Nuuskommentaar: FW wil onderhandelingsooreenkomste laat handhaaf

Onlangse opmerkings deur pres. Jacob Zuma oor planne om die Grondwetlike Hof te hersien, het oud-president FW de Klerk laat reageer. Dit is egter nie die eerste keer dat De Klerk die ANC-regering die leviete voorlees nie, en sy Stigting lewer ook gereeld kommentaar oor waar gemeen word die ANC die Kemptonparkse skikking in die wind slaan.

Weens die grootlikse kaping of disfunksionering van grondwetlike liggame wat inhoudelik gestalte aan die staatkundige aspekte van die skikking moes gee, is die howe en veral die grondwetlike hof by baie nou die laaste bastion van die wigte en teenwigte wat die nuwe grondwet sou waarborg. Gereelde stemme gaan op vir dialoog en selfs ‘n ‘n heronderhandelde skikking. De Klerk kan kennelik ‘n kernbelangrike rol speel, maar dan moet hy, soos in ‘n ander konteks gesê is, ‘n kans kry. Om hom as verraaier of sukkelaar wat deur mnr. Roelf Meyer en sy onderhandelingspan ore aangesit is te verguis, dra niks by tot die beste belang van die land, en die Afrikaner nie.

Dis egter ook nodig dat De Klerk, sy stigting en ander eietydse rolspelers om ‘n tafel bymekaar kom en ‘n strategie uitwerk oor hoe om die moddergooiproses wat net verloorders oplewer, in ‘n wen-wen-strategie te omskep. Hoe kan sinvoller staatkundige opsies weer op die tafel geplaas word? Of minstens, hoe kan sinvol gestalte gegee word aan die weliswaar gebrekkige opsies wat die bestaande grondwet bied?

‘n Groter mate van eerlikheid oor wat tydens Kemptonpark gebeur het, en veral verkeerd geloop het, raak nou uit ‘n politieke sosiologiese oogpunt noodsaaklik, maar sal nie gebeur as verguising by voorbaat die manier is nie.

Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ebert ·

Dankie Herman, vir ‘n weereens baie prikkelende blik op die nuusgebeure van die dag.

Die gedagte van ‘n heronderhandelde skikking of opvolgskikking is vir my baie interessant. Ek wonder hoe diegene wat dit voorstel reken hulle die ANC by enige nuwe beloftes gaan hou indien hulle nie die bestaande beloftes nakom nie. Die punt van ‘n gebrek aan ‘n magsbasis by Afrikaners is hier weer ter sprake.

Ongelukkig het oudpres. De Klerk baie ongewild by Afrikaners geword, hoofsaaklik omdat sy beloftes van ‘n opvolgreferendum asook wigte en teenwigte blyk leeg te wees, juis omdat die aard van die NP se kapitulasie by Kemptonpark hom sonder die vermoë gelaat het om uitvoering aan veral sy belofte van wigte en teenwigte te gee.

Eerder as ‘n opvolgskikking, behoort Afrikaners en De Klerk te poog om die ANC by bestaande beloftes te hou, soos die opskrif van jou meningstuk lui.

De Klerk kan sy aansien in die buitewêreld gebruik om simpatie en druk vir die behoud van Afrikaans en die grondwet in die internasionale gemeenskap te kweek. Regeringslui in lande soos Nederland en België het reeds in die verlede gewys dat hulle bereid is om hom simpatiek te behandel. Indien hy sukses daarmee behaal, kan hy homself in die reine bring onder Afrikaners en daardeur meer entoesiasme ter plaatse ontwikkel.

Ek verwag egter dat dit ‘n volgende geslag sal verg om ‘n volle waardering vir ons post-1994 omstandighede te ontwikkel, wat uiteindelik vir ons antwoorde op hierdie nuwe vraagstukke sal verskaf. Soos wyle Prof. Carel Boshoff dit gestel het: “Elke geslag is verantwoordelik vir sy eie tyd.”

Herman Toerien ·

Dankie vir jou bydrae Ebert.
Ek het ‘n klankbord nodig, soos almal.
Ek sou graag wou sien dat van die voorstanders van ‘n heronderhandelde skikking van hulle laat hoor – veral oor hoe hulle meen die ANC daartoe oorreed kan word. Gesonde verstand is een ding, maar as jy reeds kare lank die onderhandelde skikking as ‘n oorwinning aan jou kiesers voorhhou, hoe gaan die ANC sy toedrede tot heronderhandelde skikking aan die kiesers motiveer?
Herman

Ebert ·

Ja-nee, die haalbaarheid van ‘n opvolgskikking (hoe wenslik ook al vir Afrikaners) lyk maar baie moeilik. Die gedagtes van die voorstaanders daarvan rondom hierdie voorbehoude sal inderdaad baie interessant wees.

Ek het, nadat ek my onderstaande kommentaar geskryf het, jou volledige artikel op jou Blok gelees en dit is knap skryfwerk. Ek hoop dit word redelik wyd gelees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.