is en SA nie meer as ‘n muishond beskou word nie. Dankie nuwe SA, ek is dankbaar.

M'Lady ·

FW as jou wigte en teenwigte tog net asseblief kan inskop sal ons jou ewig dankbaar wees.

Leendert ·

‘n Mens sou dink dat die FW Stigting wel ook stry vir die Taal, verwoed, maar nee, dit lyk my dit is ook ‘n probleem.

Dankie Herman vir die insig wat jy die lesers hieromtrent gee. Ek hoop jy vryf dit wat jy hier bo geskryf het, onder die FW Stigting se neuse, sommer ook verwoed.

Disselboom ·

So êrens in die 1980s het een oom gesê hy hou maar aan om die vir die NP te stem: “FW het ons in hierdie gemors ingekry, dis dus sy werk om ons weer hier uit te kry”, was sy redenasie. Dit was daardie tyd as ‘n wrang grap bedoel; en FW de Klerk se huidige pogings is ‘n wrang grap. Wat wel sal help, is as die Dagbreektrust en wat nog alles onder die Stigting groepeer. hulle kapitaal instoot en regte Afrikanerinstellings help oprig. Dis Afrikanergeld daardie en moet grootskaal ingestoot word.

Ou Vlakvark ·

Geagte Kritici,
Wat het julle gekeer om voor 1994 leierskap te toon en mense te mobiliseer en ‘n utopia waterdigte politieke bedeling te beding? Hoeveel van julle het saans in die donker koue aande saam met my van huis-tot-huis geloop om stemme te werf? Hoeveel van julle het in London in die bittere koue en sneeu met plakate betoog ten gunste van jou standpunt? Waar was julle? Of het julle rugby en ‘n beker bier geniet en gedink die kerk en die NP gaan jul toekoms verseker? Het julle ‘n idee wat dit beteken indien die magtige VSA druk begin uitoefen? Galbraak gaan niemand help nie. Wees positief en kreatief opbouend. Maak ‘n opbouende verskil in die lewe. Raak betrokke by gemeenskapstrukture. Inspireer jou meelopers. Wees ‘n ware leier.

DAnkie Vlakvark ·

Vlakvark ek hou van jou kommentaar . net een regstelling .. MARTIENS KORBROEK het WEGGELOOP met al die NP se stemme .. daar was nog ‘n kans hoor …

Reinhardt ·

Goed gestel. Al wat ek sien is mense wat moun, maar ek lees geen oplossings nie. Of julle mense nou daarvan hou of nie, ons is waar ons is. Nou as julle dit wil verander, dan doen dit. Maar moenie net kla nie.

Benito Odendal ·

FW het ‘n mandaat gehad om mee te onderhandel ….die bree Afrikanerof blanke ” blok ” het ingekoop in sy onderhandelings vermoe en nie sy kruip vermoe nie ……..Ongelukkig het hy sy span verkeerd gekies en het hul soos kabouters onderhandel……nie Roelf of enigeen van daardie span het Blanke belange OF Afrika Realiteite soos mag en geldsug in gedagte gehou nie…….hul is soos die geskiedenis oor en oor bewys WEER om die bos gelei……..In Afrika onderhandel jy uit ‘n possisie van mag ……NOOIT om gewildheids kompetisies te wen nie !!!………net so fataal soos wat dit ALTYD is om Rusland in die winter aan te val so fataal is dit ALTYD om Jannie jammergat om ‘n onderhandelingstafel in Afrika te gaan sit…….Daar is en was letterlik hope fantastiese Swart leiers in ons land wat nie terroriste of mag en geld bedinges is of was nie en ook nie rasbehep is nie,….wat nie politikuste met agendas is of was nie …..wat triljoene keer beter sou en nog steeds sal wees om mee te onderhandel……manne en vroue wat SA en AL sy mense op die hart sal dra en nie SLEGS familie ,vriende , kaders en ” contacts” nie……My klip in die bos is dus dat enige span met FW , sy stigting , of Roelf Meyer daarin as swak en rugraatloos gesien sal word en ENIGE onderhandelinge met ENIGE van die kabouters in jou hoek soos die Ingelsman sal se ” an exercise in futility ” sal wees .

Ou Politieke Erdvark ·

En die ANC-lede rol seker soos hulle lag vir al die verwyte, galbraak, bitterbekkery, dermuitryg en moddergooi hierbo. Tragies. Wat het geword van selfrespek? Waar is die ware opbouende leierskap onder die kommentatore? Haal uit en wys. Publiseer jou visie en strategie in die openbare media en oortuig die meerderheid Suid-Afrikaners, ongeag afkoms, welke pad om te loop vir ‘n beter toekoms. Just do it!

Lead the Way Erdvark ·

Nou bring gerus jou idees na die tafel, jou strategiee, jou visie . want nou preek jy vir die kommentators wat ‘n reg het op hulle eie opinies, maar aangesien jy hierdie forum sien as ‘n plek waar STRATEGIEE bespreek moet word .. BE OUR LEADER!~

Chris ·

Bach, ek neem aan jy is ‘n intekenaar by Afriforum wat elke maand jou bydrae maak. Mooi so, doe so voort. Ek probeer niemand verdag maak nie. Ek vra net vrae wat niemand my nog kon of wil antwoord nie. Snaakse bedmaatjies wat ons in die land gehad en nog in dag der ewigheid sal hê.

Henry ·

Gedane sake het geen keer nie. Is maar hoe dit is my Tjaaina.

En nie die skrywer van hierdie artikel, of enige ander siel wat deel van die minderheid is – die wittes van hierdie droewe land – kan die oorgawe in Kemptonpark verander, of die pyne wat ons nou beleef, versag nie.

Die patetiese onvermoëns van ons wittes se verteenwoordigers/leiers (huh!!!), het verseker dat die onderhandelinge ‘n “one horse race” van meetaf aan was. Onthou ook dat ONS (ek en jy) verantwoordelik was dat hulle in die posisies verkies is, vanwaar hulle ons belange oorboord gesmyt het. Die deler en steler is uiteindelik ewe skuldig, of hoe???

Die SAKP olv Joe Slovo en Mandela het met die hulp van die Oosblok se intelligensie vermoëns en die liberale Weste se “useful idiots”, die “one horse race” se resultaat verseker. Die afwesigheid van enige bruikbare intelligensie/voorkennis en veral ‘n jammerlike onkundigheid aan die wittes se kant, het die uitslag en die pyne wat ons sedertdien beleef – ge-boek. Soos my slim Ma altyd sê.

O ja en indien my poging nie reeds in die snippermandjie beland het nie – Oompie FW is laaaankal terug deur Leon Schuster as Oompie Flat Wheel gedoop. Wat vir ‘n prag naam is dit dannounie!!!
:-))

Johannes van Staden ·

Die nuwe SA is nou n land vol korrupsie , n leier met n std 3 , 50 moorde n dag en 4 verkragtings elke minuut om maar n paar goed te moem ….is dit waarna ons moes uitsien ….glo nie so nie

jean ·

Blah, blah, blah…dieselfde ou de Klerk storietjies……Wil nog maar steeds sy marble gepolish hê al beteken hy niks. Hy weet nie en gee nie regtig om vir wat vir ons voorlê nie…..hys gesettle met sekerlik genoeg paspoorte om die pad te vat.

Frans C ·

‘n Lykskouing gaan mens niks verder bring nie.Die Blanke in Suid Afrika het gekies om in ‘n minderheid in ‘n eenheidstaat te word. Dit is verstommend dat ‘n sg Christelike Suid Afrika sy leiers toegelaat het om met kommuniste om ‘n tafel te gaan sit om oor volke se toekoms te onderhandel. Dit is sou goed as om met Satan te onderhandel oor hoe warm die hel moet wees.

Die grootste fout wat FW in sy bravade gemaak het was om nie ‘n volksvergadering van die leiers van alle volke in Suid Afrika te belê om die pad vorentoe te bespreek en toe slagoffer geword het van die kommunis en sy meelopers.

Ou Krimpvarkjietjie ·

Geagte Kommentators,
Gestel oud-President De Klerk was nie in die prentjie nie. Vertel asseblief vir ons volk en nasie nou een en andermaal en finaal WAT en HOE en WAAROOR sou julle met “hulle” ooreengekom het betreffende die toekoms van Suid-Afrika? Die realiteit is dat die HELE wêreld se volkere en nasies besig is om by die dag al hoe meer multikultureel te raak. Soos ons varkerasie-kinders dit stel: “Hou op yl en get real”. Ha-ha-ha. Sela.

Johann ·

Kyk Frikie jy beter swyg oor die aangeleentheid, jy het reeds die land in die hande van die anc gegee, nou wil jy maak of jy dit nie kan onthou nie, tipies ‘n patroon wat jou broeders volg

gerda ·

Ou Krimpvarkie – jy lees nie wereldnuus nie – dit is baie duidelik. Die volkere van die wereld is besig om regs te draai omdat hulle hulle eie identiteite terug eis.
De Klerk gaan niks vir Afrikaans kan doen of vir die land nie – niemand neem hom ernstig op nie want hy het homself klaar bewys – sy ware kleure het met Kodessa na vore gekom.

Christo van der Rheede ·

Herman Toerien doen jouself ‘n guns voor jy weer onwaarhede oor AgriSA kwytraak wat kwansuis nuusverklarings net in Engels vrystel. Dis mos nou ‘n blatante leuen. Skakel met ons en vergewis jou van die feite asb! Verder het jy die vermetelheid om ‘transformasieaanstellings’ vir dit verantwoordelik te hou. Apartheid is verby en maak vrede daarmee. Hou op om die waarheid te verdraai om jou en jou dampkring se agenda te dryf. Dit skep net meer konflik en rassepolarisasie.

Gerrit ·

Al waaroor Frikkie regtig spyt is, is dat die sogenaamde “onderhandelings”van destyds so gou tot `n einde gekom het. Hy het eers agterna besef daar was nog hope goed wat hy nog vir die ANC verniet kon gegee het.

Maar dit maak toe nie meer saak nie. Wat die ANC nie gekry het nie, het hulle in elkgeval tog gevat.

Ou Krimpvarkietjie ·

Geagte Gerda, jou stelling “Die volkere van die wêreld is besig om regs te draai omdat hulle hul eie identiteite terug eis” verwys. Die swaai na regs is te laat. Elkeen van hierdie volke en nasies is alreeds deursuur met volks- en nasievreemde kulture en gelowe. Helaas, die swaai na regs is te laat. Haas te laat. Nie eens mure gaan die toenemende vermultikulturering keer nie. Haas te laat. Haas te laat. En oor dekades gaan almal koperkleurig wees met ‘n nuwe kultuur. Los die lees van koerante en gaan toer wêreldwyd soos Ou krimpvarkietjie en sien die feite eerstehands. Sela. Werklose en verarmde mense verhuis wêreldwyd op soek na beter geleenthede, hetsy met of sonder politeke agendas. Kyk om jou rond en sien hoe buitelanders ons land by die duisende infiltreer. Besoek Google Maps en sien al die plakkerskampe om haas elke SA dorpie en stad. Ons leef op ‘n droomeiland in ‘n see van armoede en werkloosheid.

Joe Hall ·

Ja Krimpendevarkietjie
Beste ding wat jy kan doen is om soveel as moontlik en so ver as moontlik te reis. Sal help om die werklikhede van die omgewing beter te leer ken.

Die Varkerasie Genootskap van Suid-Afrika ·

GEEN grondwet is perfek of in konkreet gegiet nie. ZAR Staatspresident Kruger het gesê: “Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna ‘n ideaal en trag om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik.” NOU is die tyd dat die Suid-Afrikaanse BURGERY of die Afrikanervolk na vore tree en die beste regslui saamsnoer om ‘n NUWE grondwet op te stel. Wat sal die opdrag aan daardie span regslui wees? Wie sal die opdrag gee? Wat sal die rol van die Afrikanervolk wees? Gaan die FW de Klerk kritici betrokke wees? Of gaan ons apaties agteroor sit totdat armoede en die gevoel van hopeloosheid en frustrasies hierdie pragtige land en sy mense en hul nageslagte se toekoms verteer?

Joe Hall ·

Voordat ons aan’t skrywe raak aan so ‘n grondwet, moet jy vertel wie en wat die Burgery insluit, waarna jy verwys.
‘Wyl jy daarmee besig is, kan jy sommer vertel hoe 2,5 miljoen Afrikaners met onderlinge verskille en twiste, hulle belange in so ‘n spiksplinternuwe grondwet geskryf gaan kry, terwyl 50 miljoen nie-Afrikaners daaroor sal beslis.

gerda ·

VG Mooi gestel!!!
Ons moet saamstaan – sonder die libs- baie dankie!!

Zumie ·

Ek doen aan die hand dat de Klerk en sy stigting uitwyk na Antarktika en hulleself daar besig hou met pikkewyne. Hy laat my dink aan een wat sy kinders in slawerny verkoop en dan skree omdat die kinders as slawe gebruik word…

jan ·

Enige iemand wat nou nog steeds aan de Klerk se stories en sg beloftes ens vasklou is n volslae gek. Ons almal weet hy is die grootste landsverraaier in ons geskiedenis.

Sekretaris Ou Vuilvark ·

Reeds 55 kommentare!
Geagte Joe Hall, ‘n uitstekende vraag. Dit is PRESIES die posisie waarin die NP hul bevind het voor 1994 en dit terwyl die VSA en ander lande in klein SA se nek geblaas het! En nou, selfs in 2017, al die galbraakery en verwyte oor besluite van die verlede! Dit gaan ons NIKS help nie. Om te oorleef sal die Afrikaner kreatief opbouend moet optree en nie sy beperkte kosbare tyd, energieen bronne mors op galbraak en verwyte nie. Ons lewensduur is te kortstondig vir twakpraat en verdagmakery en al daardie negatiewiteite.

Joe Hall ·

Sekretaris jy bevestig mos iets wat meeste van ons weet!
Ongelukkig antwoord jy steeds nie een van my vrae nie.
Help tog asb>

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.